Hulle kom
in die grootstad aan. Sy is stukkend. Kindjie is stukkend. Saam is hulle ewe
stukkend om verskillende redes. Sy is so pas deur ‘n moordende egskeiding en
kindjie is haar stille medestryder in die geveg.
Hulle woon
saam met ‘n massa vreemdelinge. Sy moet vir kindjie in die bewaarskool sit. Die
geld is min, hoor. Gelukkig het kindjie ‘n oupa en ‘n ouma wat ook nou en dan
die nood kan help verlig. Kindjie leer om vir hulle baie lief te wees. Vir Ouma
noem sy Ouma, maar Oupa raak sommer Pappa. En Oupa huil elke keer as hy
ge-Pappa word.
Sy is
eensaam. Die jongmense is te jonk en kan nie saam praat oor egskeidings en prokureurs
en siek kindjie en sulke goed nie. Die getroude mense is ook nie ‘n opsie nie. Want
sien, die getroude vrouens soek nie ‘n geskeide, alleen vrou naby hulle mans
nie. Nee, ‘n geskeide vrou is ‘n pes-ding en ‘n pes-ding los jy waar hy hoort –
ver en daar eenkant waar niemand haar kan sien of kan aanraak nie (veral nie haar man nie!)
Sy werk
lang ure en kindjie is lang ure in die bewaarskool. Daar is maatjies. Hulle het
elkeen ‘n mamma en ‘n pappa. Kindjie sien hierdie dinge, maar sy praat nie
daaroor nie. Sy is eintlik nog te klein om daaroor te kan praat. Sy is te klein
om te sê waarna haar hartjie verlang. Dit is in elk geval wat die mamma gedink
het. Die mamma weet nie van kindjie se hartsbegeertes nie. Sy is te vol van
haar eie seer en ellende.
Op ‘n dag
ry sy en kindjie in die besige strate van die grootstad. Hulle ry verby ‘n
groot, geel lorrie. Kindjie sê: My pa het ook so ‘n lorrie. Sy gooi byna die
kar om, want waar kom kindjie aan so ‘n ding? Hulle het nog nooit oor pappas en
kindertjies gepraat nie, want sy is so klein en sy vra nooit vrae nie.
En sy kom
tot ‘n ontsettende besef. Haar besluit om nooit weer te trou nie sal nie kan werk nie. Sy het uit haar eie besluit om nooit weer ‘n man te vertrou nie. Sy
wil nooit weer trou nie, so het sy besluit. Maar nou? Kindjie het by die
bewaarskool by haar maatjies gesien dit is lekker om ‘n pappa te hê en nou wil
sy ook so ‘n pappa hê.
Hoe moet
sy nou maak? Sy bid. Ja, sy bid dat sy dan seker ook weer eendag sal moet trou
om vir kindjie ‘n mooi pappa te kan kry. Dit is seker nie so ‘n groot probleem
nie. Wat wel ‘n probleem is, is waar om ‘n pappa te kry wat vir kindjie so lief
sal wees soos wat sy vir kindjie is. En sy bid. Sy bid dat hierdie man eerste
vir kindjie lief moet wees voordat hy vir haar lief sal wees. Dit sal vir haar
die teken wees dat dit die regte man is. Amen.
Tussen die
baie mense waar hulle bly is ‘n man. Kom ons noem hom sommer Oom D. Hierdie Oom
D is ‘n allemansvriend, maar sy hart behoort eintlik aan niemand nie. Hy laat
nie baie mense in sy hart toe nie. Kindjie en Oom D raak maats. Vreemd? Ja,
heel waarskynlik. Was sy agterdogtig? Nee, glad nie. Sy hart was skoon en
sonder die lelike dinge wat jy vandag op straat kry.
Kindjie en
Oom D speel elke aand na aandete. Kindjie weier om haar kos klaar te eet as sy
sien dat die oom buite op die stoep is. Nee, sy is nie honger nie, sy wil asseblief
gaan speel. Nee, sy is nie dors nie, sy wil asseblief gaan speel. Hulle skop ‘n
bal. Of hulle skop ‘n blikkie. Of hulle gooi wat ookal hulle kry om te gooi. Almal
wat saam met hulle op die stoep sit juig en klap hande wanneer dit gegooi en
gevang word. Die mamma is nooit deel van hierdie spelery nie. Wanneer sy klaar geëet
het gaan die twee terug na hulle eie plekkie toe.
Hy kom in
hulle lewens in en die drie begin ‘n pad stap. Sommer net so. Niemand het so
besluit nie, dit het sommer net gebeur. Kindjie is bly. Kindjie het haar pappa
gekry.
Hulle stap
by die kerk uit. Kindjie hou haar mamma se hand vas. “Kan ek nou maar vir hom
Pappa sê? Kan ek maar vir hom Pappa sê vir altyd en altyd?”
Ja, my
liefie, jy kan maar, vir altyd en altyd.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking