Vrydag 10 November 2017

SPIERE SE DILEMMA

Dit gaan goed met Spiere en sy eie ouma. Dit is baie lekker om elke dag maatjies te hê om mee te speel. Sowaar, dit is baie lekker. Hier is net nie so baie plek om met die fiets om en om die huis te ry nie en tannie Susan wil ook g’n dat ‘n mens in die straat met die fiets ry nie. Vir wat nie? ‘n Mens sou sweer ek is nog ‘n baby!

Spiere en Ouma hoef nou ook nie meer winkel toe te sukkel vir suiker en meel nie, want die tannie ry sommer so woerts warts dorp toe en dan bring sy alles wat Ouma wil hê.


Dis net sleg dat Ouma nie meer pap maak in die oggend nie. Ouma se pap is die heel lekkerste in die hele, hele wêreld. Eintlik verlang Spiere na hulle huis. Hy en Ouma het in die aande lekker gesing by die stoof. Ouma sing nie meer nie. Dis sleg. Ouma lag ook nie meer so baie nie. Dis baie sleg. Partykeer sit sy so en kyk doer ver en dan kan hy sien sy wil eintlik nie hier wees nie.

Daar is een ding wat nou regtig, egtig sleg is by hierdie huis. Die eerste oggend toe hulle opstaan, was dit al klaar so sleg. Hy het vir hond die deur gaan oopmaak, toe storm die tannie sommer hier verby hom in hulle woonstel in. Sy is reguit in Ouma se kamer in en Ouma het nog so groot geskrik, onthou hy.

“Nou het julle nie gesien hoe laat dit al is nie, tannie Hêppie? Die kind moes mos al aangetrek gewees het. Ons wil al ry en hy loop nog in sy slaapklere rond.”

Hy het gehoor die tannie is niks lekker vir sy ouma nie. Ag nee man, vir wat moet sy nou kom staan en sukkel met sy ouma? Sien sy dan nie dat Ouma nog seerkry as sy loop nie? ‘n Mens baklei nie met iemand wat seerkry as sy loop nie. Sies.

En woerts, is sy weer hier verby hom. Hy wil nog môre sê soos sy eie ouma hom geleer het, maar sy hoor hom nie eens nie. Hy het geweet hierdie mense is ook nie regtig bly om vir hom en sy ouma hier te hê nie. Hy het geweet!

Maar dit is toe oor die tannie vir Ouma gesê het hy moet saam met die maatjies skool toe gaan en daarvoor staan ‘n mens vroeg op. En dit is presies wat vir hom so sleg is. Vroeg opstaan en skool toe gaan. Hy weet ook nie watter een is nou eintlik die slegste nie. Hy wil nie vir hond en sy ouma die hele dag alleen los nie. Wie het nou eintlik gesê hy wil skool toe gaan? Nou kry hy ook nie pap by sy ouma nie, want sy kla haar been kry seer om op te staan vir die pap. Die mense in die groot huis eet as die son nog nie eens opgekom het nie. Sy maag wil nie eet as dit nog donker is nie. Hy wil nie, maar hy moet die goed eet wat hulle eet. Vir wat?

Hy het gister vir sy ouma gevra wanneer gaan hulle weer na hulle eie huis toe. Ouma het eers so lank deur die venster gesit en kyk en hom nie geantwoord nie. Hy wil toe maar met hond gaan speel, maar toe sien hy dat sy ouma nog eers dink om te antwoord. Mens hoef mos nie so lank te dink vir ‘n antwoord nie, ha? Wat kan nou so swaar wees om net te sê ons gaan môre huis toe? Maar sy ouma het nie so gesê nie. Sy het net so ‘n lang sug gegee en hom gestuur om vir haar water te gaan haal.

Toe hy die water bring, sê sy ouma hy moet nou mooi hoor. Hy wag en hy wag vir wat hy moet hoor, maar hy kan sien sy ouma weet nie wat om vir hom te laat hoor nie.

“Ouma se kind, miskien vat dit nog ‘n tydjie, Ouma weet self nie. Maar as jy ‘n soet kind is en elke dag saam met jou maatjies skool toe gaan en alles, dan is dit dalk nie meer so baie lank nie.”

Dis nie wat hy gedink het wat Ouma gaan sê nie. Glad nie! Hy wil sommer weer dikbek word, maar hy kan nie nou nie. Hy besluit hy sal die soetste kind van sy ouma wees. Hy sal alles probeer sodat hulle gou kan teruggaan na hulle eie lekker huis toe. Sy ouma sal sien dat hy baie soet is. 

Hy wil so graag hê sy moet 'n slag weer lag. Sowaar, as sy net weer asseblief sal lag, kan hulle maar hier ook bly vir altyd en altyd.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...