Woensdag 28 Februarie 2018

EK LOOP DIE PAD AL LANK, MY LAM


Presies hoe lank is ‘n jaar nou eintlik? Ja, ek weet. Drie honderd vyf en sestig dae. 8760 ure. Ek weet, ek weet. Maar dit is nie regtig waarvan ek praat nie.
            Elkeen van daardie drie honderd vyf en sestig dae het ‘n namiddag gehad. Elkeen van daardie namiddae het ‘n kuiertydjie tussen vier en ses gehad. En dit is van daardie tydjie in die namiddag wat ek nou praat. Ek voel hom, ek beleef hom, ek beleef hom nog immer.
            Daardie sewe honderd en dertig ure van die afgelope jaar was die langste wat ek nog ooit beleef het. Dit is die tyd wat aan my liefie-moeder behoort het. Elke dag van die week – Maandag tot Sondag. Daar was ander tye ook, natuurlik. Maar my hart brand na daardie twee ure van elke dag.
            Klein geselsies. Niks aardskuddend ooit nie. Net klein bietjies praat en klomp bietjies liefde. Middag na middag. Elke dag van elke jaar.
            ‘Hallo, Ma se kind. Hoe gaan dit? Is my kind moeg? Kom lê hier by jou ma.’ En dan miskien ‘n bietjie later: ‘Weet jy wie het vandag vir my gebel?’ of ‘Weet jy wie het vandag vir my kom kuier?’
            Klein geselsies wat my hart gevul het. Klein geselsies wat my hart nou leeg gelaat het. Klein geselsies wat soos reënwater in die sand verdwyn het. Weg. Sommer net weg. Leë ure. Leë hart.            
            Waar gaan haal ek dit nou? Waar kan ek daarna gaan soek en my leë hart (weer) so ‘n bietjie voller maak?
            En dan lyk dit mos of die ganse heelal vergeet het dat ek met ‘n bloeiende, leë hart rondloop. Die son kom op – presies daar waar hy gister opgekom het. Vanaand gaan hy weer onder – ook op sy gewone plek. En ek? Ek soek en soek en soek na iets wat ek nooit weer sal kry nie.
            Maar voordat jy my begin troos met die ewigheid en alles, wil ek jou gerusstel dat ek weet daarvan. Ek leef ook met die troos dat daar ‘n ewigheid van weersiens is. Ek weet. Wees jy maar rustig.
Dis net my onstuimige hart wat dit nie weet nie, wat dit nie wil aanvaar nie, wat bly soek en soek en soek.
            Dan sing ek saam met Amanda Strydom en ek sien hoe loop jy (halfpad) saam met my  die pad, my lam...

EK LOOP DIE PAD
Ek loop die pad al lank my lam
So kaalvoet deur die kou
Van doerrie kant se Doringveld
En kyk hoe lyk ek nou
Ek loop die pad so sonder hoed
Deur son en wind en grou
So kaalvoet oor die slingerpad
En kyk hoe lyk ek nou
My lam, die gras is soms so groen
Die son is soms so lou
Maar ek loop die pad alleen my lam
En kyk hoe lyk ek nou
Onthou jy nog hoe ons kon loop
So loslyf, so verspot
So vlieg-vlieg oor die koppies heen
‘n Ragab en ‘n Lot
Maar nou loop ek die pad alleen
So kaalvoet deur die kou
En soms, net soms, dan wonder ek
My lam waar is jy nou



4 opmerkings:

  1. Kom drink vandag 'n koppie tee by my. Dit maak nie saak hoe laat nie; enige tyd sal my pas. Ons kan die hele dag lank kuier, maar selfs net 10 minute sal goed wees.

    Daar is sóveel wat ek graag wil deel, sóveel wat ek graag wil vra, maar bowenal sóveel waarvoor ek dankie wil sê.
    Ek is só bevoorreg om jóú as my moeder te kon hê. Woorde kan nóóit my dankbaarheid teenoor jou genoeg beskryf nie.

    Vandag besef ek hóéveel jy opgeoffer het om my onthalwe en my hart loop oor van liefde en waardering vir jou. Toe ek kón, het ek dit nie genoeg gesê nie en ek is bitter jammer daaroor. Ek sou só graag nog 'n kans wou hê om daarvoor te vergoed.

    Kom maak asb vandag 'n draai by my. Kom sit by my en drink 'n koppie tee. Maar as dit nie kan nie, sal ek my daarby berus en aanvaar. Weet egter dat, lank nadat my alleen-koppie yskoud geword het, sal my liefde vir jou steeds warm klop in die dieptes van my hart ...

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ai, voel ons nie maar almal so nie? Ek weet nie of ons ooit genoeg sal kan kry van ons moeders nie, AS ons nog 'n keer kon kuier. Dankie vir jou lieflike antwoord. Mag ek dit op facebook share, asseblief?

      Vee uit
  2. Dis my hart na my moedertjie oorlede is😢

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...