Maandag 28 Mei 2018

DIE STORIE VAN DIE VROU SONDER NAAM

Sy bel my een aand baie laat. Sy vra verskoning daarvoor en val sommer met die deur in die huis. 


Ek wil vir jou my storie vertel. Ek wil hê jy moet daaroor skryf. Die hele wêreld moet weet daarvan.

Ek antwoord half onseker: "Goed. Mag ek sê wie jy is?" 
·         Nee

"Mag ek sê waar jy bly?"
·         Nee

"Mag ek iets oor jou gesin sê?"
·         Nee

Goed, ek sal dit dan nie doen nie. Dit is jou keuse hoe jy dit wil gedoen hê. Dankie dat jy my met jou storie wil vertrou. Ek hoop regtig ek doen nie afbreek daaraan nie.

Op daardie stadium het ek natuurlik geen idee gehad waaroor die alles gaan nie. Ek het gespanne sit en wag.

Een laaste ding, voeg sy by: Moet my asseblief nie onderbreek nie en moenie agterna vrae vra nie. Ek wil dit een maal vertel en dan nooit weer daaroor praat nie. Reg?

"Reg met my."

Ek weet jy is ook met fibromialgie diagnoseer. Dit is wat my laat besluit het om my storie vir jou te vertel. Jy moet ernstig dink daaroor, want die genesing hiervan lê by jouself.

Ek snak hoorbaar na my asem. Regtig? En geen dokter het dit nog ooit vir my gesê nie? Ek dink so by myself dat hierdie vrou nou ‘n vet kans vat, maar ek het belowe om nie in te meng nie. Ek byt dus net my lip vas en gordel vas om die groot hoor te hoor vanaand.

Wat hier volg is dus haar storie soos wat ek dit agterna kon onthou. Sy het lank en baie gepraat maar onthou, ek het belowe...!

Ek het susters en broers gehad. Ek was die tweede oudste van die spulletjie. Iewers, toe ek nog baie klein was, het dinge in die huis ‘n bietjie skeef geloop. Dit was so erg dat my ma so half vergeet het van my bestaan. Dis nie dat sy my wou vergeet het nie, verstaan my mooi. Sy was ‘n baie goeie vrou vir my pa en ‘n baie goeie ma vir ons kinders. Dis net...glo my maar dat sy dit nie kon help dat sy van my vergeet het nie.

Nou ken jy mos kinders. Jyself het mos ook drie kinders. Hulle voel baie gou afgeskeep en/of verwerp as jy net ‘n bietjie meer aandag aan die een gee as aan die ander. Nou hoe dink jy het hierdie ding in my kleinkindjiekop gevoel? Natuurlik het ek, sonder dat ek mos daaroor gedink het, gevoel dat ek nie eintlik plek in die huis het nie.

Ons was ‘n baie groot familie met baie neefs en niggies. Een keer het my nefie en sy pa by ons op die plaas gekom. My nefie het my eenkant toe gevat omdat hy wou ‘sien’. Jy verstaan mos wat hy wou sien? Ek was skaam, maar hy het ‘n gladde bek gehad en ek het hom gewys. Dit is toe juis die tyd van die kombuisvrou buite toe kom om iets te kom doen en sy sien dat ons vir mekaar wys. Die volgende wat ek sien is my ma wat om die hoek kom. My boude het daardie dag gebrand soos nooit voor dit en ook nooit daarna nie. Wat het daardie pak slae my geleer? ‘n Mens doen nooit, ooit sulke dinge nie. Dis mos reg dat ek dit geleer het, nê?

Maar! Daar was ‘n man in die familie wat ook gehou het daarvan dat al ons niggietjies vir hom moet wys en dan wou hy mos voel ook. Nou sit jy twee en twee bymekaar: Jy mag dit nooit doen nie, want jou boude brand vir dae daaroor. Sou jy dit dan vir jou ma vertel het? Ek glo wraggies nie so nie, hoor.

Ek gaan skool toe onder die druk van verwerping en seksuele misbruik. Nee, ek het nie daardie woorde geken nie en ek het self ook nie besef dat ek ‘n helse probleem het nie. Hoe sou ek dit weet? Maar! Ek slaap snags nooit nie – die nagmerries sorg daarvoor. Nag na nag na nag na nag! Dieselfde droom oor en oor en oor. Die vrees waarmee ek gaan slaap het elke aand is onbeskryflik, want ek het geweet die droom wag vir my sodra ek aan die slaap raak. Ek besef vandag eers waarom ek nooit op skool presteer het soos my broers en my susters nie. Ek was eenvoudig te moeg om behoorlik te konsentreer in die klas.

Ek gaan deur al die standerds met hierdie aaklige, aaklige gevoel van ‘ek pas nie in nie’ en ‘ek is nie so goed soos hulle nie’. Ek voel ontuis tussen my maats. Ek voel ontuis in my ouerhuis. Ek voel ontuis in my eie vel. Ek haat my eie bestaan.

Na skool gaan dit so effens beter, maar toe was daar weer ander probleme wat nie nou ter sake is nie. Die feit van die saak is dat ek my skooljare wou toemessel en nooit, ooit weer iets daarmee te doen wou hê nie. Ek het geen kontak gehou met enige van my skoolmaats nie. Waarom sou ek dit nou wou doen? Hulle het nie getraak met my nie (dit is wat ek vas geglo het) en ek wou dit net uit my verstand uit brand met iets soos seepsoda of wat ookal. Vir altyd en altyd wou ek dit vergeet.

Mettertyd het ek met walging begin dink aan my skooljare. Was dit werklik so sleg? Ek weet nie meer nie. Al wat ek weet is dat dit die tyd was wat ek nie weer wou beleef nie – nooit ooit nie.

En toe gaan hou ons mos reünie. Ek het besef dat ek sou moes gaan sodat ek hierdie laaste hekkie (soos wat ek dit gesien het) moes oor. Ek moes met julle vrede gaan maak. Nee, ek moes met myself gaan vrede maak daar. Op die ou einde was ons ‘n hele paar wat erken het dat ons bitter onseker van onsself was, dat ons nie baie goeie herinneringe van ons skooljare het nie. Martha, jy het dit ook gesê daardie Sondagoggend, onthou jy?

Dit is waar ek jou weer na al die jare gesien het. Jy het vir my vertel van fibromialgie en ek het vir jou gesê ek het dit ook. Onthou jy? Ek het vir jou vertel hoe ek pyn wanneer ek spanning het en jy het dit beaam.

Wat ek jou nie vertel het aan die einde van die naweek nie, was dat ek toe reeds besef het dat my pyn die helfte minder was. Ek het die Saterdag of Sondag besef dat ek nie pyn het nie. Ongelooflik, ha?

Nou hoekom dan so? Weet jy, ek wou julle nie ‘face’ nie. Ek wou nie een van julle ooit weer sien nie. Ek was mos nie goed genoeg en slim genoeg en mooi genoeg en wat alles genoeg nie. En ek kom daar tussen julle almal en almal is so bly om my te sien. Wat ‘n antiklimaks. Ek kon my eie oë en ore nie glo toe ek almal groet en ek besef maar ek ‘is dan deel van almal’ nie. My kop het half gesukkel om dit te verstaan, weet jy. Daardie Vrydagnag was die pyne so erg dat ek byna nooit geslaap het nie. Ek staan die Saterdagoggend onder die stort en ek weet nie hoe gaan ek deur hierdie dag kom nie...

Ek ry Maandag huis toe en ek voel so goed oor myself. Ek glo nou het ek alles wat agter my was, oorwin. Maar nee, daar was nog die ding met daardie man in die familie. Ek gesels met iemand – ons noem haar sommer my ‘private shrink’. Sy begin vrae vra. En sy druk haar duim bo-op die seerste plek in my hart. En sy hou daardie duim daar. Sy wil hom nie oplig nie en sy wil hom nie wegvat nie.

Sy vra vir my: “As jy kon, wat sou jy vandag vir daardie klein dogtertjie wat gemolesteer is (dis nou ek daai!) sê? Ek is onmiddellik so kwaad dat ek hyg na my asem. Ek antwoord haar dat ek niks, maar niks vir daardie kind te sê het nie. Sy vra vir my hoekom ek so oor die kind voel en ek antwoord dat die kind te simpel en te dom en te wat alles was om haar mond oop te maak en vir iemand te vertel wat aan die gang is. En sy hou daardie duim daar, man. Dit pyn later oral, maar sy hou nie op nie. Sy preek nie vir my nie, hoor. Sy vra vrae en ek is kwaad vir die kind. Veel, veel later los sy my en ek gaan slaap.

Die wonderwerk van dit alles is wat die volgende dag met my gebeur het. Ek het nou nie juis die hele dag daaraan loop en dink nie, glad nie. Maar iewers deur die dag daal die gedagte op my neer: Die kind het nie geweet nie! Die kind was regtig nie skuldig aan daardie daad nie. Sy was onskuldig die hele tyd. En ek besef: Hoe kan jy haar haat as sy nie van beter geweet het nie?

Ek is nou moeg, maar ek moet my storie klaar vertel. Ek moet vir jou sê dat ek sedertdien nog nooit weer die pyne van fibromialgie gehad het nie. Ja, die ander probleme wat voorheen daar was, is almal nog daar, maar nie die erge simptome van daardie groot monster nie.

Dit is waarom ek dit vir jou wou vertel, Martha. Jy moet vir die wêreld vertel dat daar genesing is vir fibromialgie. Jy moet my glo. Almal moet my glo. Wanneer jy die woede en die haat van jou kinderjare afskud, is jy vry van pyn.

Glo jy my? Groot asseblief, glo jy my?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...