Ek kyk na Herman Lensing. Hy en ‘n gas kook dat die sop
spat. Dit bly maar vir my ‘n plesier om te kyk wanneer iemand uit sy/haar hart
uit kook. Deesdae voel dit so half vir my kosmaak het sy lekkerte vir my verloor.
Dalk is dit maar net omdat die kinders uit die huis uit is en ek en liefie eet
maar so-so.
Herman se gas (ek is so jammer ek het haar naam gemis!)
vertel hoe haar ma, wanneer sy by die tamatiebos verby stap, altyd ‘n blaartjie
gepluk het. Sy het hom dan so tussen die vingers gekneus en geruik daaraan. Hoekom?
Omdat dit vir haar baie, baie lekker geruik het.
Nou moet ek aan jou erken: ‘n Tamatiebos was nog nooit vir
my die mooiste plant wat in die tuin groei nie. Ja, natuurlik is die tamaties ‘n
heerlike ervaring, maar die bos? Ha-a, stowwerig, met so ‘n half dowwerige
donkergroen kleur. Stem jy saam? Is!
Maar ek wil nie oor tamatiebosse praat nie. Dis net daardie
vrou wat my aan die dink gesit het. Jy sien, ons storm mos deur die lewe asof
vandag die laaste dag gaan wees. Gaan winkel toe en koop dat dit bars, want sê
nou maar die winkels is almal môre leeg? Ry van punt A na punt B en jaag asof
jy al gister daar moes gewees het. Gaan drink jy tee met ‘n vriendin, sluk daai
tee kokend in. Die koppie is nog nie koud nie, dan spring jy op en jaag weer
voort. Want sien, daar is nie tyd om te mors met sit en gesels nie – daar is
dinge wat gedoen moet word. Gaan bad en jy sit nog skaars, dan skrop jy dat die
skuim spat en woerts, uit is jy alweer. Wie het tyd om in ‘n bad te mors? Daar’s
dinge wat gedoen moet word, jong.
Hoekom is dit so? Hoekom kan ek ure spandeer aan ‘n stuk
werk, maar die oomblik wat dit vir my lyk die mense gaan dalkies dink ek is
ledig, dan pla dit my. Ek wil tog so graag bekend wees as die vrou wat die
hardste gewerk het in die dorp. Ek wil geken word aan my uithaler konfyt wat ek
gereeld aan my vriendinne uitdeel. Ek wil onthou word as die vrou wat dit kon
regkry om vir sewe dae aaneen beskuit en koekies gebak het vir die kerkbasaar. En
o ja, hulle moet tog nooit vergeet hoe ek my hande stompies gewerk het vir die
of daai organisasie nie.
Hokaai! Stop die lorrie ‘n slag. Briek en trek af. Staan
stil. Stol in jou spore. Verdomp, luister na jou hart!
As ek die ding so bekyk, gaan alles oor ‘die mense’ en wat
hulle sal dink en sê. Wat sal ‘hulle’ dink? Wat sal ‘hulle’ sê as ek so of so?
Nou, kom staan nader dat ek ietsie in jou oor kan fluister.
Nee, ek het gevra jy moet briek, man. Kom ons sit sommer hier op die sypaadjie,
dan luister jy gou na my.
Jy sien, dit lyk my alles gaan oor ‘hulle’ en ‘die mense’
en elke jan rap en sy maat. Nou is my vraag net dit: Wanneer gaan dit ‘n slag
oor jou? Wanneer gaan jy met dieselfde ywer as wat jy ander mense vermaak en
bly maak en beïndruk, jouself ‘n slaggie eerste stel? Wanneer gaan jy ‘die
mense’ ‘n slag tweede stel en hardloop om by daardie lui, bederflike skuimbad
te kom? Jy los jou selfoon in die kamer, sluit die badkamerdeur, tap die bad
tot bo vol en gooi die badskuim dat dit halfpad teen die mure staan? Kom, wees
eerlik. Gun jy jouself die klein bederfies, of moet dit altyd agter in die ry staan
omdat ‘hulle’ nog dit of dat nodig het? Hmm, ek het so gedink.
Dalk sit jy nou en dink dat ek nie kan praat nie, want ek
weet nie hoe ‘n besige lewe jy ly nie. Jy is reg, ek weet nie, want ek het nog
nie in jou skoene geloop nie.
Maar kan ek jou een klein ietsie vra? In jou besige lewe,
stop net een keer op ‘n dag en ruik die tamatiebos, toe? Nie omdat ek dit vra
nie, sommer net omdat jy jý is en dit verdien.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking