Saterdag 24 Maart 2018

DIE DAG TOE 'N VROU GEBREEK HET

            Ek skryf oor spyt wat altyd te laat kom en daar is ‘n paar lesers wat verskillende opinies uitspreek. Denitia skryf die volgende hartseer stukkie en ek besluit om die gordyn so ‘n klein bietjie te lig. Lees gerus self en deel met my die seer van hierdie vrou.


Daardie  seer het my vandag by my motor se kattebak gevang. Ek het vir die hoeveelste keer uit die staatsaanklaer se kantoor gestap met dieselfde vrae as waarmee ek soveel keer al daar in is. My twee knapies was vandag saam, want dis skoolvakansie en ek het niemand om na hulle te kyk nie. Ek moet self. Ek het my loopraam opgevou en agter in my motor gelaai, iets het teruggespring en my links onder my oog getref. Dit was nie seer nie, maar net daar, net daar voor my oop kattebak en ten aanskoue van al die ander antwoord-honger vrouens, het ek my kop teen my loopraam laat sak en begin huil. Ek het my smart en frustrasie net daar begin uitsnik. Ek was in daardie oomblik nie net spyt nie, ek was verneder, alleen, moeg, hartseer, in pyn en ʼn leeftyd se seer het my daar oorval. 'n Swart vroutjie met ʼn baba op die heup het my kom troos en ek is skuifel-skuifel uiteindelik agter my motor se stuur in. My seuns het gepaai, met vuil vingertjies my hare gestreel en trane van my wange af "gesmeer". Ek het een ding geweet, al het ek niks nie en al mag ek dalk nooit gelyk kry met hierdie man nie is hulle soveel armer as ek daaraan toe, want wat ons het kan nie gekoop word nie. Liefde het die spyt vir eers stilgemaak in my. Liefde het hierdie keer gewen.


               “My vrou is stukkend, sy is ‘n koolkop,” sê hy oorkant my in die sitkamer. Ek gee ‘n kekkellaggie. Hy lag. Ons sit en kyk vir mekaar en lag. Daar is niks anders om te doen as om te lag nie.
               Hy kom nie nader na my toe nie. Hy sit daar asof in ‘n waas en staar na my. My hele hart roep uit na hom toe. Hy moet my help, hy moet iets doen sodat dit anders kan word, maar helaas, hy sit die sit van ‘n standbeeld. Een of ander tyd het hy opgestaan en geloop. Hy het my daar gelos om te sit...! Ek het sit en skud en ruk soos ‘n dier wat gif ingekry het en ek kon dit nie beheer nie.
               Here! Wat is aan die gang? Wat het dan nou gebeur? Waarom sit ek hier en ruk en skud? Die spuit wat die dokter my gegee het, het my amper laat glo dat alles nou weer in die haak is. Ek het vir ‘n uur of twee geglo dit was net ‘n bose grap, maar nou weet ek...
               Dink mooi, Denitia, dink net mooi wat het gebeur. Jy kon nog altyd ‘n plan gemaak het met enige probleem, reg? Jy is ‘n sterk vrou, Denitia, ruk jou reg, asseblief.
               O Here, ek is so moeg. Ek is so vaak dat ek my oë nie kan oophou nie. As ek net kan gaan slaap, Here. Nee! Jy kan nie gaan slaap nie, Denitia. Jy moet wakker bly, hoor jy vir my? As jy gaan slaap is dit klaarpraat met jou. Jy sal nie weer wakker word nie. Jy. Mag. Nie. Gaan. Slaap. Nie. Hoor jy vir my? Jy sal doodgaan as jy slaap, Denitia. Wie sal na jou kinders kyk as jy dood is? Toe, antwoord ‘n bietjie vir my? 
               Dink! Wat het vandag gebeur?
               Ek sit en kyk rugby. Kan jy nou meer – ek kyk rugby! Ek haat rugby, om die waarheid te sê, maar vanaand moet ek rugby kyk. Dit hou my wakker sodat ek nie doodgaan in my slaap nie.
               Die dag het soos enige ander dag begin, behalwe dat ek nie gaan werk het nie. Skoonsus het my afgegee om tandarts toe te gaan. Ek was nog nooit bang vir ‘n tandarts nie. Hoekom sou ek bang wees vir ‘n mens wat my moet help om van pyn ontslae te raak? Die feit dat ek hom nie ken nie het my ook nie gepla nie. Tandartse is professionele mense en die een is soos die ander, nie waar nie?
               Eintlik was ek baie in my noppies met myself dat ek uiteindelik so ver gekom het om die tandartsafspraak te maak en dan nog na te kom ook. My tand het my baie las gegee en ek het onnodige pyn verduur, maar soos dit is, stel ‘n mens mos maar sekere dinge uit as jy te besig is. Uiteindelik was ek nou op pad om myself ‘n groot guns te bewys, het ek gedink.
               Omdat dit my eerste besoek aan hierdie tandarts was, moes ek ‘n lywige vorm voltooi. Ek weet hoe belangrik dit is dat hulle alles moet weet, want sekere siektetoestande kan gevaarlike reaksies uitlok met al die verdowing wat die tandartse gebruik. Ek lys toe die hele spulletjie:
·         Kroniese hartversaking
·         Asma
·         Hoë bloeddruk
·         Chroniese Pankreatitis
Toe hy hoor dat ek vir laasgenoemde geen medikasie gebruik nie, het hy besluit dat die prosedure dan maar kan voortgaan.
               Dit is baie vreemd vir my dat hy sommer blindweg begin werk aan my. Wat van die hoë bloeddruk? Gaan hy nie my bloeddruk neem nie? Weet hy nie dat die verdowing my bloeddruk die hoogte in kan laat skiet nie?
               Hy het geen idee wat regtig met my tande aangaan, behalwe wat ek hom vertel het nie. Neem hy nie plate nie? Ek is verbaas hieroor, want is dit nie algemene praktyk om dit te doen nie? Hoe weet hy waar presies die wortel is wat hy moet verwyder en waar presies die hoof-are loop in my kaak?
               En tóg vertrou ek hierdie vriendelike tandarts. Bogenoemde gedagtes was vaagweg in my kop, maar dit het my nie werklik gepla nie – hy weet mos wat hy doen, dan nie? Vir geen oomblik was ek bang dat daar iets vrééslik sou gebeur met my nie. Nee, ek was gerus en ontspanne en tog te bly dat die tandpyn binnekort iets van die verlede sou wees.           
               Hy spuit my in. Stadig, soos hulle dit gewoonlik doen. Maar iewers hoor ek ‘n baie vreemde kraakgeluid in my kop. Wat sou dit wees? Wat klink so?
               “Mevrou, wil jy hê ek moet vir jou meer verdowing spuit?” vra hy opeens. Hy het reeds twee spuite verdowing gespuit teen daardie tyd en iewers het dit nou begin bloei. Die stoelassistent moet nou die bloed in my mond wegsuig sodat hy kan sien waar om te werk.
               “Nee, dankie, ek het nie nog nodig nie,” antwoord ek so ‘n bietjie verbaas. “Waarom vra jy dit?”
               “Jou asemhaling het skielik verander en ek het gedink jy het dalk pyn. Maar as jy reg is, kan ons voorgaan,” sê hy so effens onseker. Oor die bloeding is hy nie baie gepla nie. “Ek moes nou seker iewers ‘n aartjie getref het met die spuit...”
               Die res van die prosedure loop seepglad en gou-gou het hy die twee tande getrek. Dankie tog! Ek het vandag gedoen wat ek lankal moes doen. Waarom stel ‘n mens altyd alles uit?
               Die stomme dokter het nie eens ‘n bankrekening nie, kan jy dit glo? Ek is so haastig huis toe, maar ek gaan eers by die bank aan om kontant te trek om hom te betaal. Ek maak seker dat hulle weet ek gaan weer kom, want ek wil nog graag hê dat hy my tande so ‘n bietjie skoonmaak op ‘n later stadium.
               Ek voel effens dronkerig, maar dit is seker maar weer die bloedsuiker? Of dalk is dit my bloeddruk wat effens te laag is na die verdowing. Dit sal jou nou leer om nie te eet nie, Denitia! Hoe kon jy so onverantwoordelik wees? Jy weet tog dit laat jou sleg voel, ha? Tog, ten spyte van die feit dat ek nie lekker voel nie, ry ek gou bank toe om die geld te trek.
               “Mevrou, jy kan maar eerste gaan,” sê iemand in die ry vir my. Hoekom sou hulle my ewe skielik voor in die ry wil hê? Ek is mos nie oud nie? Die gedagtes maal deur my dowwe kop, maar ek is baie dankbaar vir die onverwagse bedagsaamheid. Ek voel nou regtig baie sleg – dit voel dan of my hart by my keel wil uitspring, man! En die naar, o liewe aarde, waarom is ek dan so naar?
               Ek vra vir die teller dat ek hierdie groot bedrag elektronies wil trek en sy sit die transaksie deur. “Teken asseblief hier, Mevrou.”
               Nee! Wat het dan nou gebeur? Met geen wil in die wêreld kan ek dit pen vat en teken  nie. Kom nou, Denitia, vat die pen en teken! Maar dit werk nie. Ek staan en staar na die verdwaasde teller. Ek kan nie teken nie. Ek kan nie die geld optel en in my beursie sit nie. Ek sien opeens dat my hand en arm geweldig ruk. Ek hoor ‘n vreemde geluid by my voete. Met die afkyk sien ek dat dit my een voet is wat klop, klop, klop op die vloer. Liewe Here, help my asseblief!            
               Kom, Denitia, wat is dit nou met jou? Klim in jou kar en gaan terug tandarts toe. Jy wil nie dat hulle jou daarvan beskuldig dat jy nie betaal het nie, wil jy? Kom nou, sien jy, jy is hier. Klim net uit en vra dat die man jou moet help. Hy sal weet wat om nou te doen.
               “Nee, Mevrou, die dokter is met ete. Hy is nie nou hier nie.” Sommer net so, ha? Nou wat nou? Huis toe? Dokter toe? Ek kan nie dink nie, man! Wat nou verder?
               My foon, ek moet my foon antwoord. Ontspan net en antwoord die foon. “Mevrou, Dokter het vir jou ‘n voorskrif vir pynstillers en antibiotika geskryf. Sal jy dit asseblief kom haal?” Is dit dan nie die man wat ‘n oomblik gelede met ete was nie?
               As my liggaam net wil ophou ruk en skud! As ek dit net kan beheer sal alles reg wees, ek weet.
               Ek moet die tandarts sien, asseblief. Ek dring aan ek wil en sal en moet hom sien. Hoe kan hy my so maak en net so los?
               O nè, jy skrik lekker, ha? Sien jy nou wat het jy gedoen met my? Gaan jy nou omdraai en loop of wat gaan jy nou doen? Kom, slim meneertjie, laat ons hoor wat jy nou gaan doen.
               “Mevrou! Genugtig tog. Jy moet dadelik by ‘n dokter kom,” dring hy aan toe hy my sien. Ek is verward, ek voel baie, baie sleg, maar ek klim in my motor en met my laaste wilskrag ry ek dokter toe terwyl die tandarts my volg in sy motor.
               Genugtig, as die ontvangsdame nou haar eie gesig kon sien! My hart klop (so voel dit vir my) teen honderde slae per minuut. My liggaam is besig om sy eie kop te volg en wil net al meer na regs op ‘n bondel trek. Ek probeer vir die ontvangsdame beduie dat ek asseblief dringend die dokter moet sien, maar ek weet nie hoeveel daarvan sy verstaan nie. Ek wil met haar praat, maar ek kan nie. Ek beduie na my handsak wat ek lomp op die toonbank neergesit het. Sy wil, wil so half ongeduldig raak, maar haal die klein blou kwitansie uit my sak uit. Dit help nie eintlik nie, want die tandarts het niks daarop geskryf wat enige aanduiding kan gee van wat nou hier voor haar staan nie.
               Die stomme tandarts hier langs my! Ek kan sien dat hy baie ontsteld is. “Dit raak net erger!” mompel hy by homself. En nou? Hy spring sowaar op en drafstap by die spreekkamer uit. Kan jy nou meer! Hy was kamma so besorg oor my, maar nou hol hy vir sy lewe. Ag ja...! Ek het hierdie man met my lewe vertrou ‘n uur of wat gelede, en nou? Hy los my net so om verder vir myself te sorg.    
               Ek lê op die klein bedjie in die dokter se spreekkamer – te ellendig om te praat. In my kop is soveel wat ek wil sê, maar ek is nie in staat om te praat nie. Ek weet ek moet hier uit voor vyfuur, want my kinders moet versorg word. Ek moet huis toe gaan, maar ek weet nie hoe om dit te sê nie.
               Soveel vrae, maar ek kan nie een woord uitkry om dit eens te begin antwoord nie. Dit frustreer my mateloos om so magteloos te wees. Onthou, ek is die een wat altyd plannetjies het om almal te help. Ek is die sterk een. Ek is die trooster, die helper, die ondersteuner. En nou? Wat nou? Selfs my liggaam wil nie na my luister en ophou ruk en skud nie.
               Ek probeer met die dokter praat, maar ek kan nie. Ek wys na my mond toe en probeer dit ‘n bietjie oopmaak dat hy kan sien. Die blou kwitansietjie word ook weer gewys sodat hy ten minste kan weet waarna om te kyk in my mond. My mond bloei nog al die tyd. My mond? Nee, dit is vir seker nie my mond wat bloei nie, dit weet ek. Maar wat dan anders? Die gedagtes is tot malwordens in my kop!
               “As ek net mooi kan kyk, Mevrou. Jou kake is so styf toe dat ek nie kan sien nie. Kan jy asseblief vir my jou mond ‘n bietjie groter probeer oopmaak?” Hy is baie geduldig, maar ek kom agter dat hy geweldig gespanne is.
               Hy grawe ‘n groot bol gaas wat swaar is van die bloed agter uit my mond uit. “Mevrou, jy het daardie verdowing direk in jou slagaar gekry. Dit is wat hierdie geweldige reaksie in jou liggaam veroorsaak het.”
               Ek lê daar op daardie bedjie en ek is besig om elke moontlike liggaamsfunksie te verloor, maar ek verloor nie my bewussyn nie. Dalk sou dit beter gewees het as ek bewusteloos was? Sou die spanning rondom my dan minder wees? Ek weet nie meer wat om te dink nie. Ek kan eintlik nie meer dink nie, voel dit vir my.
               Ek glo die dokter weet wat met my aan die gebeur is, maar hy is versigtig met sy uitsprake. Genadiglik help die inspuitings wat hy my gee dadelik! My liggaam raak rustig. Ek hou redelik op met bewe. Dankie, Here!
               “Mevrou, die twee spuite sal nou die uitwerking van die verdowing op jou liggaam kanselleer. Jy sal gou-gou beter voel, ek belowe vir jou.”
               Almal is baie goed vir my. ‘n Verpleegster is byderhand om my te help indien ek iets sou wou hê en sy maak seker dat ek gemaklik lê.
               Ek hoor hoe skakel iemand my ouers om my te kom haal.
               Die dokter kyk tevrede na my. Soja, die probleem is opgelos... Of is dit? As hy my huis toe stuur kan dit mos nie so erg wees nie, kan dit? Ek troos myself dat alles nou weer reg is. Dankie tog, amper was hier nou ‘n groot probleem.
            Is alles regtig nou reg? Waarom voel ek hier diep binne my hart dat alles glad nog nie reg is nie? Waarom voel ek soos ek voel?


Dit is drie jaar later. Sy het leer aanpas met haar lewe as Parkinson’s pasiënt. Dit gaan goed met haar. Dis net soms, soos gister, wat dinge ‘n bietjie te veel vir haar raak.

Woensdag 21 Maart 2018

MY HARTLAND

Ek is ledig en sit en lees ander mense se op- en aanmerkings op facebook. My oog tref Brenda se voet op die rooi grond van die Kalaharieduin en net daar is ek gevang. Ek loop weer die pad in die Namib. Ek loop elke tree wat ek as kind daar gegee het en my hart ween vir tye wat was. Tye wat was en wat nooit, ooit weer sal wees nie.
                        Ek het al duisende male beplan hoe ek terug sal gaan na waar my wortels lê. Ek sien hoe ry ek die pad Maltahöhe toe. Ek sien hoe slaap ek die aan in die hotel. Vroeër het ek geglo ek sal by liewe tannie Pollie gaan slaap, maar sy is ook al jare nie meer met ons nie. Dan ry ek die pad so rus-rus plaas toe. My eerste stop is Nuwerus. Die plaas met die baie perskes. En ek wonder of daar selfs net een ou perskeboompie oorgebly het? Net enetjie wat my sal herinner hoe die oorvloed daar gelyk het.
            Langs die pad, so half langs die berg en daar waar die pad sy draai maak, wil ek Oukuns se huisie sien. En ek wil wonder oor die mooi mense wat daar gebly het. Gorab. Wêreldsend. Ou Andy se Duine.
En dan...uiteindelik! By die grenshek (is hy ooit nog daar?) wil ek lank staan en kyk en alles om my in my hart in druk. Ek wil die onthou weer onthou. Ek wil onthou hoe dit was toe ek ‘n kind was en ek moes in die aand ná ‘n lekker kuier by Monie en Leentjie die hek oopmaak. Ek was so half en half skrikkerig, maar nooit bang nie – Pa was mos voor in die kar, sien. In elk geval was ons nie bang vir rondlopers en kwaaddoeners nie. Was dit uit onkunde of was daar in daardie tye regtig nie sulke mense nie?
            Daarvandaan wil ek stadig ry. Ek wil elke nou en dan stop. Ek wil die lug ruik. Ek wil my hart ‘n kans gee om rustig te raak. Ek wil die pad tree vir tree proe en beleef. Ek wil die weersiens uitstel vir so lank as moontlik.
            En dan, wanneer ek uiteindelik (weer) daar kom, wil ek... wat? Wat wil ek? Ek weet nie. Ek weet regtig nie wat dan verder nie, hoor.
            Dit sal wees soos om ‘n jeugliefde weer te ontmoet. Julle sal weet julle ken mekaar van lank gelede af, maar net dat alles nou anders is. Ander mense het hulle spore kom trap en die holtes waar myne lank gelê het. Sal jy my nog onthou, my hartsland? Sal jy weet dat ek jou nog al die tyd bemin soos van die begin af? Of sal jy afsydig teenoor my staan? Sal jy my verwelkom in jou binneste hartkamers, of sal ek moet veg vir ‘n klein stukkie van jou liefde?

            Is dit nie maar waarom ek nog nooit weer gegaan het nie? Dalk is dit die vrees vir jou afsydige ontkenning dat ek nou die weersiens uitstel en uitstel vir later. Dalk is dit bloot die feit dat ek weet jy wag nie meer vir my nie, want jy het soveel verander in die tyd wat ek weg was. Of wat?

Sondag 18 Maart 2018

SPYT KOM ALTYD TE LAAT

Hulle sê spyt kom te laat, of hoe? Ja, dis nou een spreekwoord wat jy eintlik in hoofletters moet skryf. Nee, nie skryf nie, man. Jy moet hom uitkrap met ‘n klip op ‘n oppervlak wat jy elke dag voor oë het. Jy moet dit so uitkrap dat jy dit nooit, ooit weer mis kan kyk nie. Jy moet dit onthou, onthou, onthou! 
Ek sit en doen ander dinge, maar hierdie ding oor spyt wat altyd te laat is bly in my kop. Ek probeer om ‘n prentjie daarvan in my kop te kry – ek hou van prentjies. Prentjies maak vir my sin. Dit laat my dinge beter onthou. Ek kan dinge beter verstaan as ek die prentjie met my binneste ogies sien.
            Nou hoe lyk ‘spyt’? Nou praat ek van daardie spyt wat, soos altyd, te laat kom. Die spyt wat kom nadat die persoon weg is. Of dood is. Of nie meer naby genoeg is nie. Daardie spyt wat maak dat jy nagte lank wakker lê en wens jy kan die horlosie terugdraai tot daar waar jy weer voor kan begin. Daardie spyt wat jou, as jy jouself toelaat, tot raserny sal kan dryf. Kom ek vertel jou hoe lyk hy.
            Jy is ‘n pottebakker. Jy het net een kans om ‘n beeld te maak. Jy het ook net een kans om klei te gaan haal. En jy het een lang nag om te maak wat jy wil maak.
 Die klei wat jy vat moet net genoeg wees vir die beeldjie wat jy wil maak. Nee, nie ‘n groot almagtige monument nie, hoor. Jy wil net ‘n klein dingetjie maak wat jy vir iemand baie na aan jou hart wil gee. Die klei is min, sê hulle. Moenie mors nie, vat net wat nodig is.
            Jy gaan haal jou klei. Twee bakhande vol sal genoeg wees, weet jy. Jy weet presies wat jy wil maak. Twee bakhande klei is genoeg. Jy weet.
En jy vat jou klei. En jy gaan daar waar jy alleen kan werk aan jou offer aan ‘n vriendin, of jou mamma, of jou suster, of ‘n kind van jou. Jy wil die mooiste stukkie werk maak wat nog ooit gesien is. Ja, jy gaan dit ‘n onvergeetlike kleinood maak. Die waarde daarvan? Ver bo dié van korale.
            Jy werk ure aaneen. Daar is geen ruskans nie. Hierdie skat moet klaar wees voor die son môre opkom. Die tyd raak min, maar jy raak nie moeg nie. Offers maak nie moeg nie, want hulle kom diep uit die diepste van jou hart uit. Werk. Werk. Werk. Die son se eerste strale loer oor die verste rante. Jy moet nou klaarmaak. Die tyd is verstreke.
            Jy steek jou hand uit om die laaste stukkie klei te vat. Hier kort nog net hierdie een klein stukkie detail, dan is jy klaar.
            En jy besef...! Daar is nie meer klei nie. Daar is niks meer oor nie. Jy sal tot in ewigheid nooit hierdie offer kan klaarmaak nie, want daar is nie meer klei nie.
            Een nag. Een bondel klei. Een kans om jou kleinood te voltooi. En?

            Jy het jou kanse verspeel. Spyt, my vriend, is ‘n lelike woord, vra maar vir my.

Saterdag 17 Maart 2018

VERSPEELDE MATRIEKAFSKEID

“Is dit nou die tyd om op te daag? Geen wonder hierdie besigheid lyk soos hy lyk nie. As die bestuurder so laat is, wanneer kom die res van die personeel aan die werk?”
Daphne skrik haar asvaal toe hy agter haar praat. Sy het hom glad nie gesien met die inkomslag nie. In elk geval, dit is nog glad nie aguur nie, so waarom gaan hy so tekere?
“Ek is regtig jammer...” probeer sy verdedig, maar hy luister nie na haar nie.
“Sorg asseblief dat almal tienuur in die raadsaal is. Daar is dinge wat bespreek moet word. Vandag nog!” blaf hy voordat hy uitstap.
Toe hy uit is, gaan Daphne met ‘n frons sit. Sy kan sweer...! Nee, dit kan nie waar wees nie. Sy sal hom tog kan herken, al is dit twintig jaar gelede. Of sal sy? Is F A Lambert en Franna Lambert dieselfde persoon? Dit moet wees, want niemand anders het nog ooit sulke mooi blou oë gehad nie.
Opeens is sy weer in matriek en vanaand is hulle afskeid. Hy is in die buurskool en sy is tot oor haar ore verlief op hom.
“Mamma, dit is die mooiste rok wat ek in my hele lewe gehad het. Die anders kinders sal nooit kan raai dat dit ‘n ou rok was wat net ‘n bietjie verander is nie. Franna sal hom nie vir my hoef te skaam nie. Ek kan nog altyd nie glo dat hy ja gesê het toe ek hom genooi het nie.”
Maar Franna het nooit opgedaag nie. ‘n Uur na hulle afspraak het sy die rok uitgetrek en in die kas gehang. Sy het nooit getrou nie, want die blou oë het altyd by haar bly spook.
Haar assistente, Martie, is laat soos gewoonlik. “Het jy gesien wie is hier?” wil sy weet. “Die baas het gekom. En weet jy wat? Ek het ‘n soentjie gekry. Ek kan nie wag vir vanaand se personeel-ete nie. Vir seker gaan ek sorg dat ek langs hom sit. Haai siestog, ek hoor sy vrou is oorlede in daardie vreeslike ongeluk,” borrel sy oor.
Daphne is glad nie beïndruk met Martie se relaas nie. “Wanneer presies het jy gedink wil jy daardie verslag klaarmaak? Ek het dit tienuur nodig, maar dit weet jy tog.”
Martie gaan afgehaal sit en begin tik. Sy het nog nooit gehoor dat Daphne met enige van die personeel so kwaai praat nie. Wat sou vandag in haar gevaar het?
Daphne wip soos sy skrik toe Meneer Lambert skielik aan haar deur klop. Sy kyk skuldig op, so al asof hy haar gedagtes sou kon lees. Toe sy wil opstaan, wuif hy met die hand dat dit nie nodig is nie.
“Daphne, ons twee het op die verkeerde manier ontmoet vroeër vanoggend. Ek is jammer dat ek my ongeduld op jou uitgehaal het. Kan ons vrede maak?”
Maar Daphne is glad nie lus vir sy mooi woordjies nie. Kan hy haar regtig nie onthou nie? Of is hy alweer besig met ‘n speletjie? Jare gelede was sy een van die ‘anderkant die spoorlyn-kinders’, maar vandag hoef sy nie een tree vir hom terug te staan nie.
Sy gaan staan kiertsregop voor hom. “Meneer Lambert, dit spyt my dat ek vanoggend laat was. Dit was as gevolg van omstandighede buite my beheer. As u ons tak meer dikwels besoek het, sou u weet dat dit nie my gewoonte is om so op die nippertjie by die werk op te daag nie.”
Sy gryp ‘n lêer van die tafel af. “Hier is die statistieke van die laaste ses maande soos u per e-pos gevra het. Indien u meer inligting wil hê, vra maar gerus.” Sy sien nie die lagduiweltjies in sy oë nie, want sy het reeds weer agter haar rekenaar gaan sit om verder te werk.
Daphne is voor die tyd in die raadsaal en sorg dat alles in orde is vir die vergadering. Sy gaan sowaar nie weer toelaat dat die vermetele man haar oor die vingers tik nie. Sy kom nie agter dat hy stilletjies inkom en aan die punt van die groot tafel gaan sit nie. Hy haal sy notas uit en kyk weer vinnig daarna terwyl die res van die personeel stuk-stuk inkom.
Die personeel wat nog nie die verlore seun gegroet het nie, is die een so bly soos die volgende om hom weer te sien. Sy kyk geïrriteerd op. ‘n Mens sou sweer hierdie man is van ‘n ander planeet soos hulle oe en aa rondom hom. Wel, by haar gaan hy vir seker sy koppie stamp, sy is nie een van sy marionette nie – sy gaan nie dans as hy die toutjie trek nie.
 “Daphne, kom sit asseblief hier langs my,” sê hy sonder om hom te steur aan haar parmantige houding. Hy wag totdat sy sit voordat hy begin met sy toespraak.
“Liewe kollegas, dit is heerlik om weer hier by julle te kan wees. Na my ongeluk, ‘n jaar gelede, het ek dit oorweeg om die besigheid te verkoop. Gelukkig het ek dit toe nie gedoen nie, want julle syfers is uitstekend. Ek wil veral vir Daphne gelukwens. Sy het hier ingestap terwyl hierdie kantoor die een verlies na die ander gely het en sy het dit omgeswaai tot so ‘n mate dat julle die wenspan is. Nie een van die ander tien takke kom naastenby by julle syfers nie. Baie dankie aan almal. En Daphne, jy is ‘n staatmaker en ek stel dit hoog op prys.”
Daphne is te verslae om saam met die res van die personeel hande te klap en te juig. Al die tyd laat hy haar verstaan sy doen nie genoeg nie, hy verwag meer van haar kant af. Elke e-pos het soos die vorige een gelyk – propvol vermanings en hoekoms en waaroms. Genugtig, die man is regtig ‘n paaiboelie.
Toe almal stil is, gaan hy voort. “Sit asseblief ‘n nota op die deur dat ons vir twee dae gesluit sal wees. Ons sal nie vanaand ons gewone ete saam hê nie. Almal moet môre stiptelik sewe-uur voor by ontvangs wees. Trek gemaklik aan, want dit gaan ‘n lang dag word. En ja, pak ‘n rugsak met nagklere en ‘n deftige dingetjie vir die aand, hoor.”
Meer kry hulle nie uit hom uit nie. Met ‘n groot glimlag stuur hy almal huis toe.
Hy volg Daphne na haar kantoor toe. Sy bly gespanne staan. Wat wil hy nou van haar hê? Sy is regtig nie lus om haarself langer te probeer verdedig nie. Dit is maklik genoeg om veilig te voel tussen die ander personeel, maar nou is haar kantoor skielik te klein vir hulle twee saam. Sy gaan staan half doelloos in die middel van haar kantoor.
Hy begin saggies lag, want hy sien hoe selfbewus sy is. Dit lyk asof hy hom verlekker in haar ongemak.
“Daphne, ek wou maar net seker maak dat jy weet hoe dankbaar ek is vir die werk wat jy hier doen. As bewys daarvan, bevorder ek jou tot streeksbestuurder. Dit sluit die gewone pakket in; onder andere ‘n maatskappymotor en ander dingetjies wat ons later kan bespreek.”
Voordat sy hom kan antwoord, gaan hy voort. “Sal jy asseblief vanaand saam met my gaan eet? Ek voel regtig nie lus om alleen te wees vanaand nie.” Toe sy huiwer, dring hy daarop aan. “Ek vra niks meer van jou as om ‘n bord kos saam met my te geniet nie. Asseblief.”
Opeens kan sy haar verontwaardiging nie langer beheer nie. Moet sy nou sowaar saam met hom gaan eet omdat hy haar bevorder het? Wat dink die man van homself? Dink hy sowaar sy is nog die matriekdogtertjie wat haarself aan die slaap gehuil het omdat hy haar nie kom oplaai het nie?
“Baie dankie vir die uitnodiging, maar ek sal dit nie kan maak nie. Ek het verantwoordelikhede om na te kom by my huis.” Sy gryp haar sak en wag ongeduldig dat hy haar moet volg sodat sy die kantoor kan sluit.
Daphne slaap die nag nie baie nie. Iewers voor slaaptyd kry sy ‘n sms van hom. ‘Jy is nog net so mooi soos altyd. Kan jy my asseblief vergewe vir destyds?’
Waarom, o waarom moet die lewe so moeilik wees? Eintlik wil sy hom haat, maar daardie blou oë bly in haar gedagtes.
Toe sy die volgende oggend by die werk opdaag, sit almal reeds in die luukse bus. Sy besef dat sy weer ‘n keer ‘n groot blaps begaan het. As daardie lummel haar vandag afdank, is dit haar verdiende loon. Hy is egter nêrens te sien nie. Die busbestuurder sê hy wag vir hulle op die lughawe.
Lughawe? Sy wonder wat voer die man in die mou. Waarheen is hulle op pad?
            Op die lughawe is dit ‘n dolle gejaag, want hulle privaatvliegtuig moes al opgestyg het. Daphne vergeet haar irritasie teenoor Meneer Lambert toe hy laggend saam met hulle oor die aanloopbaan hardloop om in die vliegtuig te kom.
Opeens voel dit vir haar asof sy in ‘n droom lewe. Die vlugpersoneel bedien hulle met ‘n sjampanje-ontbyt. Sy vind dit glad nie vreemd toe hy langs haar kom sit nie. Hulle klink ‘n glasie op die voorspoed van die besigheid en sit en kyk tevrede hoe die res van die personeel hulself geniet.
Hulle land op ‘n deftige wildplaas. Die dames gaan na ‘n spa en die manne probeer hulle gholf verbeter. Laat die namiddag ontmoet almal vir ‘n skemerkelkie, maar almal is haastig om te gaan aantrek vir die onthaal ‘n bietjie later.
Daphne kyk ‘n laaste keer in die spieël en glimlag vir haarself. Sy weet sy lyk pragtig.
            Buite haar deur wag Franna vir haar. Woordeloos stuur hy haar in die rigting van ‘n bankie buite die onthaalsaal. Toe hulle sit, draai hy na haar toe.
“Ek het nooit die moed gehad om jou weer te kontak nie. Ek is so jammer daaroor. Wat sal dit help om jou nou te vertel dat my ma daardie aand saam met ‘n ander man weggeloop het? Ek het so uitgesien na die afskeid saam met jou, maar ek kon nie...”
Hulle hoor hoe die ander lag en gesels in die saal, maar tussen hulle is dit stil. Albei weet dat hierdie ‘n nuwe begin is; dat dit nie meer nodig is om te stry nie.

Baie later staan hulle stil op en stap hand aan hand die onthaalsaal binne.

Donderdag 15 Maart 2018

ANT KOTIE EN OOM SAREL SE BOOTREIS

“Hygent hert!” snak ant Kotie en slaan agteroor op die bed neer. Sy lê en waai haarself koel met ‘n wit sakdoekie. Dit stoom en blaas dat hoor en sien vergaan, maar Oom Sarel staan kiersregop, sy kierie klop, klop, klop op die spierwit mat. Hy staan en kyk verveeld na sy wederhelf se desperate pogings om te herstel van die lang stap tot in die kajuit.
                “Sarel Johannes Coetzee, moenie net daar staan nie! kry vir my die botteltjie met die pers proppie daar in my koffertjie. Jy weet dit is al wat my asmabors ooptrek.”
                Na ‘n halfuur voel ant Kotie beter. Die bors is oop en die voorkop blink nie meer so van die sweet nie. Oom Sarel staan nog immer op dieselfde plek. Klop, klop, klop! sê die kierie.
                “Vrou, dit lyk dan vir my jy wil nou slaap. Agge nee toggie, vrou! Ons is mos met vakansie...” Hy bly stil. Sy snork soos sy slaap.
                Allamintag! Sal die vrou nou sowaar lê en slaap as daar soveel dinge is wat gedoen moet word. Hy kry ‘n verbete trek om sy mond, kyk ‘n slaggie in die spieël (‘n man moet mos netjies lyk) en hink deur toe. As sy wil slaap, laat haar dan slaap.
                Die gangetjie is doodstil. Waarnatoe nou? Hy kan sweer hy het ‘n swemplek...
“Haai, my ou doggie,” juig hy toe ‘n blonde dingetjie skielik vanuit die niet verskyn. “Wys tog vir jou oom waar’s die dam.” Sy haak by hom in en loop saam met hom tot by die swembad.
Hy gaan verward staan. Ai, hoe nou verder? Maar Sunet (die blonde popsie) nooi hom om by haar en haar vriende te kom sit. Almal juig hom toe en hy kry ‘n glasie in die hand. Vir ‘n oomblik sien hy sy vroutjie se kwaai oë voor hom, maar hy gee ‘n opgewonde laggie en vat ‘n lekker groot sluk. Mintag, maar dit smaak lekker! “Kom, my oom, uit met hierdie hemp. Jy moet ‘n bietjie son op jou bleek spiere kry.”
Die jongklomp geniet die oom se stories en hulle hou sy glasie vol. Elke nou en dan hoor jy net hoe lag die lotjie, want die omie raak net snaakser en snaakser. “Hoe het oom nou weer gesê het die tannie gemaak?” of “Vertel weer vir ons van die dag wat die hond op die yskas geklim het.” En deurentyd bly die omie se glasie vol, want dit smaak dan so baie lekker.
Iewers moes oom Sarel aan die slaap geraak het, want toe hy vir hom kom kry, sit hy stokalleen op die dek. Allamintag! Hoe maak ‘n man dan nou? Die son trek al water en hy weet sy vroutjie gaan baie ontevrede met hom wees. Hy wonder of sy al wakker geword het en dalkies na hom sal kom soek?
Oom Sarel probeer opstaan, maar hy besef dat hy nie kan nie. Sy bene voel dan nou so half of hulle hom in die steek gelaat het. Hy probeer roep, maar die ou stemmetjie wil ook nie so lekker uitkom nie. Ag, besluit hy, dan sit hy maar waar hy sit.
Opeens lyk dit vir hom soos basaar op die dorp, want so baie mense het hy nog nie op enige ander plek gesien nie. Hulle storm almal op hom af, Ant Kotie heel voor. Dit praat en raas en skree dat dit ‘n naarheid is. Ai, dankie tog dat sy ou vroutjie na hom kom soek het!
“Vroutjie, dankie tog dat jy...” probeer hy sy dankbaarheid uitspreek, maar ant Kotie is die hoenders in. “Sarel Johannes Coetzee, dat ek my nou vir jou so moet skaam. Wat dink jy sal jou ouers sê as hulle moet weet van jou gedrag hier in die vreemde? Hulle draai sowaar in hulle grafte om as hulle moet weet wat jy vandag gedoen het – kaal in die openbaar! Om so te rinkink met jong kinders!”
Die omie probeer keer, maar daar is nie ‘n einde aan die verwyte nie. Toe ant Kotie langs hom kom en sy asem ruik, is dit eens so erg. Oom Sarel weet dat hy vir ‘n week of twee glad nie poeding gaan kry as hulle by die huis kom nie.
Hulle neem die omie op ‘n draagbaar na sy kajuit toe. Die son het hom so verbrand dat hy nie in staat is om te beweeg nie. Die dokter gee salfies om aan te smeer en beveel bedrus vir twee dae aan. Twee dae? Dan is hulle weer terug by die huis, man. Wat dan nou van al die wonderlike goed op die groot boot?
En so kom dit dan dan ant Kotie alleen die vertoning van Mollie en Wors gaan bywoon. Hy lê dikbek in sy bed. Allamintag tog, dat hy nou so moet oorkom.
Ant Kotie praat nie ‘n woord met hom nie. Elke keer wat sy hom moet insmeer met die dokter se salf, kan hy sweer sy vryf harder as wat sy moet. Sy staan behoorlik regop en smeer dat jy net velle sien waai. Hy durf ook nie kla nie, want dan vryf sy net harder.
“Ag Kotie, my lief, kom ons vergeet nou maar van die nare ondervinding met die kinders, toe?” probeer hy ‘n slag of twee, maar dit werk nie. Ant Kotie is die hoenders in en sy maak nie ‘n geheim daarvan nie.
Ant Kotie is net in die kajuit wanneer sy kom verklee vir ‘n volgende aktiwiteit. Oom Sarel voel of hy haar kan wurg, maar hy durf niks sê nie. Hy ken vir Kotie en hy weet wanneer om liewer die minste te wees. Maar ai, hy sou so graag daardie dansers wou gesien het. En hy wou ook so bitter graag gaan dobbel het, maar daarvan hoef Kotie natuurlik glad nie te weet nie. Sy sal in haar lewe nooit weer poeding maak as sy moet weet hy smag na ‘n ou bietjie dobbel nie.
Die derde en laaste aand is dit die formele ete saam met die kaptein. Hy het al gehoor dat die kaptein dan die mooiste vrou in die saal vra om eerste met hom te dans en dat sy dan ‘n reusagtige bos blomme ook nog kry. Sowaar as vet, as hy darem durf met Kotie dans! Ek sal hom mos...mos wat? Ja, Sarel, erken dit nou maar aan jouself, jy kan hom niks maak nie, want jy is oud en op en boonop verbrand deur die son ook nog.
Kotie sweef behoorlik by die kajuit uit op pad na die ete toe. Hy moet sê, hy het ‘n pragtige vroutjie. Hy is eintlik baie trots op die ou dingetjie, maar dit sal hy nimmer as te nooit vir haar sê nie.
Hy word wakker van ‘n gepraat in die kajuit. Nou wie op aarde het Kotie nou hier kom insleeep? Nee wragtag, dit kan nie waar wees nie, kan dit?
“Sarel, ontmoet vir Kaptein Ellinger. Hy is die man wat ons veilig deur al die storms op see geneem het,” koer sy terwyl sy ‘n bos blomme in ‘n blompot sit. Sy praat met so ‘n soet stemmetjie dat hy byna nie glo sy praat met hom nie. Hy gluur die kaptein aan en draai sy rug na hulle toe. Verbrands!

Cruise, Ship, Cruiser, Cruise Ship, Holiday
Tuis, toe die kinders bel, antwoord Kotie die foon. “Nee, dit was heerrrrlik! Ons het so baie te doen gehad dat die tyd heeltemal te kort was. Pappa het veral van die groot swembad gehou. Hoe nou? Dobbel? Jaaaa, en ek het sakke vol geld gewen die aand. Ons stuur vir julle foto’s, hoor.”


Maandag 12 Maart 2018

DIE ONSIGBARE DOGTERTJIE


Van kleins af was sy hierdie alleen, ‘onsigbare’ wesentjie. Die enetjie wat almal altyd aangespreek het met ‘n ‘tjie’ agter haar naam. Maar as sy nou daaraan dink, daar is nog altyd ‘n ‘tjie’ agter haar naam. Hoekom? Omdat sy ‘n klein mensie is? Beslis nie. Omdat sy bejammerenswaardig is? Beslis ook nie. Omdat sy ‘ag, askies tog dat ek lewe’ is? Beslis ook nie. Nou hoekom dan? Ek weet nie. Sy weet vir seker ook nie hoekom nie.
            Het jy al gevoel asof jy so half onsigbaar is? Nee, dalk is dit die verkeerde woordgebruik hier. Dis meer soos... om soos ‘n spook te wees? Jy weet, jy loop en beweeg en slaap en eet en praat en is net in jou eie ‘bubble’. Die mense rondom jou is bewus van jou, hulle hoor jou (of hulle hoor jou nie), hulle praat met jou (of hulle praat nie met jou nie), maar hulle weet nie regtig van jou nie. Hoe kan hulle weet van jou? Jy weet dan nie eens self (altyd) van jou nie.
            Dis soos om heeltemal alleen op die aarde rond te dwaal. Daar is niemand wat jou sien en hoor en verstaan nie. Jy loop met hierdie ontsettende vrees in jou rond – elke oomblik van elke dag. Vrees? Vir wie? Vir wat? Ek weet nie, man. Sommer net daardie ontsettende vrees. En die alleen. En die ding dat niemand eintlik weet wie jy is nie. Jy weet self ook nie wie jy is nie.
Die Engelse het ‘n uitdrukking wat perfek pas in hierdie kind se lewe – ‘feeling disconnected’. Niks maak regtig saak nie. Niks maak regtig bly nie. Niks maak regtig seer nie. Sy ervaar dit vir ‘n oomblik of twee en dan is dit sommer net... WEG! Sy dink dit nie weg nie, dit is sommer net weg.
            En jy is altyd so half hartseer. Die lewe is ‘n hartseer ding. Jy is so gebore om hartseer te wees. Niemand anders weet dit nie. Jyself weet dit ook nie regtig nie, want jy weet nie dat ‘n mens eintlik anders moet voel nie. Dit is hoe jy van die begin van die aarde af gevoel het.
            Om een of ander rede voel jy altyd skuldig. Later, toe jy ouer word, het jy daarmee gespot. Jy het gesê jy is skuldig gebore, daarom neem jy vir alles die skuld. Maar die dogtertjie was skuldig oor alles. En omdat sy skuldig was aan alles, was sy so ontsettend skaam. Nie skaam soos in teruggetrokke nie, hoor. Skaam soos in ‘Ek skaam my vrek’ vir hierdie of hierdie ding. Ek skaam my vrek oor alles wat ek dink of doen of sê. Want sien, ander mense dink of doen of sê alles beter as jy.
            En groot asseblief tog, sy wil niemand kwaad maak nie. Sy wil niemand hartseer maak nie. Sy wil niemand teleurstel nie. Groot asseblief tog nie! Nou bly sy liewer stil, dan kan dit niemand skade doen nie. Ja, los haar net uit dat sy nie hoef te praat nie. Haar kop se dinge is haar eie dinge. Los haar uit en moenie altyd so grawe en grawe in die kind se kop nie. Wat wil jy in elk geval daarmee maak? Jy wil net weer ontevrede wees oor dit of dat en sy hou nie daarvan dat jy ontevrede is nie.
                        Nou is sy oud. Eers probeer sy hierdie lewe van haar ‘n naam gee. Want sien, sy het begin besef dat ander mense nie ook so voel nie. Ander kindertjies het met tevrede hartjies gaan slaap en opgestaan. Of ja, sommige het met hartseer hartjies gaan slaap en opgestaan. Maar om so in die niks te lewe, dit weet sy nou, is nie die tendens nie. Dit is nie hoe ‘n mens aanmekaar geskroef is om te wees nie.
            Sy lees en soek na ander mense wat ook so gevoel het. En sy sien, sowaar, daar was ander ook wat so gevoel het. 
            Maar vandag is sy hartseer dat hierdie klein dogtertjie so ‘n verderflike lewe gely het. Sy is hartseer dat daar nie iemand was wat hierdie kindjie kon help in haar algehele afgeslote lewetjie nie. Dalk net iemand wat kon sê: Kind, kom staan hier onder my arm, ek verstaan jou hart. Ek is lief vir jou.


Kid, Child, Portrait, Happy, People, Children, Young
En voel sy nou eintlik anders noudat sy oud is? Dit, my vriend, is 'n vraag wat jy haar self sal moet vra.

Dinsdag 06 Maart 2018

WOW! WAT 'N WONDERLIKE VROU!


Ek sit en kyk na ‘n video van Bryan Adams. Everything I do. Wat ‘n lied! Nee, ek moet soos die kinders dit in Engels sê, Wow! What a song! Dit maak mos herinneringe los waar jy nie geweet het jy het gerinneringe nie, sowaar.
            Voor my sien ek die groep skoolkinders wat dit op ‘n dag in ‘n skoolkonsert gesing het. Hulle was selfs mooier as die song – jonk, gelukkig, lief vir die lewe. Ek wonder wat het van almal van hulle geword. Is hulle nog gelukkig en lief vir die lewe? Sing hulle nog altyd hierdie (of enige ander song) met oorgawe? Of het die lewe hulle al met ‘n paar skewe klappe van hulle lewensvreugde beroof? Ek dink. En ek wonder. En ek weet, ek sal nooit weet nie.
            Die sanger fasineer my. Ek wonder wat dink hy terwyl hy daar so staan en sing. Is dit (nog) vir hom lekker om te sing? Ek meen, dit is sy werk; sy brood en botter. Vergelyk dit nou met mý werk, man. Ek hou skool en ek geniet dit (gewoonlik), maar ek is regtig nie elke oomblik van die les in ekstase omdat ek voor ‘n klas mag staan en kennis met studente deel nie. Om die waarheid te sê, soms is dit mos maar redelik veeleisend en/of vervelig, is dit nie?
            Maar aan die anderkant, hierdie man bring soveel vreugde en plesier in die harte van sy gehoor, dat dit hom mos moet hoendervleis gee, redeneer my hart. Hy moet vannag min of meer slapeloos wees omdat hy so ‘n invloed op die mensdom het, of hoe? Eintlik moet hy mos nooit weer slaap nie, want kyk hoe gewild is hy, kyk hoe ‘n sukses is hy! Die gehoor is in ekstase en kan nie genoeg van hom kry nie. 'Wow! What a man!' klop my hart.
            Dan besef ek dat hy dit nie regtig besef nie. Ja, sy bankbestuurder is beslis in sy noppies en hyself geniet vir seker ook die baie geld wat gepaard gaan met sy gewildheid, maar hy besef nie wat ons dink en voel en droom terwyl ons na hom luister nie. Hoe kan hy dit weet? Hy is maar net ‘n gewone mens wat ook moeg word en kwaad word en hartseer word en drome droom en wat nog alles.
            Is dit nie maar net so met jou en my nie? Jy doen wat jy die beste doen en jy doen dit op jou beste...hoop ek. Jy word ook moeg en bly en hartseer en al daardie ander dinge waarvan jou naaste gewoonlik nie weet nie. Jy is ook net ‘n mens en iemand se liefie en iemand se kind of ma of pa. Jy lewe jou (soms) vervelige lewe, sonder om te besef watter invloed jy uitoefen op die mensdom.
            Daardie afjak teenoor iemand wat jy niks van hou nie, maar wat jou so getrou soos 'n hondjie volg. Hoekom dan? Daardie een sms wat jy vanoggend gestuur het en wat iemand baie, baie bly gemaak het. Jou spontane glimlag teenoor daardie vreemdeling in die straat – iemand wat dit dalk bitter nodig gehad het om te weet daar is nog mooi mense op aarde. Of dalk net die mooi manier hoe jy met ondergeskiktes praat? Wie sal ooit weet?
            Dink ‘n bietjie daaroor en jy sal weet dat dit so is, of jy dit nou wil weet of nie. Jy het vandag iemand beïnvloed, hetsy goed of sleg. As gevolg van jou het iemand vandag dalk in ekstase op en af gespring, of met rooi gehuilde oë in die kamer gaan wegkruip. Of dalk het iemand van jou gesê, ‘Ek wil ook soos jy wees, leer my hoe om dit te doen.’
            Dalk, net dalk, moet ons meer bewus begin raak van die invloed wat ons op ander het, of hoe?
            En dan...! Net dalk, sal ek vanaand in die spieël kan kyk en sê, ‘Wow! What a woman!’
            

“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

  “Nou sê ek vandag vir julle, moenie by   my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...