Ken jy ook daardie uitdrukking? Ag, ek het my ma moedeloos
gehad met al die ewigdurende trane, man. As iemand skeef na my kyk, was dit ‘n
tranedal. Nou vra ek jou, watter ma kan ‘n grensbalie hanteer? Wees verseker,
my moeder kon nie.
“As jy wil ‘n rede hê om te skree, sal ek jou ‘n rede
gee...” was haar standaard dreigement.
Of ‘n ander beproefde gesegde: “Kom dat
ek jou rede gee om te skree.”
Dink jy dit het gehelp? Nie in die minste nie! Tjankbalie
was ek doerie tyd en tjankbalie is ek immer nog.
Mettertyd het die redes vir my tjankery natuurlik verander.
Vandag steur ek my nie meer aan afjakke en sulke dingetjies nie. Natuurlik, vir
‘n oomblik of twee is my asem weg daaroor, maar dan skud ek dit af en gaan aan.
(Ek is eintlik baie trots om dit te kan sê, hoor.)
Maar, o jittetjie tog, tjank moet daar getjank word!
‘n Vriendin sê op ‘n dag laggend: “Martha, jou trane loop
mos nie soos ‘n ander mense s’n nie. Dit spat sulke strome reg vorentoe.”
Einste! Dis nou van lekker tjank wat dit so spuit.
Nou waaroor grens jy dan alles, Martha?
Kom ek vertel jou:
-Die gewone regte, egte tjank-redes is mos maar daar. Jy ken
hulle ook, glo ek. Groot teleurstellings, seerkry (in jou hart of in jou lyf),
die dood, siekte, woede, en al daardie slegte goed. En so gepraat van woede –
ek en ‘n paar van my susters (dalk is jy ook een!) tjank mos as ons so kwaad
word. Hoe hard jy ookal probeer, jy kry nie ‘n woord uit nie, maar die vrekselse
trane wil en sal uit!
Ja, ja! Ek kom by my storie. Ek wil jou vertel van my
spesialiteite wat tjank aan betref.
1. -Wanneer
‘n baba gedoop word. Man, ons staan nog op om die gesang te sing vir wie ookal
nou die babatjie vorentoe moet bring, dan spat hulle sulke strome teen die vrou
hier voor my se rug. Jip, dis ‘n gunsteling van my. Voel ek vandag lus vir
huil? Ag, dan gaan ek net gou ‘n bietjie kyk hoe word ‘n babatjie gedoop.
2. -Troues.
O, sondetjie tog! Troues van bekendes en onbekendes en almal wat die gier kry
om voor die kansel te gaan ‘I do’. Die eerste note van die troumars is die
teken dat ek die krane wyd oop moet draai. Mmm, ek weet hoe, jong. Ek het al gewens hulle wil lakens by die deur uitdeel ... sulke wit katoenlakens wat jy so van die een punt tot by die ander punt kan behuil.
3. -Sentiment.
Ja, dis nou ek daai. Dink aan die maatjie van 1960 daar langs my op die
skoolbank, en hulle spattt! Hoor ek ‘n goeie kennis se stem onverwags, en hulle
loop riviere. Ek sukkel om die selfoon droog te hou – mos bang vir ‘n
kortsluiting of iets hier in my hand – maar keer kry ek hulle nie gekeer nie.
4. -Hoe weet
jy wanneer ek innig bly is? Natuurlik, dis glad nie moeilik om te raai nie. Hulle
loop riviere vol. Jy kan my nie verras nie, suster, want dan is dit snot en
trane vir ‘n week en ‘n half.
5. -Daarby
sluit natuurlik dankbaarheid aan. Ogggg, dit lyk of ek ween omdat jy vir my die
verkeerde geskenk gegee het, maar intussen juig my hart op die enigste manier
wat hy ken – trane!
Dis nou alles goed en wel dat ek so grens, maar het jy al
gedink hoe lyk ek lewenslank? ‘n Mens se gesig gaan mos in ‘n spasma dat jy lyk
soos laasweek se nagmerrie. Ek het al probeer oefen (ek kry genoeg kans om te
oefen) om my gesig so normaal as moontlik te hou wanneer die krane oopdraai,
maar moenie glo nie! Hoe meer ek probeer, hoe erger raak dit. Om nou nie te
praat van die konstante snotstreep oor my wang nie.
En dan is daar nog daai een wanneer jy nog so lekker lag, dan kom jy
skielik agter jy is hoeka al aan die grens. Ek onthou die laaste keer wat ek my
eksamenuitslae op ‘n kennisgewingbord moes gaan kyk het. Daar was geen twyfel dat
ek sou slaag nie, maar ‘n mens weet mos nooit! My ouers het vir my staan en wag
voor die koshuis terwyl ek gou geloop het om te gaan kyk. Alles was reg, tot ek
weer voor my ma kom staan. Ek gaan aan’t snot dat hoor en sien vergaan. My een
vriendin staan simpatiek nader, want ‘Ai, het Martha dit toe nie gemaak nie?’,
tot sy sien dat ek eintlik probeer lag so tussendeur.
Ai, vriendin, as jy nie deel in my sentiment van ‘Tjank
terwyl die son skyn nie’, wees tog maar dankbaar. Dit het regtig sy voordele om
‘n bietjie te kan terughou met die trane.
Maar vir julle wat hier saam met my sit en ween, kan ek
dalk een bemoedigende woordjie gee: Iemand het eendag gesê dat trane eintlik so
half soos ‘n tonic werk op jou siel. As jy gereeld ‘n stukkie tjank, bly jy
blykbaar langer jonk. Maar ja, as ek in die spieël kyk, het ook stellig hieroor
my bedenkinge!
Ai, amper tjank ek nou sommer daaroor ook!
Hmmm ... ek dink ek moet vir 'n slag die krane oopdraai. Ek steek my trane meesal weg ... hoekom, weet ek ook nie. Dalk iewers ver in die verlede die idee gekry dis 'n teken van swakheid. Trange biggel skelm oor my wange ... ek dink ek gaan hulle nou vrye teuels gee .. dis immers myne! :D Dankie vir lekker leesgenot, Martha
AntwoordVee uitAi hehehe, jawat Markies, wat sal ek sê! Lakenskê! Xxxxx
AntwoordVee uit