Jy kry oggendmense, jy kry aandmense, en
dan kry jy vir my...! Oggend- en aandmense sit nie om dieselfde vuur nie. Nee,
glad nie. Die een irriteer die blou blitse uit die volgende een uit, dis vir
seker. Hulle kom eenvoudig nie oor die weg nie, want die een meng in met die ander
se slaaptyd, sien.
‘More! More! Is dit nie 'n liefffflike
oggend nie, hmmmm?’ En, nog voor jy kan antwoord, gaan dit eenvoudig aan. ‘Goeie
more, my skat. Lekker geslaap?
Kom, kom, kom, die dag wag nie vir ons nie. Tyd om aan die werk te
spring, jong.’
Die ontbyt staan reeds skottelsvol op die
tafel. Jou koffie is yskoud. Die vroegoggend-beskuit is lankal weggesit. ‘Kom,
kom, kom! Ek is reeds laat vir my oggenddraffie. Geniet die broodjies, my skat.’
Die hele dag gaan dit so aan. Alles met 'n
laggie en 'n trippeltjie, want die lewe is dan tog so baie lekker. Jy sien, oggendstond
het goud in die mond.
Vanaand, hier by ses- of sewe-uur, raak
die ooglede slapperig. Die spraak raak minder. Die tjirpende stemmetjie raak
dof. Die bewegings raak stadiger. Die bad en die bed wag, want more is 'n nuwe
dag.
Die aandmense wil nie wakker gemaak word
in die oggend nie. Hulle wil self, op hulle eie tyd, wakker word en stadig
opstaan. Daar heers 'n doodse stilte rondom hulle.
Geen ontbyt vir my nie, asseblief. Los my
nog net 'n tydjie uit, asseblief. Ek sal nou-nou wakker wees, dan kan ons
gesels.
Dit neem dan ook 'n redelike tydjie van
afsydige stilte voordat daar 'n effense woordjie of twee geuiter word.
Stadig-aan raak dit beter. Die tong raak losser. Die ogies is minder dof en die
mondjie kan al so effens glimlag.
So teen middagtyd begin die planne vir die
dag oorweeg word. Ja, ons gaan sus en so. Ja, dit gaan 'n baie besige dag wees
vandag. Met vasberadenheid word die dag en sy dinge aangepak en kafgedraf. Die
een na die ander kom die dinge verby. Vanaand, so by elfuur, raak dinge weer
rustig. Dit was 'n besige dag en nou moet jy darem 'n tydjie aan jouself ook
afstaan, nie so nie?
Twaalfuur of later is badtyd. 'n Heerlike
skuimbad en (soms) 'n kers of twee wat brand, 'n koppie lekker koffie en (soms)
'n lekker eetdingetjie sluit die dag perfek af. Ons moet nou tot rus kom, want
more is nog 'n dag.
En dan, helaas, is daar ek...!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking