Sondag 05 November 2017

'n Gebed, deur Pieter van der Westhuizen

Hemelse vader en almagtige Here. Dit is 2 uur in die more en ek kan nie slaap nie. In 21 jaar wat ek boer was dit nog nooit so droog nie. Ek is vanmôre voor U om te bid vir reën.

Voor ek vir reën vra moet ek U eers dank vir droogtes. Indien ons net vet jare en voorspoed gehad het, hoe arrogant, onafhanklik van U en onbewus van U goedheid en genade, sou ons nie gelewe het nie. Daarom moet ek U ook dank vir die voorreg om hier te kan boer. Hier waar ek elke dag U handewerk sien en ervaar. Baie dankie ook Here vir die wonderlike mense wat U rondom my in hierdie wêreld geplaas het. 'n Unieke groep mense wat almal saam in dieselfde stryd gewikkel is. U het elkeen persoonlik gevorm, harder as kameeldoringhout, om hier te kan bestaan.

Om die mooi van hierdie boerdery te beleef het U 'n besonderse liefde vir die diere en die boerdery in my hart gesit en daarvoor is ek U baie dankbaar. Maar liewe Heer, dit is as gevolg van hierdie liefde, en my tekort aan insig, wat maak dat ek U weë nie verstaan nie.

Ek verstaan nie wanneer die lammerooi aan die voet van die duin omval as gevolg van swakheid, en nog steeds net oor haar lam se welstand bekommerd is nie.

Ek verstaan nie as die koei met ʼn sug  gaan sit en ons altwee weet sy sal nooit weer opstaan nie.

Ek verstaan nie as ek in die onskuldige bruin oë van die verswakte koedoekoei, wie se voet in die draad gehaak het, kyk en sien sy wag op die verlossing van die dood, wat uiteindelik deur dors en hitte-uitputting onder die skroeiende woestyn son, veroorsaak sal word.

Ek verstaan nie as ek "hart se punt" koeie by die slagpale moet aflaai, en nog onthou hoe hulle kalwers gelyk het, en selfs hoe ek sommige van hulle as klein kalwertjies onthoring het nie.

Ek verstaan nie as jong eerstelam-ooitjies net ribbes en gekoekte wol is en ek onthou vaagweg hoe 'n glad verhaarde ooi lank gelede vir haar vet lammetjie geblêr het terwyl die komkommersap teen haar wang afloop nie.

Ek verstaan nie as my ryperd een oggend stokstyf is as gevolg van elke aand se kragvoer, omdat daar niks meer hooi in die veld is wat hy bedags kan vreet nie.

Ek verstaan nie as ek die donkie langs die pad sien lê wat in die tuig gesterf het, en ek weet sy eienaar het ook maar nie ʼn plan gehad nie.

Ek verstaan nie as die groot springbokram struikel-struikel voortsukkel nie.

Ek verstaan nie as die erdvark, wat ʼn nagdier is, in die middel van die dag, vermaer en verdonker, op die warm rooi sand rondploeter op soek na iets om te eet nie.

Ek verstaan nie dat die graspolle, die bron van kos, in klein swart knoetsies verander het sodat die wind hulle wortels oopkalwe en die woestynson dit verdroog en verdood nie.
Ek verstaan nie as die windpomp net wind blaas omdat die boorgat opgedroog het, terwyl my verstand verdof is deur 'n wolk stof en 'n gebulk en geblêr wat deur my bene en murg sny nie.

Here ek verstaan nie hoekom U dit oor hierdie onskuldige diere laat kom, terwyl U vir my, sondaar, net goedheid en guns gee nie. Here ek verstaan dit nie, maar ek weet wel dat ek nooit die straf wat ek verdien, sal kan dra nie. Daarom, voor ek vir reën vra, smeek ek om U genade en vergifnis. Ek bid ook vir wysheid om tussen goed en sleg te kan onderskei. Ek bid veral Here, dat ek nooit arrogant sal word nie, want alle eer kom U toe. Ek bid ook vir wysheid en krag vir die hele gemeenskap om op die regte manier deur hierdie droogte te kom. Ek verstaan nog steeds nie hoe die gemsbok in hierdie tyd so sterk kan bly nie, maar ek bid dat U ons almal die gemsbokke van hierdie droogte sal maak.

Here noudat U my hart ken, smeek ek by U: "Gee asseblief vir ons almal reën en gee asseblief vir ons almal genoeg reën."


Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...