So kry ek die lieflikste klein
video van 'n goeie vriend van my. Ek kry dit nie hier geplak nie, maar ek deel iets soorgelyks met jou.
Ek sit en verkyk my daaraan. Wat ek sien, is
twee klein-klein figuurtjies op fietsies wat so woerts-warts op ‘randum’
strepe. Saam daarmee is die mooiste musiek.
Ek vra: “Ons lewensreis?”
Hy antwoord, half verward (dink ek): “Sinkronisasie. Ek het dit al meer as
tien keer gekyk.”
Ek laat my nie oortuig nie: “Nee man, kyk die
oppe en die affe. Die outjies op hulle fietsies wat so ry ... Dis ons lewens
daai.”
Hy is ‘n bietjie stil en ek stoom voort: “Ek
skryf sommer ‘n opstel daaroor.”
Hy stem in dat dit (dalk) ons lewens kan wees en dis toe mos al wat ek
nodig het om aan die dink te gaan. Man, hoe meer ek die video kyk, hoe sekerder
is ek dat die een outjie sowaar soos ek lyk ook nog ... dis vir seker my lewe wat ek voor my sien, glo ek.
Ons hoor baie maal die gesegde: “Die lewe is ‘n
lied!” en soms voeg iemand dan so half sarkasties by: “...sing hom!”
Ja? Dis nou alles goed en wel om hom te sing terwyl alles voor die wind gaan; daarmee stem ek saam. Dis lekker om hom sulke tyd te sing! Maar! Moet ek hom sing as hy doer onder in die
gramadoelas gaan draai? Jy sien, my stem kan nogal laag, maar soms (net sommms)
is daai (lewens)noot so laag dat ek liewer nie sal probeer nie. Want ja, in die
proses sal ek moet op die knieë staan om daar by te kan kom en hoe moet ek weer
regop kom? So, dalk is dit beter om maar liewer nie daardie treurmare te
probeer sing nie. Ek glo mos as jy hom nie sing nie, gaan hy dalk ongesiens
verby – wat dalk ‘n klein bietjie volstruispolitiek is?
Ander kere is die lewe ‘n mooi, mooi lied met
mooi, mooi rustige note. Jy staan menigmaal in verstomming omdat dit so mooi
is. Jy is te bang om asem te haal, want wat nou as jy ‘n oomblik wegkyk en jy
verloor al hierdie mooi? Dis asof jy so omring is deur die mooi dat jy te oorweldig voel om 'n geluid te maak. Jy is in 'n euforie van geluk en tevredenheid. Niks, maar niks kan jou geluk van jou steel nie ... of so glo jy.
Soms, maar regtig net soms, is jy totaal en al
alleen op hierdie reis van jou. (meermale is dit maar net die gevoel dat jy
alleen is, want eintlik is ‘die ander’ maar altyd daar!) Jy sukkel om te
oorleef, want dit gaan woes, hoor. Jy voel letterlik hoe die lewe jou heen en
weer slinger en gooi – daar is geen einde aan die ellende nie en jy weet dat jy
dit hierdie keer nie gaan oorleef nie. Jy sal weet waarvan ek praat, want jy
het dit ook al ervaar, weet ek.
Maar, dan staan jy een oggend op en die son
is ‘n heerlike salige lig rondom jou. Die voëltjies sing asof hulle nog nooit
ophou sing het nie en die lewe is van voor af ‘n lied.
Jy kan natuurlik besluit dat die lewe eerder gedans wil wees. Bernard Colasurdo vertel van hierdie dans dwarsdeur die goeie, sowel as die slegter tye.
Wat ek gevind het is dat jy baie makliker die
ritme van jou dans opvang wanneer jy die dag met dankbaarheid aanpak. Vir my
voel dit kompleet of die danse van dankbaarheid verskillend is. Soms is dit ‘n
stil, stadige wals, soos wanneer ek aan my kinders en kleinkinders dink. Wanneer
ek dankbaar is omdat ek iewers groot sukses behaal het, grens dit byna aan ‘n
foxtrot of ‘n vastrap. Die onthou-dae klink vir my byna soos die veraf klank van reën in die bome ... jy is bewus daarvan, maar dit is meer 'n sagte, gerusstellende ervaring.
Nou vra ek jou net hierdie een vraag: Gaan jy hom dans of gaan jy hom sing? Want, my vriend, ons weet nie wanneer dit ons laaste keer gaan wees nie, ha? Wat nou as jy besluit jy wil in die donkerste donker hoekie gaan sit tot die storms verby is en daar breek toe nie 'n nuwe dag aan nie? Wat van as jy ewe skielik op 'n punt kom waar jy eenvoudig nie kan verder sing of dans nie?
Kom dans saam met my, toe? Môre, oormôre is hy verby ... en dan?
We Danced Through Life
© Bernard Colasurdo
We danced amongst the stars that night when joy had fallen far from sight We danced under the sun so bright And when all seemed lost, we held on tight We danced to the music of hummingbirds And we danced in the silence when there were no words. We danced in the shadows of fear and doubt And we danced when we questioned what life’s about We danced amongst the evergreens That posed for painters winter scenes. We danced in the winters bitter chill And when we danced our world stood still. For that’s what love was meant to be To find the dance when we cannot see. To write a new song when the music stops With lyrics that caress every tear that drops. For when the rhythm changes and tempo slowed We’re called to dance with the seeds we sowed. For life is hard, there is no doubt But Dancing through it, is what life’s about.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking