Donderdag 08 Februarie 2018

BETTIE EN DIE VRYLEKKERS

Bettie hou van vrylekkers. Van haar kleintyd af was sy verlief op elke lekkertjie wat sy uit die papierkardoesie haal. Hulle praat met haar. Hulle vertel vir haar die mooiste liefdesverhale van helde en heldinne in kastele en paleise. Eendag, weet sy, sal sy ook een van daardie heldinne wees.
Sy vergeet skoon dat sy by die werk is. Sy sit en sorteer hulle in hopies – pienk, geel, oranje, wit, en ligpers. Die pienk harte kom spesiaal op een hopie apart van die res. Hulle is die heel, heel mooiste. En hulle woorde is ook die heel, heel mooiste. Sy mag nog nie een van hulle eet nie, want eers moet hulle sorteer word en apart van mekaar gebêre word. Eers dan mag sy een van die oranjes eet.
“Juffrou Smit, hoe lank nog voordat ek die brief kry wat jy vir my moet tik? As dit te moeilik is vir jou, praat net. Daar is baie ander mense in die straat wat soek na werk.”
Sy skrik haar lam, want as die baas se stem klink soos hy nou daar klink, is haar moeilikheid geboek. Sy weet, want sy was al daar. Baie maal. Sy is net benoud vir die dag wat hy nie meer gaan waarsku nie, maar haar sommer in die pad gaan steek. Sowaar, mag daardie dag asseblief tog nooit kom nie.
Sy oortree haar eie reel en sit ‘n geel lekker in haar mond. Waarom, o waarom moet hulle sulke lekker lekkers maak? Haar ma is bekommerd oor haar figuur, maar wanneer sy vrylekkers kry, gee sy nie ‘n snars om vir wie ookal se figuur nie. Lekker is mos lekker!
Sy tik die brief gou klaar en skuif reg agter haar lessenaar. Solank dit lyk of sy besig is, sal die baas nie kla nie. Sy begin die vrylekkers sorteer. Geel, oranje, ligpers, wit, en laaste die pienkes. Nou word hulle weer ‘n keer sorteer, want die hartjies mag nie saam met die ander gebere word nie.
Sy pak al die hartjies in ‘n ry. Is dit nie lieflik nie! Kyk hier, hier is glad een wat sê ‘Trou met my’.
Sy giggel by haarself. Wie sal nou ooit vir haar so ‘n lekker met daardie toorwoorde gee? Wie wil in elk geval met Bettie Bos trou? Sy het Bettie Bos geword toe sy nog klein was en haar hare elkeen hulle eie rigting gestaan het. En vandag is sy nog altyd Bettie Bos. Nie Bossie of Bossietjie nie, sommer net Bos. Lelik.
Dis toe sy die hartjies begin sorteer, wat sy iets baie vreemd opmerk. Dit lyk kompleet of die letters op die lekkertjies al herderder word wanneer sy daaraan vat. Nee, sy verbeel haar dit. Dit kan nie wees nie, sy raak nou lekker laf. Sy giggel saggies vir haar eie lawwe gedagtes.
Kom kuier by my. Ek droom van jou. Jy is pragtig. Soen my. Ek het jou lief. Trou met my.
Haar asem jaag. Haar ore gloei van opgewondenheid. Dis kompleet of hierdie lekkertjies met haar praat. Nee, dit kan nie wees nie. Sy vee die lekkers van die tafel af in haar ander hand en gooi dit sonder seremonie in die sakkie. Sy moet sowaar haar kop laat lees, hoor. As Ma moet weet van die lekkers wat nou met haar praat, koop sy sowaar nooit weer vir haar vrylekkers nie. Ma stuur altyd vir haar vrylekkers van die dorp af, want hier in die stad kry ‘n mens dit glad nie meer te koop nie.
            Vir die res van die namiddag probeer Bettie Bos nie na die lekkers kyk nie. Sy is baie lus vir een of twee, maar sy het besluit om hulle eers uit te los. Nee, sy kan nie dat iets soos ‘n vrylekker haar kop vir haar kom omkrap nie.
            Die baas is baie in sy noppies toe sy sommer nog drie ander briewe ook klaar tik en vir hom vat om te teken. “Haai, en toe? Wat het vandag met onse Bettie gebeur? Jy is regtig ‘n voorslag as jy die slag lus voel. Baie dankie, Juffrou Smit.”
            Ai, net toe sy dink die baas gaan uiteindelik vergeet van ‘Juffrou Smit’, toe is hy weer terug daar. Hy is regtig soms ‘n pyn in die arm. Hy is vir haar so bitter mooi, maar ai, hy is so dom met vroumense! Kan hy nie sien hoe lief sy vir hom is nie?
            Toe sy die volgende oggend by die werk kom, wag die baas reeds vir haar in sy kantoor. Hulle moet praat, sê hy.
            Sy bewe so groot soos sy is. Is dit vandag die dag dag hy haar gaan wegjaag? O hemeltjie tog, wat sê sy vir haar ma? Haar pa sal haar sowaar dwing om terug huis toe te trek en dit sal die einde van haar lewe beteken.
            “Meneer, gee my asseblief nog net een kans. Ek belowe ek sal van nou af harder werk. Asseblief, Meneer,” prewel sy saggies.
            Hy kyk verbaas na haar. Wat gaan in die vroumens se kop aan? Wie het nou ooit gedink om haar weg te jaag? Wat sal van hom en sy kantoor word sonder Bettie?
            “Ai, Bettie, waarom moet jy so dom wees?” vra hy laggend. Hy gaan sit op die rand van die lessenaar, heeltemal te na aan Bettie. Sy skuif ongemaklik ‘n klein endjie terug.
            “Bettie, kyk vir my,” sê hy dringend.
            Sy kyk op en sy kan sweer sy oë praat die woorde wat die lekkers gister met haar gepraat het. Sy skud haar kop en knip haar oë ‘n paar maal om net mooi helder te kan kyk. Nee, sy moenie nou aan die lekkers en hulle stories dink nie, sy moet luister na wat die baas met haar wil praat.
            Hy steek sy hand in sy sak en haal sowaar ‘n vrylekker uit. Hy hou dit uit na haar toe. “Kyk, jy het gister hierdie een laat val en ek wil dit graag vir jou gee.
            ‘Trou met my,’ skree die lekker vir haar.
            Skaam-skaam vat sy die lekker uit sy hand. Sy lees die woorde oor en oor voordat sy dit in haar mond druk. Toe sy opkyk na hom toe, sit hy met nog ‘n lekker in die hand.
            ‘Ek is lief vir jou.’

            

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...