Skatryk.
Nee, stinkryk is ‘n beter beskrywing van hom. Hy woon in ‘n posh buurt
in ‘n posh huis en ry met ‘n posh kar. Sy vrou is gewoond aan
oorsese vakansies en het meer juwele en skoene as wat die gemiddelde mens ooit
sal van kan droom om te sien, wat van nog droom om te kan besit! Hy is ‘n
uitstekende sakeman en besit die helfte van die stad se geboue.
En tog
het hy hierdie vreemde ... afwyking. Afwyking? Siekte? Gebrek? Nee, deesdae is
die ‘in’ woord mos ‘sindroom’. Hmm ja, hy het hierdie vreemde, ongediagnoseerde
sindroom waarvoor daar geen behandeling is nie. Jy sien, sy lewe lank soek hy
al na daardie iets wat hom volkome gelukkig en tevrede sal maak. As hy dit of
dat of wat ookal kan kry, sal sy hart vrede hê en sal hy gelukkig wees tot aan
die einde van sy dae.
Dis ‘n
ware verhaal van ‘n miljoenêr wat van tyd tot tyd dros van die huis af en op
straat gaan bly saam met die boemelaars. Hy los sy foon, sy beursie en sy kar
by die huis en veg om oorlewing op straat. Snags slaap hy onder ‘n karton nadat
hy vanaand met sy nuwe vriende ‘n brood gedeel het. Die versoeking om deel te hê
aan bloutrein[1],
moet hy met alles in hom beveg. Die ander drink dit teen die koue, maar hy weet
te veel daarvan om te val vir die versoeking.
‘n
Voortdurende kuggie word ‘n hoes wat nie ophou nie. Een nag sleep ‘n weldoener
hom hospitaal toe. Die dokter het geen voorliefde vir boemelaars soos hy nie en
stuur hom weg met ‘n hand vol pille. Hy gooi dit buite die gebou in die naaste
asdrom.
Eers
toe hy besef hy gaan dalk nie hierdie koue oorleef nie, bel hy vir James, sy
chauffeur, om hom te kom haal.
James praat
nie. Hy weet dit sal nie help nie. Hierdie ding het seker al vyf keer die
afgelope tien jaar gebeur – Meneer raak weg vir ‘n tyd en op ‘n dag word hy
gebel ...
Althea,
sy vrou, is lankal gewoond aan hierdie patroon. Sy het die eerste keer wat dit
gebeur het, die polisie gebel en almal rondom haar op hol gejaag. Nou weet sy
van beter. Sy weet hy sal huis toe kom wanneer die regte tyd daar is.
Ongelukkig
was daardie een winter te koud en sy longe toe al te swak om genoeg weerstand
te bied. Toe James se foon weer eendag lui, was dit ‘n vreemde stem wat hom vra
om Meneer se lyk te kom oplaai.
Die vraag
kom by ‘n mens op: Hoekom doen hy dit? Wat is dit waarna hy so soek? Liewe
aarde, hy het alles wat sy hart begeer, maar hy soek na ...
Soek na
wat?
En ek
besef ek het ook maar ‘n boemelaar in die hart. Daar is altyd daardie ‘iets’
wat net buite bereik bly en wat oornag ‘n obsessie, groter as my logiese denke,
kan word.
ü As ek
net dit of dat kan kry, sal ek tog so gelukkig wees.
ü Wanneer
ek daardie ding regkry, sal my lewe volmaak wees.
ü Teen
hierdie tyd volgende jaar sal ek soveel of soveel in die bank hê en sal ek
nooit weer ‘n slapelose nag deurbring nie.
ü Ek sal
tevrede wees as my harde werk erkenning kry.
ü As ek
net daardie ekstra paar kilogramme kan afskud, sal ek ook weer soos ‘n mens
voel.
Ek skud
my kop in stomme verbasing. Kan ‘n mens, nee, kan EK so dom wees om nie die
oorvloed rondom my raak te sien nie? Wat
as ek môreoggend wakker word en al wat ek het, is die dinge waarvoor ek vandag
dankbaar was.
WAT. AS?
Ek sit my hand op my hart en sug diep. Ek weet ek is skuldig aan my eie ontevredenheid. Ek weet ek het die sleutel tot daardie onbereikbare vrede in my eie hand.
Kom
tot rus, my onrustige hart, kom tot rus! Besef hoe geseënd jy is en kom tot
rus.
[1] One
makes a blue train by filtering methylated spirits through a loaf of bread in
order to remove the bitter-tasting purple dye (In South Africa, the dye is
mandatory in order to prevent it's used as a beverage). Since only the dye is
removed, not the kerosene, methanol, isopropanol etc, it gets you smashed off
your head, but may cause vomiting, headaches, seizures, blindness and/or death.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking