Sondag 15 Oktober 2017

WAAROM SKRYF JY, MARTHA?

Iemand vra my anderdag waarom skryf ek? Vir wie skryf ek? Met ander woorde, is daar ‘n doel agter my skrywery?

Dis glad nie so ‘n eenvoudige vraag nie, hoor. Dit het my vir ‘n oomblik laat frons, want wat dan nou? Waarom sou iemand so iets vir my vra?

En toe weet ek!

Ek skryf omdat ek eintlik hopeloos verslaaf geraak het daaraan binne ‘n week of twee. Dit voel soms vir my die baie goeters in my kop is net eenvoudig te veel en hulle roep, nee hulle skree op my om asseblief uit te kom.

Vir jare en jare het ek goed op papiertjies en toe later op die rekenaar geskryf en gebêre. Op ‘n stadium het ek ‘n boek gehad vir die skryfseltjies, maar dit het ook nie lekker gewerk nie. Waar ek ookal geskryf het, die goed het later verlore geraak. Dit laat ‘n mens so half ‘leeg’ voel, want waar is al die gedagtes dan nou heen?

Riana, my oudste, karring al baie lank aan my om ‘n blog te begin. Vir ‘n dag of twee het ek dit dan oorweeg, en dan maar weer gelos. G’n mens weet waarom ek nie haar raad van dag een af gevolg het nie. Vandag is ek innig dankbaar dat sy nie moed opgegee het met my nie.

Die tweede deel van die vraag was vir wie ek skryf. Het ek iemand in gedagte wanneer ek skryf? Ja, beslis het ek. Hoe dan nou anders? ‘n Mens kan tog nie met niemand gesels nie, kan jy? Wanneer jy gesels, is daar altyd iemand wat moet hoor; iemand wat moet verstaan.

Nou, vir wie skryf ek dan nou eintlik? Iewers in die groot heelal is ‘n siel soos myne - amper soos 'n tweede 'ek'.  Daardie siel verstaan hoe ek dink en wat ek voel. Daardie siel ken die woorde van my hart nog voordat dit regtig op skrif is. En ja, dit is vir daardie siel wat ek dit skryf. 

Jy sien, sommige van ons is groepmense, ander is 'loners'. Jy is 'n 'loners' bloot omdat jy nooit weet wie verstaan regtig die draadwerk wat jou hart en siel en kop aan die gang hou nie. Jy wil nie altyd 'n 'loner' wees nie, maar jy weet nie hoe om anders te wees nie. Maar die meeste van die tyd geniet jy dit in jou eie hoekie met jou eie gedagtes.

Jy sien dus, hoewel ek dit graag met ander mense ook deel, is dit vir my belangrik dat ek altyd getrou sal bly aan daardie wese iewers in die heelal wat my ken en verstaan. En nee, dit beteken nie dat ek nie traak wanneer iemand my skryfsels geniet nie, geensins nie. Ek is mens en ‘n mens het dit nodig om nou en dan so ‘n klappie van bemoediging op die skouer te kry. En dan geniet ek dit net soos enige ander mens dit sou geniet. Maar, en dit is ‘n groot maar, selfs al sou niemand dit geniet nie, sou ek nie kon ophou nie en sou ek ook nie probeer om te skryf om iemand anders bly te maak nie.


Die slotsom van dit alles is dus om altyd en altyd getrou te bly aan wie ek is en aan dit  waarin ek glo.



Saterdag 14 Oktober 2017

MY KEUSES IN DIE LEWE

Nie lank gelede nie was daar ‘n pop, ‘n bril en ‘n stoel. Hulle drie het op ‘n ashoop gewoon.

Eers was dit net die stoel. Hy het daar beland omdat sy dierbare eienares oorlede is en haar kinders het geen doel gesien om die stukkende stoel op te laai en saam te vat huis toe nie. Stoel was hartseer en alleen. Stoel het nutteloos en ellendig oor homself gevoel. As daar net iemand anders was om die eindelose dae mee te spandeer!

Op ‘n dag is daar ‘n oplewing in die dooie bestaan van die ashoop. ‘n Groot, blink bakkie stop en ‘n groot, vet man klim uit. Hy is ongeduldig, want die vlieë is baie en die sweet tap hom af. Hy gryp die een karton na die ander en gooi hulle op die ashoop. Die hele ashoop is in afwagting vir die nuwe aankomelinge – almal kan sien dit is nie net gewone huisrommel nie. Die een karton bars oop toe dit op die grond land...

Bril rol ‘n endjie en beland reg langs stoel. Hy lê daar en weet vandag is dit sy einde. Niks en niemand kan nou meer traak oor sy bestaan nie. Ai, dat alles dan nou so moet eindig. Waarom was hy nou eintlik op aarde? Net om op die ashoop te land? Regtig?

Toe die bakkie weg is, hoor bril ‘n sagte stem: “Bril, ek is so bly jy het gekom. Ek was so bitter alleen, maar nou is jy mos darem ook hier.”

Bril lê doodstil. Waar kom die stem vandaan? Toe hy opkyk en vir stoel sien, is hy baie bly. Dankie tog, nou het hy ‘n maatjie. Onmiddellik is die twee groot vriende. Hulle is gelukkig by mekaar en skinder selfs oor die stukkende mat en die bottels sonder proppe. Ja, die twee is nou beste vriende en belowe mekaar ewige trou.

Die namiddag toe pop gekom het was ‘n moeilike dag. Dit het gereën en alles en almal was papnat. Hulle kon niks om hulle sien nie, want dit was byna pikdonker van die wind en die reën.

Toe die son weer skyn die volgende oggend, sien hulle vir pop hier reg langs hulle. Nou is die vriendekring voltallig, besluit hulle. Hulle verwelkom vir pop en die drie van hulle is sielsalig gelukkig in mekaar se geselskap.

Op ‘n dag besluit die ashoopkoning dat daar asiel verleen gaan word aan ‘n paar van die bewoners. Hy verduidelik mooi aan almal dat, indien jy asiel kry, jy weer ten volle herstel gaan word en weer opgeneem sal word in die samelewing. Die enigste voorwaarde is dat jy vol vrede en liefde moes leef  vir so lank as wat jy al op die ashoop is.

Die drie beraadslaag en besluit dat hulle gaan aansoek doen. As hulle weer mooi en heel is en ‘n nuwe blyplek kry sal hulle vreugde in die lewe soveel meer wees, nie waar nie?

En dit is toe net daar wat die moeilikheid en die rusies begin.

Bril wil hê dat hulle drie in ‘n sportman se huis moet gaan woon. Sportmanne is ryk en hulle kyk mooi na hulle besittings. Stoel kan al klaar sien hoe staan hy weer in ‘n ouma se huis en ouma olie sy hout gereeld en hulle almal kuier gereeld saans voor die lekker warm kaggel saam met die ouma. Natuurlik wil pop niks daarvan hoor nie. Pop wil in ‘n huis gaan bly waar daar ‘n klein dogtertjie is wat gereeld met haar speel. Sy wil weer mooi kleertjies dra en saans kan hulle almal langs die dogtertjie slaap.

Hoe meer die drie rusie maak, hoe stiller raak dit op die ashoop. Hulle vergeet skoon dat hulle eintlik die rede is waarom die koning die asiel ingestel het. Hulle het in liefde saamgelewe en mekaar met foute en al aanvaar. En kyk nou net! Skielik is die ashoop ‘n plek van sieklike onmin. 

Die koning word baie kwaad en hy verbied almal om te praat. Hulle moet stilbly. Hulle moet ‘n bietjie selfondersoek doen en tot die besef kom dat dinge nie altyd is soos wat dit op die oog af lyk nie. As julle nie tot 'n ooreenkoms kan kom nie, bly julle waar julle is!

Dikbek bly almal stil. Vir ‘n hele week lank praat nie een nie. Almal dink. Doodse stilte.

Een oggend begin die drie ewe skielik praat. Elkeen wil eerste praat en die koning moet weereens tussen beide tree. Een op ‘n slag, asseblief.

Bril vra eerste verskoning. Hy besef dat stoel en pop nie soos hy is nie en dat hulle nie sal inpas in die ryk sportman se huis nie. Toe is dit pop wat mooi askies sê, want pop weet dat stoel en bril nie speelgoed is nie. Sy kan nie verwag dat bril en stoel dieselfde lewe as sy moet leef nie, hulle verskil heeltemal te veel van mekaar. Stoel staan net alles en beaam, want dit is presies soos hy ook voel. Stoel besef dat pop en bril totaal en al nutteloos sal wees in die ouma se huis, hulle sal altyd wonder oor die doel van hulle lewens.

Die ashoopkoning knik tevrede. Hy kan sien dat almal nou ‘n les geleer het. Soms moet ons uit ons gemaksone beweeg. Vriende kan ons soms weerhou daarvan om ons volle potensiaal uit te leef...vriende is nie altyd alles nie.

Ongelukkig bly die keuse maar my eie – gaan ek aanbeweeg of gaan ek sit waar ek sit?


Woensdag 11 Oktober 2017

SPIERE VERJAAR

Spiere kan nie slaap nie. Dit voel vir hom hy kan in die donker in hardloop sodat die son gouer kan opkom. Hy is baie haastig dat hy moet verjaar. Hy wonder hoe voel dit om te verjaar? Maar sê nou maar net sy ouma het nie regtig bedoel hy verjaar nie? Hy is seker sy het dit sommer maar net gesê om te kan ophou sing. Sy het mos toe al gesê dis slaaptyd, maar hy wou nog ‘n keer vir Jesus roep my vir ‘n sonstraal gesing het. Ag, wat maak dit tog nou ook saak?

“Boetatjie, jy moet nou opstaan, Ouma se kind.”

Is dit dan al oggend? Sjoe, nou kan hy voel hoe dit voel as ‘n mens verjaar. Hy kyk rond om te sien of Kerrie en Jannas al daar is, maar dis net hy en sy ouma in die kamer. So wraggies het sy vir hom gejok. Ja, hy moes haar nooit geglo het nie. Dit sal hom nou leer om bly te raak oor ‘n storie van jou ouma. Sies, hy is baie vies vir haar.

Hy staan dikbek op. Hy wil nie pap eet nie. Sy het mos vir hom koek belowe, man. Hy sal nie die blerrie pap eet nie. Hy gaan nooit weer pap eet nie, hy sal haar wys.

Maar die ouma steur haar nie aan sy kwaai gesig nie. Sy is die ene laggies en gesels land en sand met hom. Hy antwoord haar nie. Hy sal ook sommer nooit weer met haar praat nie. As dit weer donker is... Ja, as dit weer donker is, loop hy weg. Hy en die hond sal wegloop kinderhuis toe. Hy sal weer by Kerrie en Jannas gaan bly.

Hy gaan sit met die hond onder hulle boom. Die hond weet ook hy is kwaad. Hy lek-lek aan sy oubaas se hande om hom te troos. Dit laat Spiere ‘n bietjie beter voel. Hy wonder wat doen sy ouma nou daar in die huis. Het sy ooit gesien hy het buitekant toe geloop? Miskien traak sy nie eens nie.

Toe hy ‘n slag opkyk, staan Kerrie en Jannas in die agterdeur. Eers dink hy dat hy dalk droom en hy vryf ‘n slag oor sy oë. Maar nee, hulle twee staan sowaar daar in die deur. Hy staan stadig op en loop na hulle toe. Hy is so bly om hulle te sien, sy oë wil sommer huil. Ai tog, dis oor hy so lank al by sy ouma bly dat hy ook sommer wil grens oor niks nie. Hy vee sy oë droog met sy hempsmou en hardloop na sy maters toe.

Miskien het sy ouma nie gejok oor verjaar en die koek nie, ha? Hier is sy eie, eie maatjies dan nou by hom. Maar hy weet ook nie, dit voel dan nie soos verjaar nie. Maar presies hoe voel verjaar? Hy weet ook nie... Miskien moet hy sy ouma vra hoe voel 'n mens as jy verjaar.

Ouma roep hulle binne-toe. In die kombuis ruik hy iets waarvan hy niks hou nie. Hy kan sweer dis alweer daardie antie met die stink goed aan haar lyf. Nee man, hy wil haar nie sien nie. Nie vandag nie. Nooit weer nie.

Sy sit in die sitkamer. Ouma het die sitkamer vreeslik mooi skoongemaak gister. Op die tafeltjie staan daar nou ‘n groot koek en glase met koeldrank. Hy is baie lus daarvoor, maar hy is nie lus om naby die antie te kom nie. Sy klou mos so aan hom en los hom nie weer nie. Sy hou mos aan tot jy voel jy kry nie meer asem nie. En dan stink jy agterna net soos sy. Sies.

Kerrie en Jannas is eerste by die koek. Hy staan nog in die deur en besluit wat om nou te doen. Maar dit lyk nie vir hom of die antie vandag weer so gaan maak nie. Sy sê net hallo en gesels verder met sy ouma. Hy stap stadig nader en gaan saam met sy maatjies op die mat sit; elkeen het ‘n groot stuk van die lekker koek en ‘n groot glas koeldrank. Jis, dit is lekker om te verjaar. Hy wonder wanneer kan hy weer verjaar?

Skielik staan die antie op. Sy lyk of sy nou gaan ry. Sy hoef nie te ry nie, dis eintlik lekker as sy so met Ouma gesels. Hy hou baie daarvan as sy ouma met iemand gesels en lag. Haar gesig is vir hom baie mooi as sy so lekker lag.

“Spiere, daar is iets wat ek en jy nog moet regmaak, jong,” sê die antie hier langs hom. Ai tog, wat is dit wat sy nou wil regmaak? Dis mos ‘n baie lekker dag en sy maatjies het kom kuier. Hy wil hulle nog gaan wys waar hy paaie gebou het daar onder die boom. As hulle karretjies gebring het kan hulle mos daar gaan speel.

Die antie traak nie dat hy nie wil opstaan nie. Sy trek hom liggies aan die arm op. “Kom, ek wil vir jou iets gaan wys.”

Ouma en Kerrie en Jannas staan ook op. Nou moet hy seker saam met die antie loop. Hy is nie lus nie. Hy het nog nie sy koek klaar geëet nie. En hy wil nog van die rooi koeldrank ook hê, dis baie lekker saam met die koek. Ouma sien dat hy na die koek kyk en belowe hom dat hy nog baie kan kry as hy klaar saam met die antie geloop het.

En daar staan sy fiets! Sy eie, eie fiets! Hy kyk na die antie en hy kyk na die fiets. Is dit nou hierdie keer regtig syne? Of gaan sy weer wegry met hom? Hy het nog glad nie vergeet dat sy anderdag die fiets gegee het en toe nie gegee het nie.

“Spiere, Ma se kind, kyk wat het ek vir jou gebring. Jy kan hom hier hou en elke dag met hom ry.”

Hy draai stadig om en loop na die antie toe. Hy gaan staan styf teen haar. Snaaks, maar sy stink ook nie meer so baie nie. Hy dink hy hou van hierdie antie wat sê sy is sy ma.

Saterdag 07 Oktober 2017

BY DIE DOOD VAN 'N KIND

Ek het grootgeword met die wete my sussie is dood. Sy is dood. Sy is in die hemel. Sy is by liewe Jesus. Weg. Ek gaan haar nooit weer sien nie. Sy is dood vir altyd.

Die storie agter die storie het my nooit gepla nie. Ek was te klein. Ek was in elk geval nie deel van die storie nie. My ma was ‘n geslote stuk hartseer. My pa was maar net my pa. Ek kan nie onthou dat hy anders was in daardie tyd nie. Hy was mos maar sy lewe lank ‘n geslote boek vir die ganse heelal. Dankie tog dat ek hom later ontdek het. Ek het sy diepste, dierbaarste hart leer ken en dit het my laat besef – hier is ‘n hart soos myne.

Sy was die derde dogtertjie. Pragtig en gesond. Sy was ‘n min-moeite kind, het die ma altyd gesê. Hulle het by die oupa en ouma gebly. Die pa het begin boer en hulle het nog nie hulle eie plekkie gehad nie. Daar was nie baie tyd vir die babatjie nie, maar sy het nooit gekla nie. Sy was groot vir haar nege maande. Groot en gesond.

In 1957 was telefoniese kommunikasie nie baie gevorderd nie. Jy kon nie ‘n telefoon optel en vir wie ookal bel nie. As jy Suid Afrika toe wou bel, ag, as jy selfs Windhoek toe wou bel, het jy die oproep bespreek. Jy het ure gewag om met iemand te kon praat. As jy vanaand ‘n oproep bespreek, was dit glad nie snaaks as jy eers more met jou mens aan die anderkant kan praat nie.

Die oupa in Suid Afrika bel. Die ouma is baie siek. Nee, dit lyk nog nie so sleg nie, hy sal weer laat weet as dit nodig is. Ma loop met ‘n donker hart want haar ma is siek en sy is bekommerd. ‘n Mens is mos maar bekommerd oor jou ma as sy siek is. Dan bel die oupa weer, die ouma is baie siek. Ma moet kyk of sy kan kom.

Wat ‘n frustrasie! Jy wag ure vir ‘n oproep na ‘n lughawe en jou hart brand in jou. Die vliegtuie is skaars, die grondpaaie is ver. Jy wag en wag vir uitkoms.

Uiteindelik kry jy ‘n plek op ‘n vliegtuig. Daar moet reëlings getref word. Die baba kan nie by die oupa en ouma op die plaas bly nie. Hulle kan regtig nie na die baba kyk nie. Die pa eintlik ook nie. Hy boer en is heeldag buite in die veld. Hoe dan nou gemaak?

Dankie, Heer, die skoonsuster sal vir baba kyk. Sy sal mooi kyk, sy is ‘n flukse vrou. Ma is ‘n bietjie bekommerd om vir baba so te los. Baie kinders in die omgewing het masels, maar gelukkig tog is baba gesond.

Pa vat vir ma weg Windhoek toe, lughawe toe. Sy belowe om gou terug te kom. Sy moet net eers gaan kyk na die ouma wat siek is.

‘n Vreemde ding gebeur. Toe sy daar kom, is die ouma glad nie so siek as wat sy gehoor het nie. Sy is kwaad. Sy is woedend. Sy gee nie aandag aan die ouma nie, want sy voel bedrieg. Waarom, o waarom moet sy hier wees? Sy kan nie verstaan waarom hulle so aangedring het dat sy moet kom nie. Was dit nou regtig al die baie moeite werd? Wat is die doel van dit alles?

Die telefoon lui. Dis die pa. Baba is siek. Hulle weet nie wat is fout nie, maar sy is glad nie lekker nie. Hulle het nou die dokter gebel. Hy het raad gegee en hulle hoop die medisyne sal help. Nee, moenie onrustig wees nie, sy sal nou beter raak.

Nog later lui die telefoon weer. Die pa en skoonsuster vat nou vir baba Mariental toe. Sy is baie siek en niks help nie. Hy vra dat die ma maar moet kyk of sy nie kan huis toe kom nie. Hulle het haar nou nodig.

Wat ‘n stryd om ‘n plek op ‘n vliegtuig te kry. Die enigste plek is op ‘n vlug van Johannesburg af. Die grondpad is eindeloos voor hulle. Die ma voel of sy vooruit kan hardloop want haar kind is siek. Haar kind het haar nodig. Here, help asseblief!

Lang, lang ure op die pad. Uiteindelik is hulle by die lughawe. Die vlug sal netnou vertrek. Sy moet net eers inboek.

En dan! Sy hoor haar naam oor die luidsprekers. Sy hoor dat sy gesoek word. Sy hoor haar naam en sy weet...!

Die personeel staan in ‘n halfmaan en wag vir haar. ‘n Man tree vorentoe en gee vir haar ‘n telegram. O God, my kind is dood. My baba is dood. Hoe nou verder, Here?

Die vlug is eindeloos. Eindelose nikswerd ure van rou smart en wanhoop. By die lughawe wag die pa se broers vir haar. Hy wag by die kar. Hy het nie die moed om haar te kom haal nie. Sy kry hom daar. Rou, rou smart.

Op die plaas het iemand baba se goedjies alles weggepak. Geen spoor dat hier ooit ‘n baba in die huis was nie. Niks nie. Almal troos – moenie so baie huil nie, toe? Sy vlug weg van almal af. Sy loop haar vas teen die varkhok se muur. Die ou mamma-vark kyk op toe sy die ma hoor huil. Die klein varkies suip-suip aan die mamma-vark. En die ma huil! Die vark het haar kleintjies, maar myne is weg vir altyd en altyd. Ag Here, net U kan nou help.

Al die jare bly hierdie seer ‘n kloof tussen die pa en die ma. Sy wil weet wat het gebeur, maar sy vra nie. Hy praat nie, want hy weet nie hoe nie. Hy is self te seer, hoe kan hy daardie smartlike storie vir haar vertel?

Pa is siek. Sterwend. Ek weet daar is nog hierdie groot, groot storie wat gepraat moet word. Ek probeer hulle aan die praat sit, maar dit werk nie. Sy vra nie. Hy vertel nie. Toe vra ek. Hy vertel. Ek vra nog en nog, hy moet vertel, want die mamma wil so baie graag alles hoor.

Dit het hulle twee en veertig jaar gevat om uiteindelik te praat oor die seerste seer wat tussen hulle lê. Uiteindelik was ook hierdie berg tussen hulle platgevee. Uiteindelik is daar ‘n vredige stilte tussen hulle twee. Sy weet nou. Die vrae is beantwoord.

Vandag is hulle albei al weg. Ek is alleen. Net ek weet van hoe hy beduie het oor die ou ogies wat nie meer reguit gekyk het nie. Net ek weet van die intense smart op sy gesig toe hy vertel het. Net ek weet. 


En ek sou dit so bitter graag nie wou weet nie.

Woensdag 04 Oktober 2017

SPIERE KRY GOEIE NUUS

Vandat die ander mense daar was en weer met sy fiets weggery het, mag hy nou vir die antie Ouma sê. Dis baie lekker by sy ouma. Spiere droom in die nag hoe hy en Ouma dorp toe gaan en sy glad nie kla dat haar bene pyn nie. Hy wens sy wil hom alleen stuur, maar sy wil nie. Sy sê dis te gevaarlik vir klein kindertjies op straat. Wie’s miskien klein? Hy? Gmf!

Ouma dink hy sien dit nie, maar hy kan sweer daar is weer iemand wat kom kuier of iets. Ouma maak skoon en maak skoon en hy en die hond sit meer onder die boom as in die huis. Dis net die hele tyd: “Kind, kyk hoe vuil trap jy die vloer!” of “Nee man, vir wat moet jy so mors? Bring die besem en kom maak self hier skoon.”

As dit eers donker is hou Ouma op met skrop. Sy gaan sit voor die stoof en hy bring die kassie dat sy haar voete bo-op kan sit. Dis lekker warm daar saam met Ouma en die hond. Ouma steek die lamp op as dit te donker word en dan lees sy vir hulle uit die Bybel. Gisteraand was dit Dawid en die groot reus. Jis, hy gaan eendag net so sterk soos Dawid wees. Hy gaan elke reus wat vir Ouma wil kom pla, se kop morsaf kap.

Ouma leer vir hom sing ook. Nee, dis nie die goeters wat hulle in die kerk sing nie. Ouma sê dis volksvreemde goed, sy sal haar nie daarmee ophou nie. Hulle sing ‘Jesus min my, salig lot’ en ‘As Hy weer kom’. 

Ouma kyk net na die lamp se vlammetjie as sy sing, maar hy kan sweer sy voel huilerig sulke tyd. Sy snuif elke keer so half in haar mou, so na die anderkant toe waar sy meen hy nie sien nie. Hoekom wil sy huil as dit dan sulke mooi liedjies is? Nee man, dis party kere nogal swaar om te verstaan wat ‘n mens se ouma dink.

Hy dink nog hulle sing, toe praat Ouma heel ander goed. Is dit nie sonde nie? Ouma sê altyd hy moenie op Sondag lawwe praatjies maak nie, dis sonde. Nou praat Ouma dan anner goed terwyl hulle kerkliedjies sing. Hy sal liewer nie vir haar vra of dit sonde is nie, want hy wil graag hoor wat dit is wat haar ogies so bly maak.

“Boetatjie, môre is jou verjaardag, Ouma se kind. En weet jy wat? Kerrie en Jannas kom vir ons kuier. Ons gaan koek eet en...” Maar sy sien hy luister glad nie na haar nie.

Hy sit eers oopmond na sy ouma en kyk. Ouma praat nou te vinnig vir hom. Hy het nog nooit verjaar nie. Nog nooit, ooit nie. Nou sê sy hy verjaar môre. Kan ‘n mens dan nou sommer so ewe skielik verjaar? Sjoe, hy weet darem nou regtig nie of dit kan waar wees nie.

“Nou hoe is jy dan nou so stil? Sê jy nie iets nie, Ouma se grootseun?” Ai, nou lyk dit alweer of Ouma wil grens. Hy wens sy wil net ophou daarmee. Dis swaar vir hom om nie ook te begin grens nie. Sowaar, sy maak dit baie swaar vir ‘n mens.


Hy staan op langs die stoof en gaan staan langs sy eie ouma met sy kop op haar skouer. Hy praat nie, want hy weet nie regtig hoe hy nou moet maak nie. Maar sy hart is bly. Hy weet sy eie Ouma is baie lief vir hom.


Maandag 02 Oktober 2017

GEE MY NET EEN KANS ASSEBLIEF

Vanoggend kry ek hierdie lieflike video van 'n goeie vriendin. Give me one moment in time. Net daardie een wonderlike deurbraak-oomblik, asseblief. Dit is al wat ek van die lewe vra. Net daardie een kans op sukses. Asseblief?

Is dit nie maar hoe almal van ons se harte klop nie? As ek dit of dat kan bemeester, sal ek... Of as ek dit of dat kan kry, sal ek... As dit of dat gebeur, sal ek...

Sal ek WAT? Gelukkig wees? Vervuld voel? Tevrede wees? Ryk wees?

My werk ly daaronder. Die hele dag lank maak ek planne hoe om die baas te wys hoe goed ek nou eintlik is. Hy wil my mos nie bevorder nie - ek's glo nie goed genoeg nie. Het wie so gesê? Ek sal hom nou wys wie is goed genoeg. Alles op my tafel moet eers wag, want ek gaan 'n voorlegging maak wat hy nie sal kan weerstaan nie. As hy my net vir nou wil uitlos sodat ek hierdie ding klaar kan maak! Maar nee, hy dring aan op die kleinste klein twakkies wat daar onder die son is. Doen gou hierdie ding. Maak hierdie stuk klaar. Kom help my hiermee. Ek het net meer tyd nodig, dan sal ek hom verkeerd kan bewys. Jy sal sien!

My verhoudings ly daaronder. Kan my vrou dan nie asseblief sien dat ek besig is om te bou aan 'n glansryke toekoms vir ons nie? Waarom, o waarom gee sy my nie 'n kans nie? As ek eers hierdie hekkie oor is, is my pad oop voor my. Sy wil nie verstaan dat ssy sal deel in die vreugde van my sukses nie. Verstaan sy nie dat dit van my verwag word om saam met my baas te gaan gholf speel nie? Dit is tog waar ek en hy lekker ontspanne kan gesels oor die dinge wat my en haar toekoms raak. Sy verwag sowaar van my om middae direk na werk huis toe te kom en te help met die kinders se huiswerk. Gmf! Asof dit my gaan help om daardie kontrak geteken te kry. Sy moet mal wees, man.

My finansies ly daaronder. My selfbeeld. My gesondheid. Noem maar op, dis alles 'n gemors. As my kans net wil kom!

My hele lewe lank wag ek vir daardie deurbraak wat net nie wil kom nie. My geluk, my vreugde, my menswees hang daarvan af. Ek wag en wag en wag vir iets op die horison. 'I want one moment in time when I'm more than I thought I could be.'

Is dit nie dan nou juis die probleem nie? 'When I'm more than I thought I could be.'

Ek glo nie in myself nie. Ek glo nie dat ek dit kan regkry nie. Ek glo nie dat dit ooit waar sal kan word nie. Ek glo nie, maar ek hou aan met hoop en wag. En in die proses spoed dag na dag by my verby en ek staan met 'n lee hart en onvervulde drome. Dis byna of ek nie vandag lewe nie, want ek wat vir die lewe wat more of die daarna sal kom wanneer ek gekry het waarna ek so smag.

En dan tref dit my soos 'n weerligstraal: daardie 'een oomblik' is nie iets waarna ek moet soek nie. Dit is nie iets om voor te wag nie. Dit is nie iets wat iemand vir my kan kom gee nie. Nee, daardie oomblik is NOU. Ek het die oomblik in my hand. Ek bepaal of dit leeg verby my gaan glip, en of dit 'n oomblik van 'Wow, ek het dit gemaak!' gaan wees. Daardie oomblik is die hier en die nou.

Ek moet elke dag opstaan en weet dat elke oomblik tel. Elke oomblik is goud. Elke oomblik is 'n brokkie geskiedenis en ek, niemand anders nie, is die skrywer daarvan. Ek moet nou, op hierdie gegewe oomblik, lewe soos wat ek nog nooit gelewe het nie.

As ek seker is wat die Here vir my bedoel het vir die lewe, moet ek dit voluit volg. Hy sal sorg vir die res, daarin lê ons troos.

En as dinge op die oppervlak so 'n bietjie woelig raak en nie gaan soos ek graag sou wou he nie, is dit ook nie my las nie, is dit? 'Hy gee hierdie dinge aan Sy kinders in hulle slaap,' lees ons.

Kyk op, dra jou kroon met trots en loop die pad voluit soos Hy van jou vra.

Vandag, nou, is die oomblik van 'Wow!', nie anderdag of anderjaar nie.


Vrydag 29 September 2017

MENSGEMAAKTE BOEIE

Wanneer jy snags nie kan slaap nie, gaan jou gedagtes baie maal heeltemaal op loop. Dit is so half of dit iets buite jou is en jy is net die toeskouer, of in hierdie geval, die toehoorder. Soms gaan jy op 'n ongekende reis, ander kere is dit ou bekende stofpaaie waarlangs jy al male sonder tal geloop het, maar jy loop hom weer 'n keer met die vaste oortuiging dat jy sowaar hierdie keer nie by dieselfde eindbestemming gaan uitkom nie. (kan 'n mens so dom wees?)

Ek sien op die internet 'n foto van 'n grafsteen wat 'n pa vir sy verlamde seuntjie opgesit het na sy dood. Die rystoel staan leeg en die seuntjie is regop, rykend na die sterre. Wat 'n wonderlike wete vir dipa – my  kind is uiteindelik vry van sy gebrek. Hoeveel maal het die kind, of die pa, begeer dat hy kon losbreek uit die stoel met sy beperkte vryheid? Hoe sou ons kon weet wat die kind gedink het as sy boetie en sussie buite baljaar terwyl hy moet sit, sit, sit! Hy sit in die stoel sonder dat daar enige sigbare tekens is waarom hy nie kan opstaan nie. Hy sit asof geboei aan die stoel. Of het hy nou en dan wanneer niemand kyk nie, probeer opstaan? En as hy dan pletterend terugval in die stoel, die boeie verwens en vervloek?

En ek dink aan eie boeie. Sommige is oorwin en afgeskud, ander klou onversetlik en onbeweeglik aan 'n voet of 'n hand. 

Wat is dit met die mens dat hy so maklik aanvaar dat dinge maar moet gaan soos hulle gaan? Waarom is die een of twee wat boeiloos loop die uitsondering en nie die reel nie? Waarom sal 'n dier sy eie poot afvreet in 'n poging om uit 'n slagyster vry te kom, maar ek en jy glo nou maar eenmaal dit is beter om die waters oor die akkers te laat loop?

Die kind word groot in 'n huis waar die pa naweek na naweek dronknes hou. Pa slaan vir Ma en die kinders kruip onder die beddens weg tot ligdag. Die barmhartigheidsdiens van die kerk bring ou klere en (soms) 'n gekookte ete. Die ma kyk nooit meer op nie, haar oë is dof. Kind is slim, hy doen goed in die laerskool. Die pad is oop voor hom, reken die oumense. Op 'n dag besluit kind om die boeie van ellende om sy eie enkel vas te maak. Hy word groot. Hy word sterk. Maar die boeie van ellende is sterker. Hy bereik niks. Hy wil ook niks. Hy loop tevrede met die boeie om sy enkel. Die belofte van 'n lieflike skoenlapper het nou verdor tot die werklikheid van 'n kleurlose, onaansienlike mot.

Vroutjie en haar man is baie gelukkig getroud. Nie lank nie, toe verwag sy 'n baba. Hulle geluk ken geen perke nie. Baba word gebore en nou speel sy huis-huis wanneer Pappa werk. Sy en babakind is saans baie opgewonde wanneer hy huis toe kom, want almal is so lief vir almal. Op 'n aand slaap Baba en Pappa en Mamma gaan bad. Sy trek uit om in die bad te klim en hy sluit die swaarste, donkerste boei in 'n oomblik om haar nek vas. "Goeie dôner! Jy is darem gebreklik gebou." Sy vat hierdie sware ding gewillig en maak hom nog stywer aan haar lyf vas. Sy dra hom gewillig en tevrede. Niks wat niemand ooit kan sê of doen kan haar oortuig om die las af te gooi nie. Dit is mos my las, waarom wil jy met my sukkel daaroor?

Sy is in die koshuis. Sy is klein. Die nagmerries is eindeloos. Sy piepie in haar bed. Sy weet van twee ander maatjies wat ook in die bed piepie, maar niemand praat daaroor nie. As sy in die oggend opstaan, is alles nat. Dit stink. Sy trek die bed toe en sit die nat slaapbroek in die vensterbank in 'n bondel. Vanaand is die broek nog nie droog nie. Alles stink. Die koshuistannie word kwaad. Sy skel. "Julle bedpisters moet nou ophou. Ek gaan julle almal in 'n ry voor die kamer op die stoep laat staan sodat almal kan sien wat doen julle." Ek is 'n bedpister. Sies. Die ketting skaaf om my enkel, maar hy moet maar skaaf. Ek is mos 'n bedpister.

Pa en Ma gaan skei. Ek hoor hoe hulle baklei en Pa sê dis oor Ma 'n boyfriend het dat hy liewer loop voor hy 'n moord pleeg. Jou ore slaan toe, jy wil dit nie hoor nie. Ma kan mos nie 'n boyfrienhê nie, sy is al te oud. Die dominee lees uit die Bybel uit dat egbrekers en moordenaars nooit by die poorte van die hemel sal ingaan nie. Ek trek my hoed tot laag oor my skaam gesig. Dis verskriklik! My pa en ma gaan nie eendag hemel toe nie. Ek dink ek wil dan ook maar liewer nie hemel toe gaan nie. Wat moet ek daar gaan maak as hulle nie saam met my gaan nie? Ek is skaam. Ek is kwaad. Ek is woedend omdat ek nie kan hemel toe gaan nie. Ek tel die boeie op en sleep-dra dit saam met my. Ek sit dit nooit neer nie, want ek en Pa en Ma kan nie hemel toe gaan nie.

Hoeveel laste kan 'n mens jouself ophaal voordat jy nie meer vorentoe kan nie? Hoe swaar moet jy dra voordat jy besef die sleutels van hierdie baie boeie is in jou eie hande? Of raak dit 'n soort prestasie om te kyk wie se las is nou eintlik die swaarste?

Maar soms, net soms, breek daar 'n oomblik van helderheid deur en jy worstel los uit die laste van ellendigheid. Jy bars deur die mensgemaakte grense van skandes en veroordeling.

Jy is lig en vry. Jy weet dat jy jare en jare vermors het op jou selfopgelegde smarte. 


En jy belowe jouself en die hele heelal – nooit, ooit tel ek weer ‘n las op wat nie my naam dra nie!

En ja, laste kom nie met name op nie, kom hulle?


“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

  “Nou sê ek vandag vir julle, moenie by   my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...