Ek loop al
lank met die ding in my kop – ek is waar ek is en ek is wie ek is as gevolg van
waar ek was. Hmm, ek sien jy frons. Met ander woorde, ek is vandag marthamaria
omdat ek die pad geloop het wat g’n ander skepsel geloop het nie. Dieselfde
geld vir jou en jou en jou. Dus, as ek nie daardie pad met sy kronkelpaadjies
en verdwaalpaadjies geloop het nie, was ek soveel armer.
As kind het ons
ure spandeer om dit reg te kan kry: Die hasie wat deur die gangetjies moet loop
om by die wortel uit te kom en baie ander soortgelyke speletjies. Ja, ons ken
dit vandag as ‘n labirint en/of ‘n doolhof.
Die Engelse labyrinth/maze, glo ek, is meer bekend op die oor.
Glo my, ek
het nie geweet daar is ‘n verskil tussen die twee nie. Al wat ek weet, is dat ‘n
mens soms lekker kan sukkel met die potlood om uiteindelik daardie hasie by sy
wortel te kry.
Hoekom, het
ek myself afgevra, bou of plant hulle hierdie strukture? Nou glo my vry, soveel
soekenjins soos wat daar op die internet is, soveel oorspronge is daar van die labyrinth/maze.
Geestelikes het dit begin om te kan ontspan. Mitologiese figure het dit begin
om hulle teenstanders daar binne te kan verslaan. Ander het dit begin om weg te
kruip ten tye van oorlog. Nog ander het dit gebruik om ‘n skelm liefde ongesiens
te kan ontmoet.
Die verskil
tussen ‘n labyrinth en ‘n maze (doolhof) is eintlik baie klein en mag vir jou
en vir my nie juis ‘n verskil maak nie. Ek meen te sê, as jy verdwaal het, het
jy verdwaal. Dit maak nie saak wat die ding se naam is nie, ha?
‘n Labirint
het kronkelende, geboë gange en vorm 'n ‘eenmalige’ of eenrigtingpad van buite
na die middel. ‘n Doolhof, daarenteen, is gevul met dooie punte. Die idee is om
'n paar keer te verdwaal voordat jy die regte pad kan kry.
“It is a
confusing path, hard to follow without a thread, but, provided [you are] not
devoured at the midpoint, it leads surely, despite twists and turns, back to
the beginning.” — Plato
‘Sê nou maar’
is ‘n lekker sê, alles wat ‘n mens wil hê ...
Wel, sê nou
maar ‘n mens het iets gewen elke keer wat jy in die doolhof verdwaal en dan
later die regte pad gekry het om verder te kan stap. Sê nou maar jy het nooit
geweet wat die prys is wat jy gewen het nie, maar dat dit ‘n opgegaarde skat is
wat eers eendag, baie later, sigbaar sal wees?
En sê nou
maar jy verloor elke keer dubbel daardie skat as jy ‘n uitkomplekkie kry en
wegstap sonder omkyk? Ja, reg geraai – jy sal ook eendag (dalk) bewus word van
die feit dat jy eintlik ‘n groot verlies gely het ... dat jy eintlik maar ‘n loser
is.
En is dit
nie maar wat die lewe is nie? Is dit nie maar hierdie groot maze wat ons
blindelings moet stap en vashaak en omdraai en weer probeer om by die einde te
kom nie?
Wanneer ons
begin stap, is ons opgewonde en sien uit na die lewe. Jy het nie die vaagste
idee van wat wag nie, maar loop sal jy hom loop. Vreemd genoeg, dit wil mos
altyd vir jou lyk of die een voor jou die pad so maklik kry en so salig aanstap.
Maar is dit nie dalk daardie een wat hom voel-voel en dink-dink loop nie?
Ek het by ‘n
punt gekom wat ek weet dat elke verdwaalslag vir my ‘n skat gebring het. Nee,
verdwaal is mos nooit lekker nie, ek weet. Verdwaal kan vrek sleg wees. Dit is
mos sulke tyd wat jy so alleen voel dat jy glo daar is nie ‘n ander wese naby
jou nie en niemand weet of traak oor jou nie. Is mos so, nie waar nie?
Ek dink aan
die swaarkry tye in my lewe – tye wat ek gewonder het waarom op dees aarde moet
alles so verkeerd neuk. Waar het ek die spreekwoordelike pad dan so byster
geraak dat ek nou in hierdie gemors sit?
Jy kan nie
eintlik gaan staan nie, want wat word dan van jou? Jy kan ook nie terug nie,
kan jy? Vorentoe, dus. Soms vat dit ‘n hele paar probeerslae om weer aan die
gang te kom, want jy bly jou vasloop in doodloopstrate. Omdraai, weer probeer,
dalk weer omdraai en weer probeer, om uiteindelik weer ‘n klein entjie te kan
vorder. Is mos nou sulke tye wat party ouens ‘n uitkruipplekkie soek, maar ook
maar later besef jy moet maar aanhou probeer.
Ag, en ander
kere sou mense sê jy het ‘n luck gestrike, want kyk nou net hoe goed
gaan dit met jou! Jy loop behoorlik met ‘n huppel in jou stap en het nog tyd om
te sien hoe mooi alles om jou is. Hoog bo jou vlieg die voëls en hier voor jou
spring dalk nog ‘n hasie of twee ook uit om die pad net nog mooier en beter te
maak. Dis sulke tye wat jy kliphard kan loop en sing en jy is so baie bly jy
lewe!
Wanneer jy
dan oor ‘n dag of wat weer vir jou vasloop in ‘n afdraaipad, gaan dan sit en
rus ‘n bietjie, toe? Rus en kyk op – jy sal sien daardie mooi voëls is nog
steeds daar. En as jy lank genoeg sit, gaan daardie hasie weer ‘n draai by jou
voete kom maak, jy sal sien. Moenie moedeloos word nie. Moenie wegkomkans soek
nie, rus net eers ‘n bietjie en jy sal sien, môre is toe glad nie so sleg soos
wat jy gedink het dit sal wees nie.
Vandag weet
ek dat die skat wat ek na elke verdwaalslag ontvang het, is wysheid. Wysheid om
by die volgende vashaakplek ‘n beter keuse te kan maak. Wysheid om liewer nie
daardie draai in die pad te vat nie. Wysheid om te weet wanneer om liewer te
gaan sit en ‘n bietjie dinge te bedink en oordink. Wysheid om myself nie meer
te kasty as ek vashaak nie. Wysheid om myself te waardeer vir elke aanhou en uithou.
En helaas, wysheid om vir myself te kan sê: Stadig oor die klippe, Martha, jy
is eintlik baie orraait!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking