My
hart is seer, man. Hmm, een van daai wat so ‘n dowwe pyn hier diep in jou
borskas veroorsaak. Jy ken hom ook – dis so ‘n dowwe seer waarvan jy net
eenvoudig altyd, soms minder en ander kere weer meer, bewus is. Jy kan doen wat
jy wil, as jy jou kom kry, sit jy alweer met dowwe oë die aarde en bekyk.
My
groot pyn is oor ‘n verlore vriendskap. Jy ken my. Ek het nie honderde intieme
vriende nie, net so ‘n paar wat vir altyd en altyd in my hart sal bly. Sommige van
hulle sien ek byna nooit, maar afstand en tyd het niks te doen met omgee en
vertroue nie, het dit?
In
elk geval, ek kom op ‘n dag agter dat daar ‘n groot gat in my hart is waar
voorheen ‘n hartsvennoot was. Ek dog eers ek verbeel my, maar ‘n mens ken mos
die tekens van die tye. Probeer soos ek wil, daardie mater van my het skielik ‘n
klip hart gekry.
En
dis nou my dilemma! Wat nou gemaak?
Ek
sit en werk, maar hierdie mater van my spook by my. Wat gebeur het, weet nugter
alleen, hoor. Dis nie asof ons ‘n vreeslike misverstand of rusie of wat ookal
gehad het nie. As dit so was, kon ek mos iets daaraan doen, dan nie?
En
toe tref dit my! Aardetjie, Marthamaria, dat dit jou altyd vir ewig moet vat om
die lig te sien! Dit kan jou ure (maande?) se ellende gespaar het, liewe mens.
As
my pa op die plaas uitgevind het die water in ‘n spesifieke gat het opgedroog,
het hy eenvoudig gaan sit en beplan waar hy die volgende gat gaan laat boor. Hy
het nie langs daardie windpomp gaan sit en huil en smeek en beloftes maak nie. Nee,
hy het nie eens die moeite gedoen om vir Windpomp te vra waarom hy nie meer
water pomp nie. Hy het dit aanvaar en aangegaan met sy lewe.
Jesus
het vye aan die boom gesoek. Wat dit vyetyd? Ek weet nie! Ek dink Hy was honger,
daarom dat hy vye wou pluk. En toe? Hy kon, as Hy wou, die boom beveel om
onmiddellik groot, ryp vye te dra. Hy kon ... as Hy wou! Maar Hy het nie. Die
boom was kaal en hy het hom vervloek en aanbeweeg.
So,
wat doen ek nou met die mater wat opgedroog het?
Beweeg
aan, Marthamaria.
Beweeg
net aan.
Dit is tog so waar .... <3 Marthamaria'tjie!
AntwoordVee uit❤❤
Vee uit