Ag, ek het nou so
lekker gelag en ek moet dit net eenvoudig met julle deel!
Na ‘n baie lang
gesukkel spoor ons ‘n part vir ons motor in Windhoek op. Ek en my liefie praat
nog van koerier en wat als, toe hoor ons maar nee, die part kom sommer vanaand
saam met ‘n bussie Walvisbaai toe. Is dit nou goeie diens? Voorwaar, ja!
Die verkoopsman gee vir
my die nommer van die bussie se bestuurder en ons is baie, baie in ons noppies
met die verloop van sake.
Op ‘n stadium lui my
foon, maar dis nie die nommer wat ek gekry het nie. Ek antwoord nogtans en dit
is die bestuurder van die bussie. “I am in Okahandja.”
Ek wil nog gesels en
mooi verduidelik van hoe hy nou iewers by ‘n vulstasie vir ons moet wag, maar
die ou het nie lus vir my nie ...
Bid jou aan! Hy sê nie
eers koebaai of iets nie. Die foon is sommer net dood.
Ek en my liefde wonder
netnou waar die bussie nou is. Dit raak nou laterig en volgens ons somme moes
hy al hier in Walvisbaai gewees het. Jy moet weet, daardie part wat hy bring
het vir ons ‘n klompie sente uit die sak gejaag ... mos!
Ek bel. Die ou antwoord
redelik bot. “I am in Swakopmund.”
Ek probeer om te vra hy
moet tog asseblief by ‘n vulstasie stop sodat my man dit maklik kan kry.
Maar hoor hier! Kry ek
sommer gou-gou op my bek! “Mem, I did not call you. I will call you when I come
to Walvis Bay.”
Weer ‘n keer nie
koebaai nie.
Ek sit die foon op die
tafel neer en leun terug op my stoel. Ek en my man kyk vir mekaar en bars uit
van die lag.
Dis oor hierdie soort
van ding dat een van my kinders ook al op ‘n dag gesê het Ma moet net ophou
organiseer, asseblief!
Het jy ook al so op jou
bek gekry? Vertel my ‘seblief daarvan, dan lag ons saam daaroor.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking