Saterdag 11 November 2017

DIE STORIE VAN TIEHANN

Kom maar, Ma se kind, sjjjjt nou. Waarom is jy dan so hartseer? Ek lê met my kop langs hom op die kussing, my lyf skeef gedraai in die stoel. Hoekom is jy dan so ontsteld vanoggend? Wat kan mamma doen om dit beter te maak?

Ek hou aan om sagte susgeluidjies te maak – dit het nog altyd gehelp. Stadig, baie stadig, raak hy rustig. Die kreun-huilgeluide raak minder en minder. Ek praat nie. Ek vryf oor sy koppie met sagte, reëlmatige hale. Dit laat hom ontspan. Dit maak hom rustig.

Nou slaap hy.

Die dag van jou geboorte is soos gister vir my. Die ander twee was al groot. Jou sussie was reeds dertien en boeta was toe al nege. Dit was die grootste geskenk vir ons almal. Wie het nou kon dink dat Tielana en Hannes nog ‘n ou skepseltjie sal hê? Jy was vir my die mooiste ou dingetjie. So soet. So rustig. Ons ou liefkindjie.

Ons was ‘n vredige, rustige gesin en skatryk met ons drie mooi kinders. Wie sou dan nou nie trots wees nie?

Jy was Mamma se ou klein 'charmer'. As ek my hare mooi gemaak het, het jy dit eerste raakgesien: "Hoeee, maar Mamma lyk darem baie mooi vandag!" Of as ek 'n nuwe rok aan het: "Sowaar, vandag lyk Mamma pragtig." Selfs in die winkel tussen die baie mense, het jy dit opgemerk en waardeer as iemand vriendelik met jou mamma gesels. Ja, jou hartjie was so sag en so vol liefde.

Jy was al op pad na vyf jaar toe en ons het al begin praat van skool toe gaan, toe die groot hartseer ons tref. Of is dit dat die groot hartseer nie vir ons nie, maar vir jou getref het, my kind?

Ek sien nou nog jou kordate lyfie en die plastiek swaardjie wat jy uitruk om vir Pappa dood te steek die aand voor die tv. En toe Pappa ontsteld is omdat hy nou ‘dood’ is, lag jy so lekker uit jou magie uit, want dit is dan net ‘n plastiek swaardjie, Pappa!

Die skielike, intense hoofpyn het jou inmekaar getrek tot op jou hurke. Gillend het jy jou kop tussen jou hande vasgegryp en so bly sit. "My kop, my kop!" 

Soos elke ander ma het ek ‘n pilletjie probeer, maar ons het gou genoeg besef dat pilletjies nie nou gaan help nie. So 'n intense pyn is ongehoord by 'n klein kindjie, het ons besef. Toe jou sussie met jou slap, slapende lyfie by my kom, weet ek bo alle twyfel dat daar groot moeilikheid is.

Bel die dokter. Spreekkamer. Plate. "Mevrou, ek is so jammer, jou kind se brein is vol bloed."

Hospitaal. Neurochirurg. Pype. Drade. Masjiene wat raas en bliep, bliep, bliep. My doodstil kindjie lyk so klein daar op die groot hospitaalbed. 

Here, help! 

Alles kom tot stilstand. Die ganse heelal hou asem op. Ons harte is so donker soos die nag daar buite. Vieruur die oggend los ons jou daar alleen. Nee, nie alleen nie. Ons los jou in die hande van die Here, my kind. Ons moes ‘n bietjie gaan rus. Die nag was baie lank.

Sondagoggend ruk die foon ons wakker. “Julle moet kom! Julle kind...!”

My liefkindjie, as jy maar kon weet hoe ek vir jou gebid het. As ons twee ooit kon praat oor daardie tyd, my skat. Weet jy nog ooit hoe lief ek jou regtig het? Ma se kind, jy mag dit asseblief nooit vergeet nie.

Ons sit langs jou bed – ek en Pa en Ouma en Oupa. Die dominee kom ook. Ons wag, maar niks gebeur nie. Dis steeds net die bliep, bliep, bliep van die masjiene langs jou stil, bleek lyfie.

Toe jy na ‘n week uit die koma kom, was dit asof die son vir die eerste keer weer vir my opgekom het. Jou skewe mondjie en jou sleepvoetjie was niks nie. My hart het gesing en juig, want my kind lewe! My liefseuntjie is dwarsdeur hierdie groot trauma en hy leef!

Vier weke later gaan ons met jou huis toe. Ons is so bly, maar so uiters versigtig, want ons wil nie dat jy weer seerkry nie. Ons wil nie dat jy weer deur soveel pyn moet gaan nie. Sou ons jou letterlik in watte toe kon draai, het ons dit beslis gedoen. Ons wagwoord was 'Versigtig met Boeta!'

Op jou vyfde verjaardag vier ons fees. Ons het koek en koeldrank in oorvloed. Almal is welkom om te kom deel in ons groot vreugde. Jy is vir Mamma die heel mooiste seuntjie wat nog ooit gelewe het. Jou glimlaggie is terug, jou liefdevolle hartjie het plek vir almal rondom jou.

Ai my ou kind! Nege dae later, daar by Oupa en Ouma, gebeur dit weer. As ek maar my arm of been kon afsny om jou daardie pyn te kon spaar! Dit is ‘n herhaling van die vorige keer – so asof dit 'n draaiboek is wat weer opgevoer word. Dit is weer die skielike, intense pyn voordat jy weereens 'aan die slaap raak'.

By die hospitaal is daar ‘n krisis. Daar was 'n groot motorongeluk en die pasiënte is baie. Ons het geen ander keuse as om te wag vir ons beurt nie. My moederhart wou gil en skree dat iemand asseblief tog net iets moet doen, maar ons moet wag. Ons wag saam met jou skynbaar lewelose lyfie vir byna ‘n uur en ‘n half vir net ‘n bietjie aandag en hulp. 

Jou seer lyfie daar op die draagbaar! Jy is in ‘n koma en jou mamma het niks anders te doen as om te bid en pleit voor God nie. Die dierbare ambulansmanne kom simpatiseer met ons, vas onder die indruk dat jy reeds dood is. Maar my liefiekind, jou mamma het van beter geweet. Ek het geweet dat daar diep binne-in daardie stil lyfie nog 'n hartjie is wat klop en klop en klop.

Na, wat soos vir ons soos 'n ewigheid gevoel het, neem hulle jou weer op. Masjiene. Drade. Pype. Bliep, bliep, bliep.

Vir ‘n maand lank sit ons daagliks daar. Wanneer ons kan, is ons langs jou bed. Hoe nou verder, Here? Kyk hoe lê my kindjie hier, Here. Wat dan nou verder? Hoe dan nou verder?

Toe ek die dag die groot knop op jou koppie ontdek, is ek buite myself. Die verpleegpersoneel het dit nog nie opgemerk nie. Skade op skade! Die neurochirurg is besig met ‘n ander groot operasie en kan nie kom kyk nie. Ons wag. Ons bid. Later die aand gaan ons huis toe sonder om te weet wat nou van die groot knop.

Die volgende oggend kry ons jou met 'n baie groot verband om jou koppie. My hart! My kind! Ons hoor die storie veel later by die dokter.

Eers wil hy nie opereer nie, want jou ou lyfie is so verswak. Hy voel om jou nie verder te mors nie. Hy wil jou maar los dat jy kan gaan...

Maar, na heelwat oorweging. besluit hy dat jy ‘n willetjie van jou eie het, en hy sit die pompie in om die vog van jou brein na jou magie te dreineer. En jy is so sterk, nog dieselfde dag word jy wakker. Ons is so bly, so dankbaar, so nederig voor die Here. Jy onthou jou sussie en boetie se name, jy onthou die kat en die hond se name, alles lyk so reg. Dankie, liewe Heer. U het dit weer gedoen. 

Die volgende vraag was so logies: En wat sien jy alles, liefie? "Spoke." Vir 'n oomblik of twee kan ons nie verstaan wat dit is wat jy sien nie. Ons vra weer 'n keer, en jou antwoord is weer die spoke.

"Dokter, wat is dit met die spoke? Kan my kind nie sien nie?"

"Nee, mevrou, jou kind kan nie sien nie."

Een en dertig jaar. Die lewe binne ons huis het gaan stol, gaan staan. Dit is elke dag ek en jy. Pappa help ook waar hy kan, ja. Toe jy kleiner was kon jy nog op jou boudjies wikkel-wikkel tot waar jy wil wees, maar nou nie meer nie. Jou bed is nou die wêreld waarin jy leef. 

Toe ek gister jou baard skeer, kon ek nie anders as om te wonder oor hoe anders dit kon wees as al die seer dinge nie met jou gebeur het nie. Wat as die aar nooit gebars het nie? Wat as hulle dalk vroeër die vog op jou brein dreineer het? Sou jy al getroud gewees het? Sou julle al kindertjies gehad het? Wat as? Wat. As. ??

Ek wil jou so graag ietsie leer sing of opsê, maar jy kan nie van nou tot netnou onthou nie. Soms, net soms, sing jy 'n woordjie of twee saam met die musiek en dan juig my hart. Die enkele woordjies wat jy soms met my praat, is musiek in my ore. Ek weet jy is nog daar binne, en ek weet dat jy weet van my. 

Wat hou die toekoms vir ons in? Niemand weet nie. Niemand probeer om van vandag tot môre te dink nie. Niemand praat oor môre of oormôre nie. Vandag het genoeg van sy eie pyn en swaarkry. 

My swartkopkind. My hart se punt. My las wat ek met vreugde dra.
Klein Tiehann na sy eerste operasie.





1 opmerking:

  1. My hart is nou so seer ek kry nie woorde om iets te se nie, maar een ding weet ek verseker dit is sy familie en God se hemelkindjie. Mag God elke dag met julle wees ek bid vir julle gesin. As ek mag vra was daar 'n mediese verklaring hoekom dit op so jong ouderdom gebeur het en toe sommer paar jaar later weer?

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...