Sondag 24 November 2019

IS DIE LIEFDE DAN BLIND?


Het jy al gewonder wat maak mense lief vir mekaar? Ek meen nou, soms sien jy hierdie hunk van ‘n man wat getroud is met die vaalste, oninteressantste ou vroutjie. “Gits, wat sien hy in haar?” wil almal weet. Hy hang aan haar lippe en kan nie genoeg van haar kry nie. “Hy kon darem regtig beter as dít gedoen het!” woord gereeld agter die hand gefluister.
Jy sien hulle gereeld op straat; die kolos van ‘n vrou met ‘n mannetjie wat iewers hier langs haar in haar skaduwee saam trippel. Ja, ek weet jy ken ook ten minste een so ‘n onpaar paartjie. Wat, vra ek jou, het hom in die eerste plek na haar toe gestuur? En wat, vra ek jou weer, het haar oortuig dat daar ‘n groot genoeg liefde in die outjie skuil? Ek moet bely dat dit regtig vir my een van die grootste geheimenisse in die lewe is. Hoe op aarde begin so ‘n verhouding ... en vorder dit tot innige liefde en ‘n troue?
Dan is daar die oupa en ouma van tagtig. Hy noem haar nog altyd ‘My Blom’ en sy aanbid die grond waarop hy loop. Hy sukkel die trappies op en slaan sukkel-sukkel vir haar ‘n spyker in die muur. Sy straal! Hy bly maar net haar held. Nou vra ek jou: Sien sy nie die plooie en krom kniegies nie? Of kom hy nie agter dat sy lankal nie meer die seksie beentjies het waarop hy so verlief geraak het nie? Wat, wil ek weet, hou hulle so lief vir mekaar?

Heel op ‘n ander vlak. Sy soek al jare na ‘n hondjie. Sy weet presies hoe hy moet lyk en weier om sommer enige gebroedsel te aanvaar. Op ‘n dag kry sy hom. Ag, is hy nie pragtig nie? Sy kan nie genoeg met hom speel en genoeg foto’s neem nie. Dit is die mooiste ding wat nog ooit hierdie aardbodem bewandel het. Vreemd genoeg is daar baie min mense wat haar sentiment deel. ‘n Vriend noem onse klein Billy ‘Die mongrel’ en iemand anders praat van die ... Wag, kom ons maak nou nie gevoelens seer deur al die byname hier te noem nie. My vraag is net, kan sy dan nie sien hoe lelik is hy nie?

So terloops – Billy en Soetseun is groot vriende daar op die plaas. Soetseun is eintlik baie jaloers op Perd, maar as hy met Billy gesels, besef hy net weer opnuut dat die plaas tog ‘n lekker plek is en dat hy ook sy plekkie onder die son het.

Wat maak dat ‘n jong meisie kan sê: “Ouma is vir my so, so, so mooi.” Ouma is oud en ou mense is vol plooie en wat nog als. Maar hierdie jong meisie spandeer ure om Ouma se naels te knip en vyl, Ouma se gesighaartjies uit te trek en dan nog die voetjies ook te versorg. Dan, voordat sy groet, is daar nog tyd vir grappies ook en sy stap met ‘n lied in die hart daar by die kamer uit. Sien sy nie dat die ouma lankal die fleur van jeug verloor het nie? Wat is dit wat maak dat sy nie die ouderdom in haar ouma raaksien nie?

Ek glo ek het die geheim ontdek. Ek deel met jou ‘n klein storietjie van groot hartseer. Lees maar en besluit dan self.
Sy het lekker gebad en hare gewas. Sy’s nou baie moeg, maar roep my: “Suster, kom sny my hare, asseblief.”
Ek is onmiddellik terug by my pa, so ‘n paar jaar terug. Hy het intensiewe bestraling teen breinkanker gehad en die ou haartjies het bosse uitgeval. Vreemd genoeg, net die grys hare het gebly – sulke lang slierte wat glad nie gepas het by die netjiese beeld wat ek van my pa gehad het nie. Hy het so half kop onderstebo gesit en ek het ‘n bietjie gesny aan die yl kapseltjie. Ai! My hart het gebreek, want ek het geweet dit sou die heel laaste keer ooit wees wat ek sy hare sou sny. My ma en ousus het doodstil staan en kyk na my poging om hom netjies te kry.
En hier roep my ousus my om haar haartjies te sny. Sy was aan die herstel van ‘n breinoperasie en die een kant van haar kop was byna kaal geskeer. Ek moes dít wat oor was, probeer netjies kry.
Sy kyk my in my oë in die spieël voor ons. “Suster, ek dink mos nou aan daardie dag ...”
Ek het haar hard in die rede geval: “Ek ook, maar ons gaan nié nou daaroor praat nie.”
Sy het nie geantwoord nie. Ons albei het geweet hierdie sou waarskynlik ook die laaste keer wees wat ek haar hare sou kon sny.
Ons is klaar. Ek sit die skêr neer. Ek buk af en maak die haartjies op die grond bymekaar. Ek probeer so gou moontlik maak, want sy is moeg en wil gaan slaap.
Met die opstaan, sien ek wat sy doen. “En nou, Ousus?”
Sy is besig om haar wolmussie oor haar kop te trek – mooi netjies en stewig tot oor die ore.
“Ek slaap nie met so ‘n kop saam met my man nie.”
Nou moet ek jou sê, ek is g’n Shakespeare fan nie, maar daar is een aanhaling in sy werk wat ek seker al ‘n duisend maal herhaal het sedert daardie dag in my sus se kamer.

Love looks not with the eyes, but with the mind, and therefore is winged Cupid painted blind. (A Midsummer Night’s Dream)

Sy het nie daardie keer die mussie afgehaal nie, maar die woorde het ingesink, dit weet ek. Toe haar haartjies min word as gevolg van die behandeling, het sy dit laat afskeer en koelkop kaalkop die wêreld in die oë gekyk. (pun intended)



Na alles bly vir my ‘n troos dat ek weet jy en jy en jy het my lief, ten spyte van ...

Saterdag 16 November 2019

STOP EN RUIK DIE TAMATIEBOS


Ek kyk na Herman Lensing. Hy en ‘n gas kook dat die sop spat. Dit bly maar vir my ‘n plesier om te kyk wanneer iemand uit sy/haar hart uit kook. Deesdae voel dit so half vir my kosmaak het sy lekkerte vir my verloor. Dalk is dit maar net omdat die kinders uit die huis uit is en ek en liefie eet maar so-so.
Herman se gas (ek is so jammer ek het haar naam gemis!) vertel hoe haar ma, wanneer sy by die tamatiebos verby stap, altyd ‘n blaartjie gepluk het. Sy het hom dan so tussen die vingers gekneus en geruik daaraan. Hoekom? Omdat dit vir haar baie, baie lekker geruik het.
Nou moet ek aan jou erken: ‘n Tamatiebos was nog nooit vir my die mooiste plant wat in die tuin groei nie. Ja, natuurlik is die tamaties ‘n heerlike ervaring, maar die bos? Ha-a, stowwerig, met so ‘n half dowwerige donkergroen kleur. Stem jy saam? Is!
Maar ek wil nie oor tamatiebosse praat nie. Dis net daardie vrou wat my aan die dink gesit het. Jy sien, ons storm mos deur die lewe asof vandag die laaste dag gaan wees. Gaan winkel toe en koop dat dit bars, want sê nou maar die winkels is almal môre leeg? Ry van punt A na punt B en jaag asof jy al gister daar moes gewees het. Gaan drink jy tee met ‘n vriendin, sluk daai tee kokend in. Die koppie is nog nie koud nie, dan spring jy op en jaag weer voort. Want sien, daar is nie tyd om te mors met sit en gesels nie – daar is dinge wat gedoen moet word. Gaan bad en jy sit nog skaars, dan skrop jy dat die skuim spat en woerts, uit is jy alweer. Wie het tyd om in ‘n bad te mors? Daar’s dinge wat gedoen moet word, jong.
Hoekom is dit so? Hoekom kan ek ure spandeer aan ‘n stuk werk, maar die oomblik wat dit vir my lyk die mense gaan dalkies dink ek is ledig, dan pla dit my. Ek wil tog so graag bekend wees as die vrou wat die hardste gewerk het in die dorp. Ek wil geken word aan my uithaler konfyt wat ek gereeld aan my vriendinne uitdeel. Ek wil onthou word as die vrou wat dit kon regkry om vir sewe dae aaneen beskuit en koekies gebak het vir die kerkbasaar. En o ja, hulle moet tog nooit vergeet hoe ek my hande stompies gewerk het vir die of daai organisasie nie.
Hokaai! Stop die lorrie ‘n slag. Briek en trek af. Staan stil. Stol in jou spore. Verdomp, luister na jou hart!
As ek die ding so bekyk, gaan alles oor ‘die mense’ en wat hulle sal dink en sê. Wat sal ‘hulle’ dink? Wat sal ‘hulle’ sê as ek so of so?
Nou, kom staan nader dat ek ietsie in jou oor kan fluister. Nee, ek het gevra jy moet briek, man. Kom ons sit sommer hier op die sypaadjie, dan luister jy gou na my.
Jy sien, dit lyk my alles gaan oor ‘hulle’ en ‘die mense’ en elke jan rap en sy maat. Nou is my vraag net dit: Wanneer gaan dit ‘n slag oor jou? Wanneer gaan jy met dieselfde ywer as wat jy ander mense vermaak en bly maak en beïndruk, jouself ‘n slaggie eerste stel? Wanneer gaan jy ‘die mense’ ‘n slag tweede stel en hardloop om by daardie lui, bederflike skuimbad te kom? Jy los jou selfoon in die kamer, sluit die badkamerdeur, tap die bad tot bo vol en gooi die badskuim dat dit halfpad teen die mure staan? Kom, wees eerlik. Gun jy jouself die klein bederfies, of moet dit altyd agter in die ry staan omdat ‘hulle’ nog dit of dat nodig het? Hmm, ek het so gedink.
Dalk sit jy nou en dink dat ek nie kan praat nie, want ek weet nie hoe ‘n besige lewe jy ly nie. Jy is reg, ek weet nie, want ek het nog nie in jou skoene geloop nie.
Maar kan ek jou een klein ietsie vra? In jou besige lewe, stop net een keer op ‘n dag en ruik die tamatiebos, toe? Nie omdat ek dit vra nie, sommer net omdat jy  is en dit verdien.

Maandag 11 November 2019

DIE BOEMELAAR BINNE MY


Skatryk. Nee, stinkryk is ‘n beter beskrywing van hom. Hy woon in ‘n posh buurt in ‘n posh huis en ry met ‘n posh kar. Sy vrou is gewoond aan oorsese vakansies en het meer juwele en skoene as wat die gemiddelde mens ooit sal van kan droom om te sien, wat van nog droom om te kan besit! Hy is ‘n uitstekende sakeman en besit die helfte van die stad se geboue.
En tog het hy hierdie vreemde ... afwyking. Afwyking? Siekte? Gebrek? Nee, deesdae is die ‘in’ woord mos ‘sindroom’. Hmm ja, hy het hierdie vreemde, ongediagnoseerde sindroom waarvoor daar geen behandeling is nie. Jy sien, sy lewe lank soek hy al na daardie iets wat hom volkome gelukkig en tevrede sal maak. As hy dit of dat of wat ookal kan kry, sal sy hart vrede hê en sal hy gelukkig wees tot aan die einde van sy dae.
Dis ‘n ware verhaal van ‘n miljoenêr wat van tyd tot tyd dros van die huis af en op straat gaan bly saam met die boemelaars. Hy los sy foon, sy beursie en sy kar by die huis en veg om oorlewing op straat. Snags slaap hy onder ‘n karton nadat hy vanaand met sy nuwe vriende ‘n brood gedeel het. Die versoeking om deel te hê aan bloutrein[1], moet hy met alles in hom beveg. Die ander drink dit teen die koue, maar hy weet te veel daarvan om te val vir die versoeking.

‘n Voortdurende kuggie word ‘n hoes wat nie ophou nie. Een nag sleep ‘n weldoener hom hospitaal toe. Die dokter het geen voorliefde vir boemelaars soos hy nie en stuur hom weg met ‘n hand vol pille. Hy gooi dit buite die gebou in die naaste asdrom.
Eers toe hy besef hy gaan dalk nie hierdie koue oorleef nie, bel hy vir James, sy chauffeur, om hom te kom haal.
James praat nie. Hy weet dit sal nie help nie. Hierdie ding het seker al vyf keer die afgelope tien jaar gebeur – Meneer raak weg vir ‘n tyd en op ‘n dag word hy gebel ...
Althea, sy vrou, is lankal gewoond aan hierdie patroon. Sy het die eerste keer wat dit gebeur het, die polisie gebel en almal rondom haar op hol gejaag. Nou weet sy van beter. Sy weet hy sal huis toe kom wanneer die regte tyd daar is.
Ongelukkig was daardie een winter te koud en sy longe toe al te swak om genoeg weerstand te bied. Toe James se foon weer eendag lui, was dit ‘n vreemde stem wat hom vra om Meneer se lyk te kom oplaai.
Die vraag kom by ‘n mens op: Hoekom doen hy dit? Wat is dit waarna hy so soek? Liewe aarde, hy het alles wat sy hart begeer, maar hy soek na ...
Soek na wat?
En ek besef ek het ook maar ‘n boemelaar in die hart. Daar is altyd daardie ‘iets’ wat net buite bereik bly en wat oornag ‘n obsessie, groter as my logiese denke, kan word.
ü  As ek net dit of dat kan kry, sal ek tog so gelukkig wees.
ü  Wanneer ek daardie ding regkry, sal my lewe volmaak wees.
ü  Teen hierdie tyd volgende jaar sal ek soveel of soveel in die bank hê en sal ek nooit weer ‘n slapelose nag deurbring nie.
ü  Ek sal tevrede wees as my harde werk erkenning kry.
ü  As ek net daardie ekstra paar kilogramme kan afskud, sal ek ook weer soos ‘n mens voel.
Ek skud my kop in stomme verbasing. Kan ‘n mens, nee, kan EK so dom wees om nie die oorvloed rondom my raak te sien nie? Wat as ek môreoggend wakker word en al wat ek het, is die dinge waarvoor ek vandag dankbaar was.
WAT. AS?


Ek sit my hand op my hart en sug diep. Ek weet ek is skuldig aan my eie ontevredenheid. Ek weet ek het die sleutel tot daardie onbereikbare vrede in my eie hand.
Kom tot rus, my onrustige hart, kom tot rus! Besef hoe geseënd jy is en kom tot rus.



[1] One makes a blue train by filtering methylated spirits through a loaf of bread in order to remove the bitter-tasting purple dye (In South Africa, the dye is mandatory in order to prevent it's used as a beverage). Since only the dye is removed, not the kerosene, methanol, isopropanol etc, it gets you smashed off your head, but may cause vomiting, headaches, seizures, blindness and/or death.

Sondag 03 November 2019

VERDWAAL ... EK?


Ek loop al lank met die ding in my kop – ek is waar ek is en ek is wie ek is as gevolg van waar ek was. Hmm, ek sien jy frons. Met ander woorde, ek is vandag marthamaria omdat ek die pad geloop het wat g’n ander skepsel geloop het nie. Dieselfde geld vir jou en jou en jou. Dus, as ek nie daardie pad met sy kronkelpaadjies en verdwaalpaadjies geloop het nie, was ek soveel armer.
As kind het ons ure spandeer om dit reg te kan kry: Die hasie wat deur die gangetjies moet loop om by die wortel uit te kom en baie ander soortgelyke speletjies. Ja, ons ken dit vandag as ‘n labirint  en/of ‘n doolhof. Die Engelse labyrinth/maze, glo ek, is meer bekend op die oor.

Glo my, ek het nie geweet daar is ‘n verskil tussen die twee nie. Al wat ek weet, is dat ‘n mens soms lekker kan sukkel met die potlood om uiteindelik daardie hasie by sy wortel te kry.
Hoekom, het ek myself afgevra, bou of plant hulle hierdie strukture? Nou glo my vry, soveel soekenjins soos wat daar op die internet is, soveel oorspronge is daar van die labyrinth/maze. Geestelikes het dit begin om te kan ontspan. Mitologiese figure het dit begin om hulle teenstanders daar binne te kan verslaan. Ander het dit begin om weg te kruip ten tye van oorlog. Nog ander het dit gebruik om ‘n skelm liefde ongesiens te kan ontmoet.
Die verskil tussen ‘n labyrinth en ‘n maze (doolhof) is eintlik baie klein en mag vir jou en vir my nie juis ‘n verskil maak nie. Ek meen te sê, as jy verdwaal het, het jy verdwaal. Dit maak nie saak wat die ding se naam is nie, ha?
‘n Labirint het kronkelende, geboë gange en vorm 'n ‘eenmalige’ of eenrigtingpad van buite na die middel. ‘n Doolhof, daarenteen, is gevul met dooie punte. Die idee is om 'n paar keer te verdwaal voordat jy die regte pad kan kry.
“It is a confusing path, hard to follow without a thread, but, provided [you are] not devoured at the midpoint, it leads surely, despite twists and turns, back to the beginning.” — Plato

‘Sê nou maar’ is ‘n lekker sê, alles wat ‘n mens wil hê ...
Wel, sê nou maar ‘n mens het iets gewen elke keer wat jy in die doolhof verdwaal en dan later die regte pad gekry het om verder te kan stap. Sê nou maar jy het nooit geweet wat die prys is wat jy gewen het nie, maar dat dit ‘n opgegaarde skat is wat eers eendag, baie later, sigbaar sal wees?
En sê nou maar jy verloor elke keer dubbel daardie skat as jy ‘n uitkomplekkie kry en wegstap sonder omkyk? Ja, reg geraai – jy sal ook eendag (dalk) bewus word van die feit dat jy eintlik ‘n groot verlies gely het ... dat jy eintlik maar ‘n loser is.
En is dit nie maar wat die lewe is nie? Is dit nie maar hierdie groot maze wat ons blindelings moet stap en vashaak en omdraai en weer probeer om by die einde te kom nie?
Wanneer ons begin stap, is ons opgewonde en sien uit na die lewe. Jy het nie die vaagste idee van wat wag nie, maar loop sal jy hom loop. Vreemd genoeg, dit wil mos altyd vir jou lyk of die een voor jou die pad so maklik kry en so salig aanstap. Maar is dit nie dalk daardie een wat hom voel-voel en dink-dink loop nie?
Ek het by ‘n punt gekom wat ek weet dat elke verdwaalslag vir my ‘n skat gebring het. Nee, verdwaal is mos nooit lekker nie, ek weet. Verdwaal kan vrek sleg wees. Dit is mos sulke tyd wat jy so alleen voel dat jy glo daar is nie ‘n ander wese naby jou nie en niemand weet of traak oor jou nie. Is mos so, nie waar nie?
Ek dink aan die swaarkry tye in my lewe – tye wat ek gewonder het waarom op dees aarde moet alles so verkeerd neuk. Waar het ek die spreekwoordelike pad dan so byster geraak dat ek nou in hierdie gemors sit?

Jy kan nie eintlik gaan staan nie, want wat word dan van jou? Jy kan ook nie terug nie, kan jy? Vorentoe, dus. Soms vat dit ‘n hele paar probeerslae om weer aan die gang te kom, want jy bly jou vasloop in doodloopstrate. Omdraai, weer probeer, dalk weer omdraai en weer probeer, om uiteindelik weer ‘n klein entjie te kan vorder. Is mos nou sulke tye wat party ouens ‘n uitkruipplekkie soek, maar ook maar later besef jy moet maar aanhou probeer.
Ag, en ander kere sou mense sê jy het ‘n luck gestrike, want kyk nou net hoe goed gaan dit met jou! Jy loop behoorlik met ‘n huppel in jou stap en het nog tyd om te sien hoe mooi alles om jou is. Hoog bo jou vlieg die voëls en hier voor jou spring dalk nog ‘n hasie of twee ook uit om die pad net nog mooier en beter te maak. Dis sulke tye wat jy kliphard kan loop en sing en jy is so baie bly jy lewe!
Wanneer jy dan oor ‘n dag of wat weer vir jou vasloop in ‘n afdraaipad, gaan dan sit en rus ‘n bietjie, toe? Rus en kyk op – jy sal sien daardie mooi voëls is nog steeds daar. En as jy lank genoeg sit, gaan daardie hasie weer ‘n draai by jou voete kom maak, jy sal sien. Moenie moedeloos word nie. Moenie wegkomkans soek nie, rus net eers ‘n bietjie en jy sal sien, môre is toe glad nie so sleg soos wat jy gedink het dit sal wees nie.
Vandag weet ek dat die skat wat ek na elke verdwaalslag ontvang het, is wysheid. Wysheid om by die volgende vashaakplek ‘n beter keuse te kan maak. Wysheid om liewer nie daardie draai in die pad te vat nie. Wysheid om te weet wanneer om liewer te gaan sit en ‘n bietjie dinge te bedink en oordink. Wysheid om myself nie meer te kasty as ek vashaak nie. Wysheid om myself te waardeer vir elke aanhou en uithou. En helaas, wysheid om vir myself te kan sê: Stadig oor die klippe, Martha, jy is eintlik baie orraait!

Woensdag 30 Oktober 2019

GAAN GROOT OF GAAN HUIS TOE!


Weke voor die tyd, kom die nuus: Ons gaan ‘n potjiekos-dag by Ons Tuiste hê. Ek sug innerlik. Ai, ek weet dan die oues is nooit lus vir niks nie, nou wat nou? Want, jy sien, dis nie net vir gaan sit en eet nie, hoor. Daar word allerhande dinge beplan om die oues van dae mee besig te hou en te vermaak.
Ek lug nie my mening nie, want woorde het krag! As ek nou gaan staan en sê, “Nee los tog maar, want dit gaan nie werk nie’, dan gaan dit mos regtig nie werk nie. So, met my beswaarde gemoed belowe ek nog ek sal met die wyses en gryses gaan praat oor die groot aand ... wat ek ook gedoen het en baie min positiewe reaksie op gekry het.
Ons hou vergadering, want daar is dinge wat gedoen moet word. Ons stel ‘n kort programmetjie op en beplan die eetgoed wat saam met die potjie bedien sal word.
“Ek maak ‘n warm poeding.” “Ek maak twee koue poedings. “Ek maak ‘n warm poeding en ‘n koue poeding.” Die lys word net langer en langer.
Iemand keer: “Nee, dis te veel poedings, jong.”
Iemand anders skud die kop. “Nee, daar moet lekker baie poeding wees. Die oues moet lekker kan eet.”
Toe ek my kom kry, is dit die groot dag. Ons ruk soos een man op om by ons oupas en oumas te gaan kuier. Uitgevat in hulle mooiste outfits, wag hulle vir ons in die eetsaal. Die tafels is buite toe uitgedra en die stoele staan al langs die mure. In die middel van die eetsaal is die rooi mat – spesiaal vir die okkasie geleen by ‘n vriendelike ondersteuner.

Nou moet jy weet, daar moet vanaand op hierdie einste rooi mat geparadeer word. Die tannies en omies moet meeding vir die kroon: Mevrou Diamant en Meneer Sjarmant moet uit hierdie mooi mense gekies word. In my hart sê ek dankie dat ek nie hoef te kies nie, want ek is sommer al klaar jammer vir die outjies wat nie gaan wen nie.
Elke kandidaat wat (onder protes) ingeskryf het, kry ‘n groot nommer aan die lyf vasgesteek. Hulle sit met groot, bevreesde ogies die mensdom en bekyk. Toe hulle uitvind ek gaan vir hulle vrae vra, is die een en elk se dringende versoek: “Moet asseblief nie vir my moeilike vrae vra nie!” Natuurlik belowe ek vir elkeen dat ek dit nooit sal doen nie. Ek gaan net vra wat is jou naam en hoe lank is jy al in die ouetehuis. Dit laat hulle so ‘n klein bietjie rustiger asemhaal.
Eers moet daar gespeel word. Ek moet erken, toe daar by ons vergadering besluit is op Musical chairs, het ek ernstige bedenkinge gehad. Regtig? Musical chairs met die oues van dae? Nooit gesien nie!
Ek bekyk hulle so en ek wonder! Baie sit met looprame en ander is selfs in rystoele. Hier en daar sien jy ‘n kierie ook. Hoe gaan ons hulle oortuig om saam te speel?
Dirk is nie ‘n ou wat skrik vir koue pampoen of ja, vir oues met kieries nie. Hy gee ‘n lang, skril fluit om die aandag te kry. Onmiddellik is hulle stil, want die hoofman het gefluit.
“As jy kan loop, staan op!” bulder hy.
Ha-a, hulle staan nie op nie. Inteendeel, die ogies is alweer so groot soos pierings. Hy roep weer: “As jy kan loop, staan op!” Niks gebeur nie.
Toe tref dit my: Hulle dink almal van hulle moet nou op die rooi mat kom loop en hulle wil nie. Of hulle is nog nie gereed nie. Of wat?
“Dirk, hulle dink hulle moet nou paradeer vir ons, jong,” fluister ek.
Dirk bulder: “Dis nie vir modeparade nie, ons wil speel. Staan op as jy kan loop!”
En sowaar, die een na die ander kom regop – party kry dit maklik reg, maar ander kom so half in sarsies regop. Jy weet mos, as die rug nie wil nie of as die knieë te stram is, sukkel so ‘n skielike opstanery mos maar.
Hy verduidelik mooi hoe dit gaan werk en almal knik die kop. Ja, hulle verstaan mooi hoe dit werk. Daar is net een ding wat vir Dirk pla: die rooi mat waaroor hulle moet loop. Ek dog hy is jammer vir die mat en probeer hom troos dat dit mos darem nie duisende voete is wat die mat gaan tref en verrinneweer nie.
Ek gee die teken en die musiek begin. Asof dit ‘n trein is wat eers spoed moet vat, begin die oues stadig in ‘n kring beweeg. Dis toe wat Dirk weer skree: “Moenie val nie! Moenie val nie!” en ek besef waarom hy so ontsteld was oor die mat op die vloer.

Ag, was dit ‘n fees om dit te aanskou! Dit lag en jil en stap met ‘n spoed van stoel na stoel. Elke keer wanneer die musiek stop, is dit ‘n geskarrel uit ‘n ander wêreld om ‘n stoel te kry. Hulle gaan sit selfs op mekaar se skote om asseblief net ‘n sitplekkie te kry. Dan is dit tot groot vermaak van die res dat daardie een moet hoor sy/hy is nou uit die speletjie uit. So kom dit toe ook dat oom Piet sommer op die rooi mat gaan sit toe hy nie ‘n stoel het nie.
Uiteindelik het ons ‘n wenner! Oom Hennie was die bittereinder en kry toe sommer ‘n prys ook. Op my vraag of hulle nog ‘n keer wil speel, kom die onderlangse antwoord van een: “Ons is nou moeg, man. Môre gaan ek spierpyne hê.”

En toe is dit etenstyd! Afvalpot en skaappot: Watter een sal ek nou kies? Og, albei lyk dan so lekker ... Die poeding kry toe nie so ‘n groot aftrek as wat ons gedink het nie, want die potjiekos was meesterlik gekook.
Die kroning van Meneer Sjarmant en Mevrou Diamant lewer die mooiste liefdesverhaal op. Tannie Grieta het twaalf jaar terug haar man verloor en in ‘n woonstel by die ouetehuis kom bly. Met die jare het oom Arthur hierdie mooie meisie gesien en nou en dan kom inloer. Hyself het nog in die dorp gewoon. Ses jaar later kom trek hy ook in. Hy bly in ‘n kamer en tannie Grieta in haar gerieflike woonstel. En weet jy wat? Minder as ‘n week later besluit die ou tweetjies hy hoef nie in daardie verkrampte ou kamertjie te sit nie en hulle haak af. Op my vraag aan die omie, wat die mooiste ding is wat die ouetehuis vir hom opgelewer het, was sy antwoord: “My vrou, natuurlik!”
Die tweetjies is eenparig gekies om die kroon te dra. Skaam-skaam het hulle op maat van Fires en oom Piet se musiek vir ons ‘n paar danspassies gemaak voordat hulle weer uitasem by die tafel gaan sit het.

Na alles kan ek maar net sê: Dankie, julle mooi gryses, vir ‘n wonderlike aand. Julle maak die lewe die moeite werd.


Donderdag 17 Oktober 2019

‘n DANKIE WAT AGTERWEË GEBLY HET.

Die Burger :: Suid-Afrika word 'n Republiek :: 31 Mei 1961

Sê iemand anderdag dat as jy nog altyd verwys na Suidwes en/of Die Republiek, gee jy jou ouderdom sleg weg. Want, jy sien, die aarde is deesdae propvol republieke en vandag se kinders sal nie weet waarna jy verwys nie. Suidwes is net 'n geografiese ligging, nie waar nie?
Hmm, is so, ja. Maar ek het nie ‘n probleem dat jy weet hoe oud ek is nie, dus kan ek jou maar vertel oor die tye wat ons nog Republiek toe gery het vir vakansie en agterna terug moes ry Suidwes toe. Ek was nog ‘n tjokkertjie van sewe, toe die hele ding begin het.
Ek kan nie onthou dat ons as skoolkinders vreeslik daarmee gemoeid was nie, maar wat ek wel onthou, is dat dit vir die onderwysers ‘n baie, baie belangrike dag was. 1 Mei 1961 word die Unie mos toe ‘n republiek. Ons is opgeline en het met groot ogies die gedoente beskou toe daardie Oranje, Blanje, Blou die eerste maal gehys is. Iewers wil my kop my dit wysmaak dat ons ‘n lied of twee voor die tyd geleer het en dit toe daar gesing het ook.
Toe kom die dinge van die ponde, sjielings en pennies en wat rand en sent word. Jy weeg toe ook nie meer soveel of soveel pond nie, dis nou kilogramme. Vir jare daarna moes ons nog in die wiskundeklas die goete omsit van die en na die ander.
Maar dit nou daar gelaat. Ek het onlangs te doen met iemand wat dinge sommer so as vanselfsprekend aanvaar. Jy weet mos, daardie ouens wat nooit daaraan dink dat dankie dalk gepas sou wees op daardie tydstip nie. O jinne, my maat, as iets my nou erg moerig maak, dan is dit so ‘n ondankbare houding!
En so loop ek die ver paaie en dit tref my hoeveel maal ek ook maar so opgetree het. ‘n Mens besef dit net gewoonlik te laat en dan is omdraai te laat. Want ja, gaan jy jare later terug na iemand toe en bedank hom of haar innig vir ‘n ding van dertig/veertig jaar gelede, skryf hy jou sowaar net daar af ... en stuur jou vir seker na ‘n plek van veilige bewaring.
My storie gaan oor die groot fees in 1966. As dit moontlik was, was dit ‘n groter fees as in 1961. Die Republiek was ‘n volle vyf jaar oud en dit moes gevier word, my maat! Geen moeite of verdriet is gespaar vir daardie geleentheid nie. Die hele Suidwes het opgeruk na die groot fees in Windhoek.
Maar ek loop nou die storie vooruit, man. Maande voor die tyd hoor ek op ‘n dag ons is viertjies wat saam met Juffrou en Meneer van Maltahöhe of Keetmanshoop toe gaan ry. Hoekom? Eers het ek nie geweet nie, maar in Keetmanshoop het ek gou genoeg uitgevind. Ek en Maretha moes die dogters se roetine aanleer en Braam en Riaan die seuns s’n. Terug by die huis moes ons dan weer ons maatjies leer.
Ons het daagliks geoefen aan hierdie mooie ding – elkeen met twee stukkies besemstok wat jy so kliek, klak bo jou kop kap by tye. Links, regs, kliek en klak, op, af, draai, kliek en klak, en so voorts. Die hele ding was seer sekerlik nie moeilik nie, maar ons moes oefen dat dit klap. Probeer soos ek wil, maar ek kan nie meer onthou hoe lank die roetine was nie.
Dieselfde het vir die seuns gegeld. Hulle het weer ander trieks gehad wat hulle moes aanleer. Oefen. Oefen. Oefen.
Toe kom die groot optog Windhoek toe. Ek sweer ek kan nie onthou hoe ons almal daar gekom het nie, hoor. Dit is seker ook nie van baie belang nie, is dit?
Daar gekom, het ‘n ander wêreld vir ons oopgegaan. So ver soos die oog kon kyk, was daar tente opgeslaan. My kop wil my wysmaak dit was nie so baie ver van die huidige Olimpia af nie, op pad stad toe. Tente, tente, tente! In hierdie streek is die laerskooldogters, daar is die seuntjies, anderkant die groot dogters en nog verder die groot seuns. Waar het die juffrou en meneer gebly? G’n mens weet nie!
Ons is in die tente gebondel en die leviete voorgelees. As die luidsprekers begin kraak, moet jy jou blikbord en -beker vat en maak vir die rye. Ons kos is in die grootste potte (dromme?) op die oop vuur gemaak. Ek onthou vandag net die brandsmaak wat alles gehad het. Jik! Kos wat een keer in ‘n week brand, is een ding, maar as jy vir hom moet eet soggens, middae en saans, is dit nie meer snaaks nie.
Soggens, donkertyd, het die luidspreker begin kraak en dan het die kwaaiste mansstem ons gebied om op te staan. Jy sukkel tussen die slaapsak en die skaafsels wat op die grond is, om jouself op en aan die gang te kry. Oral is skaafsels. Alles is stowwerig. Maar wie traak? As jy net eers wakker is, is als okei ... dit is nou behalwe vir die gebrande pap wat jy moet loop afwurg.
Mense! Ek wens vandag ek kon daardie vertonings sien wat daar gelewer is op die groot dag. Ons kleintjies het leotards gedra – oranje, wit en blou – wat mos die vlag uitbeeld. Ons het die rugbyveld volgemaak met ons rye en rye lyfies, elkeen met haar twee stokkies. Op maat van die musiek het ons gekliek en geklak dat dit bars.
Natuurlik het ons eintlik die hele show gemis, want ek weet die groter kinders het onder andere volkspele gespeel en gimnastiek gedoen. Die pawiljoene was gepak met die res van die nasie wat nie aan die vertonings deelgeneem het nie.
Een aand het ons Maltahöhe kindertjies op Juffrou se boyfriend se bakkie gery en inry toe gegaan.  The sound of Music het pas verskyn en die ganse tentedorp se kinders het op komberse die movie gaan kyk. Ai, was dit ‘n mooie storie! Vandag nog, as ek July Andrews hoor sing, is ek terug op die kombers in Windhoek se inry. Ek onthou selfs dat Juffrou se vriend ‘n slab tjoklits vir ons gegee het. Elkeen kon ‘n blokkie afbreek en aanstuur vir die volgende een.
Die laaste oggend het aangebreek op ‘n heel ander toon. Die kwaai oom se stem was stil, my maat. In plaas van die gewone “Julle moet opstaan!” het Doris Brash vir ons gesing. Hmm, ja, jy het reg geraai. “Opstaan, opstaan, dis ‘n heerlike dag ...”
Nou wat het Republiekdag van 31 Mei 1966 met dankie te doen, vra jy my?
Alles!
Dink jou in hoe daardie stomme onderwysers vir ‘n week lank gesukkel en geswoeg het met so ‘n massa kinders? Dink jy wraggies dit was vir hulle ‘n heerlike uitstappie Windhoek toe? Nee, gewis nie. En, vra ek jou nou, wie het agterna gegaan en dankie gesê? Nie ek nie!
Dus! Vandag wil ek elke juffrou en meneer wat hulle dae omgeswoeg het met ons klomp, uit my hart uit bedank vir hulle ontsettende geduld en liefde. En laat my seblief toe om spesiaal haar naam te noem, toe? Juffrou June, dankie vir jou liefde en omgee vir ons klomp gebroedseltjies in daardie tyd. Ek sal jou nooit vergeet nie.

Vrydag 11 Oktober 2019

AS DIE PUT SKIELIK LEEG IS


My hart is seer, man. Hmm, een van daai wat so ‘n dowwe pyn hier diep in jou borskas veroorsaak. Jy ken hom ook – dis so ‘n dowwe seer waarvan jy net eenvoudig altyd, soms minder en ander kere weer meer, bewus is. Jy kan doen wat jy wil, as jy jou kom kry, sit jy alweer met dowwe oë die aarde en bekyk.
My groot pyn is oor ‘n verlore vriendskap. Jy ken my. Ek het nie honderde intieme vriende nie, net so ‘n paar wat vir altyd en altyd in my hart sal bly. Sommige van hulle sien ek byna nooit, maar afstand en tyd het niks te doen met omgee en vertroue nie, het dit?
In elk geval, ek kom op ‘n dag agter dat daar ‘n groot gat in my hart is waar voorheen ‘n hartsvennoot was. Ek dog eers ek verbeel my, maar ‘n mens ken mos die tekens van die tye. Probeer soos ek wil, daardie mater van my het skielik ‘n klip hart gekry.
En dis nou my dilemma! Wat nou gemaak?
Ek sit en werk, maar hierdie mater van my spook by my. Wat gebeur het, weet nugter alleen, hoor. Dis nie asof ons ‘n vreeslike misverstand of rusie of wat ookal gehad het nie. As dit so was, kon ek mos iets daaraan doen, dan nie?
En toe tref dit my! Aardetjie, Marthamaria, dat dit jou altyd vir ewig moet vat om die lig te sien! Dit kan jou ure (maande?) se ellende gespaar het, liewe mens.
As my pa op die plaas uitgevind het die water in ‘n spesifieke gat het opgedroog, het hy eenvoudig gaan sit en beplan waar hy die volgende gat gaan laat boor. Hy het nie langs daardie windpomp gaan sit en huil en smeek en beloftes maak nie. Nee, hy het nie eens die moeite gedoen om vir Windpomp te vra waarom hy nie meer water pomp nie. Hy het dit aanvaar en aangegaan met sy lewe.

Jesus het vye aan die boom gesoek. Wat dit vyetyd? Ek weet nie! Ek dink Hy was honger, daarom dat hy vye wou pluk. En toe? Hy kon, as Hy wou, die boom beveel om onmiddellik groot, ryp vye te dra. Hy kon ... as Hy wou! Maar Hy het nie. Die boom was kaal en hy het hom vervloek en aanbeweeg.
So, wat doen ek nou met die mater wat opgedroog het?
Beweeg aan, Marthamaria.
Beweeg net aan.

“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

  “Nou sê ek vandag vir julle, moenie by   my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...