Donderdag 23 November 2017

OUMA HÊPPIE VERJAAR

Vandat Spiere en sy ouma terug is by hulle eie huis, gaan dit alles voor die wind. Ouma is weer haar ou self en Spiere en die hond is baie bly daaroor. Spiere gaan nog elke dag saam met sy maatjies skool toe, maar hy kan smiddae nie wag om huis toe te kom nie. Hond wag altyd vir hom by die hek en Ouma wag vir hom by die kombuistafel met baie lekker kos.

Hy het al gewonder hoe is dit dan nou dat hulle skielik nie meer net winkel toe gaan vir suiker en bietjie meel nie, maar hy vra maar liewer nie. Hy weet daar is sekere goed wat sy ouma boos maak, en om te praat van geld en sulke soort van dinge, is een van daardie kwaadmaak goed. Al wat hy weet is dat dit nou baie lekker is om huis toe te gaan na skool.

Ouma het iemand gekry om plek te maak vir ‘n groentetuin. Sy wil groente hê, maar nou moet hy dit natmaak. Hoe werk dit dan nou? Hy het mos nie gevra hy wil groente hê nie, het hy? Maar hy sal nie kla nie, want sy eie ouma se huis is nog altyd die heel, heel beste plek op die aarde.

Iewers, so kom Spiere agter, broei weer iets. As Ouma so begin skrop en skratel en oor alles skel, is daar iets wat pla. En moenie praat van skoonmaak nie! Dis al vandat hulle Sondag van die kerk af gekom het dat Ouma nie ophou nie. Sy het haar hoed in die kas gaan bêre en haar kouse sommer daar op die bed gelos en toe begin sy die lappe en emmers bymekaarmaak. 

Ai, hy en hond bly in die moeilikheid want hulle bly in sy ouma se pad. Hy was gister lus en bly sommer by die skool, maar die tannie het hom uit die klas uit kom haal en sommer nog met hom geraas ook oor hy haar so lank laat wag. Toe dink hy miskien sal sy juffrou hom help om daar te bly, maar sy is toe ewe skielik te besig om te sien wat gaan aan. Simpel.

Vanoggend vroeg het hy gesien die ding waarvoor sy ouma wag is nou baie naby. Ouma het sowaar al opgestaan nog voor die mense langsaan se haan begin kraai het. Dit het amper vir hom gevoel soos die nag toe sy geval het. Toe was dit ook mos nog lank nie opstaantyd nie. Toe hy in die kombuis kom, is daar nie eens plek vir hom om te sit om sy pap te eet nie. Die hele tafel is vol panne en meel en eiers en hy weet nie wat nog alles nie. Hy het daar by die stoof gestaan en sommer die pap sonder botter geëet. Hy kon sien dat sy ouma nie gepla wil word nie. En toe die tannie buite roep, het Ouma nie eens koebaai gesê nie. Simpel!

En nou is hy weer by die hek en hond het klaar hallo gesê. Hy wens net hy kon vir hond vra wat die dinges is aan die gang in hulle huis. Gisteraand wou hy nog dat hy en sy eie ouma ‘n slaggie weer sing, maar nie eens ‘Jesus roep my vir ‘n sonstraal’ kon haar aan die sing kry nie. Dan moet jy nou net weet dat dit ernstige goed is wat in sy ouma se kop aangaan. Ouma sing altyd vir ‘Sonstraal’ en dan sommer so net met die draai van die liedjie gaan sy aan met ‘Ek kan hoor my Heiland roep my’. Maar nee, daar is nie ‘n woord gesing gisteraand nie.

Nou wat de ongeluk...! Wat het nou met sy eie ouma gebeur? Hier kom sy dan nou aan met ‘n hele klomp koekblikke opmekaar. ‘n Mens kan haar nie eens sien nie! Wat wil sy dan nou gaan maak met die blikke?

O gatta toggie toggg! Die een blik gly van die hoop af en val op die grond. Ouma skree ‘n vreeslike skree. Sy ore het nou sowaar baie seergekry. Hy hardloop om vir Ouma te help, maar sy het al klaar die ander blikke op die grond neergesit. Hy sien sy gaan nou huil, want die mooi koek lê nou so half met sy lyf op die deksel en die ander stuk lyk of hy lus voel om in die sand te gaan lê. Maar sy eie ouma is baie slim en sy skuif die deksel mooi onder die koek in. Ouma sê iets van ‘...as hulle dan nou sand wil eet...’ maar hy kan nie mooi hoor nie.

Die tannie het nou gekom en sy help vir Ouma om die koeke op die tafeltjie langs die huis neer te sit. Hy sien nou eers hoe mooi het Ouma alles gemaak met die mooi tafeldoek en blomme en alles. Sjoe, Ouma is regtig slim.

En ewe skielik is daar 'n hele klomp tannies wat hy nog nooit gesien het nie. Hy wonder of die hele dorp se tannies gekom het omdat sy ouma vandag verjaar. Hy dink hulle is ook vir haar so lief soos wat hy vir haar is. Hy en die maatjies kry eerste koek en koeldrank sodat hulle kan gaan speel. Ouma is vir hom baie, baie mooi, want sy lag die hele tyd.


Ouma het vir die tannies gevra om elkeen vir haar ‘n foto te post op facebook sodat sy ‘n album van haar verjaardag kan maak. Nou wonder hy net of hulle dit ooit sal doen?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...