Dinsdag 13 November 2018

DIE LEWE STORM VOORT

Elkeen van ons word daagliks konfronteer met een of ander krisis – sommige klein en niks beduidend, ander te aardskuddend groot om te kan hanteer. Jy moet besluit, jy moet aanvaar, jy moet vergewe ...! Nadat die hou jou (soms) katswink geslaan het en jy 'n keer of wat gesnak het na asem, moet jy teen wil en dank opstaan en voortgaan met die lewe.

Want, jy sien, al voel dit vir jou die aarde is tot in sy fondamente in geskud, gaan die son nog steeds more opkom. Die dag gaan nog altyd kom en gaan en ons het daar geen beheer oor nie.

Aan die ander kant is dit presies dieselfde met wanneer jy iets groots in jou lewe behaal het, is dit nie? Jy is in die oomblik en jy is so opgewonde dat jy uit jou nate kan bars, maar na ‘n dag of wat het die oomblik afgewerk en moet jy doodeenvoudig net aangaan soos voorheen. Niemand gaan oor ‘n dag of twee jou nog daaraan herinner dat jy so oulik was om dit of dat reg te kry nie. Ha-a, dit werk nie so nie.

Ek sit hier in my huis met net die rekenaar as geselskap. Binne enkele ure kry ek twee heeltemal teenstellende boodskappe.

Die eerste een is van klein Dehan wat weg is na sy hemelse Pappa nadat hy vir vier dae ‘n ontsettende lyding moes deurstaan. Ek is hartseer. Nee, eintlik is ek gebroke by die aanhoor van hierdie nuus. Ons almal het geglo ...! Maar ons sien die werking van Sy hand hierin, want derduisende mense het saamgetrek in gebed – derduisende mense het vir vier dae alles opsy gesit en gebid soos nog nooit voorheen beleef is nie.

Die tweede boodskap is ewe aardskuddend, maar van ‘n heel ander aard. ‘n Familievriend wat met kanker diagnoseer is, is op pad huis toe. Hy is gesond verklaar. Ons dank en juig en is almal dankbaar vir ‘n gespaarde lewe.

Ek lees bogenoemde twee boodskappe en ek dink ver terug aan die dood van my suster. Ek was op haar begrafnis en met my terugkeer het almal simpatie betuig. Almal was simpatiek en jammer oor my verlies toe hulle my sien.

... toe hulle my sien! En daarna? Wat gebeur na so ‘n traumatiese gebeurtenis in jou lewe? Niks nie, my vriend, niks nie. Oor ‘n dag of twee is almal moeg geluister na jou stories oor jou suster. Niemand wil meer hoor hoe brand jou hart nie. Niemand het regtig ook die tyd om te sit en luister na jou nie.

Ek wou, seker ‘n maand na haar dood, die aardbol net ‘n slag stop. Ek wou dit stop en vir almal skree of hulle nog kan onthou van my suster wat dood is? Kan niemand dan nog onthou van my groot verlies nie?

En dit, my vriend, is waar ek en jy nou moet weet hoe om ware vriendskap te bewys. Ek sal probeer verduidelik.

Die Engelse het ‘n mooi sêding: To hold space for somebody. Ek weet glad nie hoe om dit in Afrikaans te vertaal nie, hoor.

Holding space for somebody beteken om met jou hele wese dáár te wees vir iemand sonder om enigsins beheer te probeer uitoefen. Jy gaan luister, luister, luister, sonder om kritiek en/of raad te gee. Jy verklaar jouself gewillig om die pad met hierdie persoon te loop, sonder om te weet waar gaan dit eindig. Jy gee ook nie om waar die pad eindig nie, want dit is nie regtig jou pad nie. Jy laat hierdie vriend van jou toe om haarself te wees ten spyte van wat ookal. Jy hou die deur vir haar oop om deur te stap en die lewe (sonder jou veroordeling) te beleef.

Dalk verduidelik ek nie goed genoeg nie?

Was jy al in jou lewe by iemand wat jou hulp dringend nodig gehad het, maar jy het so totaal en al onmagtig gevoel om te help. Jy weet glad nie wat om te doen om die las vir hierdie persoon ligter te maak nie, nou sit jy (soos dit vir jou voel) met ‘n mond vol tande. Wanneer jy uiteindelik loop, val jou vriendin jou om die nek en bedank jou vir ‘alles wat jy gedoen het’. Ken jy hierdie een? 

Dis presies wat dit is! Jy het hierdie persoon toegelaat om haarself te wees – om ‘n slag uit te pak en haar poppe uit die ‘pram’ te gooi en jy het nie ‘n haar daarna getrek nie. Inteendeel, more en oormore gaan jy weer en jy ‘is’ net vir haar ... jy doen niks en sê niks, jy ‘is’ maar net.

Nou vra ek jou: Are you holding space for a friend?


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...