Woensdag 19 Desember 2018

BOTTELTJIES DROME

Liewe Vader Krismis
Ek skryf vandag vir jou omdat ek nie weet vir wie anders om te skryf nie. Moet tog maar nie die briefie opskeur nie, ‘seblief. Lees hom maar en sit hom iewers neer waar iemand wie se hart soos myne voel, dit ook kan lees.
Jy sien, die saak staan nou so: Ek weet jy bestaan nie regtig nie. Ja, my pa het my dit vertel. Ek onthou nou nog die teleurstelling van daardie aand. Ons het juis weer gewag vir ‘Ou Vader’ se liggie daar doer in die veld. As ons die liggie gesien het, het ons ook die groot klok gehoor wat hy loop en lui het. Sulke tyd het ons almal sitkamer toe gestorm en in groot afwagting gaan sit en kersliedjies begin sing. Dis toe daardie tyd wat my pa my op sy skoot tel en vertel dat dit eintlik maar hy is wat die klere aantrek en speel-speel maak of hy Vader Krismis is. Ai, ek sou so graag nog vir altyd en altyd wou glo dat jy regtig bestaan!
Maar ja, ek moet my hart leeg kry, dus skryf ek maar vir jou. Reg so? Dit is dan seker ‘n kamma-briefie aan ‘n kamma-mens? Of wat ookal ...!
Almal skryf altyd vir jou met lysies van geskenke wat hulle begeer. Ek het ook ‘n lysie, Vader Krismis. Ek weet jy kan dit nooit vir my bring nie, maar ek sal maar vir altyd en altyd bly hoop. Dis nie soseer goeters wat geld kos wat ek begeer nie. Dis oomblikke wat ek na smag – kosbare oomblikke wat ek graag nog net een ou keertjie sou wou ervaar as dit enigsins moontlik sou wees. Dalk, as jy dit kan doen, kan jy dit elkeen vir my in ‘n botteltjie bring? Dan noem ons dit ‘Oomblik in ‘n Bottel’. Dit klink goed, ha? Ek is seker jy kan skatryk word as jy dit begin verkoop, hoor.
Die eerste oomblik waarna ek verlang, is om net weer een slaggie daar langs my ma op haar bed te gaan lê. Ek moes so skuif-skuif inwikkel tussen haar en die muur. En as ek gaan lê, was haar handjie op my kop en het ons kopstukke gesels. Ons hoef nie te gesels nie, hoor. Ek wil net weer een keertjie daardie gevoel van geborgenheid ervaar. Ek wil net nog een keertjie voel hoe dit voel om kind te wees.
My pa was ‘n baie besige man, maar daar was tye wat ons so baie, baie na aan mekaar was. Ek sou so graag weer saam met hom op die grasperk agter die huisie in die Namib wou sit ... en sy stem hoor. Nee, eintlik wil ek sy hárt hoor terwyl ons daar sit. Ek het soveel wysheid gemis deur nie altyd naby hom te wees nie. Sou jy dit vir my kon bring, ‘seblief?
Oomblikke met my kinders is ook op my lysie. Hulle is nou groot en elkeen het sy of haar eie lewe. Ja, ek hoor gereeld van hulle, dit is nie die probleem nie. Maar ‘n ma se hart is mos ‘n vraatsige hart, nie waar nie? Hierdie ma-hart wil nog baie-baie van haar lammers hoor en baie-baie met hulle kuier. Ek is seker jy sal ten minste hierdie versoek vir my kan bring? Toe, ‘seblief? Een botteltjie vol, ‘seblief?
Weet jy wat sou ek ook graag wou vra? ‘n Botteltjie vol van daardie tyd toe my liefman by my begin kuier het. Die liefde het toe mos heel anders gevoel as vandag, 36 jaar later. Ek sal dan, as jy dit bring, die botteltjie so nou en dan oopmaak sodat daardie geur deur die huis kan sprei en ons weer jonk en opgewonde kan voel oor die lewe met mekaar.
Jy weet, Vader Krismis, ek het nog so baie oomblikke op my lysie, maar ek is bang jy raak moedeloos en gooi die briefie weg. Ek sou nog wou vra vir ‘n botteltjie met my jeugdige voortvarendheid, enetjie met die onthou van ons (Pa, Ma en susters) in die plaasdam, ‘n groot bottel vol met oomblikke saam met kosbare vriende, en, en, en ...!
Jy sien, ek besef self jy sal ‘n hele fabriek se bottels moet koop om my wense waar te maak. Ek sal dan berus by die paartjies wat ek bo genoem het.
Ek glo nie jy het my adres nie, Ou Vader. Ek sal dit vir jou baie maklik maak, hoor. Jy kan dit sommer daar neersit waar ou Klasvakie sy slaapsand gaan optel. Ek is seker hy sal nie omgee om die botteltjies vir my te bring in my drome nie.
Dink jy nie ook dis ‘n baie goeie plan nie? Ek kan dan nag vir nag droom oor my dierbares. Ek kan die botteltjies een-een oopmaak en naglank daaraan ruik en dit beleef.
Vader Krismis, dankie dat ek vir jou kon skryf. Baie dankie dat ek nog soos ‘n kind in die klein wonders van die lewe kan glo. Dankie dat jy en Klasvakie ‘n plannetjie sal uitwerk hoe om my botteltjies by my te kry.
Met groot liefde en afwagting
M

Saterdag 15 Desember 2018

SPAAR JOU TRANE VIR JOU TROUDAG

Ken jy ook daardie uitdrukking? Ag, ek het my ma moedeloos gehad met al die ewigdurende trane, man. As iemand skeef na my kyk, was dit ‘n tranedal. Nou vra ek jou, watter ma kan ‘n grensbalie hanteer? Wees verseker, my moeder kon nie.

“As jy wil ‘n rede hê om te skree, sal ek jou ‘n rede gee...” was haar standaard dreigement. 

Of ‘n ander beproefde gesegde: “Kom dat ek jou rede gee om te skree.”

Dink jy dit het gehelp? Nie in die minste nie! Tjankbalie was ek doerie tyd en tjankbalie is ek immer nog.

Mettertyd het die redes vir my tjankery natuurlik verander. Vandag steur ek my nie meer aan afjakke en sulke dingetjies nie. Natuurlik, vir ‘n oomblik of twee is my asem weg daaroor, maar dan skud ek dit af en gaan aan. (Ek is eintlik baie trots om dit te kan sê, hoor.)

Maar, o jittetjie tog, tjank moet daar getjank word!

‘n Vriendin sê op ‘n dag laggend: “Martha, jou trane loop mos nie soos ‘n ander mense s’n nie. Dit spat sulke strome reg vorentoe.”

Einste! Dis nou van lekker tjank wat dit so spuit.

Nou waaroor grens jy dan alles, Martha?

Kom ek vertel jou:

-Die gewone regte, egte tjank-redes is mos maar daar. Jy ken hulle ook, glo ek. Groot teleurstellings, seerkry (in jou hart of in jou lyf), die dood, siekte, woede, en al daardie slegte goed. En so gepraat van woede – ek en ‘n paar van my susters (dalk is jy ook een!) tjank mos as ons so kwaad word. Hoe hard jy ookal probeer, jy kry nie ‘n woord uit nie, maar die vrekselse trane wil en sal uit!

Ja, ja! Ek kom by my storie. Ek wil jou vertel van my spesialiteite wat tjank aan betref.

1.  -Wanneer ‘n baba gedoop word. Man, ons staan nog op om die gesang te sing vir wie ookal nou die babatjie vorentoe moet bring, dan spat hulle sulke strome teen die vrou hier voor my se rug. Jip, dis ‘n gunsteling van my. Voel ek vandag lus vir huil? Ag, dan gaan ek net gou ‘n bietjie kyk hoe word ‘n babatjie gedoop.

2.  -Troues. O, sondetjie tog! Troues van bekendes en onbekendes en almal wat die gier kry om voor die kansel te gaan ‘I do’. Die eerste note van die troumars is die teken dat ek die krane wyd oop moet draai. Mmm, ek weet hoe, jong. Ek het al gewens hulle wil lakens by die deur uitdeel ... sulke wit katoenlakens wat jy so van die een punt tot by die ander punt kan behuil.

3.  -Sentiment. Ja, dis nou ek daai. Dink aan die maatjie van 1960 daar langs my op die skoolbank, en hulle spattt! Hoor ek ‘n goeie kennis se stem onverwags, en hulle loop riviere. Ek sukkel om die selfoon droog te hou – mos bang vir ‘n kortsluiting of iets hier in my hand – maar keer kry ek hulle nie gekeer nie. 

4.  -Hoe weet jy wanneer ek innig bly is? Natuurlik, dis glad nie moeilik om te raai nie. Hulle loop riviere vol. Jy kan my nie verras nie, suster, want dan is dit snot en trane vir ‘n week en ‘n half.

5.  -Daarby sluit natuurlik dankbaarheid aan. Ogggg, dit lyk of ek ween omdat jy vir my die verkeerde geskenk gegee het, maar intussen juig my hart op die enigste manier wat hy ken – trane!

Dis nou alles goed en wel dat ek so grens, maar het jy al gedink hoe lyk ek lewenslank? ‘n Mens se gesig gaan mos in ‘n spasma dat jy lyk soos laasweek se nagmerrie. Ek het al probeer oefen (ek kry genoeg kans om te oefen) om my gesig so normaal as moontlik te hou wanneer die krane oopdraai, maar moenie glo nie! Hoe meer ek probeer, hoe erger raak dit. Om nou nie te praat van die konstante snotstreep oor my wang nie.

En dan is daar nog daai een wanneer jy nog so lekker lag, dan kom jy skielik agter jy is hoeka al aan die grens. Ek onthou die laaste keer wat ek my eksamenuitslae op ‘n kennisgewingbord moes gaan kyk het. Daar was geen twyfel dat ek sou slaag nie, maar ‘n mens weet mos nooit! My ouers het vir my staan en wag voor die koshuis terwyl ek gou geloop het om te gaan kyk. Alles was reg, tot ek weer voor my ma kom staan. Ek gaan aan’t snot dat hoor en sien vergaan. My een vriendin staan simpatiek nader, want ‘Ai, het Martha dit toe nie gemaak nie?’, tot sy sien dat ek eintlik probeer lag so tussendeur.

Ai, vriendin, as jy nie deel in my sentiment van ‘Tjank terwyl die son skyn nie’, wees tog maar dankbaar. Dit het regtig sy voordele om ‘n bietjie te kan terughou met die trane.

Maar vir julle wat hier saam met my sit en ween, kan ek dalk een bemoedigende woordjie gee: Iemand het eendag gesê dat trane eintlik so half soos ‘n tonic werk op jou siel. As jy gereeld ‘n stukkie tjank, bly jy blykbaar langer jonk. Maar ja, as ek in die spieël kyk, het ook stellig hieroor my bedenkinge!

Ai, amper tjank ek nou sommer daaroor ook!


Woensdag 05 Desember 2018

MY BRIEF AAN JOU

Hoe begin die belangrike briefskrywers ‘n brief as hulle nie weet aan wie om dit te rig nie?

AAN WIE DIT MAG AANGAAN

Nou, daar het jy dit! Hierdie brief kan dan selfs vir jou ook wees, nie waar nie? Maar ha-a, ek wil nie ‘n brief wat ek vir jou skryf, so amptelik begin nie. Kom ek begin weer voor, dan lyk dit dalk beter.

Liewe mens wat hierdie Kersfees alleen gaan wees!

Ek sit met ander dinge, maar my kop wil nie vanaand regte, egte goed doen nie. My kop wil ‘n slag my hart volg – die ver paaie van alleen-wees en (soms) alleen wil wees. Ek wil daardie paaie loop en kyk wie ontmoet ek daar. En dalk, net groot miskien, kan ons twee mekaar so ‘n klein bietjie opbeur?

‘n Goeie skoolmaat werk in annerland. Hy kry vanaand die nuus van ‘n familielid wat uiters siek is en die dokters is raadop. Hy is stoksielalleen, sou onse David Kramer sing, maar sonder die vrolike riel wat daarmee gepaard gaan. Hy soek vanaand na die warmte van sy huis en sy mense. Want sien, as die lewe druk, wil jy mos méns voel rondom jou. Sulke tyd help die telefoon en die internet g’n niks om jou beter te laat voel nie. Jy wil jou liefde in die oë kyk en jou prate praat ... of dalk sommer net sit en jou dinke dink, so saam met jou geliefdes.

Maar ek dwaal af, sien ek. Eintlik is ek mos op pad, of hoe het ek dit nou?

Ek kry my vriend van annerland so amper half onder ‘n bos ingebuk. Ja, hy wil my nie eintlik aankyk nie, maar sy hart roep na ‘n klein bietjie bekendheid van iewers af. Ek sien dadelik ek moenie talm hier by hom nie, want dit is nie wat hy vra nie. Ek kry darem kans om hom ‘n bemoedigende tikkie op die skouer te gee – ‘Niks nader as dit aan my nie!’ waarsku sy hele houding. Ek loop omkyk-omkyk verder, maar hy is reeds weer kop-onder-sy-eie-bos besig met sy eie dinge.

Ek sien hom van ver af al. Hy sit asof hy die ganse heelal besit en asof niks op aarde hom nog ooit gepla het nie. Mmmm, dink ek by myself, hierdie ou het nie my afdraai langs die pad nodig nie.

Ek is amper al verby toe ek in daardie oë kyk. Ai tog man, ‘n alleen-mens se oë lyk mos anders as ander mense s’n. Het jy dit al opgemerk? Jy weet, dis net asof daar so ‘n amperse verslaentheid iewers daar ver agter skuil. Nie dat hulle dit aan jou sal erken nie, hoor.

Hy is nie veronderstel om alleen te wees nie, maar die lewe het hom ‘n lelike streep getrek toe hy dit die minste verwag het. ‘Nou vat ek dit soos ‘n man,’ laat hy my gou genoeg hoor. Ek gaan saam met hom sit en ons gesels kort voor lank dat die biesies bewe. Dis lekker om met hom te gesels, maar weereens is die skerm om die hart so dig dat jy onmoontlik daar kan uitkom.

So loop ek hulle een vir een raak. Die vrou wat liewers in ‘n kamer bly as by haar man wat haar so ongenadiglik verniel. Die man wat dag in en dag uit by sy siek kind in die hospitaal sit, al het hulle hom gewaarsku dat kindjie nooit weer daar sal opstaan nie.

Die ouers wat hier net voor die vakansie hulle baba-kind verloor het aan die dood. O hemeltjie tog, hoe stop ‘n mens en gesels met hulle? Hoe kan jy ooit probeer verstaan as jy self nog nooit op daardie pad was nie?

Is dit nie dalk die kruks van die saak nie? As ek nie in jou skoene daardie pad geloop het nie, kan ek nooit as te nimmer vir jou sê dat ek verstaan hoe jy voel nie, kan ek?

Maar! Vanaand wil ek graag vir jou vra om, terwyl jy daar langs die swaarkry-pad sit, net ‘n slaggie op te kyk. Kyk op en sien die ander voetgangers – elkeen op sy eie, vreemde pad.

Kyk, daardie een sit vir jou ‘n blommetjie neer. Nee, hy sal nie nader kom nie, hoor. Maar daar op ‘n afstand het hy tog  vir ‘n oomblik gestop uit eerbied vir jou ... en die blommetjie vir jou gelos vir later se optel. Iemand anders het reeds vir jou ‘n koel lafenis gelos. Daar oorkant is een besig om vir jou ‘n plekkie in die skaduwee te maak.

Jy sien, ons kan nie jou pad namens jou loop nie, maar tóg probeer elkeen op sy eie manier vir jou die swaar pad makliker maak.

Ek rus ‘n oomblik en, sowaar! hier stop iemand by my en gee vir my die mooiste glimlag. Net dit. Die glimlag. Niks anders nie. Net die glimlag.

Opeens voel ek uitgerus en reg om my pad vorentoe te loop.


Jy wat so alleen jou sit daar eenkant sit, kyk net so ‘n klein bietjie op, sal jy?

Sondag 02 Desember 2018

DIE HELE DORP BEHOORT AAN JOU ... OF NIE?

Ek kry die volgende storietjie by ‘Chicken Soup for the Soul’ en ek wil dit baie graag met jou deel.

Klein Samantha is in Graad 1 en is so ontsettend selfbewus en minderwaardig. Sy weier om pouses met haar maatjies te gaan speel, ‘Want,’ reken sy, ‘niemand wil in elk geval met my speel nie.

Die juffrou sien daar is groot fout en hou haar ‘n oomblik terug terwyl die ander maatjies gaan pouse hou.  

“Sammy, wat gaan aan? Hoekom wil jy dan nie met die maatjies gaan speel nie?” vra sy belangstellend.

Sammy is dadelik onder trane. Sy antwoord hartseer: “Ek kan nie touspring nie, Juffrou. Al my maatjies kan, maar ek kan glad nie. Ek het al baie probeer, maar dit werk nie.”

Juffrou dink ‘n oomblik voordat sy antwoord: “Hoor nou mooi vir my, Sammy. As jy nou by daardie deur uit loop, dan loop jy asof die hele plek aan jou behoort.”

Sammy glo nie werklik dat dit sal help nie, maar sy het in elk geval niks om te verloor nie. Sy trek haar skouertjies regop, hou haar kop hoog en stap buitentoe.

En wat gebeur? Die coolste seuntjie in die klas keer haar voor: “Ons is seerowers. Wil jy saam met ons kom speel?”

Sammy was die beste seerower op die speelgrond, al kon sy nie touspring nie. Van daardie dag af het dit haar glad nie meer gepla dat dit die een ding is wat sy nie kon doen nie.
Hoeveel maal loop ek en jy met ‘n minderwaardigheid rond waarvan niemand anders bewus is nie? En hoeveel maal weerhou dit ons van die mooi dinge rondom ons?

En weet jy, hierdie minderwaardigheid maak dat ons ‘n muur om onsself bou en niemand anders binne toelaat nie. Jy is die eensaamste wese, maar jy weet nie waarom nie. Reg?

Nou daag ek jou uit – stap by jou huis uit asof die hele dorp aan jou behoort en kyk wat gebeur.


Ja, dit is so, daar is seker nie ‘n seerower wat jou gaan saam nooi op hulle reis oor die woeste oseaan nie, maar aan die anderkant, wie sal ooit weet?

Donderdag 22 November 2018

HULLE LAAT MY SO KOMMIN VOEL!

Ek lees die volgende opmerking: “I was made to feel very common.”

O, en toe?

Jy sien, as iemand maak dat jy eenvoudig (eintlik is kommin, met ‘n groot K, ‘n baie lekkerder woord as eenvoudig!) voel, sit ek onmiddellik ‘n vraagteken neer.

Kom ek vertel jou wat jy nou eintlik sê moet bogenoemde stelling: Jou deurklokkie lui. Jy is besig om kos op die stoof te sit, so nou spoel jy gou jou hande af en so met die nat hande draf jy voordeur toe. Jy sluit oop en maak vir jou besoeker die deur oop. Jy groet nie, jy vra nie ‘Nou wat nou’ nie, jy maak eenvoudig net oop vir die vreemdeling wat jou deur die traliehek staan en beskou.

Wat meer is, jy laat nou hierdie persoon binne en jy draf terug kombuis toe. Ja, is! As jy uiteindelik die kos op die stoof het, kom jy terug sitkamer toe. Intussen het hierdie vreemdeling chaos gesaai dwarsdeur jou huis – jou sitkamer is leeg, jou kamer het darem nog ‘n prent of twee teen die mure en in die badkamer hang jou verslete japon ... als is weggedra terwyl jy besig in die kombuis was.

Nou is jy erg moerig, hoor! Hoe durf die dit-en-datse-dit-en-dat dit aan jou doen? Wie het hom die reg gegee om jou goed uit te dra en weg te ry?

Jy het, suster! Jy het oopgemaak en hom vrypas in jou huis gegee. Wil jy met my stry?
Nou kom ek terug by die stelling dat ‘hulle’ gemaak het dat jy so kommin voel ...

Weet jy, daardie ‘hulle’ in jou lewe kan dit slegs regkry indien jy hulle die toestemming daarvoor gee om jou so te laat voel. Slegs as jy jou mag aan hulle oorgee, kan jy so kommin voel, kan jy so kwaad word, kan jy so uitgebuit voel.

Jy is die koningin van jou huis, my ding. Moenie jou mag oorgee aan elke janrap en sy maat nie, want hulle is dit nie werd nie. Dit is so eenvoudig soos dit: hou jou deur gesluit vir elkeen wat jou kommin laat voel, vir elkeen wat jou beroof van jou vrede, vir elkeen wat jou siel omkrap.

Hierdie paleis behoort aan jou ... aan niemand anders nie. Vir wie jy die deur oopsluit, is net jou keuse, niemand anders s’n nie. Binne die mure van jou paleis is jy die koningin en is jy veronderstel om jou kroon te dra.


Nou wonder ek net – kan jy nog onthou waar jou kroon is?

Dinsdag 13 November 2018

DIE LEWE STORM VOORT

Elkeen van ons word daagliks konfronteer met een of ander krisis – sommige klein en niks beduidend, ander te aardskuddend groot om te kan hanteer. Jy moet besluit, jy moet aanvaar, jy moet vergewe ...! Nadat die hou jou (soms) katswink geslaan het en jy 'n keer of wat gesnak het na asem, moet jy teen wil en dank opstaan en voortgaan met die lewe.

Want, jy sien, al voel dit vir jou die aarde is tot in sy fondamente in geskud, gaan die son nog steeds more opkom. Die dag gaan nog altyd kom en gaan en ons het daar geen beheer oor nie.

Aan die ander kant is dit presies dieselfde met wanneer jy iets groots in jou lewe behaal het, is dit nie? Jy is in die oomblik en jy is so opgewonde dat jy uit jou nate kan bars, maar na ‘n dag of wat het die oomblik afgewerk en moet jy doodeenvoudig net aangaan soos voorheen. Niemand gaan oor ‘n dag of twee jou nog daaraan herinner dat jy so oulik was om dit of dat reg te kry nie. Ha-a, dit werk nie so nie.

Ek sit hier in my huis met net die rekenaar as geselskap. Binne enkele ure kry ek twee heeltemal teenstellende boodskappe.

Die eerste een is van klein Dehan wat weg is na sy hemelse Pappa nadat hy vir vier dae ‘n ontsettende lyding moes deurstaan. Ek is hartseer. Nee, eintlik is ek gebroke by die aanhoor van hierdie nuus. Ons almal het geglo ...! Maar ons sien die werking van Sy hand hierin, want derduisende mense het saamgetrek in gebed – derduisende mense het vir vier dae alles opsy gesit en gebid soos nog nooit voorheen beleef is nie.

Die tweede boodskap is ewe aardskuddend, maar van ‘n heel ander aard. ‘n Familievriend wat met kanker diagnoseer is, is op pad huis toe. Hy is gesond verklaar. Ons dank en juig en is almal dankbaar vir ‘n gespaarde lewe.

Ek lees bogenoemde twee boodskappe en ek dink ver terug aan die dood van my suster. Ek was op haar begrafnis en met my terugkeer het almal simpatie betuig. Almal was simpatiek en jammer oor my verlies toe hulle my sien.

... toe hulle my sien! En daarna? Wat gebeur na so ‘n traumatiese gebeurtenis in jou lewe? Niks nie, my vriend, niks nie. Oor ‘n dag of twee is almal moeg geluister na jou stories oor jou suster. Niemand wil meer hoor hoe brand jou hart nie. Niemand het regtig ook die tyd om te sit en luister na jou nie.

Ek wou, seker ‘n maand na haar dood, die aardbol net ‘n slag stop. Ek wou dit stop en vir almal skree of hulle nog kan onthou van my suster wat dood is? Kan niemand dan nog onthou van my groot verlies nie?

En dit, my vriend, is waar ek en jy nou moet weet hoe om ware vriendskap te bewys. Ek sal probeer verduidelik.

Die Engelse het ‘n mooi sêding: To hold space for somebody. Ek weet glad nie hoe om dit in Afrikaans te vertaal nie, hoor.

Holding space for somebody beteken om met jou hele wese dáár te wees vir iemand sonder om enigsins beheer te probeer uitoefen. Jy gaan luister, luister, luister, sonder om kritiek en/of raad te gee. Jy verklaar jouself gewillig om die pad met hierdie persoon te loop, sonder om te weet waar gaan dit eindig. Jy gee ook nie om waar die pad eindig nie, want dit is nie regtig jou pad nie. Jy laat hierdie vriend van jou toe om haarself te wees ten spyte van wat ookal. Jy hou die deur vir haar oop om deur te stap en die lewe (sonder jou veroordeling) te beleef.

Dalk verduidelik ek nie goed genoeg nie?

Was jy al in jou lewe by iemand wat jou hulp dringend nodig gehad het, maar jy het so totaal en al onmagtig gevoel om te help. Jy weet glad nie wat om te doen om die las vir hierdie persoon ligter te maak nie, nou sit jy (soos dit vir jou voel) met ‘n mond vol tande. Wanneer jy uiteindelik loop, val jou vriendin jou om die nek en bedank jou vir ‘alles wat jy gedoen het’. Ken jy hierdie een? 

Dis presies wat dit is! Jy het hierdie persoon toegelaat om haarself te wees – om ‘n slag uit te pak en haar poppe uit die ‘pram’ te gooi en jy het nie ‘n haar daarna getrek nie. Inteendeel, more en oormore gaan jy weer en jy ‘is’ net vir haar ... jy doen niks en sê niks, jy ‘is’ maar net.

Nou vra ek jou: Are you holding space for a friend?


Dinsdag 06 November 2018

DIE KEUSE BLY JOUNE - DANS JY OF SING JY?

So kry ek die lieflikste klein video van 'n goeie vriend van my. Ek kry dit nie hier geplak nie, maar ek deel iets soorgelyks met jou.
Ek sit en verkyk my daaraan. Wat ek sien, is twee klein-klein figuurtjies op fietsies wat so woerts-warts op ‘randum’ strepe. Saam daarmee is die mooiste musiek.
Ek vra: “Ons lewensreis?”
          Hy antwoord, half verward (dink ek): “Sinkronisasie. Ek het dit al meer as tien keer gekyk.”
Ek laat my nie oortuig nie: “Nee man, kyk die oppe en die affe. Die outjies op hulle fietsies wat so ry ... Dis ons lewens daai.”
Hy is ‘n bietjie stil en ek stoom voort: “Ek skryf sommer ‘n opstel daaroor.”
          Hy stem in dat dit (dalk) ons lewens kan wees en dis toe mos al wat ek nodig het om aan die dink te gaan. Man, hoe meer ek die video kyk, hoe sekerder is ek dat die een outjie sowaar soos ek lyk ook nog ... dis vir seker my lewe wat ek voor my sien, glo ek.
Ons hoor baie maal die gesegde: “Die lewe is ‘n lied!” en soms voeg iemand dan so half sarkasties by: “...sing hom!”
Ja? Dis nou alles goed en wel om hom te sing terwyl alles voor die wind gaan; daarmee stem ek saam. Dis lekker om hom sulke tyd te sing! Maar! Moet ek hom sing as hy doer onder in die gramadoelas gaan draai? Jy sien, my stem kan nogal laag, maar soms (net sommms) is daai (lewens)noot so laag dat ek liewer nie sal probeer nie. Want ja, in die proses sal ek moet op die knieë staan om daar by te kan kom en hoe moet ek weer regop kom? So, dalk is dit beter om maar liewer nie daardie treurmare te probeer sing nie. Ek glo mos as jy hom nie sing nie, gaan hy dalk ongesiens verby – wat dalk ‘n klein bietjie volstruispolitiek is?
Ander kere is die lewe ‘n mooi, mooi lied met mooi, mooi rustige note. Jy staan menigmaal in verstomming omdat dit so mooi is. Jy is te bang om asem te haal, want wat nou as jy ‘n oomblik wegkyk en jy verloor al hierdie mooi? Dis asof jy so omring is deur die mooi dat jy te oorweldig voel om 'n geluid te maak. Jy is in 'n euforie van geluk en tevredenheid. Niks, maar niks kan jou geluk van jou steel nie ... of so glo jy.
Soms, maar regtig net soms, is jy totaal en al alleen op hierdie reis van jou. (meermale is dit maar net die gevoel dat jy alleen is, want eintlik is ‘die ander’ maar altyd daar!) Jy sukkel om te oorleef, want dit gaan woes, hoor. Jy voel letterlik hoe die lewe jou heen en weer slinger en gooi – daar is geen einde aan die ellende nie en jy weet dat jy dit hierdie keer nie gaan oorleef nie. Jy sal weet waarvan ek praat, want jy het dit ook al ervaar, weet ek.
Maar, dan staan jy een oggend op en die son is ‘n heerlike salige lig rondom jou. Die voëltjies sing asof hulle nog nooit ophou sing het nie en die lewe is van voor af ‘n lied.
Jy kan natuurlik besluit dat die lewe eerder gedans wil wees. Bernard Colasurdo vertel van hierdie dans dwarsdeur die goeie, sowel as die slegter tye. 
Wat ek gevind het is dat jy baie makliker die ritme van jou dans opvang wanneer jy die dag met dankbaarheid aanpak. Vir my voel dit kompleet of die danse van dankbaarheid verskillend is. Soms is dit ‘n stil, stadige wals, soos wanneer ek aan my kinders en kleinkinders dink. Wanneer ek dankbaar is omdat ek iewers groot sukses behaal het, grens dit byna aan ‘n foxtrot of ‘n vastrap. Die onthou-dae klink vir my byna soos die veraf klank van reën in die bome ... jy is bewus daarvan, maar dit is meer 'n sagte, gerusstellende ervaring. 
Nou vra ek jou net hierdie een vraag: Gaan jy hom dans of gaan jy hom sing? Want, my vriend, ons weet nie wanneer dit ons laaste keer gaan wees nie, ha? Wat nou as jy besluit jy wil in die donkerste donker hoekie gaan sit tot die storms verby is en daar breek toe nie 'n nuwe dag aan nie? Wat van as jy ewe skielik op 'n punt kom waar jy eenvoudig nie kan verder sing of dans nie?
Kom dans saam met my, toe? Môre, oormôre is hy verby ... en dan?

We Danced Through Life

©  

We danced amongst the stars that night
when joy had fallen far from sight 

We danced under the sun so bright
And when all seemed lost, we held on tight

We danced to the music of hummingbirds
And we danced in the silence when there were no words.

We danced in the shadows of fear and doubt
And we danced when we questioned what life’s about

We danced amongst the evergreens
That posed for painters winter scenes.

We danced in the winters bitter chill
And when we danced our world stood still.

For that’s what love was meant to be
To find the dance when we cannot see.

To write a new song when the music stops
With lyrics that caress every tear that drops.

For when the rhythm changes and tempo slowed
We’re called to dance with the seeds we sowed.

For life is hard, there is no doubt
But Dancing through it, is what life’s about.

“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

  “Nou sê ek vandag vir julle, moenie by   my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...