Van kleins
af was sy hierdie alleen, ‘onsigbare’ wesentjie. Die enetjie wat almal altyd
aangespreek het met ‘n ‘tjie’ agter haar naam. Maar as sy nou daaraan dink,
daar is nog altyd ‘n ‘tjie’ agter haar naam. Hoekom? Omdat sy ‘n klein mensie
is? Beslis nie. Omdat sy bejammerenswaardig is? Beslis ook nie. Omdat sy ‘ag,
askies tog dat ek lewe’ is? Beslis ook nie. Nou hoekom dan? Ek weet nie. Sy
weet vir seker ook nie hoekom nie.
Het jy al gevoel asof jy so half
onsigbaar is? Nee, dalk is dit die verkeerde woordgebruik hier. Dis meer
soos... om soos ‘n spook te wees? Jy weet, jy loop en beweeg en slaap en eet en
praat en is net in jou eie ‘bubble’. Die mense rondom jou is bewus van jou,
hulle hoor jou (of hulle hoor jou nie), hulle praat met jou (of hulle praat nie
met jou nie), maar hulle weet nie regtig van jou nie. Hoe kan hulle weet van
jou? Jy weet dan nie eens self (altyd) van jou nie.
Dis soos om heeltemal alleen op die
aarde rond te dwaal. Daar is niemand wat jou sien en hoor en verstaan nie. Jy
loop met hierdie ontsettende vrees in jou rond – elke oomblik van elke dag.
Vrees? Vir wie? Vir wat? Ek weet nie, man. Sommer net daardie ontsettende
vrees. En die alleen. En die ding dat niemand eintlik weet wie jy is nie. Jy
weet self ook nie wie jy is nie.
Die Engelse
het ‘n uitdrukking wat perfek pas in hierdie kind se lewe – ‘feeling
disconnected’. Niks maak regtig saak nie. Niks maak regtig bly nie. Niks maak
regtig seer nie. Sy ervaar dit vir ‘n oomblik of twee en dan is dit sommer
net... WEG! Sy dink dit nie weg nie, dit is sommer net weg.
En jy is altyd so half hartseer. Die
lewe is ‘n hartseer ding. Jy is so gebore om hartseer te wees. Niemand anders
weet dit nie. Jyself weet dit ook nie regtig nie, want jy weet nie dat ‘n mens
eintlik anders moet voel nie. Dit is hoe jy van die begin van die aarde af
gevoel het.
Om een of ander rede voel jy altyd
skuldig. Later, toe jy ouer word, het jy daarmee gespot. Jy het gesê jy is
skuldig gebore, daarom neem jy vir alles die skuld. Maar die dogtertjie was
skuldig oor alles. En omdat sy skuldig was aan alles, was sy so ontsettend
skaam. Nie skaam soos in teruggetrokke nie, hoor. Skaam soos in ‘Ek skaam my
vrek’ vir hierdie of hierdie ding. Ek skaam my vrek oor alles wat ek dink of
doen of sê. Want sien, ander mense dink of doen of sê alles beter as jy.
En groot asseblief tog, sy wil
niemand kwaad maak nie. Sy wil niemand hartseer maak nie. Sy wil niemand
teleurstel nie. Groot asseblief tog nie! Nou bly sy liewer stil, dan kan dit
niemand skade doen nie. Ja, los haar net uit dat sy nie hoef te praat nie. Haar
kop se dinge is haar eie dinge. Los haar uit en moenie altyd so grawe en grawe
in die kind se kop nie. Wat wil jy in elk geval daarmee maak? Jy wil net weer
ontevrede wees oor dit of dat en sy hou nie daarvan dat jy ontevrede is nie.
Nou is sy oud. Eers probeer
sy hierdie lewe van haar ‘n naam gee. Want sien, sy het begin besef dat ander
mense nie ook so voel nie. Ander kindertjies het met tevrede hartjies gaan
slaap en opgestaan. Of ja, sommige het met hartseer hartjies gaan slaap en
opgestaan. Maar om so in die niks te lewe, dit weet sy nou, is nie die tendens
nie. Dit is nie hoe ‘n mens aanmekaar geskroef is om te wees nie.
Sy lees en soek na ander mense wat
ook so gevoel het. En sy sien, sowaar, daar was ander ook wat so gevoel het.
Maar vandag is sy hartseer dat hierdie klein
dogtertjie so ‘n verderflike lewe gely het. Sy is hartseer dat daar nie iemand
was wat hierdie kindjie kon help in haar algehele afgeslote lewetjie nie. Dalk net iemand wat kon sê: Kind,
kom staan hier onder my arm, ek verstaan jou hart. Ek is lief vir jou.
En voel sy nou eintlik anders noudat sy oud is? Dit, my vriend, is 'n vraag wat jy haar self sal moet vra.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking