Woensdag 29 November 2017

TOE BOKVEL EDDIE GERAAK HET: Die storie van die totale omwenteling van een man se lewe

Ek ken hom al jare. Of, sal ek liewer sê, ek weet al jare van hom. Ja, hy was deel van my lewe, lank, lank gelede.

Ek het op Maltahöhe gebly. Hy ook. Ons albei het daar grootgeword. Hy het saam met sy ouers en ‘n ouer broer op ‘n plot so ses en ‘n half kilometer uit die dorp uit gewoon.

Almal het vir almal geken. Almal het die ou oom (toe 60) en tannie (toe 45) geken wat ‘n baba gekry het. Die grootmense het ge-oe en ge-aa, want ‘n mens kry mos nie ‘n baba op daardie ouderdom nie, kry jy? Noudat ek daaraan dink, daar was ‘n ander oom wat 60 was toe sy laatlam skool toe is en ek het gewonder of sy ooit haar pa nog sal hê by die tyd wat sy in matriek is. Jy sien, vir ons as kinders was 60 ‘n getal wat baie na aan die dood gegrens het.

Die wonder van die geboorte van hierdie kind is dat hy nooit moes gewees het nie. Die dokters was bekommerd oor die tannie se gesondheid en toe haar lewe bedreig word, besluit hulle om die baba te verwyder. Sy kry narkose, die baba word verwyder en al die ander gepaardgaande prosedures, word gedoen. En toe? Na ‘n paar weke kom die tannie agter dat sy sowaar nog altyd swanger is! Die dokter bevestig dit – hulle het een van ‘n tweeling verwyder... Die ander enetjie is maande later perdfris en gesond gebore. Is dit moontlik? sal jy my nou vra. Ja, dit is.

Die seuntjie het grootgeword en moes skool toe gaan. Pa boor elders in die land en daar is ook nie ‘n kar nie. Die logiese oplossing is dat hy en sy ouer broer skool toe draf. Soggens skool toe en middae huis toe. Heen en weer. Ses en ‘n half kilometers twee maal op ‘n dag. Winter en somer. Later begin Ma in die hospitaal nagdiens doen. Nou slaap hulle in ‘n kamertjie in die hospitaal. Soggens gaan hulle skool toe. Na skool gaan hulle huis toe, maar wanneer Ma moet gaan werk, loop hulle saam met haar dorp toe. Hulle dra vir haar die brode wat sy vandag vir die hospitaal gebak het.

Dit gaan nie goed met hom in die skool nie. Hierdie leerdery is glad nie vir hom nie. Aan die einde van standerd ag besluit hy om uit die skool uit te gaan. In daardie dae was dit ‘n goeie opsie vir seuns – hulle gaan werk op die spoorweë of hulle gaan polisie toe. Bokvel kies die spoorweë, maar later gaan hy polisie toe.

Ek kry met Bokvel en sy vriend te doen toe ek as getroude vrou weer op Maltahohe gaan bly het. Twee stowwerige, vaal seuns. Ja, dit was my indruk van die twee. Veral stowwerig.

Die plot waar Pa en Ma gebly het, maar sommer die hele Maltahohe en sy buitewyke, was hierdie twee se plaas. As hulle nie op die perde was nie, was hulle aan die hase of bokkies jag vir die pot. Die perde is bloots gery totdat die bloed letterlik teen die bene afgeloop het.

Wanneer jy met hulle te doen gehad het, was daar een ding wat my opgeval het. Die vriend het die praatwerk gedoen. Bokvel het jou nooit in die oë gekyk nie en hy het ook nie met jou gepraat nie. Soms het ek gewonder daaroor, maar ek was self te onkundig om iets daarvan te probeer maak. ‘n Mens kan mos praat of nie praat nie soos jy wil, is dit nie?

Hierdie jongman is so bewus van die armoede waarin hy grootgeword het. Hy is so bewus van die feit dat hy nie matriek gemaak het. Hy is skaam vir wie hy is. Hy wil nie wees wie hy is nie. Om die waarheid te sê, miskien haat hy dit ‘n bietjie dat hy is wie hy is. Die lewe is sleg! Die lewe is onregverdig.

Ek woon nie meer in Maltahohe nie en die inwonders daar raak ook maar so half weg uit die gedagtes. Nee, jy vergeet hulle nooit nie, maar jy dink minder aan hulle en hulle omswerwinge is ook nie meer van belang vir jou nie.

Jare later kuier ek en my gesin by my ouers op Hentiesbaai. Ma is opgewonde want ons gaan vanaand na ‘n vertoning kyk van Eddie en Linda. Eddie en Linda? Ek ken hulle glad nie, sê ek vir Ma. Ma verduidelik met ‘n lang storie. Onthou jy die ou oom en tannie wat daar buite die dorp op ‘n plot gewoon het? Hulle seun is Eddie en hy en sy vroutjie sing pragtig.

Ek weet nie so mooi nie. Dis mos Bokvel, is dit nie? En ek dink nie hy sal kan of wil sing nie, ha? Vol vertwyfeling klim ek saam met die res in die motor om te gaan hoor hoe sing hierdie nuwe sangsensasie.

Voor die vertoning kom stap ‘n man na ons toe aan. Ek sien heel eerste die mooiste mooi blou oë wat nie skroom om jou vol in die oë te kyk nie. Wow! Wat ‘n netjiese man, dink ek by myself. Hy groet my met ‘n stewige handdruk en volg dit op met ‘n broederlike drukkie. Sy glimlag is oop en gemaklik.

Hy klim op die verhoog en sing so bitter mooi. Hy is gemaklik met die gehoor en maak geselsies tussen-in met hulle. Sy Linda het nie gekom nie, maar dit skrik hom nie af om ‘n lieflike konsert te hou nie.

Hierdie is Eddie. Nie meer die onseker Bokvel nie. Nie meer die man wat nie weet waar hy hoort nie. Nie meer die man wat nie wil wees wie hy is nie. Hierdie is Eddie wat nuut gemaak is deur die liefde van Jesus. Hy weet wie hy is en hy weet waarheen hy op pad is.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...