Weke voor
die tyd, kom die nuus: Ons gaan ‘n potjiekos-dag by Ons Tuiste hê. Ek sug
innerlik. Ai, ek weet dan die oues is nooit lus vir niks nie, nou wat nou?
Want, jy sien, dis nie net vir gaan sit en eet nie, hoor. Daar word allerhande
dinge beplan om die oues van dae mee besig te hou en te vermaak.
Ek lug
nie my mening nie, want woorde het krag! As ek nou gaan staan en sê, “Nee los
tog maar, want dit gaan nie werk nie’, dan gaan dit mos regtig nie werk nie.
So, met my beswaarde gemoed belowe ek nog ek sal met die wyses en gryses gaan
praat oor die groot aand ... wat ek ook gedoen het en baie min positiewe
reaksie op gekry het.
Ons hou
vergadering, want daar is dinge wat gedoen moet word. Ons stel ‘n kort
programmetjie op en beplan die eetgoed wat saam met die potjie bedien sal word.
“Ek
maak ‘n warm poeding.” “Ek maak twee koue poedings. “Ek maak ‘n warm poeding en
‘n koue poeding.” Die lys word net langer en langer.
Iemand
keer: “Nee, dis te veel poedings, jong.”
Iemand
anders skud die kop. “Nee, daar moet lekker baie poeding wees. Die oues moet
lekker kan eet.”
Toe ek
my kom kry, is dit die groot dag. Ons ruk soos een man op om by ons oupas en
oumas te gaan kuier. Uitgevat in hulle mooiste outfits, wag hulle vir
ons in die eetsaal. Die tafels is buite toe uitgedra en die stoele staan al
langs die mure. In die middel van die eetsaal is die rooi mat – spesiaal vir
die okkasie geleen by ‘n vriendelike ondersteuner.
Nou
moet jy weet, daar moet vanaand op hierdie einste rooi mat geparadeer word. Die
tannies en omies moet meeding vir die kroon: Mevrou Diamant en Meneer Sjarmant
moet uit hierdie mooi mense gekies word. In my hart sê ek dankie dat ek nie
hoef te kies nie, want ek is sommer al klaar jammer vir die outjies wat nie
gaan wen nie.
Elke
kandidaat wat (onder protes) ingeskryf het, kry ‘n groot nommer aan die lyf
vasgesteek. Hulle sit met groot, bevreesde ogies die mensdom en bekyk. Toe
hulle uitvind ek gaan vir hulle vrae vra, is die een en elk se dringende
versoek: “Moet asseblief nie vir my moeilike vrae vra nie!” Natuurlik belowe ek
vir elkeen dat ek dit nooit sal doen nie. Ek gaan net vra wat is jou naam en
hoe lank is jy al in die ouetehuis. Dit laat hulle so ‘n klein bietjie rustiger
asemhaal.
Eers
moet daar gespeel word. Ek moet erken, toe daar by ons vergadering besluit is
op Musical chairs, het ek ernstige bedenkinge gehad. Regtig? Musical
chairs met die oues van dae? Nooit gesien nie!
Ek bekyk
hulle so en ek wonder! Baie sit met looprame en ander is selfs in rystoele.
Hier en daar sien jy ‘n kierie ook. Hoe gaan ons hulle oortuig om saam te
speel?
Dirk
is nie ‘n ou wat skrik vir koue pampoen of ja, vir oues met kieries nie. Hy gee
‘n lang, skril fluit om die aandag te kry. Onmiddellik is hulle stil, want die
hoofman het gefluit.
“As jy
kan loop, staan op!” bulder hy.
Ha-a,
hulle staan nie op nie. Inteendeel, die ogies is alweer so groot soos pierings.
Hy roep weer: “As jy kan loop, staan op!” Niks gebeur nie.
Toe tref
dit my: Hulle dink almal van hulle moet nou op die rooi mat kom loop en hulle
wil nie. Of hulle is nog nie gereed nie. Of wat?
“Dirk,
hulle dink hulle moet nou paradeer vir ons, jong,” fluister ek.
Dirk
bulder: “Dis nie vir modeparade nie, ons wil speel. Staan op as jy kan loop!”
En sowaar,
die een na die ander kom regop – party kry dit maklik reg, maar ander kom so
half in sarsies regop. Jy weet mos, as die rug nie wil nie of as die knieë te
stram is, sukkel so ‘n skielike opstanery mos maar.
Hy verduidelik
mooi hoe dit gaan werk en almal knik die kop. Ja, hulle verstaan mooi hoe dit
werk. Daar is net een ding wat vir Dirk pla: die rooi mat waaroor hulle moet
loop. Ek dog hy is jammer vir die mat en probeer hom troos dat dit mos darem
nie duisende voete is wat die mat gaan tref en verrinneweer nie.
Ek gee
die teken en die musiek begin. Asof dit ‘n trein is wat eers spoed moet vat,
begin die oues stadig in ‘n kring beweeg. Dis toe wat Dirk weer skree: “Moenie
val nie! Moenie val nie!” en ek besef waarom hy so ontsteld was oor die mat op
die vloer.
Ag,
was dit ‘n fees om dit te aanskou! Dit lag en jil en stap met ‘n spoed van
stoel na stoel. Elke keer wanneer die musiek stop, is dit ‘n geskarrel uit ‘n
ander wêreld om ‘n stoel te kry. Hulle gaan sit selfs op mekaar se skote om
asseblief net ‘n sitplekkie te kry. Dan is dit tot groot vermaak van die res
dat daardie een moet hoor sy/hy is nou uit die speletjie uit. So kom dit toe
ook dat oom Piet sommer op die rooi mat gaan sit toe hy nie ‘n stoel het nie.
Uiteindelik
het ons ‘n wenner! Oom Hennie was die bittereinder en kry toe sommer ‘n prys
ook. Op my vraag of hulle nog ‘n keer wil speel, kom die onderlangse antwoord
van een: “Ons is nou moeg, man. Môre gaan ek spierpyne hê.”
En toe
is dit etenstyd! Afvalpot en skaappot: Watter een sal ek nou kies? Og, albei
lyk dan so lekker ... Die poeding kry toe nie so ‘n groot aftrek as wat ons
gedink het nie, want die potjiekos was meesterlik gekook.
Die kroning
van Meneer Sjarmant en Mevrou Diamant lewer die mooiste liefdesverhaal op.
Tannie Grieta het twaalf jaar terug haar man verloor en in ‘n woonstel by die
ouetehuis kom bly. Met die jare het oom Arthur hierdie mooie meisie gesien en
nou en dan kom inloer. Hyself het nog in die dorp gewoon. Ses jaar later kom
trek hy ook in. Hy bly in ‘n kamer en tannie Grieta in haar gerieflike
woonstel. En weet jy wat? Minder as ‘n week later besluit die ou tweetjies hy
hoef nie in daardie verkrampte ou kamertjie te sit nie en hulle haak af. Op my
vraag aan die omie, wat die mooiste ding is wat die ouetehuis vir hom opgelewer
het, was sy antwoord: “My vrou, natuurlik!”
Die tweetjies
is eenparig gekies om die kroon te dra. Skaam-skaam het hulle op maat van Fires
en oom Piet se musiek vir ons ‘n paar danspassies gemaak voordat hulle weer
uitasem by die tafel gaan sit het.
Na alles
kan ek maar net sê: Dankie, julle mooi gryses, vir ‘n wonderlike aand. Julle
maak die lewe die moeite werd.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking