Dinsdag 08 Mei 2018

DIE HASIES HOU PAARTIE


Image may contain: 15 people, including Marie Schmidt, Martha Poller, Jacoline Visser and Dekker Vermeulen, people smiling, grass, tree, crowd, outdoor and nature

Oompie Haas is ‘n familieman – ‘n man wat glo in sy wortels en waar hy vandaan kom. Wat meer is, hy is ‘n gatgrawer in annerland en hy begin sy mense ernstig verlang. As hy saans in sy eie gat gaan lê, dan hoor en sien hy gesigte en stemme van lank gelede. Hy moet ‘n plan maak dat daar gekuier kan word, sowaar.
Hy gesels met Polla en die twee besluit dat daar ‘n klip in die bos gegooi moet word. Maar dink jy daar kom hase uit daardie bos? Nie eens enetjie nie, hoor, nie eens enetjie nie. Maar jy moet nou nie loop en dink dat Oompie hom steur aan die stilte van daardie bos nie, hoor. As hy besluit het hy wil paartie, dan het hy besluit hy wil paartie!
Die hasies is redelik sku vir die kollig en party van hulle kruip jou wragtie vir die ander weg. Dit is ‘n gestoei en ‘n gespartel om die hasies in die hande te kry en te vra of hulle ook lus voel vir paartie. Party is baie bly – as daar gepaartie moet word, is hulle daar! Ander is minder bly oor die nuus – wat wil julle met my maak? Ek laat nie van my ‘n bespotting tussen ‘n klomp vet hase maak nie, hoor.
Oompie Haas het net een probleem: hy ken nie vir Haasboek nie en dit, so lyk dit vir hom, is waar die meeste hasies (soms) hulle gesigte wys. Nou vra hy ander hasies om rond te loer op Haasboek en sowaar! daar kom nog ‘n hasie of twee te voorskyn.
Gelukkig is daar mos oral ‘n hoofman en sy vroutjie wat dinge kan voorvat en hier is dit toe nie anders nie. Omdat Oompie so ver in annerland is, vat Hoofman en vroutjie die stange vas en loop met hulle. Dinge loop skielik glad en dit lyk of die hasies die paartie van hul ewe gaan hê...
Die gastelys is lank en uiteenlopend...dit hou die dinge interessant, glo Hoofman.
Grootkreef en sy Kleinkreef kom van die see af aangewaai. Hy laat hom nie twee keer nooi vir ‘n lekker paartie nie, sê hy.
Dan is daar Trompet. Jy sien, hierdie haas kan omtrent enige instrument onder die son bespeel – wragtag! ek lieg nie vir jou nie. En kan daai haas sing! Maar Trompet laat hom nie sommer vang vir ‘n paartjie nie, hoor. Hy is ‘n besige man en het nie eintlik tyd of lus vir ‘n geginnegaap op die vlaktes nie. Gelukkig kon onse Oompie tussenbeide tree en hy kom wys toe darem ook gesig.
Häschen und ihr großer Mann waren auch da. Sy het seker gemaak dat hy kom toesig hou oor hierdie klomp boer-hasies uit die suide, hoe dan anders?
Ag, en dan was daar Gracie. Sy het letterlik die wereld gesien en geveg vir volk en vaderland, maar sy het besluit hierdie is een paartie wat sy nie gaan mis nie. Onse Gracie het haarself so stilletjies gate uit geniet, glo ek.
Hoofman en Vroutjie het hulle hande vol om die spulletjie te beheer. Maar een ding weet al die hasies sonder twyfel – wat geskryf is, is geskryf! Hoofman laat nie met hom mors nie en hy skryf om klaar te skryf, hoor.
Nursie en Majoor kom ook paartie. Hulle en Boera-hulle ken van swaarkry. Die hasies in hulle geweste het amper beswyk van sonder water wees, maar deur die genade is dit toe ook opgelos. Boera en sy Boerie sukkel nog ’n bietjie met die nagevolge, maar hulle is vol geloof dat dit eersdaags beter sal gaan daar by hulle haasgat.
 Muskiet daag sowaar ook op. Sy is vreesbevange vir muskiete, dié dat sy toe sommer Muskiet geword het. Kan jy jou dit indink, man! Sy smeer so wrintie die muskietgoed tot op haar mooie hasielippies! Mmm, dis nou wat hulle in Brits sou noem ‘Prevention is better than cure,’ of hoe?
En dan is daar natuurlik die haasmannetjie met die baie hare. Mmm, hy is gepla met almal se hare, hoor. Seker dié dat sy naampie toe later sommer Haartjies geword het. Ek dink hy is ‘n bietjie selfbewus oor die ou naampie, moet dit dus tog nie sommer voor hom noem nie, belowe? Dan het hy nog ‘n ding met ‘gin en tonic’ ook, hoor. G’n haas mag dit glo drink nie...wonder ek nou waarom so? Al wat Oompie gesê het is dat dit goed is teen muskietbyt!
Grootman en sy mooi haasvroutjie het ook kom paartie. Jong, dis nou ‘n haas na elkeen se hart! Slimmer en wakkerder as ‘n prokureur, ek belowe jou. In geen besigheid sal hy toelaat dat daar gekroek word nie – hy is soos ‘n aasvoël op elkeen se spoor! Die enigste een wat hom tot stilstand kon bring, was Hoofman met sy pen en papier. Jy weet mos, man, wat geskryf is, is geskryf! Ek weet net nie waarom hy nie van die Waarheidskommissie gebruik gemaak het nie. Is! Meneer en Mevrou Waarheid was ook daar die hele naweek en hulle kon vir Grootman tog soveel onnodige moeite en verdriet gespaar het as hy maar net geweet het van hulle.
En so gepraat van kroek en kwaad en al daai dinge...Mellies was rustig, maar die Haas wat by haar bly, hý was mos toe die een aand baie opstandig! Wie sal beter weet as Polla en Muskiet? En so gepraat van Polla – sy en Mellies het mos saans al rondom die kamp gestap om te kyk dat daar nie spoke rondloop nie. Mellies was eintlik die rondom-loper van formaat. Sy maak of sy verdwaal, maar intussen is dit om op te tjek of daar nie hasies in die donker gate skuil nie. Uitgevang, Mellies!
Toe kom daar ‘n aardige storie uit.  Haartjie se ou vroutjie was ook by die paartie, maar Haartjies praat ‘n lelike ding. Hy beweer dat hy na al die jare nog altyd gekys is met die fraaie klein hasie daar voor hom. Ons noem nie haar naam nie, want dit kan gevoelens skaad, sien. Ek meen, sy hét ‘n man en als! Sy het net fyntjies geglimlag en liefies by haar eie hasie ingehaak. Wys jou nou net, Haartjies!
Dan was daar nog Asem en sy vroutjie. Hierdie haas gaan mos aan die hol en dan hou hy nooit weer op nie. Ek sê jou, haas se kind het nie ‘n einde nie. En om die kersie op die koek te sit, daag ou Stapper ook nog op! Die twee hase het ons ander onbeweeglike hase skoon skaam laat voel oor ons onbeholpenheid.
Hoor hier, maar waar skrik ou Polla groot toe Spiere haar vertel wanneer sy verjaar. Kan jy dit glo? Na soveel jare het daardie man nog almal en alles in sy kop. Jy vra my waar kom sy naam vandaan? Mens, kyk na die foto’s met die medaljes en trofees en als en jy sal sien dis net die ene spiere. Die dames het liewer nie verder uitgevra nie, want sê nou maar net hy weet van ander mates en lengtes en goetertjies ook? Dit kan gevaarlik raak as ‘n haas so baie kennis opgaar, ek sê jou!
 Ag, en dan was daar nog ou Haasman en sy liefie ook. Dierbare twee hasies wat net die liefde uitleef. Sowaar, nie ‘n harde woord of ‘n skewe kyk na niemand toe nie die hele liewe naweek! Ook glad nie raserig nie, hoor. Gits, daar was hasies wat geen perke geken het nie, maar ons noem nie name nie. Sal Hoofman mos reken sekere hasies het gelag soos ‘n koei wat lekker gemelk word. Haai sies vir jou, Hoofman!
Toe die hasies uiteindelik almal opgedaag het, het die dinge begin gebeur. Hoofman het sy kop tevrede geknik en almal was hoogs in hulle noppies.
Ja, ek weet jy het gedink hierdie is ‘n skinderkoerant, maar ek is jammer – uit my uit kry jy nie ‘n dooie woord nie. Hoe verwag jy nou moet ek die stories oorvertel sonder om myself en wie weet wie almal skade aan te doen?

O, jy’t gewag vir die stories van die stoute hasies in die groot huis laat een nag? Ha-a, ou maat, jy moet maar los. Hier het jy nou vandag ‘n lekker bloutjie geloop. Hierdie haas se mond is toe. Toe soos die kroeg as daai outjie die riete voor die opening getrek het...dan kry jy mos niks verder daar nie.

1 opmerking:

  1. I have read some excellent stuff here. Definitely
    price bookmarking for revisiting. I surprise how much
    effort you put to make the sort of wonderful
    informative website.

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...