Dinsdag 01 Mei 2018

DIE VAAL KIND 'FACE' HAAR VERLEDE

           Waar begin jy as daar regtig nie ‘n begin is nie en, op hierdie stadium, ook nog nie ‘n einde is nie. Kom ons sê dan maar ons vat hom so vyftig jaar terug op die klipperige pad van die kind. Dit klink nogal of dit die titel van ‘n storie kan wees – ‘Die pad van klip en stof’, geskryf deur Wie weet Wie. Ja, dit klink na ‘n interessante storie...of dalk nie?
            In elk geval, die kind was maar altyd vol duister gedagtes. Jy sien, dinge gebeur met ‘n mens – dinge waaroor jy nie altyd beheer het nie. Hierdie dinge het ‘n permanente invloed op wie jy is, op wat jy dink, op hoe jy die lewe verder beskou. Kinders is vreemde wesentjies. Jy sal nooit, ooit weet hoe hulle diep binne-in hulle harte reageer op ‘n eenvoudige woordjie, ‘n onbedagte daad, ensovoorts nie.
             Hierdie vaal kindjie worstel met (onnoembare) dinge waarmee selfs grootmense nie veronderstel is om te worstel nie. Hierdie dinge maak van haar ‘n eensame wese – ‘n alleenkind, ‘n verstoteling in haar eie oë. Hoewel sy omring is deur ‘n groot groep van haar eie ouderdom, is sy so alleen dat sy soms wonder of ander mense haar ooit kan raaksien. Sy weet dat sy bly lewe omdat die asem in haar lyf vanself kom, nie omdat sy dit so wil nie. Ag, hoe verduidelik een mens dit aan ‘n ander? Die kind se hart klop pikswart en onwillig...dag na dag na dag.
            Die jare stap aan en die vaal kind word groot. Sy word ‘n vrou, die ma van kinders en sy staan in ‘n beroep. Mettertyd leer sy dat die hele lewe nie heeltemal so pikswart is nie. Nee, daar is in werklikheid soveel lig in die lewe...as jy dit net wil raaksien. Sy leer haar eie waarde ken en sy is tevrede met wie sy is. Sy geniet die lewe op haar eie manier.
            Daar was egter een deur wat nog styf toe was – die deur na haar kindwees. Daardie deur wou sy nooit weer oopmaak nie, want so met die loop van jare het sy vas begin glo dat ou lotjie wat haar kindwees met haar gedeel het, eintlik haar vyande was. Daardie kinders was vir haar die herinnering van ‘n baie donker tyd in haar lewe – hulle beelde was donker en onvriendelik. Sy wou hulle nooit, ooit weer sien nie. Dit is hulle wat haar so minderwaardig en dom en eenvoudig en wat alles laat voel het. Waarom sou sy weer daaraan herinner wou word? Waarom moes sy haarself weer daaraan onderwerp? Dit maak mos nie sin nie, maak dit?  
            Die verwydering tussen die vaal kind en die res van die groep was so groot dat niks (so het sy geglo) dit sou kon herstel nie. Ek meen te sê, daar was mos eintlik van die begin af geen band tussen haar en hulle nie, was daar?
            Hoe nader die tyd van weersien gekom het, hoe meer was sy daarvan oortuig dat sy nie nodig het om te gaan nie. ‘n Mens onderwerp jou tog nie doelbewus aan soveel vernedering nie, ha? Sy staan die oggend op en weet, vandag is die dag wat sy moet ry of bly. Sy troos haarself dat sy, wanneer sy daar kom, mag omdraai huis toe. Sy troos haarself dat dit okay is om bloot eenvoudig by die ingang van die plek verby te ry en niemand sal eens weet dat sy daar was nie.
            Maar sy ry met natgeswete hande by die hek in. Nou troos sy haarself dat sy enige tyd kan omdraai en wegry as dit nie okay is nie. Sy troos haarself met hierdie klein dingetjies soos ‘n mens ‘n klein kindjie aanmoedig om asseblief net sy pap te eet voordat hy ‘n lekkertjie kry. Ry in. Teken in by ontvangs. Vra wie is almal al daar. Loop om die hoek en sien die mense – haar donker verlede.
            Sy ry toe nie weg nie. ‘She faces her biggest enemy with a big smile.’
            Sy raak rustig tussen almal, maar die opwinding van weersien vang haar sleg. Elke nou en dan ontvlug sy die donkerte in. Stilte! Gee my ‘seblief net ‘n bietjie stilte tussen al hierdie baie lag en gesels. Dit is te veel vir hierdie soekende, onseker siel om tussen soveel vreugde en blydskap van die weersien te wees. Toe almal die aand gaan slaap, worstel sy met al hierdie emosies wat soos bomme op haar kom val. Hoe is dit dan dat dinge nou anders lyk as wat sy dit onthou? Waar is die helse sloot wat tussen haar en die res van die groep was? Wat het dan verander?         
            Sy slaap die nag glad nie. Sy worstel met vreemde emosies. Die pyn in haar hart is erger as die pyn in haar liggaam. Die oggend kom te gou. Sy is nie gereed vir die dag nie. Sy kan nie aangaan hiermee nie. Niemand kan haar dwing om te bly nie, kan hulle? Die warm stort is vir ‘n kort oomblik haar ontvlugting. Sy wens sy kan daar bly staan sommer vir altyd en altyd. Maar sy weet sy kan nie...!

            Vreemde dinge gebeur op vreemde tye. ‘n Woordjie hier, ‘n warm drukkie daar, ‘n ‘onthou jy nog?’ van iemand van wie jy dit glad nie verwag nie. Sy kom agter dat sy regtig niks het om te vrees nie. Sy is regtig nie die ‘outsider’ soos wat sy haar lewe lank geglo het nie. Sy voel die warmte. Sy ervaar die liefde. Sy kyk om haar rond en sien dat die vaal kind toe blykbaar net in haar eie kop bestaan het, want niemand anders blyk van haar te weet nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...