Maandag 14 Mei 2018

DIE BITTER NASMAAK VAN ONVERGEWENSGESINDHEID


           
             Sy hou al vir jare en jare skool. Haar jongste is alreeds uit die skool uit, dus is sy regtig nie meer ‘n kuiken nie...en ook nie lus vir kuikenkos nie, 'if you catch my drift'.
            Soos in elke ander beroep ook maar, lewer die onderwys van tyd tot tyd sy eie dingetjies op. Gelukkig was nog niks te erg wat nie opgelos kan word nie en eintlik gaan dit (redelik) goed met haar in haar werk. Ja, sy sukkel ook met leerlinge wat nie hulle werk doen nie en sulke onbenullighede, maar dit is nie iets om oor huis toe te skryf nie, is dit?

            Waar so ‘n klomp kinders bymekaar is soos in ‘n hoërskool, kan jy ook verwag om letterlik een van elke soort verteenwoordig te hê – die wat baie hard werk, die wat soms werk en die wat glad nie werk nie. En dan, net soms, is daar mos die’tjies wat nie werk nie omdat die laste van die lewe soos berge op hulle skouers lê. Ongelukkig gaan soek hulle dan baie dikwels hulle troos by die onnoemlike en ontoelaatbare dinge – wat dan uiteindelik die probleme maar net nog meer en meer maak, is dit nie?

            Sy staan in die kantoor met hierdie jong seun. Hy is reeds ‘n senior leerling,  maar het nog so effens die lyfie van ‘n jonger kind. Dit is net wanneer jy in hierdie kind se oë kyk wat jy besef dat hy lankal nie meer ‘n kind is nie. Die haat vir en weersin in die lewe brand soos vlamme in die jong seun se oë.

            Waarom hulle (vir die honderdste maal) in die kantoor is, is nie hier ter sake nie. Wat uitstaan daardie dag, is dat dit byna uitloop op ‘n magstryd tussen die jongman en die volwasse vrou. Hulle meet mekaar. Hulle daag mekaar uit. Hulle gooi die woorde soos tennisballe heen en weer. Nie een is bereid om te swig voor die uitdaging van die ander nie.

            En toe. Uiteindelik. Die jongman vou. Opeens is die bravade weg en in die plek daarvan staan ‘n ou klein lyfie wat stokstyf staan, maar die trane stroom uit sy oë. Die vrou, ook ‘n ma, kry hom opeens so jammer. Sy kon nog nooit iemand sien huil en nie jammer voel nie. (Tussen alles deur is die skoolhoof ‘n stille toehoorder)

            Sy tree vorentoe en reik uit na die kind. Sy vee sy trane af met die agterkant van haar hand terwyl sy vra: ‘Waarom is jy dan tog so baie hartseer?’

            Die opstand is onmiddellik terug. Die oë verhard en tussen geklemde kake antwoord hy haar: ‘Staan asseblief terug van my af.’

            Geskok tree sy terug...en vergeet van die voorval.

            Mettertyd besef sy en almal dat daar eintlik geen salf te smeer is aan hierdie jongman met die opstandige hart nie. Dinge wil maar net nie normaliseer nie, want, soos reeds genoem, daar was onnoembare dinge iewers aan die gang – dinge wat hom vasgehou het en in ‘n sekere sin seker beheer het.

            Op ‘n dag sit hierdie vrou met ‘n kollega en gesels. Die seun met die opstand in sy hart kom ter sprake. Die kollega merk op: ‘Haai siestog ja, en nou word hy mos nog deur ‘n onderwyseres gemolesteer ook.’

            Dit het nie veel verbeelding gevat om te weet wie hierdie bose onderwyseres kon wees nie. Daardie woorde van die jongman: ‘Staan asseblief terug van my af,’ het soos ‘n trompet weerklink in haar ore.

            Dit daar gelaat...!

            Jare later loop hierdie twee mekaar weer raak in ‘n winkel. Hy kom staan reg voor haar in die nou gangetjie in ‘n winkel. Sy kan nêrens heen nie, behalwe as sy bo-oor hom wil loop. Hy groet. Sy groet nie. Sy staar dwarsdeur daardie ek-is-jammer-oë.
Sy is hard soos ‘n klip. Sy wil hom nooit weer sien nie. Sy wil nie met hom praat nie. Sy wil hom uit haar lewe uit hê vir altyd en altyd. As sy kon, het sy hom soos ‘n muskiet met die duim verpletter teen die muur.
             Vandag weerklink sy woorde in haar ore en sy wens sy kon hom nou weer sien om, na alles, dinge tog maar reg te maak. Want, jy sien, wie is ek en jy en wie almal dat ons daarop roem dat ons nooit sal of wil vergewe nie? Verwag ons dan nie maar almal vergifnis van iemand anders op ‘n daaglikse basis nie?

            Sy haar weer sy woorde en sy sien sy pleitende oë: ‘Juffrou, hoe kan ek dit regmaak, asseblief, Juffrou?’

            En sy hoor haar eie harde woorde: ‘Hoe wil jy dit regmaak? Waar wil jy vandag al daardie mense kry vir wie jy dit vertel het?’ voordat sy botweg omdraai en uit sy lewe uit loop.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...