Ek is
ledig en sit en lees ander mense se op- en aanmerkings op facebook. My oog tref
Brenda se voet op die rooi grond van die Kalaharieduin en net daar is ek
gevang. Ek loop weer die pad in die Namib. Ek loop elke tree wat ek as kind
daar gegee het en my hart ween vir tye wat was. Tye wat was en wat nooit, ooit
weer sal wees nie.
Ek het al duisende male
beplan hoe ek terug sal gaan na waar my wortels lê. Ek sien hoe ry ek die pad
Maltahöhe toe. Ek sien hoe slaap ek die aan in die hotel. Vroeër het ek geglo
ek sal by liewe tannie Pollie gaan slaap, maar sy is ook al jare nie meer met
ons nie. Dan ry ek die pad so rus-rus plaas toe. My eerste stop is Nuwerus. Die
plaas met die baie perskes. En ek wonder of daar selfs net een ou perskeboompie
oorgebly het? Net enetjie wat my sal herinner hoe die oorvloed daar gelyk het.
Langs die pad, so half langs die
berg en daar waar die pad sy draai maak, wil ek Oukuns se huisie sien. En ek
wil wonder oor die mooi mense wat daar gebly het. Gorab. Wêreldsend. Ou Andy se
Duine.
En
dan...uiteindelik! By die grenshek (is hy ooit nog daar?) wil ek lank staan en
kyk en alles om my in my hart in druk. Ek wil die onthou weer onthou. Ek wil
onthou hoe dit was toe ek ‘n kind was en ek moes in die aand ná ‘n lekker kuier
by Monie en Leentjie die hek oopmaak. Ek was so half en half skrikkerig, maar
nooit bang nie – Pa was mos voor in die kar, sien. In elk geval was ons nie
bang vir rondlopers en kwaaddoeners nie. Was dit uit onkunde of was daar in
daardie tye regtig nie sulke mense nie?
Daarvandaan wil ek stadig ry. Ek wil
elke nou en dan stop. Ek wil die lug ruik. Ek wil my hart ‘n kans gee om rustig
te raak. Ek wil die pad tree vir tree proe en beleef. Ek wil die weersiens
uitstel vir so lank as moontlik.
En dan, wanneer ek uiteindelik
(weer) daar kom, wil ek... wat? Wat wil ek? Ek weet nie. Ek weet regtig nie wat
dan verder nie, hoor.
Dit sal wees soos om ‘n jeugliefde
weer te ontmoet. Julle sal weet julle ken mekaar van lank gelede af, maar net
dat alles nou anders is. Ander mense het hulle spore kom trap en die holtes
waar myne lank gelê het. Sal jy my nog onthou, my hartsland? Sal jy weet dat ek
jou nog al die tyd bemin soos van die begin af? Of sal jy afsydig teenoor my
staan? Sal jy my verwelkom in jou binneste hartkamers, of sal ek moet veg vir ‘n
klein stukkie van jou liefde?
Is dit nie maar waarom ek nog nooit
weer gegaan het nie? Dalk is dit die vrees vir jou afsydige ontkenning dat ek
nou die weersiens uitstel en uitstel vir later. Dalk is dit bloot die feit dat
ek weet jy wag nie meer vir my nie, want jy het soveel verander in die tyd wat
ek weg was. Of wat?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking