Waarom is dit so dat ‘n mens soms so swaar moet kry ten
spyte van die feit dat jy jou alles vir die Here gee? Waarom lyk dit soms of Hy
jou nie hoor nie? Waarom lyk dit soms of satan sy sin in alles kry?
En die vrou met die bloedvloeiing kom by my op. Vir twaalf
jaar het sy gely en vir twaalf jaar was sy afgesonder van alle mense. Watter
regverdigheid is daar in so ‘n storie? Kan ‘n mens begin om te verstaan hoe
swaar dit vir haar moes wees? Sonder man en kinders en naaste, want sy is
onrein. Hoe ontsettend! Wat weet ons van haar swaarkry?
Ek sien hoe sit sy die dag en bedink haar situasie. Sy was
by dokters, sy was oral waar moontlike hulp vir haar gebied kon wees – alles sonder
sukses. Dalk het sy die punt bereik waar sy gedink het sy sal in hierdie totale
eensaamheid sterf, want daar is niks wat niemand vir haar kan doen nie.
Sy sit skielik regop. Jesus! Ja, Jesus van Nasaret doen
wonderlike dinge, het sy gehoor. Maar hoe sal sy by hom kom? Sy mag nie met die
mense meng nie, sy mag nie naby hulle kom nie. En Jesus is ‘n man – by ‘n man
mag sy onder geen omstandighede kom in hierdie onrein staat waarin sy is nie.
Maar niemand ken die hart van ‘n desperate vrou nie. Niemand
weet tot watter uiterstes kan jy gaan as jy eensaam en alleen en desperaat is
nie.
Ek wonder net, het sy toe reeds in Hom geglo? Hoe kon sy? Sy
was nog nooit naby Hom nie, sy het nog nie een van Sy wonderdade aanskou nie. Hoe
kon sy in Hom glo?
Of was dit ‘n geval van ‘kom wat wil, hierdie man kan net
dalk help’? Hoe sal ons ooit weet? Uit desperaatheid het mense al baie snaakse
goed aangevang, dit weet ons mos almal. Hoekom sou sy nie ook hierdie as ‘net
nog ‘n probeerslag’ sien nie?
Sy besluit: Vandag is die dag! Sy was haar, nee, sy skrop
haar oor en oor. Sy weet sy is onrein, maar vandag is die dag! As die Joodse
Raad haar met klippe dood wil gooi, is haar lyding op ‘n einde. As hulle haar
nie sien nie (hoe KAN hulle haar nie sien nie?) sal sy tot voor hierdie Man
gaan en smeek vir genade. Sy sal nie ophou voordat Hy nie aandag aan haar gegee
het nie. Langer gaan sy nie so ly nie, dit is al wat sy weet.
Van ver af sien sy die massas mense. Sy weet dat dit
onmoontlik is om naby genoeg aan Hom te kom. Maar hoe nader sy aan die skare
kom, hoe meer oortuig is sy dat Hy die een is wat haar gaan gesond maak; Hy is
die een wat haar weer vry gaan maak; Hy is die een wat haar haar lewe gaan
teruggee vir haar.
Die mense is te veel. Hulle staan bankvas rondom Hom. Hoe moet
sy maak? Hoe gaan sy naby genoeg aan Hom kom? Hoe gaan sy maak dat Hy haar
raaksien?
Sy gee nie om dat sy moet wag nie. Sy gee nie om dat die
son haar brand nie. Sy wag al vir twaalf jaar vir hierdie oomblik. Sy
heiligheid vul die hele omtrek, daar is geen twyfel by haar dat Hy die een is
wat haar gaan reinig nie – as sy net naby genoeg aan Hom kan kom!
Stadig begin sy tussen die mense deur beweeg. Een op ‘n
keer, stadig beweeg sy vorentoe. Dit voel vir haar die hele mensdom sien haar
raak. Sy verwag die eerste klip elke oomblik – die klip wat haar gaan tref
voordat almal klippe optel en haar stenig omdat sy durf waag om tussen hulle in
te beweeg.
As sy net vir Hom kon vra om ‘n bietjie stil te staan, maar
Hy is op pad na ‘n siek kind toe, dink sy. Terwyl Hy met die mense praat, stap
Hy voort. Sy gaan. Nie. Stop. Nie. Vandag. Is. Die. Dag. Vorentoe, die hele
tyd, treetjie vir treetjie, vorentoe.
Uiteindelik is sy na genoeg aan Hom dat sy Sy stem kan
hoor. Wat ‘n vredige, liefdevolle, maar gesaghebbende stem! Sy wil so graag Hom
net volg en luister na Hom, maar sy weet sy het gekom om gesond te word. Sy probeer
verby druk om voor Hom te kom, maar die skare laat haar nie toe nie. Hulle druk
en beur om nader aan Hom te kom. Sy is besig om afstand te verloor tussen
hulle.
Nee! Asseblief tog nie! Kan niemand sien dat ek vandag met Hom
moet praat nie? Gun julle my nie net een klein oomblikkie met Hom nie? ‘Seblief?
Opeens is dit of almal vinniger begin loop. Sy raak
desperaat en probeer aan Hom raak. Sy verloor haar balans en struikel en val op
die grond neer. Jesus is reg voor haar, maar Hy is op pad.
Sy gryp sy kleed vas. Sy wil dit nooit weer los nie. Die
heerlikheid van die aanraking van hierdie man se kleed is onbeskryflik groot. Haar
liggaam reageer onmiddellik en sy voel dat sy gesond is.
Jesus draai om en vra wie aan Hom geraak het. Sy dissipels
dink dit is ‘n lawwe vraag, want kyk net hoeveel mense is rondom hulle. Dit is
tog nie snaaks as iemand aan jou raak nie, is dit? Inteendeel, dit is so ‘n
gedrang rondom hulle dat jy soms na asem snak. Hulle het beslis nie geweet van die interaksie van die twee se harte met mekaar nie, hoe kon hulle?
Maar Jesus het geweet van haar. O ja, Hy het beslis geweet!
Blinde geloof kan jou vreemde dinge laat doen soms. Hierdie vrou het alles op die spel gesit omdat sy geglo het...en sy is genees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking