“Is dit nou die tyd om op te daag? Geen wonder hierdie
besigheid lyk soos hy lyk nie. As die bestuurder so laat is, wanneer kom die
res van die personeel aan die werk?”
Daphne skrik haar asvaal toe hy agter haar praat. Sy het
hom glad nie gesien met die inkomslag nie. In elk geval, dit is nog glad nie aguur
nie, so waarom gaan hy so tekere?
“Ek is regtig jammer...” probeer sy verdedig, maar hy
luister nie na haar nie.
“Sorg asseblief dat almal tienuur in die raadsaal is.
Daar is dinge wat bespreek moet word. Vandag nog!” blaf hy voordat hy uitstap.
Toe hy uit is, gaan Daphne met ‘n frons sit. Sy kan
sweer...! Nee, dit kan nie waar wees nie. Sy sal hom tog kan herken, al is dit
twintig jaar gelede. Of sal sy? Is F A Lambert en Franna Lambert dieselfde
persoon? Dit moet wees, want niemand anders het nog ooit sulke mooi blou oë
gehad nie.
Opeens is sy weer in matriek en vanaand is hulle afskeid.
Hy is in die buurskool en sy is tot oor haar ore verlief op hom.
“Mamma, dit is die mooiste rok wat ek in my hele lewe
gehad het. Die anders kinders sal nooit kan raai dat dit ‘n ou rok was wat net
‘n bietjie verander is nie. Franna sal hom nie vir my hoef te skaam nie. Ek kan
nog altyd nie glo dat hy ja gesê het toe ek hom genooi het nie.”
Maar Franna het nooit opgedaag nie. ‘n Uur na hulle
afspraak het sy die rok uitgetrek en in die kas gehang. Sy het nooit getrou
nie, want die blou oë het altyd by haar bly spook.
Haar assistente, Martie, is laat soos gewoonlik. “Het jy
gesien wie is hier?” wil sy weet. “Die baas het gekom. En weet jy wat? Ek het
‘n soentjie gekry. Ek kan nie wag vir vanaand se personeel-ete nie. Vir seker
gaan ek sorg dat ek langs hom sit. Haai siestog, ek hoor sy vrou is oorlede in
daardie vreeslike ongeluk,” borrel sy oor.
Daphne is glad nie beïndruk met Martie se relaas nie.
“Wanneer presies het jy gedink wil jy daardie verslag klaarmaak? Ek het dit
tienuur nodig, maar dit weet jy tog.”
Martie gaan afgehaal sit en begin tik. Sy het nog nooit
gehoor dat Daphne met enige van die personeel so kwaai praat nie. Wat sou
vandag in haar gevaar het?
Daphne wip soos sy skrik toe Meneer Lambert skielik aan
haar deur klop. Sy kyk skuldig op, so al asof hy haar gedagtes sou kon lees.
Toe sy wil opstaan, wuif hy met die hand dat dit nie nodig is nie.
“Daphne, ons twee het op die verkeerde manier ontmoet vroeër
vanoggend. Ek is jammer dat ek my ongeduld op jou uitgehaal het. Kan ons vrede
maak?”
Maar Daphne is glad nie lus vir sy mooi woordjies nie. Kan
hy haar regtig nie onthou nie? Of is hy alweer besig met ‘n speletjie? Jare
gelede was sy een van die ‘anderkant die spoorlyn-kinders’, maar vandag hoef sy
nie een tree vir hom terug te staan nie.
Sy gaan staan kiertsregop voor hom. “Meneer Lambert, dit
spyt my dat ek vanoggend laat was. Dit was as gevolg van omstandighede buite my
beheer. As u ons tak meer dikwels besoek het, sou u weet dat dit nie my
gewoonte is om so op die nippertjie by die werk op te daag nie.”
Sy gryp ‘n lêer van die tafel af. “Hier is die
statistieke van die laaste ses maande soos u per e-pos gevra het. Indien u meer
inligting wil hê, vra maar gerus.” Sy sien nie die lagduiweltjies in sy oë nie,
want sy het reeds weer agter haar rekenaar gaan sit om verder te werk.
Daphne is voor die tyd in die raadsaal en sorg dat alles
in orde is vir die vergadering. Sy gaan sowaar nie weer toelaat dat die
vermetele man haar oor die vingers tik nie. Sy kom nie agter dat hy stilletjies
inkom en aan die punt van die groot tafel gaan sit nie. Hy haal sy notas uit en
kyk weer vinnig daarna terwyl die res van die personeel stuk-stuk inkom.
Die personeel wat nog nie die verlore seun gegroet het
nie, is die een so bly soos die volgende om hom weer te sien. Sy kyk
geïrriteerd op. ‘n Mens sou sweer hierdie man is van ‘n ander planeet soos
hulle oe en aa rondom hom. Wel, by haar gaan hy vir seker sy koppie stamp, sy
is nie een van sy marionette nie – sy gaan nie dans as hy die toutjie trek nie.
“Daphne, kom sit
asseblief hier langs my,” sê hy sonder om hom te steur aan haar parmantige
houding. Hy wag totdat sy sit voordat hy begin met sy toespraak.
“Liewe kollegas, dit is heerlik om weer hier by julle te
kan wees. Na my ongeluk, ‘n jaar gelede, het ek dit oorweeg om die besigheid te
verkoop. Gelukkig het ek dit toe nie gedoen nie, want julle syfers is
uitstekend. Ek wil veral vir Daphne gelukwens. Sy het hier ingestap terwyl
hierdie kantoor die een verlies na die ander gely het en sy het dit omgeswaai
tot so ‘n mate dat julle die wenspan is. Nie een van die ander tien takke kom
naastenby by julle syfers nie. Baie dankie aan almal. En Daphne, jy is ‘n
staatmaker en ek stel dit hoog op prys.”
Daphne is te verslae om saam met die res van die personeel
hande te klap en te juig. Al die tyd laat hy haar verstaan sy doen nie genoeg
nie, hy verwag meer van haar kant af. Elke e-pos het soos die vorige een gelyk
– propvol vermanings en hoekoms en waaroms. Genugtig, die man is regtig ‘n paaiboelie.
Toe almal stil is, gaan hy voort. “Sit asseblief ‘n nota
op die deur dat ons vir twee dae gesluit sal wees. Ons sal nie vanaand ons
gewone ete saam hê nie. Almal moet môre stiptelik sewe-uur voor by ontvangs
wees. Trek gemaklik aan, want dit gaan ‘n lang dag word. En ja, pak ‘n rugsak
met nagklere en ‘n deftige dingetjie vir die aand, hoor.”
Meer kry hulle nie uit hom uit nie. Met ‘n groot glimlag
stuur hy almal huis toe.
Hy volg Daphne na haar kantoor toe. Sy bly gespanne
staan. Wat wil hy nou van haar hê? Sy is regtig nie lus om haarself langer te
probeer verdedig nie. Dit is maklik genoeg om veilig te voel tussen die ander
personeel, maar nou is haar kantoor skielik te klein vir hulle twee saam. Sy
gaan staan half doelloos in die middel van haar kantoor.
Hy begin saggies lag, want hy sien hoe selfbewus sy is.
Dit lyk asof hy hom verlekker in haar ongemak.
“Daphne, ek wou maar net seker maak dat jy weet hoe
dankbaar ek is vir die werk wat jy hier doen. As bewys daarvan, bevorder ek jou
tot streeksbestuurder. Dit sluit die gewone pakket in; onder andere ‘n
maatskappymotor en ander dingetjies wat ons later kan bespreek.”
Voordat sy hom kan antwoord, gaan hy voort. “Sal jy
asseblief vanaand saam met my gaan eet? Ek voel regtig nie lus om alleen te
wees vanaand nie.” Toe sy huiwer, dring hy daarop aan. “Ek vra niks meer van
jou as om ‘n bord kos saam met my te geniet nie. Asseblief.”
Opeens kan sy haar verontwaardiging nie langer beheer
nie. Moet sy nou sowaar saam met hom gaan eet omdat hy haar bevorder het? Wat
dink die man van homself? Dink hy sowaar sy is nog die matriekdogtertjie wat
haarself aan die slaap gehuil het omdat hy haar nie kom oplaai het nie?
“Baie dankie vir die uitnodiging, maar ek sal dit nie kan
maak nie. Ek het verantwoordelikhede om na te kom by my huis.” Sy gryp haar sak
en wag ongeduldig dat hy haar moet volg sodat sy die kantoor kan sluit.
Daphne slaap die nag nie baie nie. Iewers voor slaaptyd
kry sy ‘n sms van hom. ‘Jy is nog net so mooi soos altyd. Kan jy my asseblief
vergewe vir destyds?’
Waarom, o waarom moet die lewe so moeilik wees? Eintlik
wil sy hom haat, maar daardie blou oë bly in haar gedagtes.
Toe sy die volgende oggend by die werk opdaag, sit almal
reeds in die luukse bus. Sy besef dat sy weer ‘n keer ‘n groot blaps begaan
het. As daardie lummel haar vandag afdank, is dit haar verdiende loon. Hy is
egter nêrens te sien nie. Die busbestuurder sê hy wag vir hulle op die lughawe.
Lughawe? Sy wonder wat voer die man in die mou. Waarheen
is hulle op pad?
Op die lughawe is dit ‘n dolle gejaag, want hulle
privaatvliegtuig moes al opgestyg het. Daphne vergeet haar irritasie teenoor Meneer
Lambert toe hy laggend saam met hulle oor die aanloopbaan hardloop om in die
vliegtuig te kom.
Opeens voel dit vir haar asof sy in ‘n droom lewe. Die
vlugpersoneel bedien hulle met ‘n sjampanje-ontbyt. Sy vind dit glad nie vreemd
toe hy langs haar kom sit nie. Hulle klink ‘n glasie op die voorspoed van die
besigheid en sit en kyk tevrede hoe die res van die personeel hulself geniet.
Hulle land op ‘n deftige wildplaas. Die dames gaan na ‘n
spa en die manne probeer hulle gholf verbeter. Laat die namiddag ontmoet almal
vir ‘n skemerkelkie, maar almal is haastig om te gaan aantrek vir die onthaal
‘n bietjie later.
Daphne kyk ‘n laaste keer in die spieël en glimlag vir haarself.
Sy weet sy lyk pragtig.
Buite haar deur wag Franna vir haar. Woordeloos stuur hy
haar in die rigting van ‘n bankie buite die onthaalsaal. Toe hulle sit, draai
hy na haar toe.
“Ek het nooit die moed gehad om jou weer te kontak nie.
Ek is so jammer daaroor. Wat sal dit help om jou nou te vertel dat my ma
daardie aand saam met ‘n ander man weggeloop het? Ek het so uitgesien na die afskeid
saam met jou, maar ek kon nie...”
Hulle hoor hoe die ander lag en gesels in die saal, maar
tussen hulle is dit stil. Albei weet dat hierdie ‘n nuwe begin is; dat dit nie
meer nodig is om te stry nie.
Baie later staan hulle stil op en stap hand aan hand die
onthaalsaal binne.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking