Sondag, 26 November 2017

FRANKIE EN LETTIE SIEN DIE EERSTE KEER DIE SEE: Soos vertel deur Beulah Cronje

 “Wag, wag, wag nou, julle twee! Stadig nou daar by die trappe. Ons wil nie dat een van julle vannag in die hospitaal gaan slaap nie. Kyk, as jy boontoe of ondertoe wil klim, draai net jou voet so ‘n bietjie dwars. Sien julle? Dan is dit heeltemal veilig en sal julle nie val nie.” Beulah grinnik by haarself, maar maak seker dat die ander twee dit nie sien nie. Vir hulle is hierdie vreeslike styl trappe na hulle kamers toe ‘n bedreiging en ‘n spoedbreker op sy beste.

Frank en Lettie juig hulle vreugde uit toe hulle sien dat hulle die boonste vloer van die huis vir hulself het. Daar kan hulle lekker ontspan en op hulle gemak voel (en dalk ‘n bietjie skinder ook?)

Die dag was propvol opwinding en nuwe dinge. Of hierdie twee vannag ‘n oog gaan toemaak, is ‘n goeie vraag. Toe hulle in Jeffreysbaai aankom, wou twee asse-groot-blief eers nog langs die strand gaan stap. Hulle kon nie dink dat hulle nou by die see is en hulle mag nie by hom wees nie. Dit het mooipraat gekos om hulle anders te oortuig, want hulle moes tog eers uitpak en seker ‘n ou teetjie drink voordat hulle die see aanvat.

Frank besluit dat ‘n mens vis en tjips eet by die see. Lettie vra dat hulle dit asseblief by die huis moet eet. Vir haar gaan dit nie net oor die see nie. Nee, sy wil die lekker nabyheid van haar miss Beulah ook geniet. Hulle twee is, behalwe dat die een vir die ander werk, meer soos susters en vriendinne. Hulle harte klop dieselfde taal – die liefde vir die mensdom.

Met ‘n salige glimlag gaan sit Beulah op haar bed. Die uitpakkery kan maar wag vir later, besluit sy. Sy wonder oor die twee op die boonste vloer. Sy kan hoor dat hulle glad nie aan’t uitpak is nie, want dit gesels dat hoor en sien vergaan. Sy begeer om te kan hoor waaroor hulle praat, want dat hulle baie het om te bespreek is nou maar seker.

Sy gaan skuins op die bed en lê en luister na die geluide wat van bo af kom. Dit raak nou stiller, dus is hulle seker besig om uit te pak, elkeen in sy eie kamer. Lettie het by die huis al vir Frank gewaarsku: “Jy moet net nie dink ek gaan vir jou was en stryk da’ by die see nie. Jy beter vir jou genoeg klere inpak, hoor jy my.” Nou pak ou Frankie seker uit, want hy weet niemand gaan sy klere stryk as dit gekreukel is nie.

Vanoggend was dit die mooiste gesig om te sien hoe albei in hulle beste klere opdaag vir die groot vlieg. Ag, en die tweetjies se gesigte toe hulle uiteindelik op die aanloopbaan op pad vliegtuig toe is. Die verstomde uitdrukkings op albei se gesigte is iets om altyd te onthou. Hier was hulle nou sowaar op pad vliegtuig toe! Lettie het jare terug as ‘n groot versugting haar droom met hulle gedeel – as sy tog net eendag ook kan vliegtuig ry. “Waarnatoe dan, Lettie?” wou hulle weet. Maar Lettie het nie omgegee waarheen nie. Vlieg wou sy vlieg, maak nie saak waarnatoe nie.

Die planne om te vlieg kom al ‘n redelike tydjie aan. Arme Lettie was baie, baie bekommerd toe sy nie haar ID kon kry nie. Hoe nou gemaak? Hulle doen toe maar aansoek vir ‘n nuwe een, want onthou, Lettie is die een wat wil vlieg! Hoe nader die tyd gekom het, hoe groter het die opgewondenheid geraak. Beulah het alles mooi beplan. Saam met die vliegkaartjies gee sy toe sommer ‘n reissak en hier en daar ‘n nuwe stukkie klere. Die dankbaarheid en opgewondenheid het geen perke geken nie. Nou het hulle uiteindelik geglo hulle gaan regtig, egtig see toe.

Frank en Lettie is model passasiers en sit nie ‘n voet verkeerd nie. Die lugwaardin wys vir Lettie hoe om haar sitplekgordel vas te maak en Frank volg die instruksies noukeurig en doen dit toe sommer self. Hulle dierbare gesiggies straal van opgewondenheid vir die vlug wat voorlê. Maar wat ‘n ontnugtering! Dit is onweer en die vliegtuig stamp geweldig en natuurlik maak dit hulle toe erg senuweeagtig.

Frank is die hele tyd bewus daarvan dat die vliegtuig steeds aanhou styg. Vir hom maak dit glad nie sin nie. “Ons is mos nou hoog genoeg, is ons nie?” wou hy op ‘n stadium weet. “Tot waar toe wil hy nou opklim?”

“Miss Beulah, hierdie stampery moet nou ophou, sowaar, my maag sit al in my keel!” kla hy ‘n slag of wat. Lettie beaam dit heelhartig, want “Hierdie man wat die vliegtuig bestuur, kan nie mooi bestuur nie. Hulle moet iemand anders kry om te bestuur!”

Lettie lyk skielik baie benoud. Sy leun oor na Beulah toe en fluister iets. Eers kan Beulah nie uitmaak wat die probleem is nie, tot sy agterkom dat onse Lettie seker ‘n bietjie te veel koeldrank en tee gedrink het en dit eis nou sy tol. ‘n Lugwaardin kom juis toe verby en sy vat Lettie na die nodige plekkie toe. Lettie kom terug met ‘n groot glimlag op haar gesig. “Sjoe, die meisiekinders sorg darem mooi vir ‘n mens hier op die vliegtuig. Het miss Beulah geweet hier is ‘n toilet ook?"

En toe, opeens, is hulle bo die wolkmassa en skyn die son helder oral om hulle. “Hoe het ons dan nou hier gekom so bo die wolke?” Die skielike helder son is so skerp dat Frank en Lettie besluit dit is tyd om die sonbrille op te sit. Dit is natuurlik vir hulle baie snaaks en hulle lag uit hulle mae uit vir mekaar. Miss Beulah kan toe nie anders as om maar hare ook maar op te sit nie.

Beulah glimlag by haarself. Siestog, die vlug was regtig ‘n groot ontnugtering vir die twee. Dit was glad nie wat een van hulle verwag het dit sou wees nie. Op ‘n stadium het albei geglo dit is die laaste dag van hulle lewens, want vandag val hulle binne-in daardie blou see daar doer ver onder hulle. As die vlug terug huis toe tog net beter verloop...

Uiteindelik hoor sy dat die twee nou wil afkom ondertoe. Dankie tog, hulle is seker nou klaar. Sy staan op om haar handsak te vat, toe Lettie se benoude skree die hele huis vul: “Nou waar is daai steps nou weer?” Sy skree sommer so van onder af: “Lettie, draai net om, die trappe is aan die anderkant van die gang.” Natuurlik lag Frank dat jy hom waar kan hoor omdat sy vriendin verdwaal het.

 Die twee kom met die trappe af. Dit gaan nog stadig, want die ou lywe sukkel so ‘n bietjie en hulle is baie onseker op die styl trappe.

“Lettie, jy het mos vir my tee belowe en jy het dit sowaar nie gemaak nie. Is dit nou hoe dit die hele tyd gaan wees hier by die see?” kla Frank. Maar Lettie steur haar nie aan hom nie, sy is haastig see toe.

Beulah sit die ketel aan. Sy het self lus vir ‘n lekker warm koppie tee en maak asof sy nie hoor dat Lettie nou lank genoeg gewag het om see toe te loop nie. Ou Frankie laat hom nie twee maal nooi nie en in ‘n ommesientjie het hy twee koppies tee en ‘n hele paar koekies agter die blad. “Dankie, miss Beulah, nou voel ‘n man se maag mos beter. Daardie vliegtuig het sowaar nie vir my lekker laat voel nie. En het julle gesien hoe groot is hy? Daar kan sowaar drie busse se mense in daai vliegtuig pas, ek sê vir julle,” praat hy eenstryk deur.


Lettie is nie nou lus om oor die vliegtuig te praat nie. Inteendeel, sy wil nooit weer daaroor praat nie. Sy hoop net daar is volgende keer ‘n beter drywer agter die wiel. Sy staan ongeduldig by die deur en wag terwyl Beulah die koppies uitspoel en op die droograk sit.

Hulle besluit die see is na genoeg, hulle stap sommer. Hoe nader hulle kom, hoe harder hoor hulle die dreuning van die branders. Frank gaan staan ‘n oomblik, te verwonderd om ‘n woord te sê. “Is dit die see wat so praat, miss Beulah? Dit klink mos baie erg, ha?”

En toe, om die draai, lê die grootse watermassa voor hulle. Lettie sien dit eerste en gil dit uit van opgewondenheid. “Daar’s hy! Daar’s hy!” Sy sit sommer ‘n stywe passie in om gouer daar te kan kom en Frank is nie ver agter haar nie. Beulah weet dat hulle wel vir haar sal wag voordat hulle die water aandurf.

“Miss Beulah, loop hy dan net vanself so? Of is dit die Here wat die waters so roer? Bly die Here hier in hierie waters?”

“Miss Beulah, hoekom loop hy nie verder nie? Hoekom stop hy daar op een plek as hy so spoel?”

Die vrae is eindeloos, maar nie een van hulle wag regtig op ‘n antwoord daarop nie. Albei is onder die grootse besef van die wonderlike groot see wat voor hulle lê. Eers staan hulle net en kyk. Hulle kyk na die grootste wonderwerk wat hulle nog ooit gesien het. Lettie staan met haar gesig in haar hande. Frank staan, asof in gebed, met sy hande op sy bors. Dit is nou stil tussen hulle. Dit is net die branders se gedruis en die seevoëls wat hoorbaar is iewers daar ver op die agtergrond. Die totale wêreld het gaan stilstaan vir hierdie twee mooi mense.

Beulah huil. Sy huil van vreugde. Sy huil omdat sy hierdie ervaring saam met hierdie twee hartsmense van haar kan meemaak. Sy huil omdat sy besef die see het lankal sy ‘wow’ vir haar verloor. Sy huil omdat sy dit van nuuts af kan sien asof deur die oë van ‘n kind.

Die bruggie waaroor hulle stap is vir Lettie die aanduiding dat dit nou tyd is om die plakkies uit te trek soos miss Beulah gesê het hulle moet maak by die see. Toe sy van die bruggie af op die sand kom, lag sy haar skril opgewonde laggie. “Die sand hou my voete vas!” skree sy oor haar skouer terwyl sy aanwikkel water toe. Die plakkies is heel vergete daar op die bruggie.

Frank volg huiwerig, maar hy kla oor die ‘skerp klippertjie wat so oral lê.  Hy vertrou nie hierdie besigheid nie. Lettie roep hom en moedig hom aan om saam met haar te kom. Sy is reeds waar die eerste watertjies breek en skree van lekkerte toe die skuim so opspat teen haar bene.

Toe Frank by die water kom, buk hy dadelik af en skep ‘n handvol water om te proe daaraan. Hy wil mos weet of die water regtig so sout is soos wat dit altyd proe in die bottel wat miss Beulah altyd van die see af bring. Hy vee sy mond driftig af, want hierdie water is wraggies vreeslik sout!

Lettie draai om om vir Frank te roep toe ‘n reuse brander van agter kom en haar tussen die blaaie slaan. Eers skrik Frank hom lam, want wat het nou van Lettie geword? Maar toe sy skreeuend en gillend saam met die brander strand toe rol, kan hy nie anders as om te skree van die lag nie. Die stomme Lettie is sopnat, maar tog so vreeslik in haar noppies dat sy nou regtig geswem het in die see.

Mettertyd raak Frank ook meer gerus en die twee staan later op hulle knieë in die vlak water om van die skulpies wat uitspoel te probeer vang. Die hele tyd hou Beulah hulle dop met die innige liefde van ‘n suster, ‘n goeie vriendin.

Dit is Frank wat besluit dat Beulah nie net daar kan staan en kyk nie. Hy roep haar om ook saam te kom swem. Sy gaan nader, maar, tot hulle groot vermaak, hardloop sy weg toe ‘n brander naby hulle breek. Dit lag en speel sonder einde. Die see is die beste plek waar ‘n mens ooit kan wees, dit is nou seker en gewis.

Hulle ontdek dat as jy plat sit op die grond net voor die brander breek, maal die sand onder jou en draai die water jou na die ander kant toe. Oor en oor word daar gesit, gedraai en gelag. Die feit dat die water ysig koud is maak nie saak nie, dit is te lekker om so te speel.

Toe die twee later uit die water uit kom, sopnat en yskoud, is die eerste ding wat hulle vra, “Gaan ons nou roomys eet?” Maar Beulah weet van beter as om roomys te koop. Elkeen vat ‘n lekker warm stort en daarna drink hulle ‘n koppie stroopsoet tee. Met koekies, natuurlik.

Albei se voete is ‘n bietjie skrynerig van die skulpies op die strand en hulle sit en vryf kort-kort die voete. “Miss Beulah, wat se soort klippertjies lyk dan soos hierdie hier by die see?”
Met groot omsigtigheid verduidelik sy aan hulle dat dit nie klippies is nie, maar skulpies. Sy belowe dat hulle volgende keer sal soek vir mooi heel skulpies sodat hulle dit kan optel en huis toe vat.

“Ag, miss Beulah, dis so lekker dat ek dit tog nie kan help nie. Ek wens ek kan vir altyd en altyd hier by die see kom bly,” sug Frank sy genoegdoening uit. “As ek net genoeg geld gehad het, het ek sowaar hier kom bly.”

Later, baie later, besluit hulle dit is tyd om huis toe te gaan. Hulle wil nog baie in die see kom swem. Hulle wil nog op daardie mooi rotse gaan klim, want miss Beulah sê daar sit sommer baie skulpies op hulle en hulle wil dit self gaan kyk. “Maar, miss Beulah, hoe is dit dan dat die water wat so sterk is so oor daardie klippe spoel en hulle bly net daar staan? Hulle spoel dan nie eens weg nie, ha?”

Oe, hulle wil nog so baie dinge doen, maar die tyd is so bitter kort.

Saam met die baie lag en spot met mekaar, kom Beulah een ding agter – nie een van haar twee maters praat selfs vir ‘n oomblik oor die dinge by hulle huise nie. Hulle is so in verwondering oor alles, dit is asof die res van die wêreld nie meer vir hulle bestaan nie. Vir eers is dit net Frank en Lettie en Beulah en die groot see en die lekker kuier.

Toe hulle die aand gaan sit om te eet, staan Frank op. “Nee julle, ons kan nie sommer so begin eet nie.” Hy trek vir Lettie regop langs hom. “Miss Beulah, ek en Lettie wil net sê dankie oor ons see toe gekom het. Ons harte is baie bly vanaand. Ons sê regtig baie dankie.” Lettie knik instemmend hierop. Albei lyk regtig aangedaan en Beulah besef dat dit die naaste is wat sy seker ooit in hulle harte sal kan sien.

Die etenstafel word toe sommer die konferensietafel. Beulah sit met ‘n notaboek en Frank en Lettie mag besluit wat hulle moet doen die vier dae by die see. Die lys is lank, maar Beulah gee nie om nie. Hulle het gekom om hulself te geniet en dit is wat hulle gaan doen.

-Roomys koop. Ja, hulle moet elke dag klomp soorte roomys koop.

-Skulpe optel om in hulle kamers te gaan sit – hulle het reeds vanmiddag al ‘n klomp mooies gesien.

-Uiteet in die middag. In die aande wil hulle by die huis by die tafel met miss Beulah eet.

-Seewater in bottels opvang – Frank wil sorg dat sy mense ook proe aan hierdie vreeslike sout besigheid van die see.

-Seesand in bottels gooi, sodat die kinders ook kan sien hoe lyk die see se sand.

-Persente koop vir almal by die huis wat nie kon saamkom nie. Ja, master Chris moet die grootste persent van almal kry.

Elke dag het sy eie lysie en elke lysie word getrou gevolg. Niks mag agterbly nie. Een dag is daar ‘n fliek gegaan, die ander dag die inkopietog in die ‘mall’ en so het elke dag sy eie dinge.

Wanneer hulle saans na die dag se foto’s kyk, is dit asof alles weer van voor af met hulle gebeur. “Lettie, kyk hoe bang lyk jy! Hoekom lyk jy so bang? Jou ogies is dan glad toe, ha?” terg Frans haar omdat sy so bang was om by die vliegtuig se venster uit te kyk. Hulle lê soos hulle lag vir elke foto. Lettie laat nie op haar wag om vir Frans terug te kry nie. “Kyk hoe sit en klou jy aan die stoel se armleunings. Wil jy vir my vertel jy was nie bang nie, ha?”

“Maar, miss Beulah, hoe weet ons nou waar is ons nou? Jy sê dis Jeffreysbaai, maar waar is Pretoria dan nou?”

Beulah vat ‘n groot stuk papier en teken vir hulle ‘n kaart. “Kyk, hier is Pretoria. Hierlangs het ons gevlieg. Sien julle? Dit is nogal ver, hoor. Met die motor sal dit baie ure vat, maar met die vliegtuig was ons mos sommer gou-gou hier. En kyk, hier is ons nou in Jeffreysbaai.” Lettie het die storie so sit en bekyk en besluit dat hierdie prentjie saam moet gaan huis toe. “My kinders moet sien waar hulle ma rondgekuier het.” En so half onderlangs brom sy: “En waar hulle se ma amper met die vliegtuig en al in die see geval het.”

Lettie is al halfpad met die trappe op, toe sy omdraai. Sy kom sit weer langs Beulah by die tafel. “Miss Beulah, jy moet asseblief nou eers weer vir my ‘n ding vertel. Sê vir my presies hoekom jy vir my en Frank hiernatoe gebring het.” Sy vra dit met trane in haar oë terwyl sy Beulah se hand tussen haar twee hande vat.

Beulah sit ‘n oomblik doodstil. Sy weet dat hierdie ‘n heilige oomblik is tussen hulle drie. Al die lag en skerts is opeens weg. Voor haar sit twee mense wat haar aankyk met groot bewondering in hulle oë. Sy staan op en sit die ketel aan, want hier gaan nie gou geslaap word nie, besef sy.

“Lettie, Frank, julle is so goed vir my en my man. Julle is lankal ons familie. Maar dit weet julle tog? Ons wou so graag vir julle iets gee wat julle harte baie, baie bly sou maak. Ons wou vir julle dankie sê vir twaalf jaar se harde werk. En ja, ons wou vir julle wys hoe lief is ons vir julle ou tweetjies. Dit is waarom ons drie vanaand hier om hierdie tafel sit.”

Dit is stil tussen hulle. Niemand praat ‘n woord nie, want woorde is eintlik nou so half oorbodig. Lettie staan op en kom sit haar arm om Beulah se skouers. Sy is stil, maar haar gesiggie straal van vreugde en liefde vir die vrou voor haar.

Met slapenstyd is almal ewe moeg, maar baie opgewonde oor die dag wat voorlê. Toe Beulah dink die ander twee slaap al, kom Frank eers weer ondertoe om nog melk vir tee te kom haal in die yskas. Hy reken Lettie is baie suinig met die tee, hy het nog net twee koppies gehad en nou kla sy oor sy weer moet maak. “Maar, miss Beulah, daardie koekies wat jy vir ons daar gesit het, is darem baie lekker. Dis net dat Lettie sê ek mag nie daarvan eet as daar nie tee is nie.”

Dis nog donker die volgende oggend, toe is Lettie en Frank reg vir die dag. Hulle het hulle tee gehad en Lettie het Frans selfs toegelaat om ‘n derde stukkie beskuit te eet. Hulle sit nou in die onderste kombuis en wag vir Beulah om groot asseblief tog klaar te maak, want hulle het nie tyd saamgebring nie.

“Môre, julle twee. Het julle lekker geslaap?” vra sy gemaak rustig. Sy kan sien hulle is haastig, maar terg hulle eintlik ‘n bietjie.

Frans vertel hoe lekker hy geslaap het onder die duvet en twee komberse. Hy het glad nie eens tyd gehad om te dink nie, toe is hy aan die slaap. Lettie, wat skynbaar ‘n bietjie gesukkel het om aan die slaap te raak, antwoord: “Tsaag, jy was maar net baie moeg, man.”

Beulah sien dat Frank sy beste skoene aanhet vir die dag by die see. Dit kan mos nie wees nie, want hoe mog hulle lyk as hulle by die see was? Gelukkig is daar ‘n ou paar skoene van haar seun in die kas. Frank is baie opgewonde oor die skoene en hy steur hom min daaraan dat dit reeds baie jare in die kas staan en dus stokoud is. Hy trek ewe windmakerig die skoene aan en begin buitentoe stap daarmee.

Die volgende oomblik weerklink sy benoude stem deur die hele buurt: “Lettie, kom kyk hier!” Beulah, wat nog in die huis is, hoor die skreeu en dan die histeriese gelag wat daarop volg. Sy kry die twee plat op die grond. Hulle lag te veel om weer regop te kom en hulle kan haar ook nie vertel wat dan nou so snaaks is nie. Frank wys net aanmekaar na sy voete. En toe sien sy dit! Toe hy begin loop met die skoene, het die sole net daar bly staan en ou Frankie loop net met die bostukke van die skoene op sy voete. Nodeloos om te sê dat Beulah ook op die grond langs hulle gaan sit het en net so hard gelag het.

Die dae spoed verby. Die drie van hulle is soggens vroeg op die strand, selfs al het dit soms gereën. Ja, selfs die reën kon nie hulle vreugde demp nie. En elke aand is dit dieselfde storie om die etenstafel – foto’s, video’s, lag, spot, nog lag, nog spot, nog lekker gesels. En helaas – baie, baie tee vir ou Frankie.

“Frank, jy maak vir master Chris bankrot met jou teedrinkery. Jy kan nou asseblief end kry daarmee.” Frank is vir ‘n oomblik stil voordat hy antwoord. “Miss Beulah, hierdie vrou moet haar woorde tel, ek sê vir jou vandag, sy moet haar woorde tel!” En saam bars die twee uit van die lag, want hulle weet ‘n pakkie tee kan niks aan master Chris se saligheid verander nie.

Die dag van die geskenke was ‘n belewenis op sy eie. Die groot ‘mall’ was ‘n eerste vir hulle en hulle kon hulle verkyk aan die Kersversierings en ander mooi goed in die winkels. “Hierdie winkel het klomp skulpiesgoed, miss Beulah. Ons moet hierso koop.” En so het hulle toe gemaak. Klomp skulpiesgoed vir hulle eie huise, maar ook vir die familie tuis. Die aand aan tafel pak hulle die skulpe wat hulle opgetel het op die tafel uit. Nou kon hulle mooi sit en vergelyk watter skulpiesding is met watter soort skulp gemaak.

Vir master Chris het die twee ‘n boot gekoop. Master Chris moet mos sien hoe lyk die bote wat ons op die water gesien het. “En, miss Beulah, jy sê hulle haal die vis daar ver op die see uit die water uit?” Die ongelooflike bewondering vir vissermanne is sigbaar in hulle oë, want “dit is mos nie kinderspeletjies om so die vis te gaan haal nie, ha?”

En so het die vier dae by die see te gou na almal se sin ten einde geloop. Beulah ry vir oulaas stadig deur Jeffreysbaai se strate. Sy maak ‘n punt daarvan om die strate te volg waar die see sigbaar is. Lettie is hartseer. Sy sit en waai vir die see. Sy weet in haar hart dat hierdie ‘n eerste was, maar vir seker ook ‘n laaste. Frank is stil. Hy kyk en kyk om dit diep in sy hart te kan bêre vir die dag van môre en oormôre.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

GERED ONDER DIE WASBAK UIT (2)

Ek wil jou net herinner dat hierdie 'n stuk seer uit my verlede is. Ek is, deur genade, genees van depressie! ALLEEN [Een aand by...