Sondag 19 November 2017

SKIPSKOP, DIE HARTSEER STORIE VAN APIE


Apie sit langs die see en werk aan sy visnette. Die lorrie se mense was gister weer hier. Hulle wou dat hy en Ma en Pa en almal opklim en saamry. Saamry wa’na toe? Hulle wou nie sê nie. En toe besluit hy en Ma en Pa en al die ander hulle sal nie klim nie. ‘n Mens kan mos nie op ‘n lorrie klim as jy nie eens weet waar jy gaan afgelaai word nie. Nee, hulle bly maar liewers net waar hulle is, het almal besluit.

Die ding met sy visnette kom nie van gister en eergister af nie. Hulle gebruik al baie jare lank nie meer die visnette nie. Vandat die water so vlak geraak het, pak hulle mos die viskrale en is dit ook nie meer lekker om vis vir die tafel te kry nie. As dit laagwater word, pak hulle die krale met groot, plat klippe. Die hoogwater stoot oor die krale en bring die vis saam. As die water dan terugtrek met laagwater, is die krale vol vis. Party dae stuur Ma sommer die kleintjies om vis te gaan haal as die ander te lui is daarvoor.

Die bootjie is lankal stukkend. Die dag toe hy hom stukkend teen die rotse gery het, het dit vir hom gevoel of sy hele lewe gaan staan. Hy was so trots op daardie bootjie van hom – so trots soos g’n ander mens kan wees nie. Hy was die enigste man wat nog ‘n boot gehad het en hy het gesorg dat almal in Skipskop kos op die tafel kry. Ja, daardie dag was ‘n hartseer dag. Pa het vroeg-vroeg vir hom gesê hy moenie uitgaan nie, die see is te kwaad vandag. Maar hy wou nie hoor nie. Hy moes see toe. Sy hart wou see toe.

Die boot was volgelaai met die vis. Hy het lanklaas so ‘n groot vangs gehad soos daardie dag. Hy het al gedink hoe hy die vis sou droogmaak en later aan die besoekers verkoop. Hy sou vir Ma en Pa elkeen ‘n bril kon koop. Ja, hy was so opgewonde – dalk te opgewonde om die onstuimige see dop te hou.

Alles het goed gegaan. Hy het saam met die branders probeer ry. Maar toe hy by die strand kom, was die laaste groot brander eenvoudig te sterk vir hom... Agterna het hy die stukke opgetel en daarvan vir Ma ‘n wastafeltjie probeer bou. Ja, die boot is lankal stukkend.

Hy gebruik lankal nie meer die visnette nie, maar op dae soos vandag kom sit hy hier en werk aan hulle. Dit maak sy hart stil wanneer hy hier so alleen sit. Dit is net hy, die see en die wete dat hy lank terug ‘n suksesvolle visserman was.

Maar vandag neuk dit maar om sy gedagtes hok te slaan. Hierdie mense wat hulle nou hier wil kom wegjaag...wie is hulle? Waarom wil hulle dit doen? Niemand hier het iemand nog ooit skade aangedoen nie. Almal hier het die see lief. Hulle ken nie ‘n ander wêreld nie, waar moet hulle nou heen? Ma en Pa en hy en Sussie en almal is hier gebore en gedoop. Almal gaan Sondag kerk toe soos dit ‘n goeie mens betaam. Maandag staan almal op en maak skoon en werk buite in die tuin. Hy wat Apie is, is die enigste een wat nie in die tuin werk nie. Nee, hy is die baas hier by die viskrale. Hy sorg vir vis op die tafels.

En nou? Wat moet nou met hulle gebeur? Die man van die lorrie sê daar is nie ‘n see daar by Misverstand nie. Hoe moet hulle dan aan die lewe bly? Wie sal vir hulle vis aanry? En die tuine moet eers gemaak word, dan nie? Wat moet hulle intussen eet?

Nee, het hulle gesê, ons klim nie die lorries nie. Ons bly waar ons bly.

En toe het die man baie kwaad geword. Hy het gesê vandag is die dag wat die stootskrapers gaan kom en ons huise omstoot. So waar as wragtag, hy wil nog die man sien wat dit aan hulle gaan doen. Hulle sal mos nie sommer net staan en kyk dat hy die huise omstoot nie, man!

Apie hoor dat Sussa na hom roep. Hy luister nie na haar nie. Sy weet dat hy besig is en dat hy nie gepla wil wees nie. Waarom sukkel sy nou met hom? Hy sal wel huis toe gaan wanneer sy hart beter voel, sy weet dit tog teen hierdie tyd.

Maar sy hou nie op met roep nie. Sy roep en roep totdat hy omkyk.

Nee, Here, net nie dit nie. Asseblief tog, net nie dit nie! Eers sien hy die stootskrapers, en toe sien hy sy mense. So ver as wat hy kan kyk, sien hy hulle aanstap met elkeen ‘n sak of twee in die hand. Die groter kinders het selfs sakke op hulle koppe. Hulle loop in ‘n ry met die pad af – weg van hulle enigste, enigste Skipskop.

Hy los die visnet net so en kom regop. By hulle huis sien hy nog mens. Dit is Ma en Sussa wat nog probeer ‘n laaste paar goedjies inbondel in die sakke. Maar Sussa se hande is vol. Sy het vir Pop op die heup en kan nie die laaste swaar sak optel nie. Sy los dit net daar en loop agter Ma aan. En endjie voor hulle sien hy vir Pa. Pa kan nie loop nie, maar vandag moet hy loop. Hy het vir Shorty op die rug.

Hoe is dit dan moontlik dat almal sommer net opgegee het? Hoe is dit dan godsmoontlik dat hulle nie eens ‘n ou klein bietjie probeer terugbaklei het nie? Is dit hoe hulle voel oor hulle enigste, enigste Skipskop?

En hoe weet hulle in elk geval waar die pad Misverstand toe loop? As hulle voor by die kruispad kom, hoe gaan hulle weet watter kant toe?

Ma kyk ‘n slag om. Sy wink vir hom om te kom. Hy beduie dat sy moet loop, hy sal kom.

Toe hy nie meer die lang, strompelende massa mens kan sien nie, draai hy om. Stadig, met rustige, maar vasbeslote treë, stap hy terug see toe. Die see is die enigste sekerheid wat hy in die lewe gehad het tot nou toe. Hy kan nie en hy wil nie die see alleen los nie. Nie nou nie, en ook nie later nie.

Op die strand gaan hy ‘n oomblik staan. Hy kyk nie weer om nie. Hy het opeens vrede in sy hart.

Stadig stap Apie reguit vorentoe. Van nou af is dit net hy en die see.
                  

Inwoners van die dorpie , en die vakansiegangers wat jaarliks daarheen gekom het om te hengel en lekker fees te vier en te dans is in 1982, toe Denel besluit het om die gebied tussen Waenhuiskrans (Arniston) en die de Hoop Natuurreservaat te gebruik om missiele te toets, aangesê om te trek. Skipskop het in die gebied geval en teen die einde van 1984 is die gebied onteien. Teen die einde van Maart is hulle hervestig in Misverstand, ‘n dorpie binnelands, aan die anderkant van die Overberge.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...