Die Burger :: Suid-Afrika word 'n Republiek :: 31 Mei 1961 |
Sê iemand
anderdag dat as jy nog altyd verwys na Suidwes en/of Die Republiek,
gee jy jou ouderdom sleg weg. Want, jy sien, die aarde is deesdae propvol
republieke en vandag se kinders sal nie weet waarna jy verwys nie. Suidwes is net 'n geografiese ligging, nie waar nie?
Hmm, is so, ja. Maar
ek het nie ‘n probleem dat jy weet hoe oud ek is nie, dus kan ek jou maar
vertel oor die tye wat ons nog Republiek toe gery het vir vakansie en agterna
terug moes ry Suidwes toe. Ek was nog ‘n tjokkertjie van sewe, toe die hele
ding begin het.
Ek kan nie onthou
dat ons as skoolkinders vreeslik daarmee gemoeid was nie, maar wat ek wel
onthou, is dat dit vir die onderwysers ‘n baie, baie belangrike dag was. 1 Mei
1961 word die Unie mos toe ‘n republiek. Ons is opgeline en het met groot
ogies die gedoente beskou toe daardie Oranje, Blanje, Blou die eerste maal
gehys is. Iewers wil my kop my dit wysmaak dat ons ‘n lied of twee voor die tyd
geleer het en dit toe daar gesing het ook.
Toe kom die dinge
van die ponde, sjielings en pennies en wat rand en sent word. Jy weeg toe ook
nie meer soveel of soveel pond nie, dis nou kilogramme. Vir jare daarna moes
ons nog in die wiskundeklas die goete omsit van die en na die ander.
Maar dit nou daar
gelaat. Ek het onlangs te doen met iemand wat dinge sommer so as
vanselfsprekend aanvaar. Jy weet mos, daardie ouens wat nooit daaraan dink dat dankie
dalk gepas sou wees op daardie tydstip nie. O jinne, my maat, as iets my nou
erg moerig maak, dan is dit so ‘n ondankbare houding!
En so loop ek die
ver paaie en dit tref my hoeveel maal ek ook maar so opgetree het. ‘n Mens
besef dit net gewoonlik te laat en dan is omdraai te laat. Want ja, gaan jy
jare later terug na iemand toe en bedank hom of haar innig vir ‘n ding van
dertig/veertig jaar gelede, skryf hy jou sowaar net daar af ... en stuur jou
vir seker na ‘n plek van veilige bewaring.
My storie gaan
oor die groot fees in 1966. As dit moontlik was, was dit ‘n groter fees as in 1961.
Die Republiek was ‘n volle vyf jaar oud en dit moes gevier word, my maat! Geen moeite
of verdriet is gespaar vir daardie geleentheid nie. Die hele Suidwes het
opgeruk na die groot fees in Windhoek.
Maar ek loop nou
die storie vooruit, man. Maande voor die tyd hoor ek op ‘n dag ons is viertjies
wat saam met Juffrou en Meneer van Maltahöhe of Keetmanshoop toe gaan ry. Hoekom?
Eers het ek nie geweet nie, maar in Keetmanshoop het ek gou genoeg uitgevind. Ek
en Maretha moes die dogters se roetine aanleer en Braam en Riaan die seuns s’n.
Terug by die huis moes ons dan weer ons maatjies leer.
Ons het daagliks
geoefen aan hierdie mooie ding – elkeen met twee stukkies besemstok wat jy so
kliek, klak bo jou kop kap by tye. Links, regs, kliek en klak, op, af, draai,
kliek en klak, en so voorts. Die hele ding was seer sekerlik nie moeilik nie,
maar ons moes oefen dat dit klap. Probeer soos ek wil, maar ek kan nie meer
onthou hoe lank die roetine was nie.
Dieselfde het vir
die seuns gegeld. Hulle het weer ander trieks gehad wat hulle moes aanleer. Oefen.
Oefen. Oefen.
Toe kom die groot
optog Windhoek toe. Ek sweer ek kan nie onthou hoe ons almal daar gekom het
nie, hoor. Dit is seker ook nie van baie belang nie, is dit?
Daar gekom, het ‘n
ander wêreld vir ons oopgegaan. So ver soos die oog kon kyk, was daar tente
opgeslaan. My kop wil my wysmaak dit was nie so baie ver van die huidige
Olimpia af nie, op pad stad toe. Tente, tente, tente! In hierdie streek is die
laerskooldogters, daar is die seuntjies, anderkant die groot dogters en nog
verder die groot seuns. Waar het die juffrou en meneer gebly? G’n mens weet
nie!
Ons is in die
tente gebondel en die leviete voorgelees. As die luidsprekers begin kraak, moet
jy jou blikbord en -beker vat en maak vir die rye. Ons kos is in die grootste
potte (dromme?) op die oop vuur gemaak. Ek onthou vandag net die brandsmaak wat
alles gehad het. Jik! Kos wat een keer in ‘n week brand, is een ding, maar as
jy vir hom moet eet soggens, middae en saans, is dit nie meer snaaks nie.
Soggens,
donkertyd, het die luidspreker begin kraak en dan het die kwaaiste mansstem ons
gebied om op te staan. Jy sukkel tussen die slaapsak en die skaafsels wat op
die grond is, om jouself op en aan die gang te kry. Oral is skaafsels. Alles is
stowwerig. Maar wie traak? As jy net eers wakker is, is als okei ... dit is nou
behalwe vir die gebrande pap wat jy moet loop afwurg.
Mense! Ek wens
vandag ek kon daardie vertonings sien wat daar gelewer is op die groot dag. Ons
kleintjies het leotards gedra – oranje, wit en blou – wat mos die vlag
uitbeeld. Ons het die rugbyveld volgemaak met ons rye en rye lyfies, elkeen met
haar twee stokkies. Op maat van die musiek het ons gekliek en geklak dat dit
bars.
Natuurlik het ons
eintlik die hele show gemis, want ek weet die groter kinders het onder andere
volkspele gespeel en gimnastiek gedoen. Die pawiljoene was gepak met die res
van die nasie wat nie aan die vertonings deelgeneem het nie.
Een aand het ons Maltahöhe
kindertjies op Juffrou se boyfriend se bakkie gery en inry toe gegaan. The sound of Music het pas verskyn en die
ganse tentedorp se kinders het op komberse die movie gaan kyk. Ai, was
dit ‘n mooie storie! Vandag nog, as ek July Andrews hoor sing, is ek terug op
die kombers in Windhoek se inry. Ek onthou selfs dat Juffrou se vriend ‘n slab
tjoklits vir ons gegee het. Elkeen kon ‘n blokkie afbreek en aanstuur vir die
volgende een.
Die laaste oggend
het aangebreek op ‘n heel ander toon. Die kwaai oom se stem was stil, my maat.
In plaas van die gewone “Julle moet opstaan!” het Doris Brash vir ons gesing.
Hmm, ja, jy het reg geraai. “Opstaan, opstaan, dis ‘n heerlike dag ...”
Nou wat het Republiekdag
van 31 Mei 1966 met dankie te doen, vra jy my?
Alles!
Dink jou in hoe
daardie stomme onderwysers vir ‘n week lank gesukkel en geswoeg het met so ‘n
massa kinders? Dink jy wraggies dit was vir hulle ‘n heerlike uitstappie
Windhoek toe? Nee, gewis nie. En, vra ek jou nou, wie het agterna gegaan en
dankie gesê? Nie ek nie!
Dus! Vandag wil
ek elke juffrou en meneer wat hulle dae omgeswoeg het met ons klomp, uit my
hart uit bedank vir hulle ontsettende geduld en liefde. En laat my seblief toe
om spesiaal haar naam te noem, toe? Juffrou June, dankie vir jou liefde en
omgee vir ons klomp gebroedseltjies in daardie tyd. Ek sal jou nooit vergeet
nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking