Het jy ook ‘n droomboek? Nee, ek bedoel nie ‘n
boek waarin jy soggens skryf oor alles wat jy vannag gedroom het nie. So ‘n
boek sou ek liewer ‘n droomjoernaal noem, ha? Ek praat van ‘n boek waarin jy
alles skryf waarvan jy nog net droom, maar wat jy hoop eendag waar gaan word. Nee,
ek moet myself korrigeer: Dit is die boek waarin jy daardie dinge skryf wat jy
GLO almal waar gaan word. Mmm, iemand noem die begrip die ‘bucket list’. Ja,
dis dalk meer so iets, maar ook nie heeltemal nie.
Nou het ek jou verwar, sien ek. Kom ek verduidelik vir jou waarvan ek praat. Gaan lees ‘n bietjie die volgende vers en dan dink jy daaroor vir ‘n oomblik of twee.
Hebreërs 11:1 (Afr83)
Goed. Nou kan
ons verder gesels. Ek vertel jou sommer van my boek, dan weet jy waarvan ek
praat.
Ek het baie
lank gelede by iemand die idee gekry om hierdie boek te begin. Ongelukkig, soos
dit met baie ander dinge gaan, vergeet ek soms sommer vir ‘n baie lang tyd dat
die boek in die rak staan.
In hierdie
boek is ‘n hele paar blaaie wat ek al kon afmerk en met ‘n groot glimlag terugdink
aan die dag wat ek die spesifieke ding daar geskryf het.
Daar is
byvoorbeeld die muur rondom ons huis. Ek het iewers in 2009 ‘n prentjie in die
boek geplak van ‘n groot erf met ‘n baie hoë muur rondom. Sien, ons het net ‘n
draadheining gehad en dit was ‘n groot ellende. Al wat ‘n hond is het óf
binnetoe (dis nou hulle wat buite was) óf buitetoe (hulle wat binne was)
onderdeur die draad gegrawe. Ons was elke hoe lank met klein hondjies opgesaal.
Niks, maar niks kon hulle keer nie. Die dag toe ek daar langs die prentjie
geskryf het: Ons het ‘n baie hoë muur rondom ons erf, kon ek behoorlik die muur
sien met my ‘binneste’ ogies. Ek kon voel hoe bly ek is dat die muur
uiteindelik gebou is. Ja, ek het ook sommer dankie gesê dat die muur daar is.
En toe, so twee jaar gelede, kon ek uiteindelik my regmerkie langs daardie een
maak.
Daar is ‘n
bladsy met die prentjie van die lugverkoeling in ons kamer. O aardetjie tog! In
Keetmanshoop kan jy mos nie lewe sonder ‘n lugverkoeling nie. En tog het ons
meer as dertig jaar lank net met waterverkoelertjies oor die weg gekom. Toe ek
die inskrywing gemaak het, het ek gevoel hoe lê ek in die koelte in my kamer. Ek
het gevoel hoe trek ek later die komberse oor my, want dit raak te koud. En dan,
wanneer ek weer op ‘n dag deur die boek blaai, het ek elke keer die koelte
gevoel rondom my en elke keer het ek opreg dankie gesê vir die voorreg om lugverkoeling
in die huis te hê.
Jy frons? Jy
moet mooi verstaan dat ek nie ‘n soort van ‘n feëverhaal vir myself geskep het
en dan elke nou en dan daarin verdwyn het nie. Dit is glad nie die geval nie. Gaan
lees gerus weer die vers in Hebreërs 11. “Dit is om oortuig te wees van die
dinge wat ons nie sien nie.” Feëverhaal? Nee, glad en geheel nie. Ek noem dit
vertroue.
Dan is daar
die gesegde wat vir my net lekkerder in Engels as in Afrikaans klink en sê: What
you say is what you get. Ons almal weet mos dat ons skep met ons woorde.
Staan nou
maar in die oggend op en jy besef jy het verslaap. Jy vlieg uit die bed uit en
niks loop reg nie. Jou bloes is nie gestryk nie en nou het die yster skielik ‘n
skeet en dit weier om warm te word. Jy wil jou skoene aantrek, maar die hond
het een gevat en wie weet wat daarmee gemaak dat jy dit nêrens kan kry nie. Jou
eerste woorde is dan gewoonlik: Vandag is weer een van dáárdie dae. Nou kan ek
maar net vir jou sê, dit sal vir seker een van DAARDIE dae wees want jy het dit
so pas vir jouself toegeëien.
Nou, as bogenoemde
waar is, waarom kan die positiewe sy daaraan nie ook waar wees nie? Waarom kan
ons toelaat dat woorde ons dag of selfs ons lewe bederf, maar ons wil nie erken
dat woorde ons ook positief kan beïnvloed nie?
Jy vra my
wat alles is nog in die boek wat nog nie waar geword het nie? Jong, ek het so ‘n
lang lys dat ek seker vir altyd en altyd en nog ‘n hele rukkie langer sal moet
lewe. Daar is die bottelgroen BMW. (Ek klim in hom en ek ruik daardie
leersitplekke!) Die bootreis. Die kuier in Duitsland. Die African Grey het ek
twee jaar terug by my kind gekry, dankie tog. Daar is ‘n hele klompie wat reeds
afgemerk is, maar nog meer wat nog wag om te gebeur.
Nou moet jy
ook weet dat, wanneer jy dit daar skryf en jou prentjie plak, moet jy asseblief
nie begin redeneer oor hoe en waar en wanneer nie. Jy hoef nie al die planne in
plek te hê nie, hoor. Dit is mos in elk geval nie jou ‘worries’ nie, is dit? Ek
gesels vandag met ‘n vriendin. Sy wil so graag nog verder studeer, maar...! Sy
wil baie graag haar eie besigheid begin, maar...! Los jy maar die ‘maars’ en
die ‘hoe’s’ en die ‘wanneers’. Hulle sal self uitwerk op hulle eie tyd.
En so met
die blaai deur my boek vandag, kom ek op ‘n inskrywing af wat ek in 2010 gemaak
het. Dit is min of meer die volgende: My boek is gepubliseer en dit is ‘n weghol
sukses. In 2012 het ek weer ‘n inskrywing gemaak: Ek het my boek voorgelê aan ‘n
uitgewer, maar dit is afgekeur. Daar skryf ek toe die volgende: Vraag aan self –
Wanneer gaan jy die stories wat in jou kop is begin neerskryf?
Nou hoef ek
nie verder te verduidelik nie, hoef ek? Ongelukkig het dit my tot 2016 gevat
voordat ek die stories in my kop begin neerskryf het. Uiteindelik! Waarom ek so lank
gewag het kan ek jou sowaar nie antwoord nie, jong. My boek met kort
blog-inskrywings is gepubliseer en my roman is intussen ook publiseer. Van die weghol
sukses is daar nog nie ‘n teken nie, maar intussen gaan dit voorgelees word op
Kanaal 7, die christelike radiostasie in Namibië. Dit is vir my so 'n groot opgewondenheid dat ek jubel en juig daaroor. Ek kan net die Vader dank vir sy goedheid en guns oor my lewe, wat meer?
En nou het
ek jou van my boek vertel en hoe ek die regmerkies die een na die ander kan
maak. Ek skryf steeds nuwe dinge ook by, want wie wil nou stagneer en nie nuwe
drome en wense hê nie?
En nou vra
ek maar net weer: Het jy ‘n droomboek?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking