Sondag 20 Mei 2018

DIE BLOEDROOI BLOM VAN HEIMWEE


Heimatlos sind viele auf der Welt,
heimatlos und einsam wie ich.
Überall verdiene ich mein Geld,
doch es wartet keiner auf mich.
Keine Freunde, keine Liebe,
keiner denkt an mich das ganze Jahr.
Keine Freunde, keine Liebe,
wie es früher, früher einmal war.
Hoffnungslos ist keiner auf der Welt.
Einmal kommt für jeden die Zeit.
Und ich weiß, ich weiß das Schicksal hält
auch für mich noch einmal bereit:

Ein paar Freunde, eine Liebe,
daran denke ich das ganze Jahr.
Ein paar Freunde, eine Liebe,
wie es früher, früher einmal war.

Vry vertaal in Afrikaans: Baie is haweloos in die wêreld, haweloos en eensaam soos ek. Oral verdien ek my geld, maar niemand wag vir my nie. Geen vriende, geen liefde nie, niemand dink aan my die hele jaar nie.

Nou vra jy my waarom op aarde ek nou juis vanaand na onse Freddy sit en luister. Die antwoord is baie eenvoudig: ek het heimwee. Ek verlang na jou en die en daai en (hoe lui die lawwe spreekwoord?) almal wat ek nie eens ken nie.

Ken jy daardie vae gevoel wat so vat, vat, vat aan jou hartsnare? Daardie gevoel wat jy net nie aan ‘n ander mens kan verduidelik nie, want hoe skryf jy nou eintlik in woorde wat in jou siel aan die gebeur is? Hoe laat jy iemand anders voel hoe voel jou hart? Of hoe klop jou hart nie? Want soms voel dit mos kompleet of jou binneste doodstil gaan staan het. Dis soos ‘n waterpoel waarin een enkele vuurrooi blom dryf. En daardie blom het baie, baie name.

Ek sien jy knik. Jy hoor my hart. Jy voel ook (soms) so. Ja? Ek is bly as jy my hart vanaand hoor, want regtig, vanaand het ek nodig dat iemand my hoor. Hoekom? Maar ek sê jou dan nou daar dryf ‘n bloedrooi blom in my hart. En vanaand is blom se naam Heimwee.

Die blom het eintlik baie name. Verlang. Heimwee. Trots. Vreugde. Nee, nooit kan sy naam Woede wees nie, hoor. Dis ‘n blom van ‘n ander kleur daardie een.

Wanneer jy voor hierdie rooi blom te staan kom, het jy ‘n keuse. Jy moet (baie) gou omdraai en loop, of jy moet bereid wees om tyd saam met Blom te spandeer. Want, jy sien, Blom is suinig en so soort van jaloers ook nog. Jy kan nie net so effentjies loer na Blom en dan besluit om te loop nie. O nee, dit werk glad nie so nie.

Ek weet nie hoe jy dit ervaar nie, maar as ek so vir Blom staan en bekyk, kan ek later in my hart die mooi onthoudinge so half blaai soos jy deur ‘n foto-album blaai. Die vriendelike glimlag van ‘n ver vriendin. Die sagte aanraking van jou liefie wat lankal nie meer saam met ons op aarde is nie. Die trotse knik van ‘n kop van wie weet wie. Soms selfs die reuk van 'n geliefde.

Maar eintlik is dit nie soseer beelde nie, dit gaan oor emosies – oor liefde en vrede en tevredenheid. Daardie snoesige nabyheid van iemand. Dalk was dit vir ‘n oomblik. Dalk was dit ‘n lewe lank. Dit maak nie saak nie. Tyd speel in elk geval glad nie in die hart ‘n rol nie, het jy al agtergekom? Tyd is iets vir die kop, vir die harde werklikheid. In die hart is daar ‘n ‘vir altyd en altyd’ soort van milieu.

In die hart is liefde vir altyd en altyd. Die oomblik van totale vreugde oor die geboorte van jou kindjie is vir altyd en altyd. Jou hart is jou hart en jy skryf hom nie voor nie. As jy lief is, is jy lief! As jy nou gelukkig is by iemand, kan jy jare en jare van nou af nog altyd daardie gevoel in jou hart vashou soos die bloedrooi blom. Dit is waarom ek verwys het na die foto-album, sien. Jy blaai hom so en dan sit jy weer langs jou mooi vriendin en in jou hart is daardie warm tevredenheid van die saamwees.

En glo my, daardie album se blaaie kan jy nie uitskeur nie, probeer maar soos jy wil. Onthou is onthou is onthou!

Nou vra ek jou, troetel jou rooi blom wanneer jy daar kom. Troetel hom en liefie hom, want dit is waarom ons mens is – ons is so intens geseënd met ‘kan jy nog onthou’.


Heimwee
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Heimwee is 'n Duitse leenwoord (Heimweh), waarmee 'n verlange of weemoed uitgedruk word na die geborgenheid en sekerheid van die bekende.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...