Dis laat in die aand en die
gedagtes vat weer koers soos hulle lus het. Ek sien iemand is nog wakker en ons
praat ‘n woordjie of twee en daar gaat die gedagtes soos wilde perde wat nie
gekeer kan word nie...of eintlik wil ‘n mens hulle ook maar nie keer nie, ha?
Hierdie vriendin van my...! Dit vat
so bitter min om haar gelukkig te maak. Net 'n woordjie van ondersteuning van
my kant af, niks meer nie. Dit is regtig al wat sy nodig het om weer te
glimlag. Nie ‘n geskenk of niks nie, hoor. Net ‘n klein woordjie van
begrip is nodig om haar weer op te dollie en aan die gang te sit.
My moeder, daarenteen, kon jy
omkoop met ‘n lekker stukkie fudge of ‘n toffie. Ja! Toffies was uiteindelik
die wenner tussen al die baie lekkertes op die winkelrakke. Op sy tyd was ‘n
blokkie sjokolade ook goed, maar die toffie het altyd gewen. So gepraat van
sjokolade – kan jy glo dat sy die selfdissipline gehad het om elke dag so
wraggies net een blokkie te eet? Ogggg, nee man tog! My kinders het altyd gesê
ek eet hom soos ‘n stuk brood – vat hom aan die eenkant vas en werk hom deur
tot jy later nog net die vingers kan aflek. Lekker verby! Gits, dit klink nou
lekker vulgêr as ek dit nou so sit en praat, ha? Wragtag vulgêr en effens
banaal, dink ek.
Nou behalwe met sjokolade, waarmee
kan jy my nog bly maak? Sjoe, daar is soveel maniere om my siel te koop, maar
ek sal probeer om dit eenvoudig te hou.
As jy my nou regtig opgewonde wil
maak, draai ‘n klein ietsie (ja, sommer 'n ietsie!) toe in mooi papier. Is! Ek
jok nie vir jou nie, man. Ek vrek oor ‘n persent – enige persent!
Dit maak sowaar nie so baie saak
wat jy in daardie mooi papiertjie (nie 'n sakkie wat gou-gou gekoop is nie,
hoor) het nie, dit maak my hart week om te dink dat jy dit vir my spesiaal gaan
uitsoek het of gemaak het of wat ookal die geval mag wees. En wat dit nog
lekkerder maak, is om te sien watter papier jy uitgekies het vir hierdie
persent van my. Ek belowe jou, die adrenalien skiet die hoogtes in en ek is vir
die res van die dag op 'n 'high'.
Spontane persentjies is die
lekkerste ding wat ek kan oorkom. Mmm, ek hoor jy vra my wat is 'n spontane
persent dan nou eintlik. Jy sien, dis daardie persentjies wat nog sommer in die
winkel se drasak is, want hy is nou gekoop en jy wil hom nou vir my gee, nie eers
anderdag nie. Ek is lief daarvoor om dit ook te doen, maar soms wonder ek of
almal verstaan hoe kosbaar dit regtig is. Want sien, jy is winkel toe om brood
te koop, maar jy kom huis toe met 'n verrassing vir 'n hartsmens van jou. Wat
is nou lekkerder as dit?
En asseblief toggie, as ek vir jou
‘n persent gee, moet hom seblief nie daar eenkant neersit om later oop te maak
nie. Ek is so opgewonde dat ek hom sommer self ook vir jou sal oopskeur. Jy
sien, dit gaan alles vir my oor jou reaksie wanneer jy sien wat ek vir jou
gebring het. Jou reaksie is weer vir my ‘n presentjie op sy eie. Jy kry die
persent, maar ek kry die mooi glimlag van tevredenheid.
Dieselfde geld vir 'n mooi, opregte
kompliment uit 'n onverwagse oord. Iets wat ek nooit ooit sal vergeet nie, was
so ‘n uit-die-hart kompliment van ‘n vriendin jare en jare gelede. Ons almal
sukkel (soms) om ‘n kompliment te aanvaar, maar daardie een was besonders en so
honderd persent op die regte oomblik. Dit was in ‘n tyd wat die swart hond van
depressie weer woelig was by my voordeur. Ek het gesukkel om asem te kry, want
die gedierte het lekker met my gemors. Ons moes die aand koor gaan oefen en ek
het half teen my sin gegaan. Ek het daar opgedaag met ‘n gesig wat boekdele
spreek – jy ken mos daardie frons wat niks en niemand van jou gesig kan afgevee
kry nie. Dis toe wat hierdie mooi vrou my groet met ‘n ‘Hier kom die vrou met
die mooiste glimlag in die dorp!’ Weet jy, ek weet dit was maar net haar manier
om my ‘n bietjie beter te laat voel, seker niks meer as dit nie. Maar ja, na al
die jare onthou ek dit as die oomblik wat ek opeens die lig weer (so
effentjies) deur die donker kon sien skyn. En natuurlik het ek haar beloon met
die grootste glimlag wat ek op daardie stadium kon gee.
Nog 'n ding wat ek nooit, ooit sal
vergeet nie, is een verjaardag van my. Toe ek vroeg die oggend opstaan (dis in
die winter en dus was dit nog stikdonker) is daar by elke ligskakelaar in die
huis 'n lekkertjie met 'n piepklein kaartjie vasgeplak. My hart se punt se
vreugde se lekkerkry! Sjoe, dit was die lekkerste wat opstaan nog ooit vir my
was en ooit sal wees. My oususkind het die moeite gedoen om dit in die middel
van die nag vir my (ja, vir my!) te doen. Wat 'n vreugde om sulke mooi
liefgoedjies van elkeen van my kinders te kan onthou.
Iets wat my telkemale stomslaan, is
wanneer ek sukkel met iets en ek hoor onverwags hier langs my: "Kom, ek sal
jou gou hiermee help." Dit kan die kleinste dingetjie wees, maar my hart
is sulke tye so baie, baie lief vir jou. Bedagsaamheid is maar redelik yl
gesaai deesdae, stem jy nie saam nie?
Eintlik kan jy my siel koop met
byna enige ding, jong. Ek hou ongenadiglik baie van alles wat onverwags op my
skoot kom beland...behalwe natuurlik moeilikheid!
En nou wonder ek opeens of ek ooit
altyd genoeg dankie sê vir al die liefde wat ek ontvang? Dankie is eintlik so
‘n ou dom woordjie, dink jy nie ook so nie? Ek dink daar moet meer woorde wees
om mee te kan dankie sê. As jy iemand bloot uit hoflikheid bedank, is ‘Baie
dankie’ vir my voldoende. Maar dan kom jy voor iemand te staan en jy wil uit
jou hart uit dankie sê en jy weet opeens nie watter woord om te gebruik nie. Is
dit net ek of voel jy ook so? Jy wil mos sulke tyd eintlik so 'n klein deeltjie
van jou hart vir daardie liefmens gee, maar al wat jy het is daardie
onbeduidende dankie-woordjie.
Nou wil ek maar net vir jou en
elkeen van my hartsmense weereens sê, baie dankie dat jy in my lewe is.
Dankie dat jy my daaglikse stukkie van groot lekkerte is...ek waardeer jou meer
as wat ek ooit kan sê.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking