Donderdag 03 Mei 2018

INGRID

Denitia deel met ons oor haar verlies van 'n liewe vriendin, Ingrid. 


Die eerste keer wat ek by haar gaan kuier het was vanaf die intrapslag af 'n belewenis.  Die vrou moet siek wees, maar ek loop myself vas in haar blonde bob en ligte blou oë. Sy’t die mooiste goue pêrel-en-diamant oorkrabbertjies aan en ek sien sommer hier sit geld kiertsregop op die kant van ‘n bedjie wat beslis nie in haar smaak val nie, maar sy’s nou hier en daar’s geen ander keuse nie.
‘My goeie daad vir die dag’, reken ek so in my stilligheid – ek moet mos darem punte in die groot boek bymekaar maak vir eendag...
Maar sy’s dan nie vir my sieklik nie. Ja, ek weet siekte het nie altyd ‘n gesig nie, ek sukkel self met dieselfde probleem. Mense verwag om ‘n ou bewende gestalte te sien aansukkel vanweë my Parkinson's, maar dis nie wat hulle sien nie.
"Ek dog dan jy’s siek?" Dit kom gewoonlik eerste en dan die skeptiese uitdrukking as ek sê ja, ek is eintlik siek.
Dit maak my vies. man. Wat dink die mense? Ek bly mos by my huis as dit erg is. Of reken hulle ek moet heeldag ruk en pluk? Dit kos ‘n helse lot inspanning om al my ledemate en varkies op hok te hou net om iemand anders nie aanstoot te wil gee nie.
Maar anyways, so het ek my ook vasgeloop met die blonde, borrelende vrou wie se hartversaking haar gebring het tot hier waar ek nou langs haar bed staan en met verwondering na haar perfek getekende wenkbroue staan en staar. Dis malligheid. Hoe op aarde kan so 'n flambojante mens sterwend wees?
Die geselskap het sommer ook net daar begin en daar was geen keer aan al die stories wat sy met soveel lag en detail vertel het terwyl ek haar bene en voete sit en insmeer het elke middag nie. Hulle was geswel en seer, en van pyn kan jy my niks vertel nie. So, natuurlik het ek aangebied om dit so bietjie te probeer help verlig met die olie se insmeerdery.
Die Duitser was vol nukke, maar ook so vol lewe en liefde vir alles om haar dat sy my sommer opgewonde begin laat voel het oor die lewe. Sy het dit ten volle geniet en haar kleurvolle stories het my sommer weer jonk laat voel. Haar gunsteling een is oor hoe sy op die tafels gedans het voordat haar hart haar begin probleme gee het. Dit was ons doel dan – om haar weer op 'n tafel te kry vir 'n heerlike skaterlag en dansie.
Al wat sy nodig gehad het, is 'n pasaangeër...
Die operasie was om die draai.
As sy nie moes wag vir die operasie nie, het ek haar sowaar nooit ontmoet nie. Ek was dankbaar, want iewers het sy my weer laat glo in pret, in ware liefde en in die groter doel van ons elkeen se lewens. Miskien sal ek nou nie weer op ‘n tafel kan dans soos sy nie, maar ek is hier en ek moet dit geniet.
Die lewe wil geleef wees en Ingrid dans beslis waar sy ookal nou is. Ek wou nog namiddag gaan om haar bene oudergewoonte te gaan insmeer, maar sy was weg...net 'n kol op die vloer waar haar gesig was toe haar dogter haar daar op die vloer kom kry het. 
Sy's weg. Ek het die vloer gewas, want ek dink hulle ’t seker maar net nie kans gesien daarvoor nie. Ingrid sou dit ook sommer net opgevee het as sy nou hier was.
Sy’t dan gesê sy gaan dit nie maak vir die operasie nie en tog was ek so seker sy sou, want hoe oorleef jy ‘n wêreldoorlog, net om hier so skielik op te hou asemhaal? Was sy oud? Nee, sy sal in haar lewe nooit oud wees nie.

Sy's Ingrid.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...