En
so, sommer so half suutjies, het Oujaar sy lê gekry. G’n mens het
dit sien kom nie, maar ewe skielik is dit soos ‘n stokou man wat sonder asem en
blus is. Hoe op aarde? Dit kan mos nie wees nie, kan dit?
Die
oues van dae het gekerm: “Ag nee man, wat is dit met jou? Kan jy nie net ‘n bietjie
stadiger nie? ‘n Mens kan nie byhou nie, asseblief tog!”
Die
kindertjies was stiller in hulle ervaring – die meeste het grootoog gewonder
waar gaan hy heen. Vir hulle was dit nog te vreemd en nuut om werklik te kan
reageer daarop.
Die
jongmanne het hierdie jongman met vreugde verwelkom. “Kom, ons wil werk, ons
wil lewe. Kom, jy is ‘n bietjie stadig vir ons, jong!”
Ekself
het hom met huiwering verwelkom. Wat gaan hy vir my bring? Wat gaan hy van my
steel? Daar was so baie vrae, maar hierdie outjie wou my nie antwoord nie – ek moes
maar wag en sien. En ek het gewag. En ek het gesien.
Soos
reeds gesê, daar was nie tyd vir hierdie outjie om sy ding te doen nie. Om een
of ander rede was hy so half woedend somme daar aan die begin al. Ek wou nog vra,
‘Asseblief, net so ‘n bietjie stadiger, net so ‘n bietjie rustiger!’ maar hy
was verwoed aan die hardloop met my.
Februarie
gee hy vir my die slaapplek op die vloer voor my liefmoeder se bed. Ek besef
toe dat daar nie keer aan hierdie outjie is nie. Ons moet saamhardloop, of
agterbly. Die keuse is elke arme siel onder die son s’n. Hol jy saam, gaan dit
woes. Bly jy agter, gaan dit erger. Slaap jou slaap op die handdoek, Meisie,
slaap! En ek het (probeer) slaap daarop die vloer.
Uitgewas
en moeg vat Maart my. Ja, jy sien, hulle is ‘n span wat die aflosstokkie aangee
en elkeen wil kyk of hy meer en beter kan doen as die vorige. Ek sluit ‘n
hoofstuk af en ek sê vir die outjie ek bly
nou eers ‘n bietjie lê, hy moet maar alleen verder woed. Te moeg. Te seer. Te
alles! Hy wuif vir my met ‘n sluwe glimlag. Jy sien, hy weet dat dit nie so
werk nie. Hy weet dat ek vorentoe my spoed sal moet verdubbel om weer te kan
inhaal. Verdomp tog!
En
dit was toe ook net so. Vinnig. Vinniger. Vinnigste. Vorentoe. Nooit agtertoe
nie, net vorentoe. Daar is nie tyd om terug te kyk na Januarie en Februarie en
Maart nie, dis net al vinniger vorentoe.
Ek
wil met hom ‘n ooreenkoms aangaan, maar hy wil nie luister nie. Ek wil vra dat
ek net vir een of twee daggies stil kan staan en so ‘n bietjie agtertoe draai
vir ‘n slag, maar hy wil nie hoor nie. Hy het nie ore nie, kom ek later agter.
Maar
die outjie raak toe sommer self so ‘n effentjies rustiger. Sowaar, dit lyk soms
vir my die outjie kan glimlag ook. Regtig! Het jy dit nog nie opgemerk nie? As jy vir hom lag, kry
hy amper so ‘n trekkie wat lyk na ‘n smaail. Ja, ek is doodseker daarvan, jy
hoef nie so te frons nie.
Een
aand in Julie kom vat die outjie my aan die hand. “Kom, ek het iets vir jou.” Regtig?
Is dit dan nou moontlik? Wat is daar wat goed is in jou hand? Is hierdie 'n triek?
Maar
ek wil nie te lank wag nie, netnou raak die outjie weer boos en ek het al
gesien wat doen hy as hy nie lekker is vir my nie. Behoedsaam stap ek saam om
te sien wat hy dan nou enigsins kan hê wat ek graag sou wou hê.
Ek
staan verdwaas en kyk na die tafel voor my. “Tadaaaa!” Hy swaai sy arm oor die
tafel wat vol...penne is! Penne? Om wat mee te doen? Regtig tog? Is dit nou ‘n
flou grappie?
Hy
nooi my om te gaan sit op die enigste stoel by die tafel. En ek gaan sit. En hy
los my, wonder bo wonder, alleen. Sommer net so, sonder ‘n woord loop hy en los
my daar alleen.
Ek
tel die eerste pen op en probeer daarmee skryf – sommer so op die tafelblad.
Wow! Dit is sowaar lekker! ‘n Tweede een voel selfs beter as die vorige een. En
so bly ek naglank wakker met my ontdekking van hierdie lieflike klomp gekleurde
penne. Teen die oggend is die tafel ‘n bont blad vol skryfsels en ek soek vir
papier, want hier moet geskryf word, besluit ek.
En
so het die outjie my heel dikwels alleen gelos om my eie ding te doen. As ek gaan
sit by my bont tafel is hy weg – seker by iemand anders wat nog nie sy tafel
ontdek het nie. Jy sien, eintlik het hy vir elkeen 'n tafel vol van sy eie dinge, ons moet net saamloop as hy ons nooi.
En
dis nou waarom die verskyning van Oujaar so ‘n skok is. Jy sien, die tyd het so
voortgesnel terwyl ek daar by die tafel doenig was dat ek dit nie sien kom het
nie. Ek voel so half hartseer om die ouman te groet, man. Hy was moeilik, maar
hy was ook goed. Kyk, hy het dan vir my ‘n tafel vol penne gebring!
Ek
groet die ouman met ‘n heimwee, maar ek wag vir die nuwe outjie wat weer
propvol planne en lewenslus sal opdaag en voorthardloop met ons.
Gaan ek saam
hol? Vir seker! Ek durf nie agterbly nie, want die inhaal agterna is net te vrekmoeilik.
En buitendien, wanneer ek toe moeg raak, is daar mos nog altyd my tafel met sy baie penne!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking