“Hygent hert!” snak ant Kotie en
slaan agteroor op die bed neer. Sy lê en waai haarself koel met ‘n wit
sakdoekie. Dit stoom en blaas dat hoor en sien vergaan, maar Oom Sarel staan
kiersregop, sy kierie klop, klop, klop op die spierwit mat. Hy staan en kyk
verveeld na sy wederhelf se desperate pogings om te herstel van die lang stap
tot in die kajuit.
“Sarel
Johannes Coetzee, moenie net daar staan nie! kry vir my die botteltjie met die
pers proppie daar in my koffertjie. Jy weet dit is al wat my asmabors ooptrek.”
Na
‘n halfuur voel ant Kotie beter. Die bors is oop en die voorkop blink nie meer
so van die sweet nie. Oom Sarel staan nog immer op dieselfde plek. Klop, klop,
klop! sê die kierie.
“Vrou,
dit lyk dan vir my jy wil nou slaap. Agge nee toggie, vrou! Ons is mos met
vakansie...” Hy bly stil. Sy snork soos sy slaap.
Allamintag!
Sal die vrou nou sowaar lê en slaap as daar soveel dinge is wat gedoen moet
word. Hy kry ‘n verbete trek om sy mond, kyk ‘n slaggie in die spieël (‘n man
moet mos netjies lyk) en hink deur toe. As sy wil slaap, laat haar dan slaap.
Die
gangetjie is doodstil. Waarnatoe nou? Hy kan sweer hy het ‘n swemplek...
“Haai, my ou doggie,” juig hy toe
‘n blonde dingetjie skielik vanuit die niet verskyn. “Wys tog vir jou oom
waar’s die dam.” Sy haak by hom in en loop saam met hom tot by die swembad.
Hy gaan verward staan. Ai, hoe nou
verder? Maar Sunet (die blonde popsie) nooi hom om by haar en haar vriende te
kom sit. Almal juig hom toe en hy kry ‘n glasie in die hand. Vir ‘n oomblik
sien hy sy vroutjie se kwaai oë voor hom, maar hy gee ‘n opgewonde laggie en
vat ‘n lekker groot sluk. Mintag, maar dit smaak lekker! “Kom, my oom, uit met
hierdie hemp. Jy moet ‘n bietjie son op jou bleek spiere kry.”
Die jongklomp geniet die oom se
stories en hulle hou sy glasie vol. Elke nou en dan hoor jy net hoe lag die
lotjie, want die omie raak net snaakser en snaakser. “Hoe het oom nou weer gesê
het die tannie gemaak?” of “Vertel weer vir ons van die dag wat die hond op die
yskas geklim het.” En deurentyd bly die omie se glasie vol, want dit smaak dan
so baie lekker.
Iewers moes oom Sarel aan die slaap
geraak het, want toe hy vir hom kom kry, sit hy stokalleen op die dek. Allamintag!
Hoe maak ‘n man dan nou? Die son trek al water en hy weet sy vroutjie gaan baie
ontevrede met hom wees. Hy wonder of sy al wakker geword het en dalkies na hom
sal kom soek?
Oom Sarel probeer opstaan, maar hy
besef dat hy nie kan nie. Sy bene voel dan nou so half of hulle hom in die
steek gelaat het. Hy probeer roep, maar die ou stemmetjie wil ook nie so lekker
uitkom nie. Ag, besluit hy, dan sit hy maar waar hy sit.
Opeens lyk dit vir hom soos basaar
op die dorp, want so baie mense het hy nog nie op enige ander plek gesien nie.
Hulle storm almal op hom af, Ant Kotie heel voor. Dit praat en raas en skree
dat dit ‘n naarheid is. Ai, dankie tog dat sy ou vroutjie na hom kom soek het!
“Vroutjie, dankie tog dat jy...”
probeer hy sy dankbaarheid uitspreek, maar ant Kotie is die hoenders in. “Sarel
Johannes Coetzee, dat ek my nou vir jou so moet skaam. Wat dink jy sal jou
ouers sê as hulle moet weet van jou gedrag hier in die vreemde? Hulle draai
sowaar in hulle grafte om as hulle moet weet wat jy vandag gedoen het – kaal in
die openbaar! Om so te rinkink met jong kinders!”
Die omie probeer keer, maar daar is
nie ‘n einde aan die verwyte nie. Toe ant Kotie langs hom kom en sy asem ruik,
is dit eens so erg. Oom Sarel weet dat hy vir ‘n week of twee glad nie poeding
gaan kry as hulle by die huis kom nie.
Hulle neem die omie op ‘n draagbaar
na sy kajuit toe. Die son het hom so verbrand dat hy nie in staat is om te
beweeg nie. Die dokter gee salfies om aan te smeer en beveel bedrus vir twee
dae aan. Twee dae? Dan is hulle weer terug by die huis, man. Wat dan nou van al
die wonderlike goed op die groot boot?
En so kom dit dan dan ant Kotie
alleen die vertoning van Mollie en Wors gaan bywoon. Hy lê dikbek in sy bed.
Allamintag tog, dat hy nou so moet oorkom.
Ant Kotie praat nie ‘n woord met
hom nie. Elke keer wat sy hom moet insmeer met die dokter se salf, kan hy sweer
sy vryf harder as wat sy moet. Sy staan behoorlik regop en smeer dat jy net
velle sien waai. Hy durf ook nie kla nie, want dan vryf sy net harder.
“Ag Kotie, my lief, kom ons vergeet
nou maar van die nare ondervinding met die kinders, toe?” probeer hy ‘n slag of
twee, maar dit werk nie. Ant Kotie is die hoenders in en sy maak nie ‘n geheim
daarvan nie.
Ant Kotie is net in die kajuit
wanneer sy kom verklee vir ‘n volgende aktiwiteit. Oom Sarel voel of hy haar
kan wurg, maar hy durf niks sê nie. Hy ken vir Kotie en hy weet wanneer om
liewer die minste te wees. Maar ai, hy sou so graag daardie dansers wou gesien
het. En hy wou ook so bitter graag gaan dobbel het, maar daarvan hoef Kotie
natuurlik glad nie te weet nie. Sy sal in haar lewe nooit weer poeding maak as
sy moet weet hy smag na ‘n ou bietjie dobbel nie.
Die derde en laaste aand is dit die
formele ete saam met die kaptein. Hy het al gehoor dat die kaptein dan die
mooiste vrou in die saal vra om eerste met hom te dans en dat sy dan ‘n
reusagtige bos blomme ook nog kry. Sowaar as vet, as hy darem durf met Kotie
dans! Ek sal hom mos...mos wat? Ja, Sarel, erken dit nou maar aan jouself, jy
kan hom niks maak nie, want jy is oud en op en boonop verbrand deur die son ook
nog.
Kotie sweef behoorlik by die kajuit
uit op pad na die ete toe. Hy moet sê, hy het ‘n pragtige vroutjie. Hy is
eintlik baie trots op die ou dingetjie, maar dit sal hy nimmer as te nooit vir
haar sê nie.
Hy word wakker van ‘n gepraat in
die kajuit. Nou wie op aarde het Kotie nou hier kom insleeep? Nee wragtag, dit
kan nie waar wees nie, kan dit?
“Sarel, ontmoet vir Kaptein
Ellinger. Hy is die man wat ons veilig deur al die storms op see geneem het,”
koer sy terwyl sy ‘n bos blomme in ‘n blompot sit. Sy praat met so ‘n soet
stemmetjie dat hy byna nie glo sy praat met hom nie. Hy gluur die kaptein aan
en draai sy rug na hulle toe. Verbrands!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking