Woensdag 19 Desember 2018

BOTTELTJIES DROME

Liewe Vader Krismis
Ek skryf vandag vir jou omdat ek nie weet vir wie anders om te skryf nie. Moet tog maar nie die briefie opskeur nie, ‘seblief. Lees hom maar en sit hom iewers neer waar iemand wie se hart soos myne voel, dit ook kan lees.
Jy sien, die saak staan nou so: Ek weet jy bestaan nie regtig nie. Ja, my pa het my dit vertel. Ek onthou nou nog die teleurstelling van daardie aand. Ons het juis weer gewag vir ‘Ou Vader’ se liggie daar doer in die veld. As ons die liggie gesien het, het ons ook die groot klok gehoor wat hy loop en lui het. Sulke tyd het ons almal sitkamer toe gestorm en in groot afwagting gaan sit en kersliedjies begin sing. Dis toe daardie tyd wat my pa my op sy skoot tel en vertel dat dit eintlik maar hy is wat die klere aantrek en speel-speel maak of hy Vader Krismis is. Ai, ek sou so graag nog vir altyd en altyd wou glo dat jy regtig bestaan!
Maar ja, ek moet my hart leeg kry, dus skryf ek maar vir jou. Reg so? Dit is dan seker ‘n kamma-briefie aan ‘n kamma-mens? Of wat ookal ...!
Almal skryf altyd vir jou met lysies van geskenke wat hulle begeer. Ek het ook ‘n lysie, Vader Krismis. Ek weet jy kan dit nooit vir my bring nie, maar ek sal maar vir altyd en altyd bly hoop. Dis nie soseer goeters wat geld kos wat ek begeer nie. Dis oomblikke wat ek na smag – kosbare oomblikke wat ek graag nog net een ou keertjie sou wou ervaar as dit enigsins moontlik sou wees. Dalk, as jy dit kan doen, kan jy dit elkeen vir my in ‘n botteltjie bring? Dan noem ons dit ‘Oomblik in ‘n Bottel’. Dit klink goed, ha? Ek is seker jy kan skatryk word as jy dit begin verkoop, hoor.
Die eerste oomblik waarna ek verlang, is om net weer een slaggie daar langs my ma op haar bed te gaan lê. Ek moes so skuif-skuif inwikkel tussen haar en die muur. En as ek gaan lê, was haar handjie op my kop en het ons kopstukke gesels. Ons hoef nie te gesels nie, hoor. Ek wil net weer een keertjie daardie gevoel van geborgenheid ervaar. Ek wil net nog een keertjie voel hoe dit voel om kind te wees.
My pa was ‘n baie besige man, maar daar was tye wat ons so baie, baie na aan mekaar was. Ek sou so graag weer saam met hom op die grasperk agter die huisie in die Namib wou sit ... en sy stem hoor. Nee, eintlik wil ek sy hárt hoor terwyl ons daar sit. Ek het soveel wysheid gemis deur nie altyd naby hom te wees nie. Sou jy dit vir my kon bring, ‘seblief?
Oomblikke met my kinders is ook op my lysie. Hulle is nou groot en elkeen het sy of haar eie lewe. Ja, ek hoor gereeld van hulle, dit is nie die probleem nie. Maar ‘n ma se hart is mos ‘n vraatsige hart, nie waar nie? Hierdie ma-hart wil nog baie-baie van haar lammers hoor en baie-baie met hulle kuier. Ek is seker jy sal ten minste hierdie versoek vir my kan bring? Toe, ‘seblief? Een botteltjie vol, ‘seblief?
Weet jy wat sou ek ook graag wou vra? ‘n Botteltjie vol van daardie tyd toe my liefman by my begin kuier het. Die liefde het toe mos heel anders gevoel as vandag, 36 jaar later. Ek sal dan, as jy dit bring, die botteltjie so nou en dan oopmaak sodat daardie geur deur die huis kan sprei en ons weer jonk en opgewonde kan voel oor die lewe met mekaar.
Jy weet, Vader Krismis, ek het nog so baie oomblikke op my lysie, maar ek is bang jy raak moedeloos en gooi die briefie weg. Ek sou nog wou vra vir ‘n botteltjie met my jeugdige voortvarendheid, enetjie met die onthou van ons (Pa, Ma en susters) in die plaasdam, ‘n groot bottel vol met oomblikke saam met kosbare vriende, en, en, en ...!
Jy sien, ek besef self jy sal ‘n hele fabriek se bottels moet koop om my wense waar te maak. Ek sal dan berus by die paartjies wat ek bo genoem het.
Ek glo nie jy het my adres nie, Ou Vader. Ek sal dit vir jou baie maklik maak, hoor. Jy kan dit sommer daar neersit waar ou Klasvakie sy slaapsand gaan optel. Ek is seker hy sal nie omgee om die botteltjies vir my te bring in my drome nie.
Dink jy nie ook dis ‘n baie goeie plan nie? Ek kan dan nag vir nag droom oor my dierbares. Ek kan die botteltjies een-een oopmaak en naglank daaraan ruik en dit beleef.
Vader Krismis, dankie dat ek vir jou kon skryf. Baie dankie dat ek nog soos ‘n kind in die klein wonders van die lewe kan glo. Dankie dat jy en Klasvakie ‘n plannetjie sal uitwerk hoe om my botteltjies by my te kry.
Met groot liefde en afwagting
M

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...