Spiere en die
maatjies kom van die skool af. Hy kan net nie verstaan waarom die oom hulle
vandag kom oplaai het nie. Die oom praat nie met hulle nie. Hulle mag ook nie eens met mekaar praat nie. Die oom luister nou nuus. Watse nuus? Hy verstaan daar niks van nie,
maar die oom lyk of hy verstaan wat die tannie op die radio sê. Simpel tog.
Toe hulle by
die huis kom, wil Spiere eers sy rugsak met die kosbak en die koeldrankbottel
in gaan neersit. En hy wil mos nog eers vir sy eie ouma en die hond gaan hallo
sê. Hy maak mos altyd so. Maar vandag mag hy nie. Hy moet dadelik kom sit en sy
kos eet. Vir wat? Hy eet mos altyd saam met sy ouma.
Die tannie is
nie daar nie. Hy wonder wat het van haar geword. Sy is altyd daar as hulle by
die huis is. Ouma sê dis oor die mense so stinkryk is dat die tannie altyd by
die huis is. Stink? Hy het nog nie geruik dat iets stink in die mense se huis
nie. Toe hy vir Ouma wou vra wat is dit wat so stink, het sy gelag en hom met
die hand weggewaai. “Loop en loop speel, jy raak te groot vir jou twee skoene,
kind.”
Hy wil nie eet
nie. Hy is nie honger nie. Hy kan sweer iets is weer iewers nie reg nie. Die
twee maatjies kyk vir mekaar en dan lag hulle. Simpel. Waarom lag hulle? Hy kan
sweer hulle lag vir hom. Vir wat? Hy het mos niks gedoen dat hulle kan lag nie.
Nou raak hy lekker dikbek vir die hele storie. As hy darem nou by sy ouma kom,
gaan hy haar alles vertel. Hy wonder of sy met die kinders sal raas? Sy beter!
Toe die oom na
ete amen sê, spring hy op. Hy gryp sy rugsak en mik vir die deur. Maar nee, die
oom is nog glad nie klaar met hom nie. “Kom, jongman, hier word vandag
skottelgoed gewas. Julle dink mos hierdie is ‘n losieshuis, maar vandag sal
julle drie eers goed opruim voordat een van julle ‘n tree uit hierdie kombuis
uit gee.”
Hy kan sweer
die oom se oë lyk soos lag, maar sy mond en stem is baie kwaai. Hy wat Spiere
is gaan liewer nie ‘n kans waag met hierdie oom nie. Die ander twee simpel
kinders lag nou sommer kliphard. Dit maak hom net kwater en kwater. Hy sweer hy
gaan nooit weer met hulle speel nie. Van vandag af bly hy net in die woonstel
daar by sy ouma. Hulle dink verniet hy is so dom dat hy nie kan weet hulle lag
vir hom nie.
Toe hy die
laaste mes en vurk in die laai sit, stamp hy die laai toe en gryp sy sak. Hulle
gaan hom sowaar nie langer hier hou nie. Hy begin nou wonder of daar ‘n fout
met sy eie ouma is. Waarom anders mag hy nie na haar toe gaan nie? En hoekom
het hy nog nie vir hond hoor blaf nie? Wat gaan aan?
By die deur
keer die oom hom voor. Hy gryp hom so half aan die arm terug by die kombuis in.
“Nie so haastig nie, outjie. Kom, ons gaan gou roomys koop.” Dit maak nie saak
dat hy vir die oom sê hy is nie lus vir simpel roomys nie. Die oom wil nie hoor
nie.
Maar hierdie is
mos nie die pad kafee toe nie, is dit? Of is daar op ‘n ander plek ‘n ander
kafee? Sowaar, nou weet hy ook nie meer nie.
Maar...dis...mos...?
Hulle ry sowaar
na sy eie ouma se huis toe. Het die oom nou simpel geraak? Daar is mos nie
roomys nie?
Toe hulle om
die draai kom, sien hy die tannie se kar staan ook daar. Sy maag gee so ‘n
woeste draai binne-in hom. Wat is hier aan die gang?
Hulle trek by
die hek in. Toe hulle uitklim, maak die oom die kattebak oop. Hy sien sy fiets
en die boks met sy karretjies daarin. Voordat hy nog iets kan sê, storm hond op
hom af. Hy skrik so groot dat hond hom sommer onderstebo spring, maar hy traak
nie oor die stof op sy klere nie.
Nou is Spiere
ook glad nie meer kwaad vir die maatjies nie. Hy lag saam met hulle toe hulle
sien hoe lekker hy op die grond geval het.
In die kombuis
sit ouma en die tannie en koffie drink. Hy spring en skree en hardloop al om
die tafel van skone opgewondenheid.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking