Sondag 24 November 2019

IS DIE LIEFDE DAN BLIND?


Het jy al gewonder wat maak mense lief vir mekaar? Ek meen nou, soms sien jy hierdie hunk van ‘n man wat getroud is met die vaalste, oninteressantste ou vroutjie. “Gits, wat sien hy in haar?” wil almal weet. Hy hang aan haar lippe en kan nie genoeg van haar kry nie. “Hy kon darem regtig beter as dít gedoen het!” woord gereeld agter die hand gefluister.
Jy sien hulle gereeld op straat; die kolos van ‘n vrou met ‘n mannetjie wat iewers hier langs haar in haar skaduwee saam trippel. Ja, ek weet jy ken ook ten minste een so ‘n onpaar paartjie. Wat, vra ek jou, het hom in die eerste plek na haar toe gestuur? En wat, vra ek jou weer, het haar oortuig dat daar ‘n groot genoeg liefde in die outjie skuil? Ek moet bely dat dit regtig vir my een van die grootste geheimenisse in die lewe is. Hoe op aarde begin so ‘n verhouding ... en vorder dit tot innige liefde en ‘n troue?
Dan is daar die oupa en ouma van tagtig. Hy noem haar nog altyd ‘My Blom’ en sy aanbid die grond waarop hy loop. Hy sukkel die trappies op en slaan sukkel-sukkel vir haar ‘n spyker in die muur. Sy straal! Hy bly maar net haar held. Nou vra ek jou: Sien sy nie die plooie en krom kniegies nie? Of kom hy nie agter dat sy lankal nie meer die seksie beentjies het waarop hy so verlief geraak het nie? Wat, wil ek weet, hou hulle so lief vir mekaar?

Heel op ‘n ander vlak. Sy soek al jare na ‘n hondjie. Sy weet presies hoe hy moet lyk en weier om sommer enige gebroedsel te aanvaar. Op ‘n dag kry sy hom. Ag, is hy nie pragtig nie? Sy kan nie genoeg met hom speel en genoeg foto’s neem nie. Dit is die mooiste ding wat nog ooit hierdie aardbodem bewandel het. Vreemd genoeg is daar baie min mense wat haar sentiment deel. ‘n Vriend noem onse klein Billy ‘Die mongrel’ en iemand anders praat van die ... Wag, kom ons maak nou nie gevoelens seer deur al die byname hier te noem nie. My vraag is net, kan sy dan nie sien hoe lelik is hy nie?

So terloops – Billy en Soetseun is groot vriende daar op die plaas. Soetseun is eintlik baie jaloers op Perd, maar as hy met Billy gesels, besef hy net weer opnuut dat die plaas tog ‘n lekker plek is en dat hy ook sy plekkie onder die son het.

Wat maak dat ‘n jong meisie kan sê: “Ouma is vir my so, so, so mooi.” Ouma is oud en ou mense is vol plooie en wat nog als. Maar hierdie jong meisie spandeer ure om Ouma se naels te knip en vyl, Ouma se gesighaartjies uit te trek en dan nog die voetjies ook te versorg. Dan, voordat sy groet, is daar nog tyd vir grappies ook en sy stap met ‘n lied in die hart daar by die kamer uit. Sien sy nie dat die ouma lankal die fleur van jeug verloor het nie? Wat is dit wat maak dat sy nie die ouderdom in haar ouma raaksien nie?

Ek glo ek het die geheim ontdek. Ek deel met jou ‘n klein storietjie van groot hartseer. Lees maar en besluit dan self.
Sy het lekker gebad en hare gewas. Sy’s nou baie moeg, maar roep my: “Suster, kom sny my hare, asseblief.”
Ek is onmiddellik terug by my pa, so ‘n paar jaar terug. Hy het intensiewe bestraling teen breinkanker gehad en die ou haartjies het bosse uitgeval. Vreemd genoeg, net die grys hare het gebly – sulke lang slierte wat glad nie gepas het by die netjiese beeld wat ek van my pa gehad het nie. Hy het so half kop onderstebo gesit en ek het ‘n bietjie gesny aan die yl kapseltjie. Ai! My hart het gebreek, want ek het geweet dit sou die heel laaste keer ooit wees wat ek sy hare sou sny. My ma en ousus het doodstil staan en kyk na my poging om hom netjies te kry.
En hier roep my ousus my om haar haartjies te sny. Sy was aan die herstel van ‘n breinoperasie en die een kant van haar kop was byna kaal geskeer. Ek moes dít wat oor was, probeer netjies kry.
Sy kyk my in my oë in die spieël voor ons. “Suster, ek dink mos nou aan daardie dag ...”
Ek het haar hard in die rede geval: “Ek ook, maar ons gaan nié nou daaroor praat nie.”
Sy het nie geantwoord nie. Ons albei het geweet hierdie sou waarskynlik ook die laaste keer wees wat ek haar hare sou kon sny.
Ons is klaar. Ek sit die skêr neer. Ek buk af en maak die haartjies op die grond bymekaar. Ek probeer so gou moontlik maak, want sy is moeg en wil gaan slaap.
Met die opstaan, sien ek wat sy doen. “En nou, Ousus?”
Sy is besig om haar wolmussie oor haar kop te trek – mooi netjies en stewig tot oor die ore.
“Ek slaap nie met so ‘n kop saam met my man nie.”
Nou moet ek jou sê, ek is g’n Shakespeare fan nie, maar daar is een aanhaling in sy werk wat ek seker al ‘n duisend maal herhaal het sedert daardie dag in my sus se kamer.

Love looks not with the eyes, but with the mind, and therefore is winged Cupid painted blind. (A Midsummer Night’s Dream)

Sy het nie daardie keer die mussie afgehaal nie, maar die woorde het ingesink, dit weet ek. Toe haar haartjies min word as gevolg van die behandeling, het sy dit laat afskeer en koelkop kaalkop die wêreld in die oë gekyk. (pun intended)



Na alles bly vir my ‘n troos dat ek weet jy en jy en jy het my lief, ten spyte van ...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...