“Ek troetel hulle dan dood, man!”
Ek wil so graag so tussen die groen
oorvloedigheid hier op my stoep sit en die vrede deur my binneste voel waai. Ek
probeer regtig hard, maar nee! Ek gesels
met hulle, ek gee hulle al die liefde in my hart, ek gee water, voeding, wat
als ... maar die uiteinde is altyd dieselfde – ‘n dooie verlatenheid in ‘n pot dooie
sand.
Geliefde sal gou genoeg intree vir plant se
kind: Kom ons gee hom nog ‘n kans, toe? Dan druk hy tak se kind in die water en
wag en wag en wag ...
Dalk is dit my ongeduldigheid? Dalk nie?
En toe gebeur dit half so per ongeluk! Iemand
struikel oor een van hierdie dofgroen geliefdes van my en die stomme plant
breek tot in die rou lewe af. Ek wil huil! Hoe lank piep ek hom al op, en nou
dit?
Maar! Wat sien ek ‘n dag of twee later? Die
mooiste, groenste uitloopseltjies daar aan my half-oorgeblyde geliefde. Die
blaartjies is so klein, jy moet amper raai of jy regtig daar ‘n groenigheidjie
sien. Net daar word ‘n nuwe geliefde reg voor my oë gebore!
‘n Ander een is so van die pes, dis net dooie
blare en takke. Toe ek dit op ‘n dag nie kan hou nie, begin ek takke afbreek en
op ‘n hoop gooi. En? Doer onder teen die stam is weereens daardie kosbare lewetjie
wat besig is om uit te loop.
Ek besef opeens – dis lente, Martha! Die
plante weet dit, net jy moet dit nog sien en voel en beleef. Die nuwe lewe is
besig om uit te loop en te begin groei. Hulle móét gestroop word van dit wat
oud was sodat die nuwe lewe kan uitstoot van onder af. En net daar word elke
geliefde op die werf so ‘n bietjie (eintlik báie) gesnoei.
My lyf dra ook die tekens van die
winterseisoen: ’n rugwerwel wat eens gebreek het, ’n ruggraat wat skeef en
pynlik draai, en herinneringe wat soos ryp op takke bly rus. Ek staan nie lank
nie, loop stadig, en slaap in my stoel.
Dan kom die gedagtes soos spinnerakke en pes
in die nag. Dit neem oor, maak dood, versmoor, verlep alles in die omtrek,
vervuil en besoedel tot waar jy die einde nie kan sien nie. Gedagtes. Drome.
Gedagtes en drome wat werklikheid word of voel. Ellendig, man! Ellendig!
en
ek
besef:
Maak skoon.
Maak dood.
Sny af.
Sleep weg.
Alles! Alles wat na winter lyk en ruik, moet
uit buitentoe. Dit hoort nie in my kop nie. Dit hoort nie in my lyf nie.
Nou kan ek so tussen die groen oorvloedigheid
hier op my stoep sit en die vrede deur my binneste voel waai. Want, jy sien,
dis lente – ook in my hart.
Ek haal ‘n anonieme
skrywer aan:
’n Enkel bossie staan stil in die sagte asem
van oggend, sy bruin takke gestik met groen hoop. Voëls styg soos verdwaalde
gedagtes in ’n lug wat met goud gewas is. Geen blom nie, geen trompetgeskal—net
die stille belofte van word. Lente skree nie; sy fluister in spruite en vlerke,
in lig wat bly hang, in grond wat onthou hoe om weer te begin. Elke blaartjie
is ’n gedig, elke skadu ’n herinnering. Die wêreld draai stadig, soos ’n ou
wals, en die natuur antwoord met geduld. Hier, in die stilte tussen seisoene,
leer ons om te wag, om te glo, om te sien hoe die lewe weer kleur kry sonder om
te vra.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking