Saterdag 10 Februarie 2018

AS DIE HERE WIL/NIE WIL NIE

Hanna bespiegel die hoekoms van die lewe. Sy gee vir ons 'n kykie in haar deurmekaar, maar liefdevolle hart.

‘As die Here wil.’

Ek hoor dit so baie tussen ons. 'n Ou sinnetjie tussen ons kerkmense wat so orals bygevoeg word. Voor en agter, bo en onder. Maar wat nou as Hy nie wil nie? Party mense hou net aan en sê, ‘Hy sal. As jy aanhou vra en glo, dan moet Hy.’

Moet Hy?

Die Skepper van hemel en aarde: moet Hy? Omdat ek wie is? Sy kind?

Omdat ek wát gedoen het om my sin te kry in alles wat ek wil hê?

As my kinders my vra vir iets en ek buig my rug breek om dit te gee, word daar gou gevra: ‘Hoekom doen jy so alles vir die kind? Jy bederf hom, hy kan nie altyd alles kry wat hy vra nie.’

Maar hy’t my gevra en ek probeer maar altyd. Dis my kind, ek wens ek kon hom meer gee as waarvoor hy vra, so as ek kan, dan doen ek dit.

‘Hy is bederf, jy maak daai kind vir die hel groot. Hy gaan nooit leer om op sy eie voete te staan nie.’

Ek draai dan maar my kop so half weg dat hulle nie die ergernis sien kepe maak tussen my oë nie. ‘Die kind is g’n bederf nie,’ praat ek maar teë in my kop, maar ek klap liewer nie my tong nie want dan wakker ek net hierdie vuur aan.

Genadiglik is dit gewoonlik die wat nog groen koring op die lande het, so ek weet hulle gaan nog self die pad stap, laat hulle maar praat. Ek tik die kind baie, maar ek wil nie altyd slaan nie. Ek sê baie ‘Nee, ek het nie,’ of ‘Mamma kan nie nou nie, maar as ek later sien jy was soet en ek het ietsie om af te knyp, dan sal mamma kyk of ons ʼn plan kan maak.’  

Nou wonder ek so by myself – die goed wat ek so vra as ek my hande vou om te bid saans, is dit bederfgoed wat ek vra? En as dit lyk of ek nie my sin gaan kry nie, is dit omdat ek stout was? Wat is Sy wil vir my? Is al die wille dan dieselfde vir al Sy kinders deur die bank, of sien Hy ons as individue raak? Elke saak word mos op sy eie meriete beoordeel? Of nie?

Jesaja skryf dan "Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne".

Al my dae was opgeteken voor die grondlegging van hierdie aarde, of is almal se dae dieselfde?

Ek is siek Here, hoor my tog en kry my, U kind, tog jammer asseblief. Ek kan nie meer nie, wees my dan genadig, My Vader, en genees my. Maar niks gebeur nie.

Wil Hy my nie red uit hierdie ding uit nie of leer Hy my om Hom lief te hê, te vertrou en te gehoorsaam al kry ek nie altyd my sin nie? Dalk later? Dalk glad nie?

Vir my maak dit geen saak nie. Ek het Hom lief omdat Hy my eerste lief gehad het. Ek wil Hom dank want ten spyte van my omstandighede sien ek Sy genade-hand in my lewe. Ek prys Hom wanneer ek daardie onverdiende bederfies kry waaraan ek eintlik net gedink het en nie eens voor gevra het nie.

Al bewe my hand en al struikel my voet, nogtans sal ek my vuis in die lug gooi want elke dag is ʼn oorwinning. So, as die Here wil, dan sal ek sing van Sy grootheid, juig oor Sy mag en hinkepinke opstaan en die nuwe dag nes ek is tegemoet gaan.

As die Here wil. Amen.

@Hanna 11 Feb. 2018


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...