Saterdag 12 Mei 2018

MY MA IS 'N BLOM

As jy moes sê, watter blom is jou mamma? Dink ‘n bietjie daaraan hoeveel soorte blomme kry ons op aarde en dan weet jy waarom jou mamma nie noodwendig soos jou beste maatjie se mamma is nie. Daardie tannie is altyd die een wat regstaan met die toebroodjies en ‘n drinkdingetjie wanneer dit die nodigste is. Jy het al gewens jou mamma wil ook raaksien wanneer ander mense honger is en waarom is sy nie ook so behendig in die kombuis soos tannie die en daai nie?

Ja, ek weet dat ons elkeen ons mamma liewer as lief het, maar soms, net soms, wens ons dat so ‘n klein ietsie aan haar anders kon wees. Stry? Nee, ek weet jy sal nie met my stry nie, want dit is die waarheid.

Dalk is jou mamma die mooiste, mooiste bruidsruiker wat almal na hulle asems laat snak. Sy is mooi, sy is die ideale gasvrou en vervul haar sosiale verpligtinge met soveel grasie dat niemand kan kers vashou by haar nie. Nou waarom verwag jy van haar om iets anders te wees? Waarom verwag jy van haar om jou deurmekaar kamer op te ruim en jou vuil koppies kombuis toe te dra? Waar is jou handjies dan, skattie?
Is jou mamma ‘n rankrosie wat eenvoudig die vermoë het om in almal se harte te kruip? Sy kan nie anders as om met almal te doen te wees en almal met raad en daad te bedien nie. Die rankrosie laat haar mos nie keer waar sy groei nie, en nog minder kan sy help dat almal van haar bewus is as gevolg van haar geur. Hoekom kry jy dan skaam vir haar en dink jy sy is so ‘n klein bietjie te voor op die wa? Hoekom laat jy haar nie maar toe om te rank waar en hoe haar natuur haar dit laat doen nie? Sy kan tog nooit ‘n bruidsruiker wees nie, kan sy?
Is jou mamma ‘n sonneblom wat haar kop elke oggend na die son toe draai? Sy sien niks ooit in niemand verkeerd nie en sy laat die spreekwoordelike son oor almal skyn. Sy staan op met ‘n lied in die hart en sy gaan slaap met dieselfde lied in die hart. Is sy jou mamma? Hoekom hoor ek dat jy al vir haar gesnou het dat sy asseblief tog moet bykom, want die lewe is nie so eenvoudig soos wat sy dit maak nie? ‘Get real, Ma!’ Ha? Het jy dit vir haar gesê? En jy kry nie skaam daaroor nie? Sjoe, wat verwag jy van haar? Moet sy sowaar soos ‘n magrietjie haar blaartjies toevou as die son gaan sak? Ag nee man, dalk is dit tyd dat iemand vir jou ‘n slag moet sê: ‘Kom net asseblief by, man.’
Dalk is jou mamma ‘n hele laning pers jakarandas wat almal geniet en almal bewonder, maar soms ook so effens irriteer met die baie blommetjies wat oral rondlê. Hulle hou in stilte die wag oor elke voetganger wat onder hulle deurloop. Hulle praat nie uit nie en hulle praat ook nooit t nie. Sy is die een by wie almal kom gesels en heel dikwels die een by wie die grootste hartsgeheime uitgestort word. Sy hoor eerste van die nuwe liefde in die dorp, maar ook van die teleurstellings en mislukkings. Nou waarom wil jy ewig hê dat sy haar by haar eie sake moet bemoei? Sy is wie sy moet wees, my liewe mens. Sy kan nie anders nie, want sy weet glad nie hoe om te anders nie. 
Jy sou so graag wou hê jou ma moet ook deftig en ‘in beheer’ wees soos die bure se tannie, hoor ek jou kla. Maar nee, jou mamma is daardie bossie veldblommetjies wat die swerwer die meeste genot verskaf in die natuur. Mmm, ek hoor jy mor: ‘Sy is so gemaak en gelaat staan, man.’ Sies vir jou! Sy is die kroon van die skepping en sy is presies wie sy gemaak is om te wees. As jy ‘n slag van jou troontjie afklim en op die grond gaan lê , sal jy sien hoe volmaak sy gemaak is. 
En dan is daar die lemoenbloeisels. Het jy al in die aand geruik hoe die hele buurt kan ruik na daardie klein ou blommetjies? Jy weet nie eens waar in die buurt daardie boom staan nie, maar die geur is onmiskenbaar die hele lug vol. So ‘n mamma is die een wat jy nooit sien nie, maar jy weet altyd dat sy iewers besig is om haar dingetjies te doen. Sy doen net goed waar sy gaan – sy versprei haar geur soos hierdie klein, wit blommetjies. En jy? ‘Aarde, Ma, bly ‘n slag by die huis en stop kouse of iets. Ma kan nie die wêreld se siekes versorg nie, kan Ma?’
Of dalk is jy vandag ‘n mamma en jy voel so onsigbaar soos die klein, klein klokkieblommetjies. Sjoe, weet jy hoe mooi is jy? En besef jy dat jy presies is wie God beplan het dat jy moet wees? Wees jy maar net vandag die mooiste klokkie wat jy kan wees, dan het jy jou doel gedien.


1 opmerking:

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...