Kan jy nog onthou toe jy in Graad 1 was en julle moes die eerste keer resies hardloop? Goed, die meeste van ons sou dit liewer graag wou vergeet, ne? Maar daar is 'n paar van ons wat dit onthou as die begin van 'n wonderlike tydverdryf, stokperdjie, of selfs 'n loopbaan. Ek kan my dit indink dat die juffrou almal in 'n lyn laat staan het en mooi verduidelik het dat sy wil sien wie kan die vinnigste hardloop. Dalk was jy die een wat nie wou hardloop nie, want jy was te bang dat jy sou verloor. En toe wen jy! Kan jy onthou hoe bly jy was? Kan jy onthou hoe het jy vir almal vertel dat jy die vinnigste gehadloop het? En toe? Mettertyd het jy so gewoond geraak aan wen dat dit later nie meer snaaks of opwindend was nie. Jy wen omdat jy gewoond is aan wen, is dit nie?
Of wat van die fotograwe tussen ons. Jou eerste foto was vir jou die mooiste ding wat al ooit met jou bebeur het. Jy het hierdie mooi kamera by Pa en Ma gekry vir Kersfees en jy was baie opgewonde, maar ook baie bang om foto's te neem. Sal ek dit kan doen? Hoe gaan dit lyk? En toe die foto ontwikkel is (ja, dit was nog die jare van foto's en negatiewe) moes almal dit sien, almal moes oeeee en aaaaah daaroor. Jy kon nie slaap daardie nag nie, want jy het die mooiste, mooiste foto's geneem en almal is mal daaroor. En vandag? Voel jy nog so daaroor? Wat is jou reaksie wanneer mense op- en neerslaan oor jou mooi foto's? Waarskynlik bedank jy hulle hoflik, maar in jou hart weet jy dat dit mos maar so hoort, of hoe?
Miskien was jy die een met die 'probleemvoetjies' en die dokter het ander skoene voorgeskryf. Jy moes kies tussen die nuwe, vreemde skoene wat soos niemand anders s'n lyk nie, of om dieselfde as al die maatjies te lyk, met voetjies wat elke oomblik van elke dag pyn. Wat sou jy kies? Wat sal jy vandag kies as dit jou voete is?
Waarop stuur ek af, sou jy kon vra.
Ons gemaksone bestaan uit die dinge wat ons gewoond is om te doen. Om dan skielik dinge te doen wat ons nog nooit voorheen probeer het nie, of om selfs net daaraan te dink, kan redelike angs en of spanning in ons binneste veroorsaak. En tog weet ons dat niks nuuts kan voortspruit uit hierdie heerlike, rustige gemaksone waarin ons is nie. Om te wil groei is dit nodig om uit te breek en die 'onbekende' aan te durf. Dit beteken dat ek redelik gereeld soos die 'odd one out' moet voel tussen my vriende wat nie gepla is om dag na dag dieselfde dinge te doen en nooit so 'n klein bietjie die onbekende aan te durf nie.
Hoe het jy gevoel op die eerste dag van jou nuwe werk? Het jy weggehol daaroor? En met jou eerste afspraak by die nuwe dokter? Of die eerste keer toe jy 'n groep mense moes toespreek? Nee, jy het deurgedruk, want dit was vir jou belangrik, was dit nie?
Water wat nie vloei nie het 'n manier om vrot te raak.
Het jy al ooit iets aangepak en gevoel asof die ganse aarde nou op jou fokus? Jy voel totaal en al 'weird' en jy wens jy kan verdwyn? En toe hou jy op? Regtig?
Kom ek deel met jou 'n geheim, toe? Ons moet ophou traak oor wat ander van ons dink. Ons moet ophou probeer om deel van die groep te wees, man. Moenie probeer om 'normaal' te wees nie. Wat beteken dit in elk geval om 'normaal' te wees? Doen wat jy voel jy moet doen. Doen dit gereeld totdat jy gemaklik voel daarmee en dit selfs geniet.
En nou? Wonderlik! Jou gemaksone het so pas verbreed en vergroot. Jy het uit die ou patroon beweeg en vir jouself nuwe horisonne geskep. Dit is heerlik. Bevrydend!
Orison Swett Marden se wyse woorde: "We lift ourselves by our thought. We climb upon our vision of ourselves. If you want to enlarge your life, you must first enlarge your thought of it and of yourself. Hold the ideal of yourself as you long to be, always everywhere."
Ek wil jou uitdaag om VANDAG nog te begin - een treetjie op 'n slag. Jy sal sien, oor 'n week of 'n maand kyk jy terug en weet... wow! ek het dit gedoen! En wat meer is, dan kom dit eintlik so half tweede natuur vir jou. Regtig, ek lieg nie.
Kan ek so 'n klein ietsie uit my persoonlike lewe met jou deel?
Hierdie skrywery van my kom mos al baie, baie jare. Maar! Ja, jy het reg geraai. Ek was altyd so half ongemaklik met die idee dat ander mense dit moet lees. Wat gaan hulle dink? Gaan hulle vir my lag? Gaan iemand dit ooit wou lees?
Soms het 'n mens net so 'n klein stootjie van iemand nodig om jou aan die gang te kry. Jy weet, soos met 'n motor wat te koud is in die oggend en die battery is ook nie so lekker gelaai nie. Maar as hy gevat het, kan jy hom nie keer nie, weet ons.
Net so was dit met my. Riana, my oudste, karring al jare aan my om 'n blog te begin. Ek wou, ja...! En ek sou, ja! Maar ek het nooit!
Toe ek die aand my eerste inskrywing maak, was ek regtig baie senuweeagtig. Ek was bang soos 'n kind in die donker. Wat as? En toe hoor ek die stemmetjie: Wat as WAT? En ek skryf hom en ek deel hom sommer op Facebook ook.
Ai, ai, ai! Vandag is my vraag: 'Waarom, Martha Poller, het jy nie jare terug al begin nie?'
Dit lyk my ek het maar redelik gereeld 'n stootjie in die regte rigting nodig. Ek moes teen alle baklei en redenasies van my kant af vir Graad 11 en 12 Engels gee. Ek het eenvoudig geglo ek kan dit nie doen nie. Toe ek aan die gang is en die eerste eksamen was agter die rug, kon jy my nie keer nie, hoor. Ek het geweet ek kon dit goed doen en ek het geglo in myself. Waarom dan het ek eers geweier? Swak selfbeeld, as jy my vra.
Die Engelse stel dit so mooi: You should push your limits, my dear, push it!
Ai, ai, ai! Vandag is my vraag: 'Waarom, Martha Poller, het jy nie jare terug al begin nie?'
Dit lyk my ek het maar redelik gereeld 'n stootjie in die regte rigting nodig. Ek moes teen alle baklei en redenasies van my kant af vir Graad 11 en 12 Engels gee. Ek het eenvoudig geglo ek kan dit nie doen nie. Toe ek aan die gang is en die eerste eksamen was agter die rug, kon jy my nie keer nie, hoor. Ek het geweet ek kon dit goed doen en ek het geglo in myself. Waarom dan het ek eers geweier? Swak selfbeeld, as jy my vra.
Die Engelse stel dit so mooi: You should push your limits, my dear, push it!
Ek is bly jy het dit gedoen niggie. So het ek jou leer ken as kinders kon ons nooit mekaar leer ken nie. Die ou Transvaal en Suidwes was nog altyd te ver van mekaar en ons twee ma's het maar min van mekaar gesien. Nou leer ons jou ken en dit deur Facebook en jou stukkies wat jy skryf. Hou so aan. Jou niggie
AntwoordVee uit