Ek wil vir
jou ‘n briefie skryf. Nie ‘n lang, uitgerekte brief nie, hoor. Sommer net ‘n
briefie wat ek vir jou wil skryf. Hoekom dan, wil jy weet. Ag, sommer net oor
‘n briefie ‘n briefie is.
Onthou jy
die tye toe ons nog briewe geskryf het vir mekaar? Sommer elke dag – jy vir my
en ek vir jou. Dit was die hoogtepunt van die dag, hierdie oor en weer skrywery
van ons. As ons mekaar raakloop, ruil ons briewe uit. Jy gee jou briefie vir my
en my hart klop in my keel. Ek gee my briefie vir jou en ek sien hoe bly is jou
oë.
Die brief
brand in jou sak, maar jy gaan dit nie lees waar ander naby is nie. Niemand mag
dit sien nie en niemand mag dit lees nie. Dit is net joune en joune alleen. Dit
is soos jou eie, eie heiligdom wat jy in jou hempsak (op jou hart, of IN jou
hart) bewaar teen almal daar buite. Jy loop met hierdie brandende skat in jou
sak totdat jy dit nie meer kan uithou nie. Eers dan gaan jy alleen iewers sit
en skeur dit stadig oop. Het jy my naam op die koevert geskryf? Het jy, soos
gister, ‘n hartjie bo in die hoek geteken?
Dit is soos
‘n lekker soet toffie wat jy in jou hand hou. Selfs die proses om die papier af
te haal is ‘n kosbare reis tot daar waar jy uiteindelik die kosbare soet goud
in jou mond kan sit. Net so was dit met jou briefies. Elke keer. Elke kosbare
keer wat ek jou briefie kon oopmaak en lees. En weer lees. Totdat ek dan môre
weer een kry.
Onthou jy
nog die heel eerste brief wat jy vir my geskryf het?
Nou wonder
ek mos – onthou jy nog ooit vir my? Weet jy nog van die skaam kind wat jy
raakgesien het tussen al die ander nuwelinge in die skool? Of het jy al hoeka
se hoeka se hoeka van haar vergeet? Nou hoe is dit dan dat ek nog van jou
onthou?
Jou eerste
brief was kort en so half formeel. Jy wou weet of ek met jou sal kys. Die
kinders van vandag weet mos nie meer wat is dit om te kys nie. Hulle glo in
‘gryp en kry klaar’. Of dalkies is daar nog kinders wat glo in kys? Ek sal dit
moet sien voordat ek dit glo, hoor.
Maar ons het gekys omdat ons wou kys, nie ‘gryp en kry klaar’ nie.
Natuurlik
het ek dadelik ja gesê. Nie omdat ek juis met jou gekys wou wees nie, maar
sommer net omdat almal graag ‘n boyfriend wil hê. Ek dink nie jy het dit geweet
nie, maar ek dink ook nie dit sou jou baie gepla het nie. Baie min dinge het
jou eintlik ontstel, ha? Jy was so half in jouself gekeer – glad nie ‘n ‘oeee
die lewe is ‘n lied’ soort van mens nie. Vreemd, eintlik. Baie vreemd by tye.
Maar dit is juis daardie gesindheid van jou wat my tot die einde toe gefassineer
het – eintlik nou nog altyd.
Toe gaan jy
weg en word ‘n man en ek bly agter en bly ‘n kind. Die briewe word langer, meer
intens. Die alledaagse dingetjies het van minder belang begin geraak. Jy wou
meer en meer weet van my. Jy wou meer vertel oor jouself. Jy wou, in die
afstand tussen ons, eintlik baie nader aan my kom. Jy was by tye desperaat in
jou soeke na wie ek is.
Ek was nie
gereed nie. Kind wat ek was, het ek vir jou gelag. Ek het so half
wegkruipertjie met jou gespeel. Het jy geweet dat dit ‘n speletjie was of het
jy gedink ek is maar so ‘n klein bietjie baie dom? In my onsekerheid het ek
gevaarlike speletjies begin speel. Ek het jou uitgelok om meer en meer te sê.
En jy het.
Ek het
presies geweet wat in jou volgende brief geskryf sou staan. Ek het dit fyn
uitgewerk en jy het geval daarvoor.
Jy het nie my aanval sien kom nie, want jy het dit nie verwag nie. Sien, jy het
nie van die bose heks in die hart van die vaal dogtertjie geweet nie. Die kind
het ‘n slinkse hart ontwikkel en jy moes dit ontgeld.
Ek het jou
lief, het jy geskryf.
Waarom, o
waarom het Eva vir die lis van die slang geval? Of was dit juis haar listigheid
wat die slang vatkans gegee het? Wie sal weet, want wie was daar?
My antwoord
hierop was kort kragtig en ontsettend wreed. “Lief? Vir my? Ag, jy speel seker
net, man.”
Dit was die
laaste brief tussen ons twee. Ek het angstig gewag vir nog ‘n brief, maar jy
het nie weer geskryf nie. Hoekom sou jy? Ek het my hand oorspeel. Ek was die
wrede heks in die mooie feëverhaal. Die nare heks het van haar eie medisyne
gekry en sy sou eensaam wees vir die volgende veertig jaar of langer.
Haai, dit
klink amper soos die rympie wat ons op skool geleer het:
Martha het haar spieël gebreek en
Martha voel so naar.
Want nou gaan sy ongelukkig wees vir
bykans veertig jaar.
Net,
hierdie is nie ‘n rympie nie en dit gaan nie oor ‘n spieël nie. Hierdie was ‘n
man se hart wat versplinter gelê het. Sommer net so met ‘n enkele klein
sinnetjie...in ‘n simpel klein briefie.
Het sy haar
straf verdien? Ja, sekerlik.
Hoe dan nou anders?
Was sy
jammer oor haar bose daad? Ja. Die posbus het dan nou leeg gebly.
Sou sy dit
kon regstel as sy hard genoeg sou probeer? Nee, nooit nie.
En nou, na
alles, wil ek weer vir jou ‘n klein briefie skryf.
Ek wonder
waar sal ek jou kry om dit vir jou te gee? Sal ek, soos jare terug, by die hoek
van die klas vir jou wag tot jy kom en dit dan half ongemerk in jou hand druk?
Of sal ek dit onder die groot klip onder die doringboom sit?
Onthou jy
die dag toe die boom water gekry het en my briefie onleesbaar nat was? Ek het
op ‘n afstand gestaan en kyk hoe jy sukkel om die velletjie papier oopgevou te
kry, maar jy kon nie. Jy moes wag vir die volgende dag vir ‘n klein, klein
briefie van my.
Iewers moet
ek ‘n manier kry om dit by jou te kry, want sien, ‘n mens skryf tog nie ‘n
briefie net sodat niemand dit kan lees nie. Gelees moet hy gelees word!
Wat presies
wil ek dan nou, na soveel baie jare, vir jou skryf?
Ek wil vir
jou skryf dat ek na jou verlang. En nou kyk jy skuins op na my toe en vra
verwonderd: “Verlang? Na my? Ag, jy speel seker, man.”
Ek sal die
briefie vir jou gee en aanstap, sonder dat ek een maal omkyk. Ek sal wegstap sonder
‘n briefie van jou af, mos.
En wanneer
ek dan alleen is, sal ek weet ek het weereens vir jou gelieg. Hoe kan ek na jou
verlang as ek nie eens weet wie jy is nie? Ek ken jou nie eens nie, mensekind.
Maar, jy
sien, vir wie anders moet ek dan nou eintlik skryf as ek verlang na ‘n verlore
kindwees?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking