Ken jy iemand wat maklik huil? Ek praat nie van huil omdat sy seer het of ‘n siekte het of iemand verloor het nie. Ek praat ook nie van wanneer daar die een of ander drama in die familie is nie. Nee, ek praat van sommer net huil – huil as iets baie mooi is, huil as iemand iets goed gedoen het, huil omdat iemand ander seer het, huil omdat hulle bang is, huil omdat hulle eensaam voel, of ... of ... of... Nee, hulle huil omdat huil huil is. Dis nou ek daai!
Nou kyk, ek kan jou
baie stories vertel van my huilery. Van kleins af was dit vir my ma ‘n bron van
groot ergernis. Die kind wat ewig vir niks nie aan die grens gaan! Baie male,
nee, honderde male in my lewe moes ek hoor: “As jy iets wil hè om oor te grens,
sal ek vir jou dit gee!” en daardie tyd brand die hand op my boud. Maar kyk
hier, dán tjank ek riviere vol.
Natuurlik loop die
trane nóg lekkerder die kere wanneer jy Martie Martelgat speel. Nou kyk, as jy
jammer is vir jouself, stroom dit mos riviere vol oor die wange en hoe meer jy
dit wil keer, hoe meer stroom die trane. En moenie dat iemand jou probeer troos
nie, hoor. O aardetjie tog, dan moet jy kom staan en kyk hoe huil hierdie vrou
vir haar blou in die gesig. By ons gebedsgroepie jare gelede het hulle gesê my
trane loop mos nie soos ander mense s’n nie. Die een oomblik is als nog okei,
en die volgende oomblik spuit dit behoorlik so vorentoe by my oë uit.
Nou kan jy my vra nou
waaroor het ek so baie gehuil? Dis moeilik, maar ek sal jou probeer so hier en
daar vertel.
Ag, jy weet mos: As
iemand onverwags vir jou ‘n mooi geskenkie gee – jy ken tog daardie gevoel in
jou hart by so ‘n onverwagse betoning van liefde, nie waar nie? Dan spat die
trane myle ver, my ding, myle ver.
Of as jy iemand sien
wat jy jare laas gesien het en baie gemis het. Of wanneer jy verjaar en almal
wens geluk. Of mos op jou kind se troue! Of jy sien iemand met baie pyn. Of jy
hoor hoe jou dierbaarste vriendin se man haar verneuk. Of ‘n ma wat haar baba
in die asdrom gegooi het. Ag, noem op, ek sal tjank.
Die dag toe ek my finale
onderwys-uitslae op die kennisgewingbord gaan kyk het, was so ‘n dag. My ouers
het ‘n paar treë verder vir my by hulle motor staan en wag. Dit was ‘n
deurmekaar gewoel soos almal gaan kyk het en dan natuurlik na hulle dierbares
toe gestorm het. En ek? Ag hemeltjie tog! Ek kom soos ‘n kranke aangestap en ek
tjank die bloed uit my lyf uit. Suster, ek huil nie, ek ween! Almal stuur my
aan, maar ek traak nie, ek tjank! Een van die studente naby my ma het die moed
gehad om dit uit te spreek wat almal aangeneem het: Sy het haar innige jammerte
teenoor my ma uitgespreek dat ek dan gedruip het. My ma wat mos die storie van
my geboortedag af ken, het gelag en haar verseker ek het nie gedruip nie, alles
is in die haak.
En moet tog nie dat my
kinders vir my kom kuier nie. Kyk, ek tjank al vandat ek hoor hulle wil kom
kuier oor die feit dat as hulle klaar gekuier het, hulle weer vir lank weg moet
ry. Ha? Is dit normaal? Vir my is dit deel van die lewe, jong.
‘n Dag wat ek gedink
het ek hou nooit weer op met huil nie, was toe ons agter ‘n motor gery het en
toe slaan dit hier reg voor ons om. Twee mans – die een ernstig beseer en die
ander een is op die toneel oorlede met my pa by hom. Die twee was uit
Suid-Afrika op pad en sou die volgende dag hulle vrouens in Windhoek op die
lughawe gekry het. Kan jy jou die hartseer van daardie vrou indink? Ek kan nou
nog nie daaraan dink sonder om emosioneel te voel nie.
En toe, op ‘n dag,
gebeur daar ‘n wonderlike ding! My ma kuier by my en sy sit en kyk tv terwyl ek
in die kombuis besig is. Sy kom staan opeens by my en vra ek moet haar in haar
oë kyk.
“My kind, vergewe my
vir elke keer dat ek met jou geraas het as jy huil. Vandag sê ek vir jou: Jy
kan maar huil! Huil maar, my kind, Ma verstaan nou.”
Ek moes wag tot later
om die skielike omwenteling te kan verstaan. Sy het ‘n na ‘n program gekyk oor
mense wat baie empatie met ander gekyk. Iemand merk toe terloops op dat hierdie
mense mos vreeslik maklik huil. Hulle voel die seer/leed/pyn/blydskap van ander
aan en kan nie anders as om te deel daarin nie.
As jy nog die hele tyd
lees, is jy dalk soos ek of jy ken iemand soos ek. Nou! Daar is ‘n klein
stukkie raad vir ons, dis nou vir wat dit werd mag wees.
1.
Gee jouself toestemming om te
voel. Jy hoef nie die trane weg te dwing nie. Jou empatie is deel van jou DNA –
dit is wie jy is.
2.
Bou ‘n ‘emosionele filter’. Jy
kan regtig nie die hele wêreld se ellende op jou skouers dra nie. Vra vir
wysheid hoe om liefde te gee sonder om die swaar te help dra.
3.
Maak tyd vir stil word en heel
word. Empatiese mense raak maklik oorweldig deur groot groepe mense en baie
geraas. Kom eenkant. Raak stil. Raak sterk!
4.
Kry ‘n uitlaatklep. Skryf dit
uit jou hart uit. Skilder. Sing. Doen wat jou laat ontspan en wat jou aan niks
anders kan laat dink nie.
Op die foto wat ek
aangeheg het, was ek weereens aan die tjank oor hoeveel keer ek nog so by my
moeder sou kon lê. En sulke tyd het die ou handjie, sonder dat ons gepraat het,
net so getik-tik-tik hier langs my kop.
“Kom nou, Ma se kind,
kom nou,” is al wat sy dan sê.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking