Sondag 18 Maart 2018

SPYT KOM ALTYD TE LAAT

Hulle sê spyt kom te laat, of hoe? Ja, dis nou een spreekwoord wat jy eintlik in hoofletters moet skryf. Nee, nie skryf nie, man. Jy moet hom uitkrap met ‘n klip op ‘n oppervlak wat jy elke dag voor oë het. Jy moet dit so uitkrap dat jy dit nooit, ooit weer mis kan kyk nie. Jy moet dit onthou, onthou, onthou! 
Ek sit en doen ander dinge, maar hierdie ding oor spyt wat altyd te laat is bly in my kop. Ek probeer om ‘n prentjie daarvan in my kop te kry – ek hou van prentjies. Prentjies maak vir my sin. Dit laat my dinge beter onthou. Ek kan dinge beter verstaan as ek die prentjie met my binneste ogies sien.
            Nou hoe lyk ‘spyt’? Nou praat ek van daardie spyt wat, soos altyd, te laat kom. Die spyt wat kom nadat die persoon weg is. Of dood is. Of nie meer naby genoeg is nie. Daardie spyt wat maak dat jy nagte lank wakker lê en wens jy kan die horlosie terugdraai tot daar waar jy weer voor kan begin. Daardie spyt wat jou, as jy jouself toelaat, tot raserny sal kan dryf. Kom ek vertel jou hoe lyk hy.
            Jy is ‘n pottebakker. Jy het net een kans om ‘n beeld te maak. Jy het ook net een kans om klei te gaan haal. En jy het een lang nag om te maak wat jy wil maak.
 Die klei wat jy vat moet net genoeg wees vir die beeldjie wat jy wil maak. Nee, nie ‘n groot almagtige monument nie, hoor. Jy wil net ‘n klein dingetjie maak wat jy vir iemand baie na aan jou hart wil gee. Die klei is min, sê hulle. Moenie mors nie, vat net wat nodig is.
            Jy gaan haal jou klei. Twee bakhande vol sal genoeg wees, weet jy. Jy weet presies wat jy wil maak. Twee bakhande klei is genoeg. Jy weet.
En jy vat jou klei. En jy gaan daar waar jy alleen kan werk aan jou offer aan ‘n vriendin, of jou mamma, of jou suster, of ‘n kind van jou. Jy wil die mooiste stukkie werk maak wat nog ooit gesien is. Ja, jy gaan dit ‘n onvergeetlike kleinood maak. Die waarde daarvan? Ver bo dié van korale.
            Jy werk ure aaneen. Daar is geen ruskans nie. Hierdie skat moet klaar wees voor die son môre opkom. Die tyd raak min, maar jy raak nie moeg nie. Offers maak nie moeg nie, want hulle kom diep uit die diepste van jou hart uit. Werk. Werk. Werk. Die son se eerste strale loer oor die verste rante. Jy moet nou klaarmaak. Die tyd is verstreke.
            Jy steek jou hand uit om die laaste stukkie klei te vat. Hier kort nog net hierdie een klein stukkie detail, dan is jy klaar.
            En jy besef...! Daar is nie meer klei nie. Daar is niks meer oor nie. Jy sal tot in ewigheid nooit hierdie offer kan klaarmaak nie, want daar is nie meer klei nie.
            Een nag. Een bondel klei. Een kans om jou kleinood te voltooi. En?

            Jy het jou kanse verspeel. Spyt, my vriend, is ‘n lelike woord, vra maar vir my.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...