Ek sit en kyk na Karen Zoid en Johnny Clegg. Dis albei legendariese mense, dink ek. Sy is die ma van ‘n yslike groot seun, maar sy speel en sing rock asof sy nog sestien jaar oud is. Johnny Clegg is uit ‘n ander hout gesny. Daar is nie nog ‘n mens soos onse Johnny nie.
Karen wil by hom weet wat is sy leuse. Sy antwoord is kort en kragtig: “Do your job.” Hy brei daarop uit: Wanneer jy plannetjies maak oor iets, dit maak nie saak wat nie, is dit ‘n groot proses in jou kop. Wanneer jy uiteindelik alles agtermekaar in jou kop het, voel dit vir jou ‘the job is already done.” Maar dit is nie waar nie! Dit is dan wanneer die groot werk eers begin. ‘n Mens begin nie ‘n ding en los dit halfpad nie; jy maak klaar waarmee jy begin het. Altyd. Jy hou nie op voordat dit nie klaar is nie.
Sy vra vir hom watter les hy sy seun geleer het. Hy antwoord weereens doodeenvoudig: “Do your job.” Hy vertel hoe hy as baie jong seun die Zoeloe kampongs besoek het om hulle manier van kitaarspeel en sing te kan bemeester. Die polisie bring hom een aand huis toe. Hulle is hoogs ontsteld, want dit is baie, baie gevaarlik om tussen daardie wilde klomp bakleiende Zoeloes te wees. Sy ma was ‘n ‘jazz singer’. Toe sy met hom raas omdat hy tussen die Zoeloes was, antwoord hy haar: ‘Jy wil ‘n wêreldberoemde ‘jazz singer’ wees, ek wil saam met die Zoeloes speel en sing.’ Hy het sy kop daarop gesit en nooit weer teruggekyk nie.
En my kop gaan aan die loop met my. Hoeveel honderde kere bedink ‘n mens ‘n ding, maar jy kom nooit verder as dink nie.
Laat in die aand: Ek moet regtig ‘n draai by die of daai gaan maak. Hulle kry swaar, man. Ek kan dalk daar ‘n bietjie gaan opbeur. Of, nog erger! Net môre vat ek die ma van daardie huis winkel toe dat ons hulle koskaste ‘n bietjie kan opvul. Ek werk honderd persent uit hoe laat ek sal gaan en wat ons alles gaan koop. Ek stuur tot selfs vir haar ‘n sms dat ek môre ‘n draai daar wil maak. (gelukkig noem ek nie die aankope by die winkel nie!)
Watter rein en edel gedagtes is dit nie. ‘n Mens kry amper lus om daarop te antwoord met ‘n innige ‘Amen!’. Maar ongelukkig het ek, toe ek wakker word, lankal nie meer onthou van my pragtige voornemens nie. Sy wag die volgende namiddag vir my, maar natuurlik daag ek nie op nie.
Maar wat van dinge by my werk? Ek besluit op ‘n dag dat dit nou hoog tyd is dat ek ‘n bietjie moet werk aan my CV. Regtig, ek is nog nie te oud om iets by te leer nie. Ek google dadelik en kry die perfekte kursus wat ek wil doen. Ek is so opgewonde dat ek dadelik inskryf en die inskrywingsfooie aanlyn betaal. Ek voel so goed oor myself, ek kan soos ‘n klein hondjie al in die rondte hol van pure plesier.
Twee weke later daag die pakkie met boeke op. Ek wonder vir ‘n oomblik waarom ek daardie dag so opgewonde was oor hierdie kursus. Ek maak die pakkie oop en blaai deur die boeke. Regtig? Wou ek dit regtig doen? Ag nee, jimmel man! Wat het my besiel? Ek sit die boeke mooi op ‘n hopie op die onderste rakkie van die boekrak en belowe myself ek sal nog daarby uitkom, net nie nou nie. Jy weet mos ek is vrek besig op die oomblik, ha? Ek het regtig nie nou die tyd (of die lus) daarvoor nie.
Die anderdag hoor ek van die mense wat so eensaam is in die hospitaal. Ek besluit dat ek voortaan die hospitaal gaan besoek. Een maal per week is glad nie te veel gevra nie, reken ek. Ek reël met die hospitaal superintendent en ek voltooi vorms en als. Volgende Donderdag... het ek ongelukkig klaar vergeet dat ek ooit gedink het daaraan om dit te doen.
As ek terug kyk, sien ek duisende sulke klein ‘graffies’ waar my voornemens begrawe lê. Ek kry innig skaam dat ek soveel energie gemors het om dinge te bedink. Want, weet ons mos nou, om dit te dink, beteken glad nie dat dit al voltooi is of selfs enigsins al begin is nie.
Sjoe! Is dit nou waar die Engelsman so graag sê: Talk is cheap...?!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking